Amsterdam is nie net die stad van kanale, fietse en wêreldklas museums nie, dis ook ’n smulpaap se droom, skryf Maryke Roberts.
Die lekkerte van terugkeer na ’n stad is dat jy nie hoef te hardloop agter elke kunsuitstalling, museum of bootrit aan nie. Ons twee is vir ons vierde besoek aan dié magiese stad, al etende en drinkende deur Amsterdam, met vriende en familie wat kom saamkuier.
Ons laatoggendavontuur begin etlike ure nadat ons die lieflike Norwegian Cruise Lines (NCL) Prima in die hawe agtergelaat het. Ons moes bitter vroeg aan ons eggs benedict en cappuccinos smul, voor ons 09:00 anderkant die haweterminaal die stad kon begin verken.
Geen besoek aan die stad sal volledig wees as jy nie ten minste een maal per dag ’n Hollandse stroopwafel eet nie, het my oorlede vriendin geglo. Vir haar onthalwe sleep ons, ons wieletjiestasse deur die padwerke en slote, eers na Melly’s Stroopwafels, voor ons die bagasie by die hotel gaan los.
Die venster in Nieuwezijds Voorburgwal waardeur die wafels in netjiese ronde blikkies loer, roep jou van vêr af. Melly’s is bekend vir hul interessante strope, souse en ander versierings, maar ons hou van die wafels in sy oorspronklikste vorm, met ’n lekker koppie koffie. Die harde-taai buitekant wat eindig in ’n sagte karamelbyt, is hemels.
Teen middagete grom my maag en ek kyk op my foon om te sien hoeveel treë ek al gegee het. (Dit laat my beter voel as ek darem 10 000 treë gegee het, voor ek weer eet...) ’n Sielkunde wat seker net op my werk, en waarvoor my geliefde elke keer lag as hy my gewaar.
Café de Sluyswacht wat uit 1695 dateer, is al vir jare een van die mooiste plekke op Jodenbreestraat. Ons gaan sit by een van die hoë tafeltjies en kyk hoe die klein bootjies op die water onder ons verbygly. Die warm bitterballen en soetpatatskyfies is heerlik saam met die yskoue Hertog Jan-bier.
Die pikswart geboutjie wat lyk of dit effe skeef oorhel, is in 1692 gebou as ’n woning vir die sluiswag, die man wat die aangrensende sluis bedryf het. Die geboutjie met mooie uitsigte oor die Oude Schans en Montelbaanstoren, word nou as nasionale monument beskerm. Die oorspronklike Montelbaanstoren is in 1516 as deel van die Amsterdammuur gebou, wat die stad en hawe moes beskerm. Die idee was dat die toring deel van ’n kasteel sou wees, maar dis egter nooit gebou nie.
Die Saterdagmiddagatmosfeer buite op die terras is feestelik en sorgeloos.
Die lug is blouselblou en die sonnetjie bak vertroostend op my rug.
Oorkant die pad kom toeriste met gereelde tussenposes uit die Museum Het Rembrandthuis. Die kunstenaar het vir 20 jaar daar gewoon en gewerk en dis ’n lekker besoek voor jy na die Nagwag en talle van sy ander werke in die Rijksmuseum gaan kyk.
Ons leesboeke en waterbottels is altyd in ons rugsakke en ons geniet die stad se grasgroen parke, waar kinders in fonteintjies baljaar of balskop en waar vriende met wegneemkoffies gesels of ander met oorfone na musiek luister.
Ons kuier saans voor ete by een van die stad se vele elegante wynkroeë en staan verstom oor die Nederlanders se liefde – en kennis – van Suid-Afrikaanse wyne. Ons proe Franse, Italiaanse, Chileense en Nieu-Seelandse wyne en vergryp ons byna aan die magdom kase waartoe die locals toegang het.
Een van die wynkroegies wat ons verskeie male besoek, is Shiraz jardin des Vins, wat meer as 260 wyne het waaruit jy kan kies.
Ons sit op een van die bote neffens die wynkroeg, wat sommige aande as verlengstuk van Shiraz ingespan word, want dié plek is gewild. Die meeste mense kom sit vir een glas wyn, ’n vinnige geselsie met vriende, voor almal weer soos skimme in die skemer na ander afsprake verdwyn.
Ons vra vir die kelnerin vir aanbevelings: ek hou van lekker volronde rooiwyn, my geliefde is meer avontuurlustig en wil een van die oranje wyne probeer.
Met ’n houtbordjie met peuselkouevleis en varsgebakte broodrolletjies, teug ons aan Colle Sori Appassimento van Puglia en Albert Hertz-wyne van Alsace. Later word die ligte op die kanaaloewer aangeskakel en ons probeer ’n paar wyne uit die Douro-vallei in Portugal.
Sondae is vir vriende en lang kuiers.
