Red Sandra, op die Europese filmfees as Save Sandra

  • 0

Red Sandra
Drama: gebaseer op ’n ware verhaal
Tyd: 1 uur 40 minute
Ouerbegeleiding aanbeveel
Regisseurs: Jan Verheyen en Lien Willaert
Land van oorsprong: België
Akteurs: Sven De Ridder, Darya Gantura, Rosalie Charles
Taal: Meestal Nederlands, met Engelse onderskrifte

Sandra is ses jaar oud; sy is ’n pragtige, nuuskierige dogtertjie. Dan word sy siek en die diagnose is metachromatiese leukodistrofie, oftewel MLD, ’n bitter skaars degeneratiewe siekte.

Die kind word ’n jaar gegee om te leef.

William en Olga Massart, haar ouers, probeer natuurlik alles om hulle dogter te red en hoor van ’n middel wat in Denemarke ontwikkel word. Die medisyne is nog nie op die mark nie, so hulle probeer vir Sandra op een van die kliniese proewe kry, maar hulle hulle slaag nie.

Wat dan volg, is ’n bitter stryd teen die groot farmaseutiese maatskappye.

William Massart word, onwillig, ’n openbare figuur in sy rol as Dawid teen die enorme Goliat.

Die media raak bewus van sy stryd en hy word ’n ikoon. Soos die stryd vorder, en Sandra sieker word, begin die openbare siening teen William draai en uiteindelik voel die gesin hulle totaal ontredder.

Die film probeer om die diep menslike stryd van mense wat aan skaars siektes ly, op te weeg teen die geweldige koste wat in die ontwikkeling van ’n nuwe soort medisyne ingaan. Die groot farmaseutiese maatskappy kry dus ook ’n geleentheid om hulle kant van die saak te stel.

Iets oor die storie en die maak van die film

Ek sal nie die einde verklap nie, maar Sandra se storie is bekend.

As sesjarige begin Sandra se een voetjie sleep. Sy word met MLD gediagnoseer en haar ouers neem haar om behandeling te kry as deel van ’n kliniese toets. Reeds daar, na al die toetse, bevind die leweransiers van die middel dat Sandra te oud is en dus nie kwalifiseer vir die kliniese toetse nie. Geen redes word verskaf nie en die gesin word teruggestuur België toe met die wete dat ander kinders deur hulle regerings gehelp word.

In België hoor Sandra se gesin dat die regering nie betaal vir ongeregistreerde medisyne nie. Die enigste manier is om die middel privaat aan te koop teen €45 000 per behandeling, een behandeling per maand.

Sandra, wat baie slim en geweldig nuuskierig is, weet natuurlik dat daar fout is met haar lyfie. Weens die pyn in haar bene word die verhaal van die meermin wat haar stem opoffer om bene te kry, ’n baken in haar bestaan.

William Massart was glo baie lief daarvoor om stories aan Sandra te vertel en die filmmakers het dít ’n sentrale deel van kommunikasie aan Sandra, en dus die kyker, gemaak.

Die narratief van die prinses word deurgaans aangepas. Eers verloor sy haar bene en kry ’n spesiale prinsesstoel, dan verloor sy haar stem ... Te alle tye hoop die kyker én Sandra dat daardie magiese drankie wat die seeheks so goed wegsteek, tog asseblief aan die prinses gegee sal word.

So word die narratief van die onverkrygbare drankie, tesame met briljante spel deur Rosalie Charles, slegs sewe jaar oud toe die film gemaak is, gejukstaponeer teen die meer en meer verstommende arrogansie van die farmaseutiese organisasies.

Mark Heywood, die bekende mediese joernalis, se opsomming is: “You can’t make this up. If it was not true, no one would believe it.”

Inderdaad.

Die seeheks se storie word in slim animasie aan die kyker gegee; die farmaseutiese maatskappye se storie word in ’n dokumentêre styl verpak.

Tussenin sien die kyker hoe Sandra week na week swakker word en al hoe minder kan doen.

Heel teen die einde het die filmmakers selfs televisie-opnames van die ware rolspelers geplaas, juis sodat die kyker kan sien: Dié goed is nie versinsels nie ...

Red Sandra is ’n Nederlandstalige film, hoewel daar ook Russies, Frans en Engels gepraat word. Die onderskrifte is knap. Heywood, wat geen Nederlands verstaan nie, was beïndruk. Ek het die Nederlands gevolg, en het gedink die vertalings van eg Vlaamse uitdrukkings is besonder knap aan ’n Engelse gehoor oorgedra. Dit is nie bloot Google Translate-onderskrifte nie; die essensie van die frases word weergegee.

Mark Heywood se gesprek met die filmmakers

Die organiseerders van die Europese Filmfees het Mark Heywood gevra om ’n Zoom-onderhoud met die regisseurs, Jan Verheyen en Lien Willaert, te voer.

Heywood is een van Suid-Afrika se bekendste mediese joernaliste en was direk betrokke by die stryd om antiretrovirale (ARV-) middels vir Suid-Afrikaners beskikbaar te stel.

Vandag is ARV-middels by elke kliniek in die land beskikbaar, maar daar was ’n tyd toe 600 mense per dag in Suid-Afrika aan MIV/Vigs gesterf het.

Op Woensdag 20 Oktober het Heywood met die regisseurs van Red Sandra gesels.

Sy kennis van die farmaseutiese bedryf is goed, maar as joernalis was hy ook geïnteresseerd in die etiese aspekte van filmmaak, want veral Rosalie Charles, wat die sesjarige Sandra gespeel het, sou deur die ervaring getraumatiseer kon word.

