Safari in ’n wonderlike sebratrokkie

  • 0

Aan die voete van die Langeberge in die Robertson-wynvallei in die Boland gaan ons gereeld kuier, maar staan elke keer verbaas oor die mense se vermoë om met iets interessant vorendag te kom. Die nuwe Wine Valley Safari is een hiervan, skryf Maryke Roberts.

Gaan loer jy op die vallei se webwerf en die eerste woorde wat jou oog vang, is “Proe die leefstyl”, dan besef jy hierdie vallei het ’n skatkis van ervarings wat alles in plattelandse gasvryheid gesetel is.

Vra jy vir Google maps hoe ver jy uit Kaapstad moet ry, mag die 160 km dalk ver klink, maar dis wanneer jy koers kies deur wingerde, berge en mooi valleie dat die kilometers hopeloos te vinnig verbyvlieg.

Parkeer jou motor by die Robertson-wynvallei se toerismekantoor op die hoek van Voortrekker- en Reitzstraat en kyk uit vir die oulike safaritrokkie met die sebrastrepe, wat jou byna ’n wildkyk-ervaring gee, maar met wyne, olywe, kos, natuurskoon eerder op die lysie. Die toer- en vervoerbesigheid is die breinkind van Melissa Pieterse en haar man, Zandre.  Dit is hul vyfjaar-droom om in hul tuisdorp terug te ploeg deur die behoefte aan maklike, unieke en veilige vervoer aan te spreek, wat toerisme-aantreklikhede meer toeganklik maak en so ook toerismegroei in die vallei aanmoedig.

Andy Kama, ons gids en bestuurder, by die oulike trokkie.

Hulle probeer almal in die vallei betrek en bedien, en hou die ritte bekostigbaar. Of jy nou ’n paartjie of ’n groep is, daar is verskeie roetes beskikbaar vir elke dag van die week. 

Jy kan net agteroor sit en die lieflike natuurskoon in die vallei geniet.

Kies ’n wynwaarderingstoer, die ontdekking van McGregor, of die Hop-On Hop-Off-roetes wat elke naweek loop. Daar is selfs ’n skemeraand-wingerd-en-wyn-toer saam met ’n wynmaker, en nog baie toere in die vooruitsig.

Lord’s Wines is die verste punt buite McGregor.

Ons neem ons oornagsak saam en gaan skud blad met die vriendelike Andy Kama, ons bestuurder en gids. Die besoek word vir jou gepasmaat: as jy spesifieke wyne wil proe of by spesifieke plekke wil gaan eet of dalk belangstel in perdry of stap of bergfietsry, jy spreek die woord en die roete word vir jou beplan. Jy sit net agteroor, neem foto’s en geniet dit.

Op die McGregor-toer is ons eerste stop vir die dag by Bemind Wyne, McGregor se enigste garagiste. Die eienaar en wynmaker, Ilse Schutte, het die vraag al soveel maal gehoor dat sy ’n oulike klein plakker teen die muur het waarop staan: “’n Garagiste is ’n kleinskaalse entrepreneuriese wynmaker. Om as garagiste te kwalifiseer, moet jy 12 000 liter of minder per oesjaar maak. ’n Tipiese garagiste maak staat op die idee wat gewoonlik vreemd is vir die Franse, naamlik dat tegniek die terroir kan uitoorlê.”

Sy self bied nou haar wynproeë – nie gewoonlik deel van garagistes se aanbiedinge nie – in een van die dorp se oudste geboutjies aan, en agter ons lê 13 eikehoutvate wyn en verouder in dié omskepte garage van 35 vierkante meter.

Ilse vertel dit was eers die sweepfabriek op die dorp, toe deel van ’n gastehuis, en ook ’n algemene handelaar; en oral teen die mure hang memorabilia van haar gesin om te wys dat stories en onthou belangrik is. Sy het haar eie gedig geskryf om agterop haar wyne se etiket te skryf.

“Ek maak nou 9 500 liter per jaar en dis my kapasiteit. Ek wil nie verder uitbrei nie; net meer eksperimenteer en speel,” vertel sy terwyl ons aan haar suiwer Chenin MCC teug. Ilse maak net MCC Brut, Sauvignon Blanc, Cinsault, Shiraz en Hartelus – ’n spesiale, beperkte oplaag wyn wat elke jaar verskil en ’n interessante storie het.

Ek stap uit op die straat om die lewe te bekyk. Die dorp woel met dorpenaars: party is op pad kafee toe; ander lewer produkte af; sommige ontmoet mekaar vir ’n koffie.

Op die hoek van Kerk- en Voortrekkerstraat sit ’n man op ’n sak vuurmaakhout. Tussen sy lippe hang ’n grashalmpie waaraan hy ingedagte kou. Hy het van die wêreld vergeet; sit en kyk na die lewe op die straat sonder om waarlik te sien. Is dit die plattelandse sorgeloosheid waarna ons almal smag?

