Resensie: Mens dier ding deur Alfred Schaffer – ’n verbeeldingryke herbesoek aan Shaka/Chaka

  • 0

Mens dier ding
Alfred Schaffer (vertaal deur Zandra Bezuidenhout)

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178143

Vier jaar nadat die oorspronklike Nederlandse weergawe van Alfred Schaffer se Mens dier ding verskyn, volg Zandra Bezuidenhout se Afrikaanse vertaling daarvan. Die vertaling lees besonder oortuigend, en is grootliks vry van die weerklank van die Nederlands. Die vorige Afrikaanse vertaling van Schaffer-werk, deur Daniel Hugo, het in 2013 onder die titel Kom in, dit vries daar buite verskyn, en het ’n keuse deur die digter self bevat uit vyf bundels wat tussen 2000 en 2008 verskyn het, asook drie gedigte wat tot op daardie stadium ongepubliseer was, naamlik “Nagdiens”, “Besoek” en “Droombegin”. Daardie drie gedigte, nuut vertaal, maak ook deel van Mens dier ding uit. Yves T’Sjoen (2017:115) het met betrekking tot die veelbekroonde Nederlande weergawe uit 2014 opgemerk dat Schaffer met hierdie bundel sy poësie “voor het eerst nadrukkelijk – hoewel metaforisch ... – tegen een Zuid-Afrikaanse agtergrond” plaas, ofskoon Suid-Afrika ook vroeër reeds figureer deur byvoorbeeld intertekste en die spesifiek Suid-Afrikaanse situering van sommige gedigte.

In Mens dier ding bring Schaffer, al jare dosent by die Universiteit Stellenbosch, op ’n verbeeldingryke wyse herbesoek aan Thomas Mofolo se roman Chaka, wat reeds teen 1910 voltooi is maar eers in 1925, in Sesotho, verskyn, waarna die eerste Engelse vertaling in 1931 volg. Chris Swanepoel se Afrikaanse vertaling sien in 1974 die lig. Chaka is ’n gefiksionaliseerde weergawe van die geskiedenis van en rondom Shaka Zoeloe as formidabele krygskunstenaar en leier, en word beskou as een van die belangrikste werke in die Suid-Afrikaanse en Afrika-letterkunde. Die mitologiese proporsies wat die Shaka-geskiedenis vir baie aan(ge)neem (het), is tot ’n groot mate deur hierdie roman gevoed, maar tog begin ook die demitologisering van die magshonger en bloeddorstige Shaka reeds in hierdie roman. Hierby het Mofolo se sending-agtergrond ’n rol gespeel. Daar kan aangevoer word dat Schaffer met Mens dier ding hierdie demitologiseringsproses voortsit, maar dan sonder om in hierdie verband afdoende te probeer wees. Die herbesoek aan Shaka lewer geen spesifieke beeld of beoordeling op nie, maar is eerder uitwaaierend en nie-sluitend. Hierdie indruk word wel op ’n manier saamgetrek in die buitengewoon uitgebreide “titel” van die een-versreël-lange gedig op bladsy 82:  “’N VROTSIGE DANDER, ’N ARMLASTIGE, ’N VEEWAGTERSEUN, ’N GEBORE LEIER, ’N VERDIENSTELIKE LINKERVLEUEL, ’N MILJOENÊR, ’N LEUENAAR, ’N DORPSIDIOOT, ’N CHAUVINIS, ’N DIKTATOR, ’N DOOFSTOMME, ’N SIENER EN ’N ASIELSOEKER STROMPEL BY DIE KROEG IN”. Dit klink boonop soos die begin van ’n grap.

Skrywers en kunstenaars, vanaf DJ Opperman en Oswald Mtshali tot Cecil Skotnes, is deur die enigma van Shaka geboei. Hierdie beeld van Shaka word vroeg reeds in Mofolo se Chaka gevestig. Daar word byvoorbeeld vertel dat mense al by ’n eerste ontmoeting, toe Shaka nog ’n kind was, kon sien dat hy van koninklikheid deurstraal was: “[T]hey said that all whom saw him described him with the words: ‘He is the cub of a lion; he is the nurseling of a wild beast; he is a new-born little lion’” (Mofolo 1981:8). Reeds van kleins af is sy lotsbestemming aangehelp met medisyne en towerkrag. Sedert die eerste dosering, “Chaka had an uncontrollable desire to fight and it had to be a serious fight in which heavy sticks and spears were used. He dreamt about it at night when he was sleeping; he dreamt about it during the day, with his eyes open; and whenever he saw a man carrying a stick or a spear his whole body would at once begin to itch, and he would wish to engage that man in a fight” (Mofolo 1981:14). Op hierdie inset borduur Schaffer in Mens dier ding voort, enersyds tematies, onder meer ten opsigte van lewensdrif (“As hy aan veg dink, begin sy lyf te jeuk” [15]; “my balle tintel daarvan” [39]), en andersyds in die digterlike aanbod: die bundel bestaan naamlik uit lang gedigte (soms amper prosagedigte), afgewissel met genommerde “(dag)droom”-verse, maar deel van die destabiliserende leeservaring is dat laasgenoemde groep gedigte nie noodwendig meer droomagtig of hallusinerend as die res van die aanbod aandoen nie. Daar word eintlik deurlopend in Mens dier ding (met oop oë) gedroom.

