Die wynroetes in en om Kaapstad, Stellenbosch en die Paarl, is gesogte trekpleisters en heerlike dag-uitstappies as jy in die Boland vertoef. Maar soms is daar geheimenisse van ander wingerde net oor die volgende heuwel wat wag om ontdek te word – soos die lede van die Stanford Wynroete – skryf Maryke Roberts, wat vir drie dae (vóór die inperking) daar gaan asemskep het.
Stanford lê naby Hermanus en Gansbaai, in die Overberg, en die pad soontoe is amper net so mooi soos die plaastonele wat jou rondom die dorpie begroet.
Die oulike plaaspadjies bring soms sulke onverwagse sêgoed.
Voor jy verder lees: Wanneer jy na Stanford koers kies, het jy vier dinge nodig:
- goeie vriende
- ’n leë (ruim) kattebak
- stapskoene
- avontuurlus en uithouvermoë.
So moenie onvoorbereid daar opdaag nie.
Die goeie vriende maak elke ervaring, wynproe en maal natuurlik net soveel beter; die leë kattebak is vir al die plaasheilsaamheid wat jy sal wil terugkarwei; die stapskoene is nie net om die dorpie se historiese geboue op ’n selfbegeleide staproete te verken nie, maar ook om al die plaaspaadjies en platgetrapte graspaadjies langs die meer te verken. Die avontuurlus en uithouvermoë is vir wynproe en kuier op die 11 wynplase op die roete, die etery by die bekroonde restaurante op die dorp, en dan later die snoepgoed en koffie by die bakkery en koffiewinkels.
Maar soos by enige ander plek, moet jy iewers oorbly en jou tasse neersit voor jy enige van die vier dinge hier bo kan nakom. Ons wou aanvanklik in die dorp bly, maar toe ons hoor van Stanford Valley Guest Farm met hul Manor House Restaurant waarvoor Kapenaars sommer vir ’n dag die 145 km kafdraf, bespreek ons daar.
Elsabe Nauta, eienaar van Stanford Valley Guest Farm, is passievol oor plaaslike produkte, en die vallei se wyne is geen uitsondering nie.
Die twee uur se ry, waar ons elke paar minute moes stop vir foto’s, het ons egter honger gemaak en ek is dankbaar ons het vir ’n vroeë middagete by Springfontein Eats bespreek. Dis ’n emmerlysitem om daar te eet.
Nie sommer net brood by Manor House Restaurant at Stanford Valley Guest Farm nie. En kruiebotter wat in die warm brood intrek.
Die Springfontein-wynplaas se hooffokus is pinotage en al meer chenel, en alles word hier streng organies en veganisties gemaak. Die druiwe word langer in die wingerde gelos sodat die doppe, steeltjies en pitte almal ten volle kan ontwikkel vir ’n uitsonderlike wyn. Ná ’n draai by die kelder, waar ’n groepie mense so al laggende en geselsend staan en trosse sorteer – elke vrot korrel word uitgebreek en val onseremonieel in ’n plastiekkrat by hul voete – meld ons by die restaurant aan.
Die loomte kom sit sommer gou in jou kuite by Springfontein Eats as jy so luilekker ingewag word.
Elke tros op Springfontein Wynlandgoed word met die hand sorteer.
Sjef Jürgen Schneider bedien vier-, vyf- of sesgangproespyskaarte aan wat jy met of sonder wyn kan geniet. Baie van die produkte op jou bord het enkele ure vantevore nog rustig in die plaasgrond gegroei en die vis en vleis uit die omgewing proe sommer varser omdat dit plaasheilsaamheid op sy beste is. Die man het ’n Michelin-ster agter sy naam en weet wat hy doen.
Sjef Jürgen Schneider by Springfontein Eats se kaasbord is natuurlik so mooi soos ’n kunswerk.
