.............................................
"Ek ondervind nog soms ’n tipe konserwatiewe denkwyse in Afrikaans wat die taal keer om groter en beter te word. Afrikaans is so mooi, maar daar is plek vir groei."
.............................................
“Dit gaan bakgat, dankie!”
Opgewek en opgeruimd beantwoord Refentse Morake die vraag oor hoe dit met hom gaan. Passievol en ambisieus. Daar is geen tyd vir stilsit nie, dié is ’n besige man. Sy liedjies word op menige radiostasie gehoor en sy dagboek is propvol bedrywighede.
Refentse (Foto's: YouTube)
"Ek was onlangs deel van ’n fantastiese show, met wonderlike kunstenaars, almal saam op een verhoog."
Hy verwys na ’n konsert waar die Kaapstadse Filharmoniese orkes en die Drakensberg-seunskoor tesame met verskeie kunstenaars, onder andere die groep Mi Casa, die jazzsangeres Zoë Modiga, die bekroonde klassieke sopraan Andiswa Makana, ATKV-pryswenner-operasanger Bongani Khubeka en die saksofoonspeler Karendra Devroop ’n verhoog by Vergelegen in Somerset-Wes gedeel het.
Dit is egter vir Refentse niks nuuts om met ander bekendes ’n verhoog te deel nie – hy het immers al aan die begin van sy loopbaan ook saam met Karen Zoid opgetree. Groot konserte is ook nie ’n nuutjie nie: hy het al op uiteenlopende verhoë opgetree, van die Vrystaat Kunstefees tot Afrikaans is Groot in Pretoria.
Refentse het as 17-jarige die eerste keer in 2015 in die kalklig verskyn toe ’n buurvrou ’n video van hom wat in Afrikaans sing op sosiale media geplaas het. Dié buitengewone video van ’n sogenaamde swart jongman wat vlot in Afrikaans sing, het die sosiale media aan die gons gehad. Sy debuutalbum, My hart bly in ’n taal, is in 2016 vrygestel en boonop vir ’n SAMA vir beste kontemporêre-musiek-album benoem. Sy tweede album, Deur my venster, is in 2017 bekendgestel, en sy jongste album, Liefdegenerasie, in 2018. Sy bekende liedjies sluit onder andere "Reisiger", "Ek glo in liefde" en "Liefdegenerasie" in.
’n Swart man wat Afrikaans sing is dalk nie ’n alledaagse prentjie in Suid-Afrika nie, maar dis presies wie Refentse is, en trots daarop is hy beslis! Afrikaans is immers sy hartstaal en oor die afgelope paar jaar het hy homself as volwaardige Afrikaanse musikant gevestig. Refentse gebruik inderwaarheid Afrikaans om rasseverdelings in Suid-Afrika deur musiek te oorbrug. Hy het een doel voor oë en dit is om brûe te bou en bande te smee in Afrikaans, om ’n diverse nasie te verenig.
"Ek is mal oor Afrikaans. Ek droom en dink in Afrikaans."
Sy liefde vir Afrikaans kom al ’n lang pad, vertel hy. Hy was sedert sy laerskooldae in Afrikaanse skole gewees en het Afrikaanse vriende gehad. Dís waar hy die taal leer praat het.
"As ek reg onthou, was ek was die enigste swart outjie in die laerskool," lag hy.
"Daar het ek egter verlief geraak op die taal. Afrikaans is so ’n beskrywende taal. Ek kan myself so lekker daarin uitdruk."
Hoewel hy vlot Afrikaans praat, en boonop daarin sing, is Afrikaans nie sy eerste taal nie en kan hy verskeie ander tale ook praat.
"My ouers kon glad nie Afrikaans praat nie. My pa is Tswana en my ma is Zoeloe, beide tale wat ek kan praat. Ek kan ook Sotho praat – ons het op ’n stadium in ’n Sotho-streek gebly. Verder kan ek so ’n bietjie Sjangaan en Xhosa praat, en ook so ’n bietjie Italiaans."
Hy het grootgeword op ’n plot buite Meyerton naby Vereeniging. ’n Deel van sy grootwordjare het hy saam met sy ouma gewoon, aangesien sy ouers stad toe getrek het as gevolg van werk. Hy vertel hoe hard sy ouers gewerk het om na die gesin om te sien en ’n toekoms vir hulle kinders te bied.
Wanneer ’n mens hom verder oor sy grootwordjare uitvra, is daar een spesifieke herinnering wat vir hom uitstaan, onthou hy.
"My gunstelingherinnering van my grootwordjare is toe ek as graad 1-leerder aan die Laerskool Voorwaarts agter in die skoolsaal gedans het tydens die senior revue-groep se oefening, soveel so dat die afrigter my genader het om deel van die span te word," lag hy.
"Dit was ook my eerste geleentheid op die verhoog. Van toe af is die verhoog al waar ek werklik lewendig voel."
Want nes Afrikaans lê musiek hom ook na aan die hart, en vandag is hy dankbaar dat hy sy passie kan uitleef.
"Daar is soveel mense wat ’n groot rol in my lewe gespeel het – ek kan werklik nie een persoon uitsonder nie. Almal wat ek tot dusver al ontmoet het, almal met wie my paaie al gekruis het se rol in my lewe, is ewe belangrik – dit sou onregverdig wees om iemand uit te sonder.
"Ek is dankbaar vir die groep mense wat my tot hier gekry het en saam met my op my lewenspad is. Dit is vir my ’n groot voorreg om te kan toer en saam te kan werk met mense wat my verstaan en my visie deel."
’n "Living on the edge"-tipe persoon is hoe hy homself beskryf. Hy glo daarin om die lewe nie té ver vooruit te beplan nie en om onverskrokke te leef.
"As jy jou lewe te haarfyn wil beplan, gaan jy dalk jouself inperk en ander geleenthede misloop. Ek voel as jy te gefokus is op een ding, sien jy dalk nie ander geleenthede raak nie."
Oor Afrikaans is hy positief, alhoewel hy meen daar is ruimte vir verbetering.
"Ek ondervind nog soms ’n tipe konserwatiewe denkwyse in Afrikaans wat die taal keer om groter en beter te word. Afrikaans is so mooi, maar daar is plek vir groei."
Intussen gaan hy aanhou om die norme rondom Afrikaans uit te daag, want Afrikaans is vir almal.
Wat die land betref, glo hy mense moet meer bereid wees om uit hul gemaksone te tree en stereotipes uit te daag. Mense moet bereid wees om van mekaar en verskillende kulture te leer.
"Ons het talle probleme wat ons in die gesig staar in Suid-Afrika, en talle dinge het die potensiaal om ons as ’n nasie te verdeel. Ons sukkel partykeer om mekaar se standpunte in te sien. Maar hoewel ons van verskillende kulture afkomstig is, is daar tog goedjies wat ons oor kultuurgrense gemeen het. Ek glo ook musiek het die mag om ons te verenig en bymekaar te bring."
Musiek is universeel. Daar is geen grense nie.
"My hoop is om liefde en positiwiteit te versprei so ver as wat ek gaan. ’n Toekoms van musiek, reis, liefde, passie en selfontdekking. Geen grense so ver as wat ek gaan nie."
Buro: MvH