Reis in die tyd van die korona: Die wysheid van die meeue

  • 0

Dis ’n rare gebeurtenis. Niemand, nie eens die dorpsmense, kry vooraf kennisgewing nie. Die datum en tyd van die fees hang af van die son en die maan en die wysheid van die meeue. Maar as die meeue wel kom, is dit mosseltyd, feestyd in die Batinah, Oman se Vol Pens.

Die Batinah-distrik in Oman strek vir 2 700 km langs uitgestrekte strande vanaf Muskaat tot by die grens van die Emirate. Dis waar Oman se boere en vissermanne woon, met volop geelvintuna, dorado en vele ander. Maar vandag se storie gaan oor die meeue, mossels en die wisselende getye. Oor mense wat nog luister na die meeue en die see.

Foto: Michelle Shelby

Dié dag toe ons die bult af ry tussen die terracotta huisies deur, is die strate vreemd verlate. Op die strand wemel dit van mense. Dit op sigself is vreemd, want in Oman meng mans en vroue nie in die openbaar nie. Dit moet ’n spesiale geleentheid wees as man, vrou en kind saam op die strand is. In die voetwaters van die terugtrekkende gety woel en wikkel, gesels en lag die dorpsmense.

.......

"Dis mosseltyd, vind ons uit. Mossels is ’n gesogte gereg en boonop skaars. Dié aand eet die dorpsmense mossels. En as daar oorbly, word dit gesout en gedroog vir die tye wanneer die meeue in hul wysheid wegbly."

........

Dis mosseltyd, vind ons uit. Mossels is ’n gesogte gereg en boonop skaars. Dié aand eet die dorpsmense mossels. En as daar oorbly, word dit gesout en gedroog vir die tye wanneer die meeue in hul wysheid wegbly.

Dooigety is juis mosselgety. Vir die mense van die Vol Pens is dooigety allermins dooierig: Dis vol opwinding. Diegene met geoefende voete lig behendig ’n mossel met die tone uit sy nat-sand-kombersie. Ander grawe gretig die skulpdiertjies met die hande uit.

Dis ’n feestelike gebeurtenis, want mosseltyd gebeur nie sommer elke kwartmaan nie. Die son en die maan en die aarde moet net reg teenoor mekaar lê. Net dan word die baaitjie, die speelplek van die getye, vir ’n wyle as ’t ware ontbloot en kry dit direkte son as die waterkombers liggies afgepluk word. Die menigte strandbewoners – wat normaalweg weggesteek is onder die water – loer vir die son. Alles wat leef in die smal strandstrook is interafhanklik; elkeen vorm deel van die komplekse voedselketting. Hulle is kieskeurig soos Gouelokkies: nie te veel nie, nie te min nie. Net die regte hoeveelheid sonlig is nodig vir die plankton om te gedy. Die mossels eet die plankton; die krappe eet die mossels; die meeue eet die krappe en die mense eet die mossels.

Giftige mossels is dodelik. Die mense van die Batinah wag vir die meeue voordat hul mossels oes. Eers as die meeue op die baaitjie toesak om krappe te eet, kom die mense met hul kruiwaens, emmers en sakke om mossels te oes. Die meeue wéét wanneer die krappe nie giftig is nie. En die krappe wéét wanneer die mossels nie giftig is nie.

........

Die meeue wéét wanneer die krappe nie giftig is nie. En die krappe wéét wanneer die mossels nie giftig is nie.

.........

’n Ouerige vrou kom orent; vryf haar stywe rug. Swaarkrygroewe is geëts op haar gesig. Ek onthou haar van ’n vorige besoek met ’n troppie bokke op die rand van die dorpie. "Dis die meeue," verseker Maryam my terwyl die knopperige vingers voel-voel mossel na mossel uitlig. "Dis die wysheid van die meeue. Want dis nie met elke dooigety dat die mossels geëet kan word nie," waarsku sy. Sy buk swaar en haar bak is ver van vol. Ek voel sleg dat ek gesels terwyl sy moet werk; probeer onhandig ’n mossel uithaal.

