Reis: McGregor

  • 0

Verbeel jou jy is in die Mediterreense platteland as jy jou oë toemaak en jou hande oor die laventel- of roosmarynbosse streel; ’n goudgeel suurlemoen uit ’n dorpstuintjie oor ’n witgekalkte muurtjie hang; of jy ’n pikswart, vet olyf in jou mond druk in die Bolandse dorpie, McGregor, skryf Maryke Roberts.

Die verkeer uit die stad op die N1 is besig, maar bedaar effe toe ons wegdraai Robertson toe. Gou omring die wingerde ons aan weerskante van die pad, en oral op klein lappies grond staan perde, beeste en skape en wei of rus in die koelte en ons vergeet van die rit agter ons.

Voor ons weet, is ons oor die bruggie oor die Breërivier van Robertson se kant, deur die bloekomlaning tot waar die oulike wit pilaartjies met die dorp se 1862-stigtersjaartal op jou verwelkom.

Dit is in 1862 gestig en het aanvanklik Lady Grey geheet, maar is in 1905 herdoop na McGregor, ter ere van dominee Andrew McGregor wat vir 40 jaar die NG Kerk-predikant vir die Robertson-distrik was.

Die dorp is ’n geroesemoes van Vrydagmiddag-bedrywighede. Ons bly by ’n ou vriend net buite die dorp en draf gou in by Bemind Wyne vir ’n paar bottels wyn voor ons ons kamer in sy skuuragtige huis met sy sementvloere ons eie maak. Bemind is die dorp se eie klein garagiste waar Ilse Schutte die wynmaker en eienaar is. Bemind Wyne is in die hartjie van die hoofstraat en oop vir proeë. Moenie dink omdat dit kleinskaal is dat die kwaliteit enigsins hoef terug te staan nie!

Bemind Wyne is die dorp se eie klein garagiste waar Ilse Schutte die wynmaker en eienaar is. Bemind Wyne is in die hartjie van die hoofstraat en oop vir proeë.

Sy huis sit hoog teen ’n heuwel en ons kan nie ophou kyk na die wonderskone omgewing nie. As jy jou gedagtes vrye teuels gee, kan jy jou verbeel jy is iewers op die Mediterreense platteland met al die olyfbome, laventel en kliprante; jy moet net die kenmerkende NG Kerk-toring uit jou geestesoog verwyder …

Die Moederkerk is in die middel van die dorp en steeds ’n aktiewe deel van die gemeenskapslewe.

Met die son wat ondergaan, gesels ons oor vorige kuiers en al die heerlike akkommodasie-opsies in een van die dorp se geskiedkundige huisies, of plaasverblyf met hanekraai en eiers van vrylopende hoenders vir ontbyt. Hy het minder as ’n jaar gelede hierheen verhuis en is opgewonde om ons die dorp te wys; die nuwe restaurantjies en kuierplekke met ons te deel.

’n Bietjie humor vir die dag ...

Ons is ná donker verbaas oor hoe koud dit word en skuif binnetoe met glase Bemind-rooiwyn, steek die kaggel aan en begin aantrek vir ete by Tebaldi’s Restaurant by die Temenos Retreat. Dit het onlangs sy deure geopen onder die bekroonde sjef Christiaan Campbell wat voorheen by Delaire Graff en Boschendal was, en spog met ’n pragtige nuwe voorkoms.

Christiaan Campbell se nuwe stempel op Tebaldi’s maak dit ’n voorslag-ervaring.

Daar is bedags van Dinsdag tot Sondag die Out of Africa Café se heeldag-ontbyt en neffens dit in die ou historiese baken, Tebaldi's Restaurant, waar Christiaan se wondervingers disse uit die boeke optower! Middagete Saterdag en Sondag en aandete Woensdag tot Saterdag.

Ons kom beslis terug vir die tiende Gedigtefees wat van 18 tot 20 November op die dorp gehou word. Temenos is weer die tuiste van die fees en met vorige feeste is ons siele verryk met die mooie rymende verse van uiteenlopende stemme. Vanjaar se tema, “Die wildernis in” is so in my kraal. Jy kan nog tot 30 Augustus jou gedigte rondom hierdie tema inskryf. Meer inligting by https://poetryinmcgregor.co.za.

Tuisgekom, stook ons weer die kaggel en speel kaart tot ounag.

Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere, want die klein restaurantjie Cafe 51 is net soggens oop en is dié plek vir tuisgebakte ontbyt-calzones en skouerskuur met locals. Dit lyk soos ’n klein stukkie Skandinawië daarbinne met Deense appeltert, witgeverfde muurpanele en ’n Noorse kaggel.