Iets van ’n narratiewe verloop kan tog in die bundel ontwaar word en daar is wel talryke herkenbaarhede. Dit is egter asof Mens dier ding, met sy by tye primordiale ondertone, die prilste ontdekking van anti-logosentrisme opvoer, maar dan sonder om sig volkome en sistematies aan ’n dekonstruktiewe projek te onderwerp. Die saak word eerder spelenderwys aangeroer, deur die verloop en geheelimpak van die bundel, maar ook in fragmente soos die volgende: “’n Leier sonder ’n plein is nie ’n leier nie” (80); “’n mannetjieskat op die loer naby die rand / van my verstandelike vermoë” (60); “[m]y voertuig is van roesvrye staal maar waar ek kom kom ek in vrede” (61). Wat die dekonstruktiewe inslag betref, lees ’n mens die bundel asof jy op die jong Shaka afkom waar hy besonder energiek aan ’t skynboks is.

In Chaka maak die jong Shaka ’n leeu dood, en in Schaffer se bundel duik die brullende leeu weer op in “SHAKA SE GUNSTELINGLIEDJIES”:  Vreesbevange trek die dier hom uiteindelik terug in ’n agterste vertrek en maak hom vervolgens al kleiner, “... so klein / dat Shaka hom met een voet kan vermorsel”, waarop volg: “Wat ons herinner aan Franz Kafka se ‘Klein Fabel’” (18). As die leser daardie verhaal(tjie) van Kafka gaan raadpleeg, word hy egter nie noodwendig veel meer wys nie. Betekenis word uitgestel.

Seker die opvallendste eienskap van Mens dier ding is die radikaal anachronistiese inslag daarvan. Die openingsgedig het dit oor ’n man met ’n spies wat die spitsverkeer ontwrig deur uitgestrek op die snelweg te gaan lê. Dit blyk algaande dat Shaka byvoorbeeld “hou van skaak, motorry en visvang” (84) en baie “fan mail” kry (84). Waar Shaka sy verskyning maak, is “UFO’s” nie ver nie, en dít is een van die maniere waarop die bonatuurlike, wat so sterk in Chaka figureer, ook in Schaffer se bundel vergestalting vind, maar dan met heelwat hilariteit.  Ook Schaffer se Shaka het twee handlangers van ongelyke begaafdheid, en by die beskrywing van die mindere van die twee, boonop buitengewoon lelik, speel anachronisme eweneens ’n rol (naas die beklemtoning van sy assosiasie met dierlikheid):

’n Soort kruising tussen mens
en dashond, een groot grimas.
As hy bly is, rol hy op sy rug, trap fiets in die lug.   
Lê die goddelike dag op Shaka se bank en staar na sepies.
Leë kaaskrulsakke op die grond
en ’n paar omgedopte bottels bier.
Voer gehoorsaam Shaka se visse.
Elke dag trek hy minstens vyf keer draad. (40)

Die tydverwringing en komieklike kan onder meer as relativerende en afstandskeppende prosedures fungeer, soos ook die (oordrewe) “opgevoerde” aard van heelwat van die tonele, in die trant van “the medium is the message”, waar ons Shaka op ’n filmstel in aksie sien, of waar hy aan ’n tv-speletjieprogram of -onderhoud deelneem. Die medium word in hierdie bundel mededelend en demonstrerend op die voorgrond gestel, deur middel van “telling” én “showing”. Wat laasgenoemde (“showing”) betref, dien die besonder opvallende en gevarieerde versaanbod juis om die klem op die medium te plaas:  hierdie variasie setel egter nié in die benutting van bekende of tradisionele versvorme nie, maar wel van tekstipes wat met die media geassosieer word (draaiboek, perskonferensie, tv-onderhoud, ens.).

