Rooibostee, awê en oepsies

  • 0

In April 2021 het beelde van die puin van onvervangbare erfenis op die kampus van die Universiteit Kaapstad (UK) op nuus-kanale gespook.  

Dit het dele van die Afrika-studies-versameling van die UK-biblioteek ingesluit. 

Nog ’n erfenisskok: In vroeg-Januarie 2022 gaan die Nasionale Vergadering van die parlement in vlamme op, ’n dag ná emeritusaartsbiskop Desmond Tutu se staatsbegrafnis in Kaapstad. 

Die Nasionale Vergadering lyk nou nes Suid-Afrika se staatskas: verwoes en leeg. 

Boonop vind kort daarna ’n aanval op die gebou van die Konstitusionele Hof in Johannesburg plaas. ’n Verdagte het met ’n hamer glasdeure en vensters uitgeslaan, ’n dag nadat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se eerste verslag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig is. Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, beskou hierdie vandalisme op 5 Januarie as ’n aanval op demokrasie, luidens Daily Maverick

Die “waaroms” en “wies” van hierdie gebeure los ek vir die polisie en die howe, die kommissies en kommentatore.

Wat die parlementsgeboue betref, blyk dit dat die bekende Keiskamma-tapisserie gelukkig die 2 Januarie inferno oorleef het. Hierdie handgemaakte, 120 meter lange kunswerk deur Xhosa-vroue vertel verhale van die onderdrukking van die Xhosa, Khoi en San in die Oos-Kaap. 

Die fyn handgestikte uitbeelding begin by 1820 met die koms van setlaars, met gevolglike geweld en grondgrype deur Britte en Nederlanders. Indringers wat ook onder meer nuwe siektes na die Xhosa se vee gebring het.

In Junie/Julie 2020 word standbeelde wat wit ooms van die eras van kolonialisme en slawerny eer, regoor die wêreld in riviere gewerp en soms ook gedeeltelik met verf gegooi. Hul koppe word verwyder en hul blinde oë staar na die gras. 

Is dié statiese “helde” van kolonialisme en slawerny vir ewig stilgemaak? Sulke globale (en plaaslike) aktivistiese bewegings baan die weg vir postkoloniale debatte oor koloniale standbeelde, Afrika-artefakte, erfenismonumente, straatname, plekname en die kompleksiteit van “onthou” – veral, soos ons gesien het, met betrekking tot sogenaamde intergenerasietrauma.

Op ’n baie ligter noot: Jan S Marais se standbeeldboude op die Rooiplein by Universiteit Stellenbosch is in my studentejare blou geverf – ’n gevolg, volgens oorlewering, van koshuiskattekwaad, eerder as ideologie. (Dit was lank voor #FeesMustFall en #AfrikaansMustFall.)

Watter verhale, ervarings en geskiedenisse spook in die mure van die gemutileerde parlement? En in die antieke, verdwene geskrifte en in die starende oë van verwerpte standbeelde in Europese riviere? Wat van die stilswye van versweë koloniale artefakte in Europese museums? Die krete of seëvierende eggo’s van stemme in Suid-Afrikaanse monumente?

Die erfenislandskap van die noorde tot die suide raak problematies indien geld wat vir bewaring bedoel is, verdwyn. Die historiese Liliesleaf Farm-museum in Rivonia het laat in 2021 sy deure gesluit. Geld vir ander erfenisterreine word ook nie noodwendig effektief bestuur nie. Dispatchlive.co.za het byvoorbeeld in Februarie 2021 oor die “sad state of the Cradock Four memorial” berig: “Uncut grass, corroding concrete and material pieces with names of the monument’s honourees scattered on the ground describe the eyesore that the Cradock Four Garden of Remembrance has become ...”

In dieselfde trant het Abigail Calata in Vrye Weekblad ook in Februarie 2021 berig:

Miljoene rande en onmeetbare hartseer later lyk dit asof apartheid daarin geslaag het om selfs swart mense te laat glo in die waardeloosheid van swart lewens ... Luidens berigte het die toerismedepartement byna R29 miljoen se belastinggeld in dié projek gestort, wat nou vir ’n tweede keer herleef moet laat word. Die vraag is egter of herstelwerk dié keer gaan plaasvind.

