Road Trip SA: ’n onderhoud oor ’n slimfoontoepassing vir elke reisiger

  • 0

Emile Coetzee gesels met Naomi Meyer oor sy betrokkenheid by ’n slimfoontoepassing (app) vir reisigers.  

Emile, ek hoor jy was betrokke by ’n app met die naam Road Trip SA. Wil jy dalk iets hiervan vertel?

Roadtrip RSA is die eerste slimfoon toep (of app) wat enige gebruiker presies sal wys wat daar in elke stad, dorp of streek skuil wat as ’n besienswaardigheid beskou kan word. Gewoonlik as iemand by ’n dorpie arriveer is die eerste vrae wat gevra word: “Wat is daar om te doen? Wat is daar om te sien?” 

Emile Coetzee

Hierdie toep sal presies aandui waar die museums, monumente, kunsgalerye, botaniese tuine en natuurreservate van elke streek geleë is. Nog belangriker besit elke plasing ’n kort beskrywing van elke besienswaardigheid en gee sodoende dalk die antwoord oor hoekom dit as belangrik geag kan word.

Die beskrywing help verder om die nodige konteks te bou vir elke gebruiker om elke besienswaardigheid wat hulle besoek in die algemene historiese tydlyn te kan plaas en die historiese gebeurtenis of figuur se rol in Suider-Afrika beter te kan verstaan. 

Die gebruiker wat altyd gewonder het wat die monument langs die pad is, sal nou ’n produk hê wat die regte inligting bevat sonder om iemand se PhD-tesis van kant tot kant te bestudeer.

Maar hierdie toep het ook die doel om die gebruiker van die hoofweë af te neem na die klein dorpies toe. Elke plasing wat verblyf, eetplekke en handgemaakte goedere aandui is daar om die ekonomie van elke dorpie te versterk. Verbeel jou jy reis na Loeriesfontein:

  1. Waar gaan jy bly?
  2. Waar kan jy bietjie kontrei-kos kry?
  3. Wat bied die klein winkeltjie om die draai?

Road Trip RSA kan help en ons is net ’n e-pos of ’n oproep weg vir die belangstellende gastehuis, restaurant (Franchise uitgesluit) of tuisnywerheid ensovoorts wat wil verseker dat hulle op die toep verskyn. 

Wat is jou agtergrond wat jou in so ’n soort app laat belangstel het?

Ek doseer Geskiedenis by die Noordwes-Universiteit en om presies te wees, by die Mafikeng kampus. My navorsingsfokus is tans Suid-Afrikaanse Misdaad- en Gevangenis-geskiedenis gedurende die 20ste eeu. Maar omdat ek as kind letterlik ure in Pretoria se museums spandeer het, het my belangstelling in die land se Erfenis-hulpbronne stelselmatig gegroei. Ongelukkig is nie al hierdie hulpbronne nou nie meer in so ’n goeie toestand soos gedurende my fleur nie. Dit het my die insig gegee dat die bewusmaking van hierdie hulpbronne bydra tot hul agteruitgang.’n Mens kan duisende pamflette druk en by gastehuise aflewer, ’n mens kan selfs reklameborde se spasie aankoop vir duisende rande, maar die moontlike besoeker kan dalk die inligting vergeet. Met die toep op sy/haar slimfoon wat die presiese plek aandui, beskrywing gee en so bewustheid skep, sal die hulpbronne soos bo vermeld, makliker verkry word en hopelik meer waardeer word.

Ek was in November 2017 gekontak deur die maatskappy, Value Apps Pty Ltd., om die inhoud vir hul toep te begin oplaai. Die proses het tydens die Desembervakansie begin en ek is regdeur tot nou besig om die plasings op te laai en te verfyn. Die verfyningsproses gebeur daagliks, soos wat dit met elke moontlike toep die geval is, en sodoende word die produk beter by die dag! Hierdie toep, wat die enigste van sy soort is, stel die standaard vir soortgelyke toepassings wanneer dit geskep word vir ander lande en gemeenskappe.

Dink jy Suid-Afrikaners ken die museums in hulle omgewing? En hoe het jy uitgevind van al die museums in die land?

Ongelukkig moet ek beweer dat Suid-Afrikaners in die algemeen nie presies weet hoeveel besienswaardighede daar in hul omgewing is nie. Maar my hoop is dat hierdie toep die verandering sal bewerkstellig. Dit sal soos ’n kompas wees wat die gebruiker in ʼn ontdekker sal omskep.

