Riaan Nieuwenhuis dokumenteer sy lewe deur klankopnames

  • 0

Riaan Nieuwenhuis

As jy ’n stad deeglik wil verken, gaan loop in sy stegies rond. As jy die keersy van Suid-Afrikaanse verbruikersmusiek wil ervaar, gaan doop jou brein in Riaan Nieuwenhuis se repertoire. Sit ’n paar uur opsy vir hierdie oefening, want daar is vyf albums om deur te werk. G’n koortjies, versies of liefdesverklarings is hier ter sprake nie. Jy moet jou eie pad vind deur die rifs, motiewe en ander onidentifiseerbare klanke waarvan net hy sal weet hoe dit opgetower is. Moet ook nie kosmaak as jy na sy musiek luister nie, want jou aandag gaan nie by jou pastasous bly nie. Maak ook eers die kinders aan die slaap, want die volgorde van die komposisies op sy albums is nie bevorderlik vir ’n ontspanne atmosfeer nie. Ja, jy mag dalk met jou beminde op die bank sit en koer terwyl Riaan die blues-stroop oor die klawers laat drup, maar ’n minuut later wil jy op die tafel spring en head bang.

Hierdie “deurmekaarspul” is ’n aangename probleem vir die musiekliefhebber. Daar is nie sprake van ’n “goue deurlyn” in sy musiek in die geheel nie (tog so ’n belangrike komponent vir musiekcritici), behalwe dat sangers nie oor die drumpel van die opname-ateljees toegelaat is nie. Daar word telkens melding gemaak van die afwesigheid van ’n stem in sy musiek. “Dis net nie my vibe nie, ek laat die instrument sing.” 

Liriek of te not, die uiteenlopendheid van die klanke wat hy skep, is soos ’n taal wat nog nie ten volle opgeteken is nie. Dit is nie Frans nie, dit is nie ’n dialek uit die Suide van Amerika nie, dit is nie cockney-Engels nie en dit is nie Russies nie. Dit is Debussy, dit is blues, dit is Black Sabbath en dit is ’n balaika (Russiese snaarinstrument). Op sy album Collaborator wys hy hoe hierdie nuwe “taal” van hom lyk. Hy pleeg amper heiligskending met hierdie twee snitte direk na mekaar:

Prelude

Coordinates

As musiek ’n universele taal is, is konsonante sekerlik die geaksentueerde ritmes binne ’n musikale frase. Van Nieuwenhuis se werke steun baie sterk op die avante-garde instrumentale musiek uit Amerika in die 1970’s waar ritme verhewe gestel is bo melodie. Folkmusici (Bob Dylan, Joan Baez) het in hierdie tydperk oorwegend die anti-oorlog-sentiment verklank, maar die komponiste van “ernstige musiek” het hulself verdiep in klankeksperimente. Steve Reich is bekend vir sy werk mbt ritmiese elemente wat ’n tipe transendentale effek skep. Dit is veral “Electric counterpoint” wat beskou word as van sy belangrikste musikale bydraes. Nieuwenhuis se “Cruising” neem hierdie tradisie verder (ook met twee akoestiese kitare soos Reich) en tooi dit op in ’n Suid-Afrikaanse blues-baadjie. Die volle effek van die kontrasterende ritmes is iets wat liefs met oorfone geluister moet word. Die klanke spring rond van een kanaal na die ander (“stereo phasing”) en is nog ’n rede waarom dit so ’n interessante komposisie is.

Cruising

As mens verder terug in die tyd gaan luister na die werk wat Nieuwenhuis saam met Delta Blue gedoen het, kan mens die ontstaan van veral “Distance” begryp – een van twee soloklavierstukke op die Mediator-album. Hy het sewe jaar lank die klawers laat bewe saam met hierdie Stellenbosch-gebaseerde band. Drie albums en honderde optredes later het hy halt geroep en sy eie ding begin doen. Die laat aande en nostalgie van die Delta Blue-era het gelukkig behoue gebly en steek gereeld kop uit in verskeie van sy solo-opnames.

Distance

Die ander soloklavierstuk op Mediator, “Changes” , is ’n eerbetoning aan sy gunsteling klassieke komponiste. “Ek is mal oor Schubert, veral sy donker kant. Mozart se klavierwerke, veral die goed wat hy in sy jeug gekomponeer het. Ek like daai stuff. En Tsjaikowsky. My kinders love daai ou se musiek.” Hy het dalk vergeet om Chopin te noem, want “Changes” sou sy plek vol kon staan as deel van die Nocturnes-komposisies vir soloklavier.

Changes

En waar op aarde het hy die idee vandaan gekry om “De la Noche” (’n tango) te skryf te midde van die metal en die blues wat klaarblyklik meer in sy kraal is? Riaan het jare lank getoer, gebusk op straathoeke orals oor Europa en Amerika, en “al onder baie brûe en motorways geslaap. Baked beans en ’n backpack – dis wat ek like.” Sy troebadoerbestaan het hom gelei tot by die Charles-brug in Praag waar hy een aand gesit en tokkel het op sy kitaar. “Jis, en later kom daar ’n klomp ander ouens by en daar breek ’n vet jam uit. En ons het nie eers mekaar se name geken nie. Toe daag daar ’n ou op met ’n klavier agterop sy bakkie. Daai ouens wil net jol. Da’ is g’n ego’s nie. Dis die Oos-Europeërs vir jou.” 

De la Noche

Met ’n hand vol albums om mee te spog en komposisies wat ’n stewige bydrae lewer tot die Suid-Afrikaanse musieklandskap, is Riaan nederig oor sy nalatenskap. Hy maak geld, sê hy, om opnames te kan befonds. “Ek dokumenteer my lewe deur musiek. Dit is ’n manifestasie van wie ek is en ek kan myself nie terughou weens die gebrek aan belangstelling vir instrumentale musiek nie.” Die skep van klank is iets wat hy met groot ontsag aanpak. “Dis ’n huge verantwoordelikheid, want dit oorleef als. Jou kleinkinders gaan dit hoor.” 

Die omvang van Riaan Nieuwenhuis se gebruik van uiteenlopende genres en musikale elemente is iets wat heel moontlik nie net deur sy kleinkinders gehoor en onthou gaan word nie. Dit sal onthou word deur elke persoon wat die moeite gaan doen om hom- of haarself bloot te stel aan ’n tikkie eg Suid-Afrikaanse kuns. Die kuns van ’n musikant wat sy aandig rig op sy talent eerder as sy ego.

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top