Ek hou van die kelner wat ewe parmantig handgeweefde katoenservette op jou skoot vou se oulike vraag: “Wat kan ons vir jou kook?” Soos ons deur die gange vorder, is daar kort-kort “geskenkies uit die kombuis” wat klein ontploffings geur in jou mond is, maar terselfdertyd jou mond skoonmaak ter voorbereiding van die volgende gang.
Vis wat enkele ure gelede nog in die see geswem het, en kraakvars groente uit die tuin of omliggende plase, is maar enkele bederwe by Manor House Restaurant at Stanford Valley Guest Farm. Teug heelaand aan die wyne op die indrukwekkende wynlys.
Die nguni met sy sierlike horings, wat ons vroegoggend gesien het in die mistigheid op pad na Stanford, flits vir ’n oomblik voor my oë verby en dis half vreemd om enkele ure later nguni-biefstuk op jou bord te kry.
Die beste manier om al daardie kos af te werk, is ’n lang stap deur die dorp, dalk vir koffie te stop buite op ’n klein stoepie om die lewe sy gang te sien gaan, en kort-kort jou hand in ’n wuif te lig.
As jy gaan stap in die dorp, is die pragtige argitektuur opmerkbaar.
Ons is egter gou op die R326 op pad na die plaas, verby Birkenheadbrouery waar die wit springbokkies en sebras in ’n kampie wei. Alles in die vallei het ’n trotse geskiedenis en die meeste plekke en plase is vernoem na een of ander historiese gebeurtenis of persoon. Skaars ’n paar minute in die Akkedisbergpas, en ons draai regs af na die gasteplaas.
Hierdie tipe plaasvrede begroet jou so ver jy ry.
Ons kamer is aan die verste punt van die pragplaas en ons kyk uit oor ’n digtheid diepgroen bome, waarin die voëls soggens en saans omtrent ’n sonsakkooruitvoering lewer. Elsabe Nauta, die eienaar, nooi ons gul na die eetkamer vir ’n varsgebroude koffie om te gesels oor wat ons alles wil sien en doen en of sy iets namens ons kan bespreek.
Die vertrek se meubels is retrosjiek met indrukwekkende kunswerke teen die mure wat dit meer soos ’n boetiekkunsgalery as ’n restaurant laat lyk, tot die hemelse geure uit die kombuis begin dryf ...
Ek komplimenteer haar dekorstyl en sy lag en sê: “Jy kan nie iets lelik teen hierdie pragtige berge neersit nie.”
Plaasdekor by Boschrivier Wynplaas.
Jy besef onmiddellik dat jy eintlik vir tien dae moet bly as jy alles wil ervaar. Hier kan jy op ’n plaas perdry, fietsry, stap, gin proe, wyn proe, op ’n vaart op die Kleinrivier gaan, rotskuns gaan kyk en selfs gaan kyk na ’n rehabilitasiesentrum vir leeus, luiperds en jagluiperds, waar jy meer leer oor hoe om die natuur met respek te bejeën.
Daar is laventelbosse om die hoeke van die gastehuis se kamers, en elke keer as ons kar toe of kamer toe stap, vee my vingers oor die blomme, wat ’n hemelse geur in die lug laat.
Tyd vir boeklees en dut in hierdie lieflike hangstoele in die tuin by Stanford Valley Guest Farm.
Na ’n lekker verkwikkende afkoel in die plaasdam so ’n entjie agter die gasteplaas se geboue is ons vars gestort en stap oor die reusegrasperk na die restaurant. Die stemme van Miles Davis, Norah Jones, Buddy Holly, Dean Martin, Ella Fitzgerald en Perry Como kom skoffel om ons enkels toe die ys in ons gin-en-tonics met sonsak klingel.
Elsabe vertel die kabeljou is twee uur gelede in Gansbaai se waters uitgetrek. Ete is ’n feesmaal saam met plaaslike wyne wat ’n hele spyskaartbladsy beslaan en perde wat anderkant ’n akkerboom stertswaaiend en kouend aan graspolletjies neffens ’n wit paaltjieheining aanstap. Ons teug aan die rooi versnitte Gabrielskloof The Blend 2017 en Newton Johnson Full Stop Rock.