Wanneer ek na enige dorpie, stad of streek reis, soek ek altyd eers wat daar is om te sien en te doen. Sodoende het ek al die kans gekry om in verskillende museums se uitstallings te loop en na hul versamelings te kyk. Die laaste ding wat ’n museum is, is ’n stowwerige opgaarplek. Ons land het volgens my van die beste museums ter wêreld, maar daar is dosyne museums, veral dorpsmuseums, wat sukkel. Die redes hiervoor is kompleks en daar is deskundiges wat aan die saak werk.

Ek het sodoende my eie kennis van die spesifieke ligging en fokusarea van die land se museums gebruik om die eerste plasings te voltooi, maar ek moes toe later gebruik maak van die verskillende inligtingsgidse wat ek oor die jare aangekoop het.

Ek vra oor die museums in die land, maar ek hoor dat Suid-Afrikaanse gedenkwaardighede oorsee ook betrek word. Wil jy dalk vir buitelandse lesers hierop uitbrei?

Toe ons met die toep begin het, was dit duidelik dat Suid-Afrikaners nou die geleenthede geniet om reise na verskillende wêrelddele, en natuurlik oor die streke van ons buurlande, te onderneem. Dit beteken dat Suid-Afrikaners wat die geleentheid het om in Frankryk te reis, die toep sal kan gebruik om tot by die ingang van die legendariese Delville Bos-slagveld te kom sonder om eenkeer te stop om vir aanwysings te vra. Net so kan Suid-Afrikaners die 2de Eskader-monument in Suid-Korea aanskou wanneer hulle by die Koreaanse skiereiland besoek aflê. Suid-Afrikaners wat in Nieu-Meksiko is, kan die graf van Generaal Ben Viljoen gaan opspoor. Verder is daar monumente wat betrekking het op Suid-Afrika in die Nederlande (veral vir President MT Steyn en Generaal Christiaan De Wet), in Engeland (byvoorbeeld Jan Smuts in Londen) en waar President Kruger gesterf het in Switserland. Ons vriende aan daardie kant van die wêreld kan dan ook gebruik maak van hierdie toep om in hul eie land hierdie Suid-Afrikaanse monumente en museums te sien. Natuurlik wanneer hulle in Suid-Afrika is, kan hulle dan verder op hul eie gemak al die besienswaardighede ontdek wat hulle wil sien.

Buiten vir museums, wat sal julle app mense nog laat opspoor as hulle in die pad val?

Hierdie toep sal vir elke gebruiker kan aandui waar hulle kan bly (by die plaaslike hotel, gastehuis of B&B), watter niefranchise eetplek is spesiaal met ’n spesiale kontreidis en natuurlik watter unieke aandenking kan waar gekoop word. Hierdie plasings word deur die eienaar vooruit gekoop en word dadelik op die toep gelaai.

Om bewustheid oor Erfenis-hulpbronne te kweek, het ons by Road Trip RSA amper oor die 950 Museums, monumente, botaniese tuine, natuurreservate, kunsgalerye, historiese huise ensovoorts opgelaai. Dit sal beteken dat geen gastehuiseienaar ooit aan enige gas sal hoef te beduie waar enige besienswaardigheid geleë is nie. Road Trip RSA kan enige gastehuis wat op die toep gelaai is, voorsien van ’n netjiese plakkaat wat die nodige QR-kode op het wat die gebruiker kan gebruik om die toep af te laai. Kyk uit vir dieselfde plakkaat by die land se verskillende museums.

Die land se sportstadions is ook ingesluit, wat enige gebruiker kan help om die presiese ligging van die spesifieke stadion te kry wanneer hulle ’n belangrike sportgeleentheid wil bywoon. Al die rugby-, krieket- en sokkersportstadions is op die toep!

Hoe laai mens dit af en wat kos dit?

Dit is baie maklik. Vir gebruikers met Android-fone, kan die toep maklik op Google Playstore gekry en afgelaai word. Vir gebruikers met Apple fone, is die toep beskikbaar op Apple se Appstore. Soek net vir Roadtrip RSA en siedaar! Dit is ’n maklike, vinnige en gratis aflaai.

As jy by ’n gastehuis, museum, kunsgalery ensovoorts is, sal ons QR-kodes op ons plakkaat te sien wees wat net geskandeer kan word en dan net so maklik afgelaai kan word. 

Daar is ook ’n “desktop”-weergawe waar die toep op ’n mens se rekenaar, tablet ens. gebruik kan word. Besoek ons net by www.roadtriprsa.co.za

Watter ontdekkings dink jy sal mense maak as hulle die app aflaai?