Benewens geld wat in Gauteng (Rivonia) en die Oos-Kaapse Karoo (Cradock) verdwyn het, spring die Vrystaat (Brandfort) en die Wes-Kaap (Stellenbosch) dit ook nie vry nie. Marianne Thamm het in Oktober 2021 in Daily Maverick oor die Winnie Madikizela-Mandela Brandfort House Museum in die Vrystaat berig:

Winnie’s house, after years of neglect, has finally been renovated with R14 million set aside for a museum project. The freshly painted three-roomed house stands empty, deserted and forlorn. 

The “museum” is devoid of artefacts or any trace of Winnie Madikizela Mandela. The Special Investigating Unit (SIU) is investigating complaints that money was siphoned off by officials and contractors. 

What could potentially be a sustainable income-earning asset for the township and the town itself lies unutilised and wasted.

Terloops, en in ’n effe ánder trant: In November 2021 het die Cape Times berig oor die Kayamandi Economic and Tourism Corridor in Stellenbosch as ’n “R13 million ‘white elephant’”. Hierdie vyftienjarige gemeenskapsontwikkeling het tans 31 vakante kantore met slegs een nieregeringsorganisasiehuurder. Die Kayamandi Economic and Tourism Corridor het ekonomiese handel ten doel, eerder as die beskerming van erfenis. Maar dit sing dieselfde deuntjie van vermorste geld binne gemeenskappe.

Nog slegte nuus met betrekking tot erfenis: In Desember 2021 is een van 10 kramats in Kaapstad – almal op 3 Desember as nasionale erfenisterreine verklaar – gevandaliseer.

Maar alles in Suid-Afrika is nog nie noodwendig totaal in sak en as nie. Wat van erfenis wat nie kan afbrand nie?

Sogenaamde ontasbare kultuurerfenis – dus erfenis wat voortleef en wat nie noodwendig materieel verwoes kan word nie – is nie te versmaai nie.

Die South African Human Rights Commission (SAHRC) het in 2015, ’n dag voor Erfenisdag, ontasbare erfenis in ’n mediaverklaring definieer (soos aangehaal in die Netwerk24-artikel “Afrikaanse erfenis op altaar gebraai”): “Heritage is both tangible and intangible, seen in oral traditions, knowledge systems, literature, art, music, dance and food.”

Die University of Massachusetts Amherst Center for Heritage and Society definieer ontasbare erfenis soos volg (soos in dieselfde Netwerk24-artikel aangehaal): Heritage “is both tangible and intangible, in the sense that ideas and memories – of songs, recipes, language, dances, and many other elements of who we are and how we identify ourselves – are as important as historical buildings and archaeological sites.”

Unesco1 se omskrywing lui:

Cultural heritage does not end at monuments and collections of objects. It also includes traditions or living expressions inherited from our ancestors and passed on to our descendants, such as oral traditionsperforming artssocial practices, rituals, festive eventsknowledge and practices concerning nature and the universe or the knowledge and skills to produce traditional crafts

Ongelukkig erken Unesco nie ontasbare kultuurerfenis met betrekking tot Suid-Afrika nie, maar gelukkig wel dié in ander Afrika-lande. Die Nama-stap uit Namibië is byvoorbeeld in 2020 tot dié lys toegevoeg. Unesco definieer die Nama-stap as die danspassies van die Nama. Unesco het dit op die lys van “Intangible cultural heritage in need of urgent safeguarding” bygevoeg onder die kategorie “Aixan/Gana/Ob#ANS TSI //Khasigu, ancestral musical sound knowledge and skills”.

Intussen is daar nuwe en interessante verwikkelinge in 2021 met betrekking tot erfenis in ander Afrika-lande. Dit sluit verwikkelinge in Zimbabwe in. The Economist het onlangs berig dat die Zimbabwiese argeoloog Shadreck Chirikure lig gewerp het op die suidelike Zimbabwiese argeologiese terrein Great Zimbabwe as “die belangrikste voorbeeld van ’n prekoloniale Afrika-staat suid van die Sahara”.

