Salige sonskyndae in die Seychelle

  • 0

Oor vier jaar, op 29 Junie 2026, vier die Seychelle ’n halfeeu van onafhanklikheid, en dat hier ’n onafhanklike gees van vryheid, rustige saamleef en hartlikheid is, is gewis. Die 115 eilande in die Indiese Oseaan, oos van Afrika, het vandag ’n sterk ekonomie; bewaring is hoog op die agenda; en toerisme is een van die grootste werkverskaffers. Die natuurskoon is werklik poskaartmooi en die wit strande, palmbome, kokosneutdrankies en rustigheid wat in jou kuite kom nesskop, is eg, skryf Maryke Roberts.

Anse Source d’Argent op La Digue is een van die mees gesogte strande. Foto: Paul Turcotte vir Seychelles Toerisme

Anze Lazio op Praslin is ’n 20-minute-stap van die naaste bushalte of parkeerplek, maar beslis die moeite werd. Foto: Paul Turcotte vir Seychelles Toerisme

Baie mense arriveer, word na hul hotel of oord gekarwei en bring dan die grootste deel van hul tyd binne die heinings daarvan deur – swembad, see, strand, restaurant, kamer, herhaal. Ons het egter besluit om binne ons kuier soveel moontlik te sien en ervaar, met plaaslike mense te gesels en bykans al die vervoeropsies moontlik te probeer.

Tien dae. Groot vliegtuig, klein vliegtuig, fiets. Groot boot, klein boot, swem. Bus, taxi, stap.

Dis die kleurespel by die vensters van die klein vliegtuigie uit wat almal se aandag gevange hou. Die bloue wat onder die 18-sitplek-vliegtuigie se romp verby gly, lyk asof iemand ’n blouswart inkpot op 'n klam wit doek omgestamp het, en die inklyne maak in riwwe patrone in allerhande skakerings van diepgroen tot vaalblou met spatsels wit tussenin. Foto: Clifford Roberts

Met die glasbodembote kan jy die lewe onder die water ervaar sonder om nat te word. Hier is ons met Teddy’s Glass Bottom Boat uit vir die dag. Foto: Clifford Roberts

Petite Anse-strand op La Digue is ’n wonderlike plek om die sonsopkoms in te wag. Foto: Torsten Dickmann vir Seychelles Toerisme.

Groot vliegtuig

Vyf uur nadat jy oor middagete by OR Tambo opgestyg het, land jy in donkeraand in Mahé, die hoofeiland en enigste een met ’n internasionale lughawe. Jou horlosie is twee ure aangedraai van Suid-Afrikaanse tyd en die 50 tree oor die teer tussen die vliegtuig en lughawe gee jou ’n vinnige voorsmakie van die tropiese klimaat wat wag. Die doeaneprosedure is vinnig en effektief en ons tasse binne 10 minute op ’n trollie, deur die glasdeure uit.

Klein vliegtuig

Die 15-minute-vlug tussen Mahé en Praslin is net lank genoeg om jou ’n kykie na die eilande vanuit die lug te gee terwyl jy net-net onder die wolke vlieg. Die sitplekkies is knap en jy sit met jou knieë in die een voor jou se rug en met jou een boud op jou buurman s’n, maar niemand is daaroor gepla nie. Dis die kleurespel by die vensters uit wat almal se aandag gevange hou. Die bloue wat onder die 18-sitplek-vliegtuigie se romp verby gly, lyk asof iemand ’n blouswart inkpot op 'n klam wit doek omgestamp het, en die inklyne maak in riwwe patrone in allerhande skakerings van diepgroen tot vaalblou met spatsels wit tussenin. En voortdurend is die klein hopies land met palmbome in diepgroen wat elke toneel omsoom.

Elke eiland in die Seychelle het klein privaat strande waar jy soms vir ’n hele dag alleen kan swem en op die sand lê en dut. Foto: Seychelles Toerisme

In die Vallee de Mai is verskeie reusepalms in die nasionale park te sien. Hulle troon etlike meter bo mens se kop uit. Dis ook die enigste plek waar die Coco de Mer natuurlik voorkom. Foto: Clifford Roberts

Fiets

Jy kan ’n motor huur, of stap, of ’n fiets huur op vele van die eilande. Ons kies fietse. Bloot om weer kind te wees; jou kosbaarhede in ’n fietsmandjie te pak en die dag vreesloos in te gaan sonder verwagtinge. Om jou nie te bekommer oor valhelms en veiligheid en om raakgery te word nie, want fietse is koning hier op die smal paadjies wat eilande omsirkel en jou op wit strande uitspoeg.