Pure plaasvryheid as die perde so rustig in die kampies wei en jy van die restaurant op hulle afkyk.
Ons sit voor slaaptyd op die stoepie voor ons kamer en kyk hoe die maan soos ’n reuse- silwer diskobal al hoër teen die pikswart hemel opskuif.
Vroegoggend sit ons weer by ons tafel van die vorige aand; die sproeiers op die gras maak reënboë teen die lug en voëltjies baljaar in die water. Ontbyt is die gul porsies van die platteland, maar met die finesse van ’n Europese straatkafee.
Beplan jou dag oor sterk cappuccino en ’n plaasontbyt met ’n kinkel.
Kort daarna ry ons in dorp toe en meld by die toerismeburo aan en bevestig dat ons niks gaan misloop nie. Ons hoor daar is elke jaar in Mei ’n Rivierfees en dan kan al wat leef en beef op die water gevind word in kano’s, kajakke of die rivierboot. Dis ook enige voëlliefhebber se droom, met ’n lekker voëlskuiling waar jy watervoëls van nader kan betrag.
Elke laaste Vrydagaand in September tot Mei is die Village Green-plein die plek om te wees vir die maandelikse plaasmark, Stanford Sunset Market, met wynstalletjies, kos en lewende musiek. Dis ook hier waar jy jou vriende ontmoet en sommer die gemeenskap se nuus uitruil.
Ek moet lag toe die toerismebeampte, Hayley Gibson, vir ons die lys van restaurante se openingsdae en -tye gee. Dis beslis ’n eerste vir ons, maar help baie sodat jy kan beplan waar en wanneer jy wil gaan eet. Maar sy voeg ernstig by: “As jy so goed is met wat jy bied, kan jy wegkom met snaakse openingstye.”
’n Italiaanse restaurant met Italianers as eienaars; en ja, die kos is so lekker soos net Italiaanse mamas dit kan maak.
Ons los ons motor daar en gaan loer in by Withers Antique and Decor, waar ek na ragfyn antieke linne staar; die eienaar vertel dat ’n 80-jarige tannie al die herstelwerk van die ou beddegoed doen.
Oorkant die pad is Antjie’s Handmade Naturals, ’n wonderlike winkel waar jy plaaslik-vervaardigde bederfprodukte soos seep, gehekelde waslappe en ander oulike geskenke kan koop. Alles word daar in die dorpie gepluk en gedroog, en vlugtige olies gee aan al hul produkte lieflike, natuurlike geure. Die gemeenskap doen al die handwerk en ons motor ruik res die van die dag na roosmalva, laventel en rooibos. Daar is sommer ook een sakkie badsout ekstra gekoop vir die badwater daardie aand.
Teen die tyd dat ander mense tee of koffie geniet, teug ons aan gin by Jolly Rooster Fynbos-distilleerdery buite die dorpskern. Hier maak hulle gin, witblits, Limoncello, roomlikeurs en mampoer, en benewens die proeë – wat met of sonder peuselgoed geniet kan word – is daar lekker Portugese kos op die spyskaart, en dis die tipe plek waar mens vir ure kan vasval. Dani Crole, die senior bestuurder, laat proe ons die Just Juniper, Arabian Rose, Citrus Bomb en Purple Haze, en natuurlik moet daar van dié lekkertes saamgaan huis toe. Die Citrus Bomb spog met ’n goue medalje van die SA Women’s Wine & Spirits Awards.
Jolly Rooster Fynbos-distilleerdery buite die dorpskern maak gin, witblits, Limoncello, roomlikeurs en mampoer. Ons het hul vier gins geproe.
Mens moet darem iets van die lekkerte by Springfontein huis toe neem.
Hier koop jy die oulike groen ginpaspoort waar jy al die lekker gins wat jy in Suid-Afrika proe, kan aanteken.