Chirikure beklemtoon argeologiese bewyse van internasionale, asook plaaslike, handels-, sosiale en kennisnetwerke by hierdie Unesco-wêrelderfenisterrein. Verskeie artefakte dien as bewyse van hierdie wydverspreide netwerke: soortgelyke artefakte wat te vinde is in die Kongo en Zambië; ’n Ming-dinastie-teepot; ’n Persiese pot met inskripsies in Arabiese skrif; en glas van Sirië.

Chirikure wil lig werp op die denkfout dat, in sy woorde, “niks in Afrika gebeur het voor kolonialisme nie”. 

Die politiek van erfenis raak natuurlik alle lande: In 2012 het Islamitiese rebelle ’n graf in Mali gebombardeer, spesifiek in die antieke stad Timboektoe, ’n Unesco-wêrelderfenisterrein. Teen Januarie 2013, berig The Guardian, het antieke manuskripte van onskatbare waarde in die Sahara-sand verdwyn. Rebelle het ook die biblioteek afgebrand:

The vast majority of the texts were written in Arabic. A few were in African languages, such as Songhai, Tamashek and Bambara. There was even one in Hebrew. They covered a diverse range of topics including astronomy, poetry, music, medicine and women’s rights. The oldest dated from 1204 ... the manuscripts were important because they exploded the myth that “black Africa” had only an oral history.

Hierdie onvervangbare, tasbare dokumente met ontasbare kennis is ’n massiewe sosiokulturele en -historiese verlies. 

Die vraag ontstaan of ontasbare kultuurerfenis, byvoorbeeld ontasbare mariene kultuurerfenis, wat nie noodwendig verbrand kan word nie, ook ’n risiko loop om verlore te gaan.

Met die onlangse COP26-klimaatberaad van die Verenigde Nasies (November 2021) asook die onlangse Makhanda Hooggeregshof-oorwinning met betrekking tot Shell se seismiese toetse aan die Wildekus in gedagte, beklemtoon Rose Boswell in haar Daily Maverick-artikel die dringende behoefte om ontasbare mariene kultuurerfenis in Suid-Afrika en Afrika te bewaar. Boswell definieer dit as “valued orature, rituals, beliefs and practices associated with the oceans and coasts”.

Ek wonder of Afrikaanse leksikale items wat verband hou met die see2 (soos kombuisruimskoots, pekel, agterbaks, poolshoogte ens), as sodanig beskou kan word? En gepraat van kombuis: Wie in Suid-Afrika het nog nie ’n lekker koppie rooibostee gedrink nie? In Augustus 2021 het die Europese Unie rooibostee as ’n sogenaamde Protected Designation of Origin (PDO) geregistreer.

Dit is die eerste produk uit Afrika wat hierdie status in die Europese Unie verkry het. 

Rooibos groei slegs in die Sederberg-streek van Suid-Afrika. Op my eerste staptog in die Sederberg het ons tussen rooibos gestap. En tydens my eerste week van studie-uitruil in Europa in my 20’s was ’n geskenk van rooibostee en snesies – vir die verlange – van ’n mede-Suid-Afrikaner die beste present ooit. Mooi herinneringe! 

(Tersyde: Selfs rooibostee het ’n geskiedenis van rassepolitiek. Lees byvoorbeeld die resensie van die boek Steeped in heritage: The racial politics of South African rooibos tea deur Sarah Ives hier.)

’n Ander mooi herinnering: Twee dae ná die afsterwe van oudpresident Nelson Mandela – wat saam met die pas oorlede emeritusaartsbiskop Desmond Tutu een van die bekendste simbole vir demokrasie en menswees is – het die agtste ATKV-Rieldansfinaal op 7 Desember 2013 plaasgevind. 

Voordat die rieldansverrigtinge begin het, het meer as 5 000 Suid-Afrikaners in die skaduwee van die Afrikaanse Taalmonument in Paarl opgestaan om die volkslied te sing. Ek het reg by die verhoog, op die heel onderste trappe van die groot amfiteater, omgedraai om op te kyk. As duisende mense die volkslied sing, voel mens hoopvol oor Suid-Afrika. ’n Baie optimistiese siening in die lig van al ons land se probleme. Maar onthou: Sonder enige hoop vir ’n nuwe Suid-Afrika tydens die geveg teen apartheid sou Suid-Afrika nie ’n demokratiese grondwet kon bewerkstellig het nie. Terug na die riel: Later die aand was daar dawerende applous en ’n lekker gelag saam met die gaskunstenaar David Kramer.

