Ruby & Roach se animasie: geen taalgrense nie

  • 0

Erentia Bedeker is ’n animasiefilmmaker. Haar nuutste film, Ruby & Roach, het twee groot pryse gewen by Durban se internasionale filmfees en is reeds na ’n aantal internasionale filmfeeste genooi. ’n Kort voorskou van Ruby & Roach is hier te sien. Izak de Vries gesels met haar.

Erentia, baie geluk. Ek mag jou nou beskryf as ’n “bekroonde filmmaker”, want jy het twee groot pryse gewen by die Durban Internasionale Filmfees. Vertel meer?

Baie dankie, Izak. Dit klink darem vreeslik grênd om ’n “bekroonde filmmaker” genoem te word! Ruby & Roach het die pryse vir Best South African Short Film en Best African Short Film gewen by die Durban Internasionale Filmfees in September. Anders as die meeste feeste het hulle nie ’n aparte kategorie vir animasiekortfilms nie. Die meeste van die ander kortfilms was dus live action. Ek dink daar was net een ander animasiekortfilm buiten Ruby & Roach. Vir my as kunstenaar beteken die erkenning ongelooflik baie, veral omdat ek nog maar redelik nuut in die bedryf is en nog my merk moet maak.

Ruby & Roach is na my wete jou derde animasiefilm. Dit gaan oor twee speelgoed wat in ʼn lughawe se belastingvrywinkel sit en nooit gekoop word nie. Dié oomblik van outsiderskap – dink jy dat dit kykers meelewing laat beleef met ’n kakkerlak en ’n vreemde olifant?

Ruby, ’n rooi olifant, het ’n lelike vuil kol op haar oor. Roach, ’n pers kakkerlak, is nogal vreemd en grillerig. Hulle leef in ’n monochrome wêreld waar alles generies is. Individualiteit is nie iets om op trots te wees nie; in dié wêreld is dit beter om net saam te smelt met die massa. En dié twee staan natuurlik uit soos ’n seer oog. Al wat hulle ken is verwerping.

Die meeste mense het al êrens in hulle lewe beleef hoe dit voel om as buitestander bestempel te word; om nie “gekies” te word nie weens iemand anders se standaard waaraan jy kwansuis nie voldoen nie. Hetsy op skool omdat jy nie deel van die cool kinders was nie of weens jou seksuele oriëntasie, velkleur, die taal wat jy praat of selfs ’n gestremdheid. Ons leef in ’n samelewing wat gedryf word deur modes en vooropgestelde idees wat slaafs nagevolg word. Diegene wat nie konformeer nie, word randfigure wat nooit inpas of deel van die crowd is nie. Die wêreld het natuurlik al baie verander en is al meer ontvanklik vir die weird klomp onder ons, maar ook maar net op sekere vlakke. Ek is telkens geskok oor hoe verstok so baie mense nog is en hoe maklik ons mekaar oordeel en uitwerk.

Die titel is Engels, maar daar is nie dialoog in die film nie. Is ek reg?

Jy is reg. Omdat die film op die internasionale filmmark gerig is, is die titel in Engels. Dialoog maak dinge op drie vlakke moeilik in ’n animasiefilm. Eerstens is dit ’n ekstra uitgawe om stemakteurs te kry om die dialoog op te neem. Tweedens is dit baie moeilik om lip sync te animeer as jy met stop-motion werk en derdens vereis die meeste feeste dat jy onderskrifte in hulle nasionale taal bysit indien jou film dialoog het. Nie net is dit groot werk nie, maar dit kos elke keer ekstra geld. In Suid-Afrika maak ons films op mikroskopiese begrotings, so jy sny onkostes waar moontlik.

Plus, om ’n storie sonder dialoog te vertel, kom met sy eie stel uitdagings wat jou dwing om emosie en storie-elemente op ander interessante maniere aan die kyker oor te dra. Die musiek en byklanke speel ook ’n baie belangrike rol hierin. Charles Badenhorst wat ons sound design gedoen het, het ’n ongelooflike aanvoeling vir die fyner nuanses van klanke en hoe dit die kyker se aandag kan fokus op wat jy wil hê. Selfde met die musiek. Die musiek moes letterlik die dialoog tussen die karakters vervang. Mart-Marie Snyman en Siobhan Lloyd-Jones het ’n ongelooflike klankbaan gekomponeer wat die film laat lewe.

Waar kom jy aan dié storie?

Ruby & Roach is Dorette Nel, die vervaardiger van die film, se breinkind. Sy het dit geskryf vir ’n kortfilmskryfkursus. Aan die einde van die kursus het hulle animeerders gesoek vir die verskeie projekte. Ons kon kies vir watter kortfilm ons ’n voorlegging wou doen. Ruby & Roach het dadelik tot mý gespreek. Ek het ’n voorlegging daarvoor gedoen, Dorette het daarvan gehou, en so is die projek tot lewe geroep. Ek was dus slegs die regisseur en animeerder van die film.