Die woorde teen die muur by die INK Hotel Amsterdam MGallery val so reg in ons kraal: “You have to taste a culture to understand it.”
Tussen die ou tikmasjiene, oulike name vir kamers soos dié van die redakteur se kantoor en fotograaf se kantoor van die voormalige Nederlandse koerant, De Tijd, smul ons een loom Sondagoggend aan die “bottomless brunch”.
Ons kyk hoe die sjefs in die oopplanvertrek van die Pressroom-restaurant hul geregte berei, terwyl ons aan yskoue Cava teug, wat jou kleintongetjie kielie en jou tong laat dans.
Aan die teenoorgestelde kant is ’n pragtige kroeg, waar ander ontbytgaste se mengeldrankies – deel van die “bottomless brunch”-aanbieding – gemeng word, maar vir nou is dit net ons, die musiek, die reuk van varsgemaalde koffie en borrels op ons tong.
Jy kan een soet en een sout gereg van die spyskaart kies, met koffie en ’n mengeldrankie, en jy kan so lank sit as wat jy wil. Ek kan nogal gewoond raak aan dié luilekker Sondagkuier en ek hou beslis van hierdie kultuur!
Ons smul aan eggs royale met salm en hollandaise-sous, Amerikaanse pannekoeke met bessies en esdoringstroop en eindig die kuier met Espresso martinis af, want ontbyt vra darem vir koffie...
By die varsproduktemarkie in Ten Katestraat ruik ek die vars aarbeie en bessies voor ek dit sien. Die groen kartonnetjie vol frambose laat my munte uittel en ek druk die plomp, stroopsoet frambose in my mond, terwyl ek die ander stalletjies beloer.
By ‘t Lievertje Bloemisten se stalletjie in die hartjie van die stad is dit die reuk van vars blomme wat my voor die boekwinkel op die hoek laat vertoef. Met die uitkomslag swig ek en koop ’n bossie wit blommetjies in ’n krakerige witpapierkegeltjie om ons hotelkamer te gaan versier. Dit staan kiertregop langs my nuwe boekaankope in my drasak.
Nie ver daarvandaan nie kan jy interessante kos in ’n ontspanne atmosfeer geniet by Foodhallen op Bellamyplein. Jy koop jou gunstelinggereg by een van die stalletjies, kry ’n bier, koffie of glas wyn en soek ’n tafel. Gou kuier jy en die bure soos ou vriende. Dis in ’n ou tremstasie ingerig en daar is hope om na te kyk. Hier gly die ure gou verby en voor jy jou kom kry, is dit ounag.
Hoe lekker om op ’n Maandagoggend ná ontbyt ’n klein rugsakkie met kaas, brood en vleis te pak en deur die stad te stap. Die atmosfeer is heeltemal anders as oor naweke en die strate ook stiller. Ons val in die ry vir ons gratis bootvaart as deel van ons I amsterdam-kaart, wat nie net gratis publieke vervoer in die stad insluit nie, maar ook afslag by museums en ander toeristeattraksies.
Ons koop ’n klein botteltjie wyn en ’n yskoue bier en gaan maak ons in die boeg tuis. Die dakvenster is oop, die windjie roer liggies deur ons hare en die stad se mooiste geboue en kanale gly by ons verby.
Met ons tasse gepak en huis wat wink, kuier ons enkele ure voor ons vlug by die Bar Kantoor in Westerpark. Die restaurant – deel van die Conscious Hotel Westerpark – kyk uit oor die park en ek is effe hartseer om te dink dat al die drawwers, stappers en geselsers op oulike parkbankies môre weer hier kan kuier as ons by die huis is.
Weer het ’n ou gebou ’n nuwe gebruik gekry: die ou kantoor van die fabriek wat Amsterdam van 1885 tot 1967 van gas voorsien het, is vandag ’n luukse hotel en restaurant, wat ’n mooi voorbeeld is van hoe organies en volhoubaar restaurante en hotelle kan wees.
Alles op die spyskaart is organies, van die water tot die wyn en bestanddele. En vegans en vegetariërs eet hier amper lekkerder as vleiseters, besef ons toe ons die vegetariese tapasbord as voorgereg geniet.
Met glase organiese Riseis Montepulciano d’Abruzzo-rooiwyn sit en speel ons kaart tot die hoofgereg later bedien word.
Dis met trae lywe dat ons later groet en die terugtog huis toe aandurf.
Die geskenke in ons tasse vir vriende tuis is toe ook inderdaad alles uit ons kos- en wynliefde gekies. Daar is stroopwafels en Nederlandse wyn, sakkies vol soutlekkers en ’n stukkie ingesmokkelde kaas en vyf gedroogde blommetjies uit ons ‘t Lievertje-ruiker vir ons eie nostalgie.
- Woorde: Maryke Roberts
- Foto’s: Clifford Roberts