By Jolly Rooster Fynbos-distilleerdery koop jy die oulike groen ginpaspoort waar jy al die lekker gins wat jy in Suid-Afrika proe, kan aanteken.
Terwyl ons gemaklik sit en drankies geniet, wys Dani vir ons die erfenisvideo van Stanford se geskiedenis, wat deur die bekroonde dramaturg Deon Opperman geskryf is. Dit gee ’n lekker oorsig oor die dorp en omgewing en sir Robert Stanford wat in die laat 1800’s die plaas as kosmandjie van die omgewing gevestig het. Hy het varsprodukte gekweek en op sy eie klein bootjie na Kaapstad-hawe vervoer, waar die groot skepe op hul tog om Afrika vasgemeer het.
Die beste plek na dié insiggewende video is dan die Sir Robert Stanford-landgoed aan die voete van die Kleinrivierberge. Hoewel wyn al sedert 1890 hier gemaak word, het die plaas die laaste paar jaar nuwe aanplantings ondergaan, en daar is ’n uitgebreide wynreeks te proe. Daar is nege kultivars in die 68 ha onder wingerd. Die plaas produseer nie genoeg wyne om uit te voer of by wynwinkels te verkoop nie; as jy wil dus weet hoe dit smaak, moet jy dit op die plaas gaan proe.
Wynproe by Sir Robert Stanford kan jolig word.
Stap dan die paar treë oor na Zesty Lemon vir iets om te eet en gee jou oor aan die loomheid in jou lyf, onder die bome langs die dam, en kyk hoe die ganse op die water gly. Daar sit ’n reusereier op die oorkantse wal, laag op sy pote en vere opgepof teen die koue windjie met die kar toe stap. Dit lyk kompleet asof hy diep dink.
Café Zest by Sir Robert Stanford is net die plek om te gaan kougoed soek, na die lekker wynproe in die proelokaal.
Die opgewondenheid om by Raka Wyne uit te kom voor hulle vir die dag sluit, laat ons nie te lank vertoef nie. Die wynplaas is vernoem na Piet Dreyer (eienaar van die plaas) se geliefde vissersboot Raka, waarmee hy vir meer as 30 jaar die viswaters deurkruis het vir die beste vangs. Die plaas het ook sy slagspreuk, “Uit die see gebore; deur die sterre gelei; deur die aarde geseën”, aan sy liefde vir die see te danke.
Sy seun, Josef, maak die wyne hier en elke bottel wat ek al geproe het, is iets besonders. Hy vertel hulle is bekend vir shiraz, en al die druiwe vir hul wyne kom van die plaas se 70 ha onder wingerd. “Ons het die wingerde in 1999 geplant en in 2002 ons eerste oes gehad. Destyds was ons die eerste wynplaas in die vallei.”
Josef Dreyer, wynmaker by Raka Wyne.
Die meeste mense ken die Raka Biography-shiraz en Raka-kwinêr – die plaas se beste verkopers – maar hier is altesaam 14 wyne van 11 kultivars om van te kies.
Die bestellings word reggekry vir aflewering en so tussendeur die wynproe gesels ons met Melanie Lourens, wat al sewe jaar op die plaas werk. Sy lag toe sy vertel: “As jy ’n tafel of ’n plant in hierdie proelokaal is, moet jy sterk staan; ons is hier om wyn te maak en te verkoop.”
Eenkant is ’n groot verskeidenheid oudhede. Dis Elna, Piet se vrou, se stokperdjie en sy ry wyd en syd om oulike emalje, ou eetgerei en breekware op te koop en hier te kom verkoop. Ek koop ’n pragtige marmerdrupmatjie uit Indië met jade-inlegwerk en my vingers streel versigtig oor die delikate patroon terwyl ons wyn in die kattebak gelaai word.