Nou, skielik, word jy ’n Suid-Afrikaanse uitvoerproduk. Ruby & Roach is op pad na filmfeeste in Kenia, Turkye en Brasilië. Vertel meer?

Die teikenmark vir onafhanklike animasiefilms is maar filmfeeste, waarvan daar wêreldwyd ongelooflik baie is. Vir die blootstelling en erkenning wat daarmee gepaard gaan indien jou film gekies word, skryf ons films vir soveel as moontlik feeste in; nasionaal, maar veral internasionaal. Die filmfees in Brasilië het byvoorbeeld 2 075 inskrywings uit 105 lande ontvang. So, dit sê darem iets van jou film as jy gekeur word. Ruby en Roach het tot op hede al by tien internasionale feeste en drie nasionale feeste gaan kuier.

...
Ruby en Roach het tot op hede al by tien internasionale feeste en drie nasionale feeste gaan kuier.
...

Die meeste feeste bied baie netwerkgeleenthede wat gepaard gaan met die filmvertonings. Weens die pandemie was die meeste feeste vanjaar egter aanlyn aangebied. Die ideaal is om self teenwoordig te wees by die feeste sodat mense jou kan sien en jy jouself so bietjie kan verkoop en dan hoop ’n mens altyd vir nuwe werksgeleenthede en kontakte in die bedryf.

Jou vorige werk is geskep om gedigte en jy het met Wilken Calitz saamgewerk. Die berggans het ’n veer laat val, in opdrag van die ATKV, was beeldskoon. Toe het jy ’n Brons-groen skaduwee in my oë opgeneem wat deel was van die Wild Whisper-projek. Jy is ook ’n digter wat al in Nuwe Stemme 6 opgeneem is. Hoe het animasie en poësie so saam-saam in jou kop begin loop?

Poësie was maar nog altyd deel van my bestaan. Animasie, aan die ander kant, glad nie; buiten nou vir die Disney-classics. Stop-motion animasie is iets waaraan ek eers in my derde jaar op universiteit blootgestel is. Ek het gespesialiseer in poppespel in my laaste jaar van drama. Omdat stop-motion ook dikwels van poppe gebruik maak, was dit deel van ons leerplan. Ons het vir ’n klasprojek ’n stop-motion kortfilm gemaak wat geïnspireer is deur Breyten Breytenbach se gedig “Ek sal sterf en na my vader gaan”.

Maar my eintlike bekendstelling tot die wye magiese wêreld van stop-motion was deur Diek Grobler wat die Filmverse-projek behartig het. Ek het op ’n vreemde ompad by die Filmverse-werkswinkel op Stellenbosch beland. Almal wat die werkswinkel bygewoon het, kon ’n voorlegging maak vir een van die poësiefilms vir die projek. Op daardie stadium van my lewe was ek tussen swot, werk, en uitvind wat ek met my lewe gaan doen. So, wat is beter as om die tyd mee te verwyl as met ’n stop-motion poësiefilm? Ek het die voorleggingfilm op my foon in my slaapkamer geskiet en wonder bo wonder het Diek gedink dis nie te sleg nie. En so het my eerste film die lig gesien.

Die konsep van poësiefilms was vir my op daardie stadium baie nuut, maar dit het dadelik tot my gespreek. Vir my gaan poësie juis oor die beelde wat die woorde oordra en oproep in die geestesoog. Daarmee saam is ek ewe skielik ook blootgestel aan die wye kosmos van stop-motion animasie waar die moontlikhede vir styl en medium legio is. En so het die twee saam-saam in my kop begin loop.

Waarom ’n ander rigting inslaan met iets soos Ruby & Roach?

Ek is nie kieskeurig oor werk nie! Enige geleentheid wat kom aanklop, vat ek aan. Dit was baie anders om ’n storie te animeer. My poësiefilms het meestal met verskillende beelde gewerk wat nie noodwendig ’n liniêre storielyn volg nie. Ek moes dus my benadering heelwat aanpas. Die leerkurwe was nogal steil omdat ek ’n nuwe animasiemedium en styl aangepak het.

Jy is tans besig met ’n animasie onder die werkstitel The Stonemason. Mag ons al iets weet?

Die Stonemason is ’n klipkapper wat help om die dorp se nuwe stadsplein te bou. Sy werk is om keistene en klip vir die nuwe fonteinmuur te kap, maar eintlik wil hy ’n beeldhouer wees. Ons volg sy kreatiewe “ontwakingsreis” waar hy leer dat die ego dikwels in die pad van kreatiwiteit kan staan en dat jy as kunstenaar slegs die kanaal is waardeur die skeppingskrag van ’n groter Skepper vloei.

