Reën bring verligting én verwoesting

  • 0

Terwyl inwoners van Beaufort-Wes die afgelope week gejuig het oor die reën wat in die droogtegeteisterde gebied in die Karoo uitsak, is tientalle mense in KwaZulu-Natal dood as gevolg van die oorstromings wat die gebied getref het.

“Dis ’n ongelooflike gevoel om die reën te hoor, om die reën te voel, om die water in die strate te sien loop. Ons is so dankbaar dat dit reën,” het Marlene Hendriks van Beaufort-Wes aan Netwerk24 gesê.

In Durban moes honderde mense toekyk hoe Moeder Natuur sy tol eis as gevolg van die swaar reën in die gebied. Talle mense het langs die Umgenirivier saamgedrom om te kyk hoe die hoogwatermerk styg.

“Net God weet hoekom dit gebeur het,” het die joernalis Orrin Singh van TimesLIVE berig. 

Die dodetal weens die oorstromings in KwaZulu-Natal het Dinsdag tot 32 gestyg. Die gebiede wat die ergste geraak is, is Chatsworth en Pinetown asook Marianhill en Umlazi. Groot skade is aangerig, insluitend geboue en grensmure wat ineengestort het, paaie en huise wat oorstroom is en kragonderbrekings. Talle mense is ook beseer en verskeie word nog vermis. Die LUR vir Samewerkende Regering, Nomusa Dube-Ncube, sê die dodetal sluit nie inligting uit ander gebiede in nie. Talle mense moes hulle wonings ontruim en skoliere moes tuis bly as gevolg van die oorstromings.

In Beaufort-Wes waar die Gamkapoortdam dolleeg is, het die weerdiens inwoners ook gewaarsku teen die gevaar van vloede. Inwoners was egter verheug om te sien hoe diere op die plase na die poele water stap en water drink sedert die reën Maandag begin het.

’n Woordvoerder van die munisipaliteit, Marlene Hendricks,  het aan Netwerk24 gesê sommige van die dorp se inwoners was Dinsdag laat vir werk omdat hulle in die waterpoele gespeel het of sommer net daarin gestaan het om die gevoel te geniet.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Dinsdag verskeie waarskuwings uitgereik vir verdere vloede in veral KwaZulu-Natal. (https://www.weathersa.co.za/Home/Warnings)

News24 het berig dat minstens vyf mense dood is as gevolg van modderstortings in KwaZulu-Natal. Paramedici het hulle hande vol gehad om te reageer op noodoproepe in die provinsie. “Dis ’n malhuis,” het Garrith Jamieson van Recue Care Dinsdag gesê terwyl daar na liggame gesoek is wat tydens die storm weggespoel het.  

Videomateriaal van die vloede suid van Durban is op YouTube geplaas. Queensburgh is een van die gebiede wat die swaarste getref is en minstens sewe mense is dood toe hulle wonings deur die watermassa meegesleur is. 

 

Lees ook

Droogte in SA nou ’n nasionale ramp

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top