Die leser word by die lees van Mens dier ding op regstreekse en onregstreekse wyse opnuut attent gemaak op die rol van die massamedia. Dit wat nie deur die media erken word en gekonstrueer is nie, bestaan eintlik nie. ’n Mens kom onder die ondruk van die leë, amper meganiese herhaling van sake, insluitend geweldsvoorstellings, in die media; die onopregte bemoeienis; die oppervlakkige heldeverering en effekbejag; die gebrek aan ware erns; die ophemeling van die verspotte; die skynetiek; die mag van die mediaverhoor; die kommersialisering van alles. In so ’n konteks is dit des te meer futiel om na die “ware” Shaka op soek te gaan.

Reeds in die tweede gedig, die ironiese “HARDE FEITE RONDOM SHAKA DIT WIL SÊ HARDE FEITE RONDOM MY”, sien ons Shaka as “projeksieskerm” (6), word daar geroep “Oukei, cut!” (8) en word vertel dat Shaka vir ’n reklamefilmpie “byna drie uur lank / in ’n bak ys [moes] staan” (9); Shaka oorweeg ook verskillende moontlikhede vir sy sterwenswoorde volgens die effek daarvan. Daar word opsommend gestel: “Sowaar die dood die dood die dood is pure televisie / die ene twakpratery, die draaiboek maak nie sin nie” (9). In “dag(droom) #818” word gesê dat, as “’n verhaal dikwels genoeg oorvertel word / verdamp die inhoud vanself” (90), en: “Wat oorbly is ... / ... sulke genadelose beligting dat ek moet lag” (90). In “VIR ’N LANG TYD IS SHAKA ’N ENKELKIND” word vertel: “Hy smeer sy jong vel in met ietsie / teen Bose Geeste en aknee. / ’n Leier met puisies is ’n ramp” (14). “BLOEDDORSTIGHEID HOE LYK DIT?” eindig so: “Met ’n genoeglike gryns trek hy sy wapen / uit ’n opponent se keel, speel die film / terug en trek sy wapen / uit ’n opponent se keel, speel / die film terug –” (32). As Shaka uiteindelik die liefde van sy lewe vind, is dit “in ’n modetydskrif van sy moeder” (47). By die begrafnis van Shaka se moeder treur die volk voortreflik deur die toepassing van ’n “[s]tukkie method acting uit die boonste rakke” (110), maar ten slotte word besef dat daar niemand is “wat ’n back-up van die landskap gemaak het nie / ’n reusestoomroller het alles platgerol” (110). Wat oorbly, doen onwerklik aan: “Die aarde, donkerpers vandag en leeg / is glad soos ’n enorme rolbalbaan” (110). In “DIE BRUISTABLET”, wat teruggryp na Shaka se konfrontasie in Chaka met ’n reusagtige slang, “plons ’n tablet so groot soos ’n putdeksel / in die rivier waar Shaka aan die swem is” (20), en ’n slang skiet skielik daaruit op, “selfs hoër as ’n hyskraan” en met “die ore van ’n haas” (20), waarop die volgende metatekstuele bedenking uitgespreek word: “Veral daardie ore maak hierdie anekdote buitensporig. / Maar kom ons neem hierdie beeld ernstig op” (20). Daar word opgemerk dat “dit ... ’n peperduur toneel [is], vol megalomane spesiale effekte” (20), maar dan word in die voorlaaste strofe skielik die feit betreur dat hierdie toneel hom “afspeel in die dae / voor die uitvinding van klank” (21), terwyl daar inderdaad heelwat te hoor is, insluitend “’n vertellerstem wat ernstig en met baie viole op die agtergrond/ beweer dat Shaka eendag sal regeer” (21). En daarna volg: “Potente pilletjie, dink Shaka” (21).

Die verfilmingsmotief kan byvoorbeeld die plaaslik algemeen bekende SAUK-reeks Shaka Zulu (1986), met Shaka “lank en lenig, lieflik van lelikheid” (54), voor die gees roep en herinner aan Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein (1976) waarin die rekonstruksie van die Slag van Magersfontein deur ’n film- en televisiegeselskap op grootskaalse ontluistering uitloop.