Daar is ’n paar minute oor om gou by Boschrivier in te draai en daar met Henriëtte Abrahams te gesels wat al vir tien jaar op die plaas werk. Hulle het ook akkommodasie en sy vertel hulle bak plaasbrood vir dié akkommodasie en jy kan lekker by die proelokaal ontspan met koffie, hamburgers of ’n toebroodjie. Ons proe die cabernet sauvignon en ja, reg geraai, koop ’n bottel of drie.
Nog iets uit die vallei vir die gewillige kattebak.
Vroegaand is ons by La Trattoria, waar ons bestelling by die kombuis geplaas is, net voor die krag vir beurtkrag afgaan. Die kragopwekker se pur-pur-pur is soos ’n reusekat in die hoek en amper gerusstellend terwyl ons handgemaakte pasta eet en die eienaars by ons tafel kom gesels – hul woorde deur swaar Italiaanse aksente verskans.
Ons stap laataand in die strate en kan nie glo dat geen huis enige ligte het nie. Almal slaap vroeg of kuier agter op hul stoepe in die maanlig, terwyl ons na die hemelruim staar en die Melkweg amper aan die kerktoring raak.
Toe ons laatnag in die donkerte terugry plaas toe, is die sterre baie na aan ons koppe.
Ons laaste dag wy ons aan Stanford Hills vir ’n lekker laat plaasontbyt en wynproe, voor ons middagete by Spookhuis gaan geniet.
By Stanford Hills sit ons onder die lat-afdak wat hoog bo die vallei neffens ’n dam lê. Jamie Penn neem ons wynproe waar en verduidelik dat die plaas se ligging hulle ’n meer maritieme klimaat gee, met koeler, gematigde temperature. Ons proe sewe wyne, wat van die drie kultivars op die plaas – pinotage, shiraz en sauvignon blanc – gemaak word. Mark Stevens, wat baie ondervinding in Frankryk en Kalifornië opgedoen het, is hul wynmaker.
Jamie Penn, wat ons wynproe by Stanford Hills aanbied.
Die plaas het twee reekse: die Veldfire- en Stanford Hills-wyne wat nie net in styl nie, maar ook in prys verskil.
Terwyl ons die shiraz rosé teug met die koel bergwindjie in ons hare, voete in die loom sonnetjie, kom ’n man met ’n krat vol fynbos agter op sy quadviertrekmotorfiets deur die wingerde aangery. Die bossies word mooi gesorteer en verskaf aan omliggende blommeverkopers pragtige proteas, speldekussings en ander bergfynbos, maar is ook in die klein winkeltjie neffens die restaurant en proelokaal te koop. Die plaas bied ook glanskamp, perdry en ander buitelugaktiwiteite.
Proteas en speldekussings en ander fynbos van Stanford Hills.
Jamie sê hy glo pinotage is die Overberg se beste uitvoerproduk en vertel dat Lanzerac dié kultivar destyds aan die Overberg kom bekendstel het. Hy het self die 2020-oes meegemaak om meer van die hele wynmaakproses te leer en is ’n ywerige ambassadeur vir nie net die plaas se wyne nie, maar ook die hele vallei.
Hy lag toe hy verduidelik hy het so ’n liefde-haat-verhouding met Stanford, want hy was al voorheen daar, voor hy die stadsliggies gaan soek het. “Maar Stanford is soos Velcro,” vertel hy met blink oë toe ons groet.
Ons ry terug deur die dorp, na die teenoorgestelde kant, vir ons middagete by 1892 Spookhuis se meerkafee. Sowat 10 km buite die dorp, al langs die riviermond af, is die bordjie vir Mosaic Lagoon Café.
Tamatiefrikkadelle en biefburger so groot soos ’n grootbord by 1892 Spookhuis se meerkafee, Mosaic Lagoon Café.
Groente uit die omliggende groentetuine, vleis, kaas en wyn uit die vallei, is maar enkele van die lekkernye wat jy by die deli by die 1892 Spookhuis kan koop.