Luide applous vir David Kramer (Foto: Menán van Heerden)

Die Nama-stap van Namibië3 is op Unesco se lys, soos reeds vermeld. Dit blyk daar is onlangse verwikkelinge in hierdie verband met betrekking tot Suid-Afrika.4 In die aanlyn regeringsdokument “Verklaring oor die virtuele kabinetsvergadering van Woensdag 29 September 2021” word gestipuleer dat die kabinet Unesco se Konvensie vir die Beveiliging van ICH5 van 2003 goedgekeur het.

Volgens dié dokument maak die konvensie voorsiening “vir die beveiliging, bewaring en bevordering van ontasbare kulturele erfenis deur die onderskeie lidstate”.

Ontasbare kultuurerfenis word in hierdie verband gedefinieer as “gemeenskaplike kulturele ruimtes, kennis, voorwerpe en artefakte in gemeenskappe”. Die dokument beklemtoon die verantwoordelikheid van lidstate “om toepaslike maatreëls vir hulle bewaring te identifiseer, te definieer en op te stel”. Die bevordering en beskerming van hierdie erfenis is die verantwoordelikheid van die lidstate deur middel van “wetlike, tegnies administratiewe en finansiële maatreëls”.  

Die vraag kom by my op: Is slegs staatsliggame verantwoordelik vir ’n lys van Suid-Afrikaanse ontasbare kultuurerfenis? Wie gaan besluit watter erfenis en wie se erfenis is “relevant” en “belangrik”?

Kan ontasbare erfenis ook subjektief wees? Kan sokkie en langarm as ontasbare kultuurerfenis beskou word? Die Kaapse Klopse en ghoema? Maleierkore? Storievertelling? ’n Koesister? ’n Koeksuster? ’n Blikkitaar? Vellies? Die woorde kombuismosawêbabelaaseinaabbatsjek!spaza ...?

Kan ontasbare kultuurerfenis ook insluit die kulturele kennis dat ’n “skilpadjie” om die braaivuur nie ’n eintlike skilpad is nie? Weet jy wat ’n “oepsie” is wat mens braai? Oeps, raak dit nou te boertig?

Is ontasbare kultuurerfenis ’n grafiese uitbeelding van ’n volstruis op die logo van ’n restaurant in Amsterdam wat jy móét afneem want dit herinner jou aan huis? Of in Lissabon graffiti wat die Afrikaanse woord “bok” in het, waarvan jy ook ’n foto neem? Is dit iemand wat oorkant jou in ’n stil trein op pad York toe in Engeland ná ’n foon-oproep vir jou in Afrikaans vra: “Is jy van die Kaap?”

Wat ag jy as jou ontasbare kultuurerfenis? 

* Gaan kyk gerus op die South African Heritage Resources Agency se webtuiste na dokumente wat byvoorbeeld die volgende erfeniskategorieë noteer: Shipwrecks and Maritime Heritage Resources; National Heritage Sites; Specifically Declared Objects/Collections; en Provincial Heritage Sites. Die webtuiste theheritageportal.co.za is ook interessant! 


Eindnotas:

1 Unesco: United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization (Afrikaans: Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie van die Verenigde Nasies).

2 Annél Otto en Else Boekkooi. 2020. “Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see”. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe).

3 Volgens Hylton Howard Arnolds se verhandeling (“Cultural heritage events: a case study of the ATKV Rieldans Competition in South Africa”, 2016, Unisa) verskil die Nama-stap van die rieldans met betrekking tot geografiese ligging. Engela Britz se verhandeling (“Songs in the dust: Riel music in the Northern and Western Cape Provinces, South Africa”, 2019, UK) stipuleer dat die Nama-stap en riel skynbaar verwant is, maar as afsonderlike inheemse dansvorme beskou word.

4 Rose Boswell beklemtoon in haar Daily Maverick-artikel dat die Suid-Afrikaanse National Heritage Resources Act 25 of 1999 sogenaamde living heritage met “the intangible aspects of inherited culture” koppel. Dit beklemtoon ook die SAHRC se funksies, magte en pligte in hierdie verband: “promoting the identification and recording of aspects of living heritage associated with heritage resources”.