Deel van die anachronistiese aanslag van die bundel is dat dit in bepaalde opsigte ook ’n ligte flirtasie met simulakrum, wat in postmodernistiese verband hoogty sou gevier het, wil wees. Baudrillard (2001:147-148) se bekende beskrywing van hierdie tydsgees lui soos volg: “From medium to medium, the real is volatized, becoming an allegory of death. But it is also, in a sense, reinforced through its own destruction. It becomes reality for its own sake, the fetishism of the lost object.” Volgens Baudrillard (2001:149) “we already live out the ‘aesthetic’ hallucination of reality [...] There is no longer a fiction that life can confront, even in order to surpass it;  reality has passed over into the play of reality …”.  En daarom: “An air of nondeliberate parody clings to everything” (Baudrillard 2001:149). Die blywende relevansie van Baudrillard se denke, ook wat betref postkoloniale representasie in die Suid-Afrikaanse konteks, is onlangs deur Moya Goosen (2018) aangetoon in haar proefskrif The (re)imagined self in Leora Farber’s series Dis-Location/Re-Location (2004-2007).

Daar kom talryke vergelykings (“similes”) in Mens dier ding voor. Dit kan moontlik in aansluiting by die orale digkuns geskied, waar vergelyking benut word om geheue met betrekking tot die oorgelewerde maar ook digterlike vaardigheid te demonstreer. In “SHAKA VIND UITEINDELIK DIE LIEFDE VAN SY LEWE” word hierdie procédé binne die konteks van ’n soort liefdesgedig vir “N” op die spits gedryf, eerstens deur ’n reeks vergelykings aan te bied met behulp waarvan “N” se voortreflikhede geprys wil word: “Noem haar N, hoe moet hy haar beskryf. / Soos ’n aandwandeling ná ’n idilliese film. / Soos ’n rit in sy afgeleefde kewer” (47); en “N! Soos ’n onverwagse smaak wat in jou mond ontplof / ’n stortbui in die hartjie van die somer. / Verslawend soos ’n sokkerspeletjie” (47). Dan word gestel:  “Verslete beeldspraak kla sy biograaf maar Ag / solank dit werk, dink Shaka” (47). Hierby dink ’n mens moontlik aan die titelgedig uit Rutger Kopland (1972) se Wie wat vindt heeft slecth gezocht, waarin voorbeelde van beeldspraak (meestal erg geyk) eers aangehaal en opgestuur word; as die lewe self vervolgens blykbaar regstreeks in die hande gekry word, is die slotsuggestie in die Kopland-gedig egter dat daar opnuut na beeldspraak getas word om dit te beskryf.

Wat Mens dier ding van vorige Schaffer-werk onderskei, is die minder formele sfeer van die gedigte, nie net in terme van die vormgewing nie, maar ook die gedagte-inhoud, wat ’n bevrydende leesbelewenis in die hand werk. Haas elke letterkundige konvensie en verwagting word verontagsaam en die houvas daarvan ontkrag, ook selfs daardie uiteindelike verlies aan geloof in taal om werklikheid en sterflikheid voor te stel, wat van skrywers (veral digters) in hul ontwikkelingsgang geëis word. Mens dier ding is ten spyte van, of dalk juis kragtens, die ontluistering ’n uitbundige viering van taal en poësie.

Die gedig “SHAKA AS ’N STRAATHOND AS VERLOSSER” is eksemplaries van die bundel se komiese sy (wat plek-plek ’n mate van ongemak mag veroorsaak). Steeds binne die kader van massamediaherhaling word vertel dat Shaka “nogmaals ... daardie meisie uit die kake van ’n wolf [red]” (24), en daar word gesê: “Dalk dink sy Dis klaar met my hy het my beet / hy lê my neer hy knabbel aan my voete” (24). Hierdie toneel, mét sy potensieel komiese inslag, vind sy aanleiding in Chaka. In hoofstuk vyf van daardie roman word vertel dat dit dikwels gebeur het dat ’n hiëna wat nie genoeg te vrete kon kry nie, in die nag die statjie binnekom, iemand gryp en met daardie persoon weghardloop: “That poor person would scream continuously in the middle of the darkness, saying ‘It’s picking me up! It’s putting me down! It’s picking me up again! It’s putting me down! Now it’s eating me!’” (Mofolo 1981:27). Een nag is ’n spesifieke meisie deur ’n hiëna weggedra en ook sy “began to sing the song of those taken by the hyena: ‘It’s picking me up! It’s putting me down!’” (Mofolo 1981:28). Die dapper jong Shaka slaag daarin om haar te red, maar kry helaas stank vir dank. Hierop bou Schaffer voort. Daar volg naamlik “’n geveg soos in ’n strokiesprent. / Shaka slaan uitbundig om hom rond” (24). Hy tree as oorwinnaar uit die stryd en in die volgende prentjie “sit hy triomfantelik op die dier / nes op ’n dubbelbank” (24), en vervolgens “boks hy weer na links en regs / as hy sat is daarvan druk hy op die pouseknoppie / of hol hy weg. / Tot waar hy homself nie meer kan vind nie” (24).