Ons kelnerin is Vivian Manu, wat al 15 jaar daar werk. Sy vertel dat toe die Johnsons die plaas in 2002 gekoop het, die pragtige kliphuis ’n bouval was. Dis amper onwerklik om te glo as jy deur die pragtige deli na regs stap, waar jy allerhande lekkernye en varsgebakte brood kan koop as jy wil piekniek hou langs die water.
Vivian Manu voor 1892 Spookhuis.
Die gebou huisves ook ’n konferensiekamer en uitstalling van plaaslike kuns en produkte en ’n indrukwekkende boekery, getiteld die John en Margaret Bridgman-biblioteek.
Maar dis die ongelooflike klein oerwoud melkhoutbome wat jou asem wegslaan. Onder dié blare- en takkedak staan die bankies en stoele waar jy middagete kan geniet.
Middagete in ’n klein oerwoud van horingoue melkhoutbome by Mosaic Lagoon Café.
Jy is omring deur die takke wat tot op die grond groei, maar daar is genoeg luggate om die rivier te sien en die watervoëls in die vlak ruigtes te hoor skrop. ’n Visarend kom sweef laag; middagete wag ook vir hom in die water.
Die spyskaart het die hele geskiedenis van die pragtige eiendom agterop, en terwyl ons wag vir ons tamatiefrikkadelle en biefburger so groot soos ’n grootbord, lees ons dat Breese, ’n radioloog van Tennessee in die VSA, en sy vrou, Kathryn, ’n kommersiële binnenshuise versierder, saam met die Kaapse argitek Gregg Goddard gewerk het om die gebou na sy vorige glorie te herstel.
Bewaring, volhoubaarheid en werkskepping lê die paartjie baie na aan die hart.
Jy kan jou eie wyne uit hul kelder gaan kies, en ons teug aan die Springfontein 2013 Terroir Selection-pinotage. Ek moet met ons wynproe-entoesias van vroeër, Jamie Penn, saamstem dat pinotage uit hierdie vallei darem maar verruklik is.
Vivian vertel dat hulle opgewonde is oor die nuutste toevoeging van regte Southern Style BBQ van hul eie roker en groente uit hul eie groentetuin.
Ander gaste wat in die luukse akkommodasie nie ver van die restaurant nie bly, kom haal hul piekniekmandjies en bak die res van die middag in die sonnetjie terwyl hulle aan die tuisgemaakte lekkernye van die vallei smul.
Ons is traag om te groet, maar wil nog een maal stop. Misty Mountains op die R43 op pad na Hermanus is dié plek vir gin-aankope, en ons draai gelukkig net betyds in, voor hulle die deure sluit. Ons skuif die proteas na die agterste sitplek om plek te maak in die oorvol kattebak vir ’n bottel – of twee – gin.
Dis met afgedraaide ruite dat die reuk van die fynbos en see in ons motor kan tiekiedraai dat ons huiswaarts keer.
Drie dae het waarlik verbygevlieg; maar jou siel is só verkwik dit voel asof jy vir drie weke weg was. En natuurlik, as jy na die stampvol kattebak kyk, waar wyn en plaasbrood en heuning styf ingepak is, lyk dit soos 21 dae se aankope!
Kitsfeite
- Die wynroete sluit die volgende plase in: Boschrivier, Misty Mountains, Raka, Sir Robert Stanford, Springfontein, Stanford Hills, Vaalvlei, Walker Bay en Welgesind. Vir meer inligting oor al die wynplase, brouerye en distilleerders, besoek http://www.stanfordinfo.co.za/cat/wine-tasting.
- Die Stanford Toerismeburo is by Queen Victoriastraat 13. Bel (028) 341-0340 of besoek hul kantoor.
- Koop die oulike Historical Stanford on foot by die toerismekantoor en geniet Suid-Afrika se derde beste bewaarde dorpie met sy Victoriaanse en Edwardiaanse geboue.
- Foto’s: Clifford Roberts