Op La Digue val ons agter ander fietsryers in; by afdraandes haal jy jou voete van die pedale af en met  bene al swaaiend skree jy “whiiieeee” terwyl die wiele al vinniger en vinniger draai en die gesuis in jou ore al harder word. Teen opdraandes uit blaas almal ewe hard saam, maar as jy jou fiets onder die bome parkeer het en deur die wit sand ploeg om jou sitplek langs die blou waters te kry, is al die geblaas en getrap vergete.

Saans ry jy op ’n pikdonker eiland met jou selfoon se flits in jou mandjie huis toe. Die reusemandjie se skaduwee voor op die pad wil-wil jou van stryk bring, omdat dit kompleet voel asof jy binne-in die mandjie sit en nie op die pad kan fokus nie. Dan trek jy langs die pad af, sit die flits af en kyk op na die sterre in die pikswart nag. Die oerwoud weerskante van die pad is aan’t lewe en geraas maak in die stilte van die eiland.

Die vroulike vrug van die Coco de Mer-plant lyk soos ’n vrou se heupe en geslagsorgane. Dit hang vir sewe jaar aan die boom voor dit heeltemal gevorm is en ryp is vir voortplanting. Foto: Clifford Roberts

Tracy Manaphunga, ons gids vir die Vallee de Mai, wat die vroulike en manlike vrugte van die Coco de Mer-plant uitwys. Die reusepalm kom net op Praslin voor en die reusevrug is die amptelike logo van die Seychelle. Foto: Clifford Roberts

Groot boot

Die eilande van La Digue, Praslin en Mahé is per veerboot bereikbaar en die ritte van La Digue na Praslin duur net 15 minute, en 65 minute van Praslin na Mahé, Dit gee jou geleentheid om die eilande van oor die blou see te besigtig en jou gunsteling- klein strandjie te eien – lank voor jy voet aan wal sit.

Die hawens is piepklein en die hawegeboutjies skaars groter as ’n motorhuis, maar die diens is flink, die veerbote tydstiptelik en die water is kalm. In die waters om die eilande is katamarans, jagte en snelbote vasgemeer en mense speel op branderplanke, jetski’s en rubberbootjies met binnebande wat agterna getrek word.

Reusepassasierskepe lê om die eilande geanker – te groot om in die piepklein hawens in te vaar. Die passasiers sal altyd buitestanders bly – soos die res van ons maar – want een of ander tyd gaan ons almal weer terug na waar ons vandaan kom; ons spore in die sand deur die gety doodgevee, en die lewe hier sal voortgaan asof ons nooit hier was nie.

Die groen geitjie eet die stuifmeel van die manlike vrug van die Coco de Mer en dra dit oor na die vroulike vrug, wat dit dan bevrug. Foto: Clifford Roberts

Klein boot

’n Daguitstappie om te gaan snorkel of skubaduik is dié ideale manier om die blousel blou water en spierwit koraalriwwe te ervaar. Verskeie opsies is beskikbaar en jy kan selfs diepseehengel of net aan boord bly en die lewe onder die water deur ’n glasbodemboot gadeslaan.

Ons hoogtepunt was ’n dag uit met Teddy’s Glass Bottom Boat uit Mahé se Marine Quarter, want nie net kan jy die vars seelug in jou hare voel roer nie, maar jy kan snorkel, swem, op die strand stap en middagete geniet op ’n eiland, Moyenne, waar net vier mense woon. Die reuk van gebraaide hoender en Kreools-Indiese viskerries met kokosneutmelk, lensies, basmatirys en brandrissie is van oral te ruike terwyl jy die seewater van jou afspoel en aan jou yskoue bier teug. Die paddavoete en duikbril gee jou kans om vir ’n uur net met die deinings van die see op en af te beweeg, terwyl die seelewe onder jou amper deel van jou wese word.

As jy in die vlakwater sit, spring silwer vissies in skole ritmies uit die water en maak klein sierbogies, terwyl skole dolfyne agter perkate maak.

Die katamaran wat ons tussen Praslin en Mahé geneem het, bied ’n ervaring van ’n ander dimensie: Die oopte van die oseaan, die wit brandertjies en golfies wat die boot opskop en af en toe ’n koelte op jou voorarm kom neersit as die deining effe hoër is, is vryheid op sy beste.