Ek glo dat die gebruiker verbaas sal wees oor hoeveel besienswaardighede daar in hul eie omgewing en natuurlik oor die hele Suider Afrikaanse streek is. Ek is verbaas dat ons naby aan 1000 plasings is en dat ons reeds oor die 550 monumente opgelaai het. Wie sou kon raai dat daar so baie Suid-Afrikaanse monumente, elkeen uniek, in ons land en in ons buurlande – en selfs oorsee is?

Watter ontdekkings het jy gemaak toe jy hieraan aan die ontwikkel was?

Ek het teen die begin van die toep oor die 300 besienswaardighede persoonlik besoek en kon hulle maklik oplaai. Ek het wel vinnig agter gekom ek het nog net ’n klein hoeveelheid besoek. Ek wil graag elkeen besoek en met elke besoek elke plasing verfyn met die nuutste foto's wat die huidige toestand van die spesifieke erfenishulpbron sal aandui. Ons gebruiker is ook meer as welkom om dieselfde te doen. Deur die aanstuur van foto's, die korrekte koördinate of die korrekte beskrywing van die hulpbron se ligging, kan ons uit hierdie toep ’n publiek-vriendelike databasis vir die toekoms hê. Stuur die inligting na historian@roadtriprsa.co.za.

Maar ek was verbaas toe ek die Skeepswrak-museum in Bredasdorp ontdek het. Sodra ek in daardie geweste is, sal ek verseker besoek daar aflê. Net so sien ek uit om die Windpomp-museum in Loeriesfontein te sien. Dit klink net so uniek! Maar ek wil ook meer tyd spandeer by die Polisie-Museum in Muizenberg en loop waar Sir Percy Fitzpatrick met sy hond Jock deur die Laeveld gereis het. Die Jock-roete is net die ding daarvoor!

Hoe werk dit presies?

Die toep is gebruikersvriendelik. Sodra ’n mens dit afgelaai het, sal mens die “Kaart- Funksie” sien wat aandui waar elke besienswaardigheid is. Dit word gedoen deur middel van ’n gekleurde kolletjie op die skerm, byvoorbeeld rooi is “Wat om te sien” (Monumente, Slagvelde ens), pers is “Wat om te doen” (Museums, Kunsgalerye ens).

Daar is ook ’n “Lys-funksie” waar mens deur die verskillende kategorieë presies kan sien wat die naaste besienswaardigheid is soos wat dit op die skerm gelys word. Elke gelyste plasing wat binne 100km van die gebruiker is, sal gekry kan word. Vir enige iets verder weg kan die soek-opsie gebruik word. Die “Lys-funksie” is natuurlik nuttig wanneer ’n mens in ’n stedelike gebied is en daar is ’n magdom kolletjies op die kaart-funksie. Maar dan weer is die kaart-funksie baie behulpsaam wanneer die platteland deurkruis word.

Wanneer ’n mens die besienswaardigheid sien waarheen jy wil gaan, dan kan die ligging-ikoon gedruk word en deur middel van Google Maps word die gebruiker soontoe begelei. Dan kan ’n mens reg voor die monument staan en deur middel van die punt-gebaseerde beskrywing presies sien wat die besienswaardigheid beteken. So wanneer jy by ’n sterk Wi-Fi sein is, maak net seker jy druk die sinchroniseer opsie om seker te maak jy het al die nuutste verfynde plasings om te gebruik. Onthou die opdatering gebeur daagliks.

Waarmee is jy ook nog verder besig (as jy dalk iets van ander navorsing wil verklap, sonder om geheime weg te gee)?

Terwyl ek die inhoud van hierdie toep opgelaai het, was dit duidelik dat hierdie toep ’n wonderlike hulpbron is om Geskiedenis weer interessant te maak vir die mense van Suid-Afrika. Dit is dus deel van die studie van “Publieke Geskiedenis”. Die moontlikhede van Publieke Geskiedenis vir die komende jare raak al hoe belangriker en interessanter.

Maar, binnekort sal my navorsing oor onreëlmatighede in Staatsgeledere van die 1960s die lig sien. Net nog ’n kort hoofstuk in die bundel van Suid-Afrikaanse Misdaad-  en Gevangenis-geskiedenis.

Alhoewel bogenoemde dalk ’n bietjie swaar op die gemoed kan wees, het ek iets ligters ook: my werk sal ook die storie vertel van President Richard M Nixon se twee astronomiese geskenke aan Suid-Afrika.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top