5 ICH: Intangible Cultural Heritage (Afrikaans: Ontasbare Kultuurerfenis)


Bronne:

https://www.enca.com/life/cecil-john-rhodes-statue-defaced

https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2020-07-14-cecil-rhodes-beheaded-at-cape-town-monument/

https://www.theatlantic.com/photo/2020/07/photos-statues-removed-george-floyd-protests-began/613774/

https://www.forbes.com/sites/lisettevoytko/2020/06/07/british-protesters-throw-slave-trader-statue-into-river-and--other-stunning-global-protest-moments/?sh=61b6d7c94a49

https://www.bbc.com/news/world-europe-53017188

https://ich.unesco.org/en/lists

https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2021-09-02-historic-liliesleaf-farm-museum-closed-after-r81m-unaccounted-for/

https://www.iol.co.za/capeargus/news/kramat-near-camps-bay-is-vandalised-following-heritage-site-status-b4475fef-012b-48a5-b5b6-4f0ed157d203

https://www.news24.com/news24/travel/what-you-might-not-have-known-about-our-rooibos-heritage-20190911

https://theconversation.com/rooibos-tea-eu-protection-is-good-news-for-south-african-agriculture-163502

https://www.iol.co.za/news/south-africa/western-cape/sas-rooibos-industry-receives-eu-certification-13f07dbb-949c-5320-bebf-f1ee90db2124

https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-09-06-there-is-an-urgent-need-to-protect-marine-intangible-cultural-heritage-in-south-africa-and-africa/

https://mg.co.za/environment/2021-12-28-high-court-halts-shells-seismic-exploration-along-wild-coast/

https://www.nytimes.com/2020/10/16/learning/should-museums-return-looted-artifacts-to-their-countries-of-origin.html

https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2022-01-03-major-artwork-and-heritage-items-safe-after-parliament-blaze-but-some-pieces-still-to-be-checked/

https://www.thenationalnews.com/lifestyle/2022/01/04/the-incredible-story-of-south-africas-little-known-keiskamma-tapestry/

https://www.economist.com/christmas-specials/2021/12/18/a-zimbabwean-archaeologist-retells-the-story-of-a-civilisation?fsrc=scn%2Ftw%2Fte%2Frfd%2Fpe

https://ich.unesco.org/en/USL/aixan-gana-obans-tsi-khasigu-ancestral-musical-sound-knowledge-and-skills-01540

https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-10-10-brandfort-place-of-hollow-forgetting-and-shallow-remembering/

https://www.theheritageportal.co.za/

https://sahris.sahra.org.za/

https://www.iol.co.za/capetimes/news/kayamandi-corridor-a-r13million-white-elephant-3baa2a98-51ac-46e6-82ec-a67f9ee64bbb

https://edition.cnn.com/2012/05/05/world/africa/mali-heritage-sites/index.html

https://www.theguardian.com/world/2013/jan/28/mali-timbuktu-library-ancient-manuscripts

https://www.dispatchlive.co.za/news/2021-02-18-foundation-laments-sad-state-of-cradock-four-memorial/

https://www.vryeweekblad.com/mense-en-kultuur/2021-02-18-doodgebore-monumente-mt-leef/

https://www.sahrc.org.za/index.php/sahrc-media/news-2/item/332-all-have-the-right-to-celebrate-their-heritage-sahrc

https://www.netwerk24.com/netwerk24/Stemme/Aktueel/Afrikaanse-erfenis-op-altaar-gebraai-20150924

https://www.umass.edu/chs/about/whatisheritage.html

https://www.gov.za/af/speeches/verklaring-oor-die-virtuele-kabinetsvergadering-van-woensdag-29-september-2021-30-sep-2021

https://www.gov.za/documents/national-heritage-resources-act

https://uir.unisa.ac.za/bitstream/handle/10500/23224/dissertation_arnolds_hh.pdf?sequence=1

https://open.uct.ac.za/bitstream/handle/11427/31151/thesis_hum_2019_britz_engela.pdf?sequence=1

https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-01-05-vandalisation-of-constitutional-court-is-an-attack-on-democracy-justice-minister-lamola

  • 0
Top