Ons stap op Praslin en sien daar is groot wit kruise geplant wat vanaf die see sigbaar is, om vir verbygaande skepe aan te dui waar kerke op die eiland is. Die kruise is gewoonlik naby die strand en die kerke aan die oorkant van die pad. Foto: Clifford Roberts

As jy wil weet waar die beste geheime strande is, of die beste wegneemrestaurante, kyk net waar almal se fietse op La Digue staan. Foto: Clifford Roberts

Swem

Jy leef in jou swemklere en sarong en plakkies. As jy gaan swem of snorkel, gee jy oor aan die kleureskouspel van vissies en koraal wat soos reusekoolkoppe lyk, seewier wat in die gety wieg en hul eie doodstil simfonie speel. Jy kan dit nie hoor nie, want die stilte onder water is wat stilte vir jou kop bring, maar al die seelewe is deel van die groot orkes. As jy lank genoeg stil dryf, kom vissies aan die punte van jou hare knibbel of teen jou duikbril vasswem om inspeksie te doen van die groot wese in hul ruimte.

In die vlakwater dryf jy op jou rug met jou oë toe, die sagte dreuning van die branders ’n sussende wiegeliedjie vir ’n moeë lyf en siel, die louwarm water ’n ontspannende badseremonie waarin jy van al die sorge van die wêreld ontsnap.

As jy in die vlakwater op jou elmboë gestut die lewe op die strand gadeslaan, en die reën sak uit, dans die reëndruppels op die water en maak sagte klanke wat soos musiek deur die stilte klief. Vissies swem voor jou elmboë verby en ’n pylstert of twee kom nuuskierig nader om te kyk wie nou sy heiligdom se sand in wolkies kom opskop.

By strandkroegies wat informeel met palmtakke en ’n paar houtbalke ingerig is, kry jy kokosneutwater en kokosneute mooi skoongemaak om te eet. Foto: Clifford Roberts

Bus

Teen net 12 Seychelle-roepees per rit kan jy by die busdepot opklim en die eilande vanuit die busvenster gadeslaan. Die ritte is soos die getye: Soms is die bus vol soos hoogwater; ander kere loop dit soos ’n laagwater leeg en is dit net jy en die busbestuurder wat kyk hoe die palmbome en strande verby gly. Die spoedbeperking van 40 km per uur laat jou alles in volkleur en detail ervaar. Die lewe gaan sy gang terwyl jy ry. Toeriste klim rooigebrand van dae se sonbrand, óf spierwit op hul eerste dag op die bus en vra rigting na die beste strand en uiter soms net een of twee woorde. Busbestuurders is egter alles gewoond en wys geduldig waar elkeen moet afklim. Die locals klim op met kinders en inkopies en blomme vir ’n geliefde tannie se verjaardag; skoolkinders met swaar tasse en hare in netjiese vlegsels. Dis stil op die busse; min mense gesels, asof elkeen in die loomheid van die eiland vasgevang is.  

Taxi

Die taxi’s is ‘n gerieflike manier om van een plek na ’n ander te kom, maar in gebroke Frans en Engels kry jy ook baie inligting uit die bestuurder oor hoe die lewe hier op die eilande is, of waar jy die beste seekatkerrie of soutvis sal kan eet. Die lugversorgde voertuie is silwerskoon en ’n welkome brekie van die hitte. Daar is geen padwoede of aanhoudende toeters nie; dis asof almal regtig die eilandloomte ervaar. Bestuurders gee mekaar ruimte op die pad; trek af op nou paadjies; en taxi’s van dieselfde maatskappy flikker vrolik hul ligte en wuif vir mekaar.

By die luukse Constance Ephelia-oord eet ons by die Cyann-restaurant en ontmoet die Suid-Afrikaanse sommelier Brandon Kriel. Hy trakteer ons op ’n wynproe van twee uitsoekwyne van Suid-Afrika: die rooi versnit Sijnn Low Profile 2018 en die wit versnit Lindi Carien 2018. Foto: Clifford Roberts

Stap

Dis egter wanneer jy stap – saans in die pikdonkerte terug van ’n restaurant op die sand, of in die parke of op wandelpaaie – dat jy waarlik die Seychelle sien. Daar is groot wit kruise geplant wat van die see sigbaar is om vir verbygaande skepe aan te dui waar kerke op die eiland is.

By vrugtestalletjies uit houtpale en palmtakke kry jy die beste, varsste vrugte vroegoggend. Die mense is gaaf, sny maklik vir jou ’n waterappel of mango om te proe as jy onseker lyk of jy dit moet koop. Die meeste mense het ’n vrugteboom of drie in hul tuine en dis hierdie proviand wat hulle gretig deel.

Op La Digue is jy dalk gelukkig as jy diep in die oerwoud stap en vir ’n wyle op ’n boomtak wat laag naby die water hang, verwyl en die Seychelle-paradysvlieëvanger, ’n bedreigde, endemiese voëltjie met sy lang stert op ’n dun takkie neffens kom sit.