Jin en Jang, Lien en Jan

Willaert en Verheyen het ’n ateljee, selfs ’n mikrofoon, gedeel, maar Willaert se Engels is nie baie sterk nie. Sy het dus dikwels vir Verheyen gevra om die spreekbuis te wees.

Hy het dit goed gedoen en dikwels gesê dis jammer dat hy moet antwoord, want haar antwoord sou wonderlik wees.

Dalk sou die Europese Filmfees kon leer by die Week van het Nederlands, waar ons opsetlik Afrikaans naas Nederlands gebruik het, en nie bloot maar gewoon na Engels oorgeslaan het nie. Heywood verstaan egter nie Nederlands nie, en hy was ’n baie goeie gespreksleier.

Vreemd genoeg het hierdie effense ongelykheid tydens die Engelse gesprek ook ’n metafoor geword vir die maak van die film.

Verheyen het Massart gaan ontmoet en toe die hele storie aan Willaert vertel.

“Dit klink soos ’n film wat ek moet maak,” het sy gesê.

“Nee, dis een wat ek wil maak,” het hy gesê.

Uiteindelik het hulle besluit om dit saam te doen.

“Dit was ’n bietjie Jin en ’n bietjie Jang, ’n bietjie Lien en ’n bietjie Jan,” het Willaert aan Heywood gesê.

Willaert het byvoorbeeld elke Woensdagaand met Rosalie Charles gaan speel. Sy het seker gemaak dat die jong aktrisetjie werklik kon kind wees en net speel. Selfs op die stel is alles aan Rosalie gebied as ’n geleentheid om gewoon te speel (play, not act).

“Het die jong meisie geweet hoe moeilik die film is waarvan sy deel was?” wou Heywood weet.

Nee, was die antwoord. Hulle het opsetlik nie die volle konteks aan haar verduidelik nie.

Rosalie het geweet dat haar karakter gebaseer is op Sandra Massart se lewe, en het selfs video’s van Sandra gekyk van die dae toe Sandra ses jaar oud was. Maar die volle waarheid is op daardie stadium van haar weerhou. Die ware William en Olga Massart, wat gereeld kom inloer het op die filmstel, is ook nooit toegang gegee op dae dat die jonge Rosalie op stel was nie.

Noudat die film klaar is en gereed vir verspreiding, het verskeie mense gevoel dat Rosalie Charles, wat nou al nege is, gereed sou wees om die film te kyk.

En sy was.

Dié keer was Olga Massart ook by die vertoning. Rosalie het ná die vertoning reguit na Massart gegaan en haar ’n drukkie gegee: “Ek het nooit besef waardeur jy is nie,” het die jong meisie aan Sandra se ma gesê.

’n Film oor liefde en obsessie

Mark Heywood het gesê dit is uiteindelik ’n film oor liefde. Jan Verheyen het saamgestem, maar het ook genoem dat hy met William Massart ooreengekom het dat die obsessiewe aard van Massart se stryd nie weggesteek sou word nie.

Vele mense het later hulle rug op Massart gekeer, want hulle het gedink dit sou beter wees om die meisie te laat sterf as om aan te hou baklei, Sandra se ouma was een van hulle.

Massart was tevrede toe hy die eerste, baie rou weergawe van die film sien. Hy is egter ongelukkig in November 2020 aan breinkanker oorlede, voor die finale weergawe uitgereik kon word.

’n Belangrike film

Heywood sê as aktivis beskou hy die film as belangrik. Hy hoop werklik dat dit debat sal stimuleer. In die dae van Vigs was daar Philadelphia, met Tom Hanks in die hoofrol, en dan ook die sonderlinge And the band played on, wat ook gekyk het na die rol van navorsers en geld in die vind van ’n oplossing teen die aanslag van Vigs.

Jan Verheyen was versigtiger. Hy beskou Red Sandra as ’n klein film uit ’n klein landjie, maar hy erken dat daar reeds sprake is om die film aan die Europese parlement te vertoon.

“Dan moet julle maar bekend word tydens die Oscars vir die beste buitelandse film,” was Heywood se antwoord.

Opsommend

Ek het Philadelphia uitmergelend gevind, maar was ontsettend bly ek het dit gesien.

Ek dink steeds dat And the band played on ’n insiggewende opsomming van die vroeë dae van Vigs is.

Red Sandra, of dan Saving Sandra in haar Engelse jassie, is knap.

MLD is té skaars om op ’n globale skaal aandag te trek, maar die essensie van die film gaan, soos in die geval van And the band played on, meer oor regerings en farmaseutiese reuse se houding teenoor gewone mense as oor die siekte self. Dit terwyl ménse swaarkry.

Hier in Suid-Afrika het Anneleigh Jacobsen Corporation games geskryf. Haar roman gaan oor korporatiewe reuse in die voedselbedryf wat wins najaag en dit as doel stel bo gewone mense se vermoë om noodsaaklike kos te koop.

Corporation games is ’n onderskatte boek omdat dit in die suidpunt van Afrika uitgegee is. Jan Verheyen het aan Mark Heywood gesê Saving Sandra gaan dalk nie ’n globale treffer word nie, want dit is in ’n klein landjie, België, gemaak.

My opsomming? Kyk asseblief Saving Sandra, maar wees gewaarsku: Nie alle feëverhale eindig gelukkig nie.

Die film word tans heeltemal gratis aan Suid-Afrikaners gebied as deel van die Europese Filmfees.

Lees ook:

European Film Festival: Breaking glass ceilings for women in film (panel discussion)

European Film Festival 2021 | We are live! | Live panel discussions

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top