Ek het The Stonemason geskryf vir ’n kortfilmskryfkursus onder leiding van Natasje van Niekerk. Toe vat ek ’n kans en doen aansoek vir ontwikkelingsbefondsing by die National Film and Video Foundation (NFVF) en kry dit. Jy sal oplet dat die meeste van my projekte se ontstaan met baie toeval en geluk gepaard gaan.

Ek is op die oomblik besig met die pre-produksiefase. Dit behels storyboarding, konsepkuns en karakterontwikkeling. Ek gaan stop-motion-poppe gebruik vir die Stonemason. Jy sal ook oplet dat ek om die een of ander rede daarvan hou om met elke projek ’n nuwe animasiemedium en styl te kies, wat beteken ek moet weer als van vooraf leer... Ek vermoed ek is dalk so ietwat van ’n masochis, want ek maak die lewe vir myself baie moeilik by tye. Maar kom ons sê maar net ek hou van ’n uitdaging; dit klink meer prysenswaardig.

Julle kan die proses dophou op my Instagram (@erentiabedeker of @wreckless_creative) of Facebook. Ek probeer redelik gereeld om ’n bietjie agter-die-skerm goed op te sit.

Animasie is iets wat met enorme geduld gepaard moet gaan. Hoe lank het jy gewerk aan Die berggans het ’n veer laat val?

Ek het so ses maande gewerk aan die 3 minute en 38 sekondes wat die Berggans geword het. Ek het natuurlik baie meer materiaal geskiet as wat ek in die finale weergawe gebruik het. Ek moes redelik eksperimenteer omdat dit my eerste volwaardige kortfilm was.

Hoe lank het Ruby & Roach geneem?

Dit het twee jaar gevat om die 8 minute en 48 sekondes film klaar te maak.

Jy was al betrokke by ’n groot film met ’n groot begroting – dit was een van die Smurf-films. Is ek reg?

Nee, Smurfs was ’n verhoogproduksie – Smurfs Live on Stage. ’n Australiese produksie. Ek was een van die puppeteers. Tot op hede het ek nie regtig enige filmwerkondervinding nie. Maar ek weet dat ons begrotings hier in Suid-Afrika vir animasie geensins kan kers vashou by die oorsese produksies nie. Ek was nogal verstom hoeveel geld in ’n kortfilm kan ingaan; ons praat hier nie eens van vollengte films nie.

Om den brode hou jy skool, want ek glo nie jy verdien sakke vol geld met jou films nie?

Om den brode doen ek verskeie dinge ... Eintlik enige iets wat ek op vryskutbasis kan doen. Ek los soms af by skole; bied animasieklasse in die middae aan; ek doen poppekasvertonings saam met ’n medeaktrisevriendin by verjaarsdagpartytjies, skole en ATKV-oorde, én ek is ’n webmeestersassistent by Versindaba. (Om die mees onlangse werke te noem). Verlede jaar het ek vir so twee maande vir Takalani Sesame op stel gewerk as puppet wrangler. Hulle sê mos as jy drama geswot het, kan jy enigiets doen. Dit is rêrig so, want jy moet!

Ek sou graag wou sê ’n mens kan ryk word deur animasiekortfilms te maak, maar helaas. Ten spyte daarvan voel ek wel dis my roeping en sal ek dit nie sommer vir enige iets anders permanent verruil nie.

Jy werk self aan jou marionette. Harde werk is duidelik in jou bloed. Hoe het ’n Namib-meisie met ’n Honneurs in Afrikaans-Nederlands so ’n moeilike beroep gekies?

Dit hang af vir wie jy vra. My ma het die een slag vir my gesê sy is nie seker of ek braaf of mal is nie. Dit was nooit rêrig ’n kognitiewe keuse nie. Dit het maar net gebeur. Sameloop van omstandighede, ontmoetings en geleenthede. Ek het van kleins af graag met my hande gewerk en was altyd besig met die een of ander projek. So, dis nie vir my harde werk om goed te maak nie; eerder ’n voorreg om dit as ’n beroep te beoefen. Dit is een van die aantrekkingspunte van stop-motion-animasie vir my. Om die karakters wat jy self gemaak het, te sien lewendig word op die skerm. En hoe húlle op die ou end jóú direct en nie anders om nie. My pa sê altyd die beste keuses is daai wat jy nooit gemaak het nie. Dis wat animasie vir my is.

Lees ook:

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Erentia Bedeker

Alle beeldmateriaal verskaf.

  • 0
Top