Ons ry die lang grondpad uit na Lord’s Wines, waar die pad doodloop in die wonderskone vallei. Agter die heuweltjies hou Greyton wag, en as jy avontuurlustig is, kan jy oor die koppies stap. Ek wil eerder gaan loer hoe lyk die nuwe restaurant en proelokaal by die plaas. Met ons vorige besoek was alles nog onder die stof en het ons tussen die houtvate wyn geproe.

Die wolke maak bolpatrone in liggrys en blou teen die lug en in die verte wink die Langeberge. Met die stowwerigheid van die grondpad aan my broekspype omdat ons almal kort-kort vir Andy vra om te stop vir foto’s, begin ek so ’n bietjie van die man op die vuurmaakhout se saligheid ervaar.

Jacques Oosthuizen wag by ’n tafeltjie waar hy MCC Brut Rosé skink. Hy glimlag skalks toe iemand vra of dit sy gunstelingwyn is. “Ek mag nie sê enigeen is ’n gunsteling nie, maar dié bekroonde vonkelwyn is beslis ons enetjie wat by Oxford studeer het!”

Jacques Oosthuizen van Lord’s Wines wag by ’n tafeltjie waar hy MCC Brut Rosé skink.

Die ander gaste hang aan sy lippe terwyl hy vertel hoe sy pa, Jakkie, sy liefde vir wyn en krieket byeengebring het en die plaas na die bekende krieketveld in Engeland vernoem het.

Jacques vertel dat sy pa se liefde vir wyn en krieket op die plaas by Lord’s Wines hande vat.

Ons stap deur die kelder, kyk na die gistingstenks waar die wyne en vonkelwyne gemaak word en hoor alles van die plaas eerstehands uit Samuel Lekay, die assistentwynmaker, se mond. Ek staan droomverlore en uitkyk oor die vallei in die verte, maar hoor hoe hy vertel: “Wat jy aan die begin in MCC insit, is belangrik. Die druiwe in die wingerde moet goeie kwaliteit wees, want jy kan nie later iets byvoeg of wegvat nie.” Profetiese woorde wat op soveel dinge in die lewe betrekking het.

Die kelder het ’n spasieprobleem begin ervaar omdat hul wyne al gewilder word en hulle moes aanbou. Nou is daar ’n volwaardige onthaalgedeelte, nuwe proelokaal en bergingsruimte. Ons knaag aan kaas- en vleisborde terwyl ons die plaas se bekroonde wit- en rooiwyne geniet.

Ek hoor iemand vertel van die T20 Toasties – brood wat op die plaas gebak word en dan allerhande verleidings op kry voor dit gerooster word. Ons sal maar terugkom daarvoor!

Terug by die safarivoertuig het Andy die seiltjies opgerol en ons trek die vars lug diep in ons longe in. Die windjie speel liggies in ons hare en ek maak my oë toe en vir ’n hele paar oomblikke is ek weer kind met geen kommer in die wêreld nie. Die selfoonontvangs is maar sleg, so my foon is gebêre en ek kan my oorgee aan die mooi prentjie van ’n bloukraanvoëlgesin wat teen ’n dam staan en pik; hul stertvere wat verkeerdom waai in die wind.

Ons laaste stop vir die middag, voor ons na ons akkommodasie gaan, is by Wonderfontein, by Paul René MCC. Henk van Niekerk is die wynmaker wat ons op die koel stoep inwag. Terwyl hy hul bekroonde Brut Rosé MCC skink, vertel hy dat die een ding wat ons moet onthou, is: “Die tradisionele sjampanje-flute het in 2016 gesterf.” Ons word aangeraai om voortaan ons vonkelwyn eerder in ’n wynglas te drink, sodat die geure kans kry om te ontwikkel en die borrels nie doodgedruk word deur ’n te nou glas nie.

Die proelokaalbestuurder by Paul René MCC, Rachelle Janse van Rensburg.

Ons stap by Paul René MCC op die plaas Wonderfontein rond met ons glase vonkelwyn.

Hy groet Andy met die hand en sê hy is baie opgewonde oor die bussie se aankoms in die vallei. “Dis iets nuut vir die vallei en as jy vreemd in die vallei is, is jy nooit seker waar om te begin of wat jy alles kan sien nie. Dit hoef ook nie wynplase te wees wat jy besoek nie. Vir die smulpape is hier genoeg eetplekke, en as jy van die buitelewe hou, sal jy ook nie verveeld wees nie.”

Op die grasgroen grasperk staan ’n outydse sproeier en maak tsk-tsk-tsk soos die water oor die gras val. Iets wat ’n stadskind, en boonop een van die kurkdroë Kaapstad, lanklaas ervaar het. Ek trek my plakkies uit en druk my tone in die dik gras wat soos ’n handgeweefde mat onder my voetsole lê.