Café 51 is ’n regte stukkie Skandinawië in die Boland.

Met ons laaste koffie gaan sit ons buite op die stoepie. Die atmosfeer om die hoofstraat is aansteeklik en jy voel hoe die stres wat die week gebring het, finaal verdwyn. Ons gaan stap die stewige ontbyt af.

Daar is waenhuisdeure langs historiese ou huisies met bordjies dat jy moet uitkyk vir ’n hond, maar ek vermoed dis meer net vir dekor-impak as vir regtig-wees. Die afgekalkte wit muurtjies of ruwe klipmuurtjies omraam net die erf; dit hou niemand in of uit nie. Hier ken mense hul bure en gesels hulle oor die heining soos toe ek ’n kind was.

Aan historiese geboue is hier geen tekort nie en dis so wonderlik om te sien hoe oulike winkeltjies daarbinne geopen word en hoe mense heerlik met moderne tegnologie in historiese mure woon.

By een huisie hang ’n hoefyster bo die voordeur; by ’n ander is daar ’n oulike teken: “Beware of attack cat”; en daar is water in sommige van die leivoortjies, soos mense se leibeurte ingedeel is. Bougainvillea is geel, oranje en skelpienk en rank afdakke en stoepies koesterend toe, asof dit weet watter hitte nog in die hoogsomer wag en almal daarteen beskerm moet word.

Leiwater is bekorend en veral as daar ’n vriendelike koei regstaan vir ’n kopvryf.

Die oggendsonnetjie bak deur die blare op ons rûe en maak ons lui. Dis moeilik om nie ’n uiltjie te wil knip nie, maar ons het ’n wynproe by Tanagra Private Cellar en Paul René bespreek. Tanagra is al jare lank ons gunsteling, want hier word nie net bekroonde wyne gemaak nie, maar ook grappastyl-spiritualieë en eau de vie, en die Duitser Robert Rosenbach maak ook vrugtelikeurs, en daar iewers in die vate verouder sy eie brandewyn.

Ons stap saam deur die distilleerdery en kry die voorreg om wyn uit die vate te proe. Dit word eers volgende jaar vrygestel en verouder nog, maar is klaar heerlik.

Ons proe verskeie wyne, eau de vie en wyne uit die vat by Tanagra saam met die eienaar, wynmaker en stoker, Robert Rosenbach.

Paul René Cap Classique op die plaas Wonderfontein het twee baie kreatiewe eienaars, Henk en Monica van Niekerk. Op die plaas met sy eeue oue geskiedenis word die Paul René Cap Classique-reeks wat bestaan uit ’n Brut chardonnay, ’n Brut rosé, en Paul René Nectar, gemaak. Die oulike verpakking met ’n gestreepte Franse lint is nie net vroulik en sprankelend soos vonkelwyn moet wees nie, maar bring hulde aan hul voorvaders se Franse oorsprong.

Die reën trek weg en die blou lug skitter deur die bome by Wonderfontein, waar ons Paul René Cap Classique proe.

Wonderfontein

Die mooi gewel en slaweklok op Wonderfontein.

Paul René Cap Classique

Middagete ry ons die paar kilometer na die Robertson Small Hotel, waar die beeshaas en songedroogde risotto die ideale pasmaats vir ons Tanagra Heavenly Chaos rooi versnit is.

Die tuin strek in ou Victoriaanse baldadigheid rondom ons uit en die wintersonnetjie bak my voete warm. Die luiheid is terug!

Gelukkig is daar genoeg tyd vir ’n halfuurtjie se skuinslê voor ons laatmiddag nog vriende verwelkom en met ’n bottel van Paul Renee op ys pétanque speel op die klein grasperk voor sy stoep (wat amper uit pas lyk met die omringende plantegroei) en kort-kort terugkom vir nog ’n reusehap uit ons plaasbroodjie van Café 51 en slukkie yskoue borrels.

In die somer is sulke oorgroeide stoepe die beste plek om mense te kyk en jou boek te lees.

Dis al sterk skemer toe ons weer inry dorptoe. Voor in die pad loop vier tarentale in ’n stowwerige systraatjie en by die kruising met die volgende straat loop vier seuntjies van die onderdorp in die goue strale van die kwynende son in. Daar is goue stof waar ons motor pas gery het. Dit draai in klein krulle agter ons voor dit in die pad gaan loer en wag vir die volgende motor. Naby die kerk wei ’n koei in ’n kampie en kom nader toe ons roep en staan geduldig vir ’n kopvryf.