In Mofolo se roman word op ’n ernstiger noot vertel dat ongeliefde kinders soos Shaka gewoonlik gedwing is om naaste aan die deur van die hut te slaap sodat hulle eerste gegryp sal word, maar dat ’n hiëna juis selde sy prooi daar gekies het, “just as if it knew that the ones who sleep near the door are the hated ones” (Mofolo 1981:27). Mofolo hou dit wat Shaka alles as kind moes verduur (omdat hy buite-egtelik verwek is) voor as psigologiese verklaring vir die buitensporighede waaraan hy hom sou skuldig maak, ofskoon sy gedrag, so blyk dit weldra, buite proporsie staan tot wat hom aangedoen is.

Die verdere ontplooiing van die demitologisering van Shaka in Mens dier ding hou in dat hy hier tot verantwoording geroep word vir sy dade, ofskoon ook dít relativerend aangebied word. (Hierdie bundel verbind hom nie volledig tot enigiets nie, en hierin kontrasteer dit opvallend met die historiese Shaka se gefokusde ambisie.) In “POGING TOT ’N ONDERHOUD” word aangekondig dat ’n paar van Shaka se ou kennisse bereid was om aan die televisieprogram deel te neem: “u het hulle baie lanklaas gesien / hulle is ’n bietjie skrikkerig en effens vermink ...” (92), waarop Shaka reageer: “Dit was nie ons afspraak nie. / Ek het mos gesê geen verrassings / geen tribunaal nie” (92). In “SHAKA SE REGSAAK DIREK OP NEWS24” laat die advokaat hoor: “Niemand wat vir hom ’n liedjie sing nie, is dit nie ’n skande nie?” (96). Shaka kom ook nie volstrek tot inkeer nie. Die menslikheid wat hy reeds in Chaka kortkom, word hier verder ontgin, en dis ten dele dít wat die titel Mens dier ding sinjaleer. In talle gedigte word hy (regressief) in assosiasie met dierlikheid getoon, byvoorbeeld: “Skerp en vinnig kyk Shaka en die slang mekaar in die oë / ’n Soort speed dating avant la lettre” (20); “Ure later as hy wil opstaan / sak hy onmiddellik deur sy pote. / Sy pels is vaal en dof” (129). En: “In ’n refleks van vraatsug skiet my pote vorentoe / maar ek is versadig, ek is verlate in hierdie oerbos” (132). Hy word voorts toenemend objek: Selfs van Shaka in sy fleur, ’n “stralende kragtige naakte jongman” (20),  word gesê dat hy “pas uit die verpakking” (20) kom. Verdere voorbeelde hiervan sluit in: “Ek lê nie lekker nie ek ruik na skoonmaakgoed. / My tande week soos nat karton, my vel van porselein./  Tik jy daaraan hoor jy ‘tik’” (17); “ek het omgerol en was ’n ding” (57);  in “GELEIDELIK VERANDER SHAKA IN ’N BUITEAARDSE VOORWERP” staan daar: “Wat oorgebly het, was ’n stuk klip” (94).

Met inagname van die psigologiese inslag van die groot interteks van hierdie bundel kan daar seker ook in die titel iets afgelees word van Thanatos, die doodsdrang. Freud het naamlik gepostuleer dat Eros vergesel word van Thanatos. Tussen hierdie twee pole ossileer inderdaad ook Shaka: “Die lewe jaag my aan en nie die dood nie die dood is kinderspeletjies” (108). Hy hunker egter na die dood: “En hoe vind ek in hemelsnaam die dood, die ware / hard en vinnig ...” (120);  “Jy sal verstaan ek kan nie wag dat dit gebeur nie” (42). Thanatos is die drang in die mens om sy spesifieke en aangetaste lewe te versaak ten gunste van ’n terugkeer na die onbepaalde, die lewelose en die pre-organiese, en derhalwe tref ons vir Shaka aan “as mens as dier as ding” (68).