Maryam (Foto: Michelle Shelby)

"Maar hoe, Maryam, hoe weet die meeue?"

Sy kyk my geduldig aan – jare van spring-, eb- en dooigetye, jare van mossels grawe het haar rustig gemaak. Wat was, sal weer kom, vertel die vlak are op haar hande as sy beduie: "Sewe dae na springgety hou ons die meeue dop. As hulle wegbly, bly ons tuis, maar as die meeue kom krappe eet, weet ons die mossels is reg."

Maryam buk weer af, haar stringe silwer enkelbande blink in die son.

Later sien ek haar waar sy oor ’n oop vuur ’n pot mossels stadig laat prut. Sy haal die enkeles wat nie oopgaan nie, met die kaal hand uit die stomende pot, gooi dit in die sand. In die swart ysterpot langsaan stu die geur van gebraaide uie, knoffel en suurlemoen. Sy nooi ons vir ete.

Ek is skielik baie honger, maar ons moet ry. Die pad Muskaat toe is ver. Die son is besig om te sak. In Oman is gehoorsame vroue nie snags op die pad nie, herinner Michelle my. Ek weet sy is reg. In dié land ken ’n vrou haar plek. Jou man of sy drywer neem jou ná donker waar jy wil wees. Alleen op die pad word nie geduld nie – selfs al is dit mosseltyd.

Ek groet Maryam, maar sy wil eers weet, kom ek van Muskaat? Haar seun bly ook in Muskaat. Hy het laas beloof hy sal kom vir mosseltyd. Nou wel, miskien was hy te besig. "Hy ry so ’n groot silwer kar?" Haar oë is ’n mengsel van verwagting en gelatenheid.

By ons motor haal ’n ou man ons in. Hy gee ’n sakkie gedroogde mossels vir Michelle, knipoog vir haar. "Jy beter jou trouring vir hom wys," spot ek haar. "Die Omani’s hou van blondines."

’n Mariene bioloog by die Sultan Qaboos Universiteit probeer later in leketaal vir my die wysheid van die meeue verklaar. Die son is die bron van alle energie, selfs vir die skulpdiere wat die grootste deel van hul lewe onder die soutwater leef. "Fotosintese, skoolbiologie ...?" sê-vra hy. "Dis nie sommer net vir gaan mossels oes nie. Besoekers word dikwels baie siek van mossels wat op die verkeerde tyd geoes is. Daar is ’n komplekse biologiese proses wat bepaal of mossels eetbaar of giftig is. Wetenskap en Allah werk saam aan die wonderwerk. Dis ’n fyn balans tussen wind, water, son, maan, aarde, skulpdiere en meeue."

.........

"Dis nie sommer net vir gaan mossels oes nie. Besoekers word dikwels baie siek van mossels wat op die verkeerde tyd geoes is. Daar is ’n komplekse biologiese proses wat bepaal of mossels eetbaar of giftig is. Wetenskap en Allah werk saam aan die wonderwerk. Dis ’n fyn balans tussen wind, water, son, maan, aarde, skulpdiere en meeue."

...........

Hy staan op en ek weet dis tyd om te gaan. Te laat onthou ek om nie my hand uit te steek nie. Hy ignoreer my hand beleefd; praat onverstoord verder. "Dis nie net die meeue wat wys is nie. Ook die mense van die Batinah is wys. Hulle volg steeds die eeue oue gebruike en tradisies. Hulle respekteer die natuur, gehoorsaam die natuurwette," sluit hy af.

Op pad huis toe met my klein Kia Picanto flits die groot viertrekvoertuie by my verby. Links van my lê die diepblou water van die Persiese Golf, regs sprei die moderne stad ver die klipwoestyn in.

Ek kyk na die tientalle groot silwer motors; wonder oor Maryam se seun. Die Omani’s in hul lugverkoelde voertuie ver van die strande van Batinah, verlang hul soms na mosseltyd? Onthou hul nog van die wysheid van die meeue?

Lees ook:

Reis in die tyd van korona: vinkel en koljander

Reis in die tyd van die korona: onder vreemde hande

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top