Vinnige tapas by Green Gables Country Inn se Frida’s op ’n effense hoogte aan die dorpie se buitewyke – dis heerlik om teen sononder daarheen te stap. Hulle is net naweeksaande oop en die ideale plek vir tapas en ’n glas wyn, voor jy elders verder gaan kuier. Hulle was onlangs op die kykNET-reeks In die sop. Bertus Basson, bekende sjef en restauranteienaar, het al groot sukses gesmaak – maar oor die jare ook baie foute gemaak en duur lesse geleer, en hy deel hierdie lesse in die reeks.

Vinnige tapas by Green Gables Country Inn se Frida’s op ’n effense hoogte aan die dorpie se buitewyke – dis heerlik om teen sononder daarheen te stap.

Daar word in elke episode gewys hoe ’n eetplek in drie dae ’n transformasie ondergaan. Bertus en sy span deskundiges kan enige iets verander – dit sluit die naam, dekor, uitrustings van die personeel, die spyskaart en die kombuisopset in. Volgens hom poog hy en sy span om restauranteienaars met hul kennis en ervaring te bemagtig en te inspireer. Die mooie dekor en tapas sal ons beslis laat terugkeer vir nog.

Ons sluit die aand af by At the Courtyard met ’n lewendige musiekvertoning van Luna Paige en Schalk Joubert op baskitaar. Die musiek wissel tussen polsend, melankolies en vrolik en is die ideale manier om ’n Saterdagaand deur te bring.

Ons sluit die aand af by At the Courtyard met ’n lewendige musiekvertoning van Luna Paige en Schalk Joubert op baskitaar.

Die reuk van koffie uit die kombuis die volgende oggend laat ons onwillig opstaan, en voor die kaggel en reuseruite kyk ons hoe die dag ontwaak. Tydskrifte waarby ek nooit uitkom nie, word sorgvuldig deurgelees en nog koffie aangedra. Ons het na ontbyt by die Eseltjiesrus-donkieskuiling ingeloer. Dis altyd lekker om ’n donkie se ore te vryf en iets by te dra om mishandelde, afgeskeepte en ou donkies te versorg. Die diere kry eersteklas behandeling hier in die later jare van hul lewens. Dit wemel van opgewonde kinders en is ’n ware belewenis. Daar is ’n restaurant waar mense hartlik gesels en eet.

Daar vertel ’n vrou ons van die lekker kaas wat sy by Made in McGregor gekoop het, en die vryweihoenders by Red Earth Farm, en ons draai opslag terug en gaan loop nog ’n uur of twee in die dorp rond.

By Bargain Books raak ons verlore tussen die ou kaarte en afdrukke deur Tony Meintjies, lekker boeke wat alles geld insamel vir dierebeskerming, en weer ’n vinnige koffie by Café 51, waar ons sien hoe ’n begrafnisstoet verbykom.

By Bargain Books raak ons verlore tussen die ou kaarte en afdrukke deur Tony Meintjies, lekker boeke wat alles geld insamel vir dierebeskerming.

Die hele dorp kom vir ’n paar minute tot stilstand. Die blaasorkes marsjeer voor en die begrafnisgangers stap agterna. My oë skiet vol trane, nie net uit simpatie vir dié wat ’n geliefde moet begrawe nie, maar vir die nostalgie wat van my hele wese besit neem. Ek het hierdie tipe afskeid laas as kind tussen die stofstrate van my ouma-hulle se plasie in die Noord-Kaap ervaar.

Die dolle gejaag wat ons lewens geword het én die isolasie van die grendeltyd het my laat vergeet hoe die tyd in droefheid kan stilstaan, maar hoeveel gemeensaamheid daar in samesyn kan wees.

Mens wil die kuier so lank moontlik uitrek, maar ons moet in die pad val. In ons truspieëltjie stap die locals met hul honde, die middagson se strale begin patrone maak teen die rantjies, en die plattelandse vrede kom klim in ons motor en ry saam huis toe. 

Vrede is al wat jy kan ervaar as jy hierdie prentjie sien.

Kitsfeite

  • McGregor is ongeveer 150 km oos van Kaapstad en ’n heerlike halfdag- (maar verkieslik naweek-) wegbreek as jy die res van die Robertson-vallei verken. Dit het ’n heerlike verskeidenheid restaurante en wynplase en jy kan jou vir dae besig hou om almal te ontdek.
  • Die McGregor Toerismekantoor is in Voortrekkerstraat 53 in ’n pragtige historiese gebou geleë. Loer by hulle in, of besoek www.tourismmcgregor.co.za of loer op Facebook.

> Woorde: Maryke Roberts

> Foto’s: Clifford Roberts

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top