Ons proe ook die Brut MCC voor ons deur die tuine stap en sy gesin, Monika en hul twee blondekop-engeltjies, Paul (5) en Annie-Joan (2), ontmoet. Ons stap saam met die kinders deur die tuin, ruik rose, kry die kans om hoenders vas te hou en eiers uit te haal, voor hulle saam met ons in die bussie klim en opslag wil saamry!

Na ’n gegroet en beloftes van weer kom kuier ry ons Klaasvoogds toe vir ons akkommodasie by Africamps in die Pat Busch Mountain Reserve, waar ons gaan glampeer. Die lug is swaar met die belofte van reën en toe ons verby Agteriedam Plaasstal verbyry, val die eerste druppel op my arm. By die klein T-aansluiting naas die laventelplaas waar ons mȏre kom kuier, draai ons links, berg in. Die lug is onmiddellik koeler en die stamperige grondpad sommer pure plaas.

Mens wil byna nie jou gerieflike tent groet by Pat Busch Mountain Reserve se Africamp nie.

Ons groet die res van die groep. Die warm tee, vars lug en lekker beskuit wat ons op die dorp gekoop het, haal die laaste stadstres uit my skouers en ons sit op die stoepie en kyk uit oor die vallei wat in voue van donkergroen doodloop.

Die voëls vertrek na hul neste en hul gesang word teen skemer vervang met die klank van krieke, paddas en ’n naguiltjie iewers in die donker. Die nagstilte is só suiwer, dit sing in jou ore.

Die buitebraai op die hoek van ons stoepie staan uitnodigend oopbek met ’n stapeltjie hout en rooster wat smeek om gebruik te word, maar ons het aandete bespreek by Mo & Rose se Succulent Restaurant. Die nuwe sjefspaartjie, Werner en Melanie Snoek, het die restaurant ’n paar maande gelede oorgeneem. Hulle het die stof van Sandhurst en sy bekroonde eetplekke agtergelaat en hulle hier in die vallei kom vestig.

Ons smul aan fyn disse tot barstens toe vol geure, en Werner wat elke dis se gaarmaakproses verduidelik. Hy kuur sy eie vleis; lê sy eie groente in; kook blatjangs en souse en laat ons soos konings voel. Saam met sy kos geniet ons Kranskop se wyne. Die plaas lê net agter die heuweltjie en ons neem ons voor om die volgende dag daar in te loer om wyn te koop.

Die nag is yskoud en terwyl ons laatnag sit en lees, pak ons die klein kaggeltjie in die leefvertrek. Dis moeilik om later in die bed te gaan klim, maar die warm kombers is lieflik.

Ons ontbyt het ons vooruit by die kamp se oulike winkeltjie bespreek en ons kan nie wag om die mandjie oop te maak nie. Met boeretroos [koffie ‒ MvH, Voertaal] in ons blikbekertjies smul ons aan eiers en spek en roosterbrood.

Te gou moet ons die Pat Busch Mountain Reserve groet, maar die twee stoppe vir die oggend, wat deel vorm van die Klaasvoogds Meander Hop-on Hop-Off-roete, begin by Owl’s Rest laventel-en-olyf-plaas en daarna by Marbrin Olywe, en dis lekker opwindend.

Laventel bak in die vroegoggendsonnetjie by Owl’s Rest.

Katriena Franse bring ons lekker muffins en konfyt tafel toe by Owl’s Rest.

By Owl’s Rest stap ons saam met Hedley Manicom vir ’n toer deur die laventel- en olyfboorde. Hy wys ons die distilleringsproses, waar hy vlugtige olies maak van onder meer roosmaryn en laventel, terwyl sy vrou, Patricia, ons heerlike muffins en klein bakkies konfyt op bordjies pak.

By Owl’s Rest stap ons saam met Hedley Manicom vir ’n toer deur die laventel- en olyfboorde.

By ons voete lê die honde rustig en slaap, terwyl ons in die oggendsonnetjie sit en bak.

Lui honde lê by ons voete by Owl’s Rest.

Net voor middagete kom ons aan by Marbrin Olives, een van die land se bekroonde olyfprodusente, wat olies en olywe verkoop. Hulle het al verskeie male goue medaljes by die SA Olive Awards verower, en tel onder die Absa Top 5 en Top 10 Ekstrasuiwer olyfolies in die land.

John Paul Jacobs en Phil Jo Davids dra kratte met varsgeplukte olywe in by Marbrin Olives, terwyl ons olyfolie proe.

Clive Heymans se proe-aanbieding met sy tuisgebakte brood is ’n ervaring op sigself. Jy doop die brood in die olie en balsamiese asyn en kou olywe dat die pitte spat.

Clive Heymans se proe-aanbieding by Marbrin Olives met sy tuisgebakte brood, is ’n ervaring op sigself.

Te gou is ons terug by ons motor en groet Andy en die ander toeriste. Maar gelukkig het ons ’n lekker kaart van die vallei en gaan self aanhou ontdek.

Saligheid onder die bome langs ’n plaaspad.

.....................

Kitsfeite

.....................

  •  Foto’s: Clifford Roberts
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top