Mens dier ding is ’n waardige toevoeging tot die groeiende kanon-in-die-kleine van Nederlandse letterkunde vertaal in Afrikaans, en hiervoor verdien Zandra Bezuidenhout erkenning. Met Mens dier ding verruim Schaffer nie slegs sy digterskap nie, maar tree hy ook op ’n onverwagse manier in gesprek met die Suid-Afrikaanse letterkunde in die breë. Schaffer se aanpak in hierdie bundel kan vergelykend in verband gebring word met Ivan Vladislavic se kritiese opstelling teenoor ’n voorskriftelike (tradisionele) realisme. Shaun de Waal (1996:3) open sy Mail & Guardian-onderhoud met Vladislavic met ’n sleutelvraag, verwysend na Vladislavic se verbeeldingryke aanpak: “There is almost no one else writing in this way in South Africa. Did you ever work in a realist mode?”. Hierop reageer Vladislavic deur te stel dat daar gevra moet word “whether one has to write realism in order to engage with the society adequately”. Hy gaan voort deur te sê: “I would … like to make quite large claims for the imagination in writing, and for the craft, the skill of it, and fewer claims for whether it deals with the society in a broad, comprehensive way, the kind of claims one could make for 19th-century realist books”. Sy gevolgtrekking in hierdie verband, wat in bepaalde opsigte resoneer met dit wat Schaffer in Mens dier ding vermag, is: “It’s possible to engage deeply with your social reality without producing realism”. Dít sluit myns insiens aan by Paul Ricoeur (1991) se opvatting dat die literêre verbeelding nie op ’n reproduktiewe manier na die werklikheid, as bestaande gegewe, verwys nie, maar eerder op ’n produktiewe wyse, “in the sense that it both ‘invents’ and ‘discovers’ it” (Ricoeur 1991:121).

Mens dier ding is ’n ontluisterende werk, nie net wat betref die kwessies wat deur die anachronistiese plasing van Shaka by implikasie uitgehef word nie, maar ook die digkuns. Vanuit ’n meer kritiese hoek sou daar beweer kon word dat die nagedagtenis van Shaka in hierdie verband opportunisties gebruik word en dat die bundel weinig bydra tot ons verstaan van die historiese Shaka. Dit gaan myns insiens egter hier eerder, soos die elementale titel laat vermoed, oor die meer algemene, oor die Shaka-verskynsel, ook in eietydse gedaante. Uiteindelik bly die bundel ons, soos Shaka, ontwyk, en die ondergrawing is nie voorspelbaar, eensydig of sluitend nie, dalk eerder dikwels tweesnydend, soos in die pragversreël, “[M]et links en regs die swiepende liriek van blommevelde” (65), en die volgende strofe waarin die al te mooie beeld tegelyk ’n opstuur is:

Van agter ’n massiewe bergmuur
styg ’n lugballon al hoër.
Al hoe kleiner, ’n omgekeerde traan
wat soos ’n raaisel oplos in die landskap. (129)

Bibliografie

Baudrillard, J. 2001. Selected Writings: Second Edition, Revised and Expanded. Cambridge: Polity Press.

De Waal, Shaun. 1996. “Pleasures of the imagination”, Mail & Guardian, 18 October, p. 3.

Kopland, Rutger. 1972. Wie wat vindt heeft slecht gezocht. Amsterdam: Van Oorschot.

Leroux, Etienne. 1976. Magersfontein, o Magersfontein!  Kaapstad: Human & Rousseau.

Goosen, Moya. 2018. The (re)imagined self in Leora Farber's series Dis-Location/Re-Location (2004-2007). Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Ongepubliseerde PhD-proefskrif)

Mofolo, Thomas. 1981 [1931]. Chaka. New Enlgish translation by Daniel P. Kunene.  Johannesburg: Heinemann Publishers.

Ricoeur, Paul.  1991. The function of fiction in shaping reality. (In Valdés, M.J., ed A Ricoeur reader:  Reflection and imagination.  Toronto: Unversity of Toronto Press.  p. 117-136.)

Schaffer, Alfred. 2013. Kom in, dit vries daar buite. ’n Verskeuse deur die digter, uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo. Pretoria: Protea Boekhuis.

Schaffer, Alfred. 2018. Mens dier ding. Vertaal deur Zandra Bezuidenhout. Kaapstad: Human & Rousseau.

T’Sjoen, Yves. 2017. Rakelings. Antwerpen: W∞lf.

Lees ook op LitNet

Mens-dier-verhoudings in Thomas Mofolo se historiese roman Chaka (1925, 2017)

Buro: MvH
  • 0
Top