Op dieselfde eiland kan jy tussen die vanieljeplantasies by L’Union-landgoed gaan stap en jou al die geure van vanielje wat jou as kind getroos het, verbeel. Die afwesigheid van die regte bye hier op die eiland het handbestuiwing genoodsaak en dit en dik bondels kaneelstokke bly een van die goed wat jy moet saamneem huis toe om die geure van die Seychelle vir maande te laat hou.

In Vallee de Mai staan jy verstom oor die reusagtige Coco de Mer-palm met sy manlike en vroulike vrugte wat perfekte replikas van die mens se manlike en vroulike geslagorgane is, en as jy fyn kyk, sien jy dalk die grasgroen geitjie wat hom bevrug, en iewers in die blare hou die bedreigde swart papegaai, wat net op Praslin voorkom, wag.

Daar is reuseskilpaaie op Moyenne, La Digue en Praslin wat hul nekke lank uitrek dat jy behoorlik kan krap en kan kyk hoe hulle aan groen blare en mango’s peusel. Sommige is meer as 100 jaar oud en jy sit daar in stille verwondering oor hoe ’n dier wat so prehistories lyk, oorleef in ons moderne, deurmekaar wêreld.

Daar is baie kerke op die eilande, want Rooms-Katolisisme is die sterkste geloof en kerke se deure staan oop soos in Europa, en daar in die houtbankies kan jy stil word of ’n kersies aansteek op die staander wat in een hoek die vlammetjies van vele se hoop en versugting dra.

As jy in Victoria, Mahé se hoofstad (die kleinste in die wêreld) rondstap, is dit die klein plastiektafeltjies met ’n veelkleurige sambreel waar jy lekker verfrissende mangoslaai in ’n koppie met vurkie kan koop en ’n geselsie met ’n jong verkopertjie kan aanknoop.

En dan, met al dié ervarings, is daar natuurlik ook die proe, ruik, luister van die Seychelle wat jou gaan bybly.

By L’Union-landgoed op La Digue kan jy die eeu-oue skilpaaie voer en hul lang nekke krap. Foto: Clifford Roberts

Proe ...

Wyne van Suid-Afrika wat oral op wynrakke in supermarkte en op restaurante se wynlyste naas Franse wyne pronk. Dis so lekker om die kwaliteit uit Suid-Afrika te geniet sonder die ongelooflike pryskaartjie van Europese of Australiese wyne. Dis amper ’n geheim wat mens net vir jouself wil hou. By die luukse oord Constance Ephelia eet ons by die Cyann-restaurant en ontmoet die Suid-Afrikaanse sommelier Brandon Kriel. Hy trakteer ons op ’n wynproe van twee uitsoekwyne van Suid-Afrika: die rooi versnit Sijnn Low Profile 2018 en die wit versnit Lindi Carien 2018.

Takamaka-rum. Rum van hierdie land wat deur my land se mense in ’n ander land gemaak word. Elke aand sit ons op die wit strand met ons rum en pynappelsap en kyk hoe die son ondergaan, terwyl die water soos ’n groot dam voor jou uitstrek.

Die bus op Praslin het ons lieflike kyktyd gegee. Die bus loop soos hoogwater vol en soos die roete vorder, loop dit weer soos laagwater leeg. Die lewe gaan sy gang, terwyl jy net rustig sit en ervaar. Foto: Clifford Roberts

Ruik ...

Kaneel as ’n gids ’n blaar van die reuseboom pluk en jou dit laat ruik en kou. Jou mond water as jou herinneringe van kleintydse kaneelsuiker oor pannekoek of ryspoeding of melkkos oor jou spoel.

Frangipani se soet wat tiekiedraai met kerrie en knoffel en uie voor oop kombuisvensters van klein huisies van locals waar kinders in die voortuin speel en vrolike gesels en samesyn by die vensters uit opstyg.

Vars vrugte in ’n voedselverwerker wat met ment en kaneel en kardamom fyngeklits word vir sonsaksopies.

Luister na ...

Reggaemusiek uit luidsprekers by strandkroegies, in fietsmandjies of van bote af wat op spieëlgladde water dryf terwyl die son en wolke patrone vir sononder skilder.

Die Frans-Kreools-Seychellois op jou oor, waarvan jy hier en daar woorde raak hoor wat jy al in Frankryk of Luxemburg of Kanada gehoor en gebruik het. Die mooie “Merci” of “Bon jour” of “Ça va?” wat uit elke denkbare mond – jonk of oud – kom as jy verbygaan en jou laat voel asof mense jou regtig raaksien.

  • Woorde: Maryke Roberts
  • Foto’s: Clifford Roberts en Seychelles Toerisme
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top