Tussen die R44, R45, neffens die N1 en R310 naby Stellenbosch, Paarl en Franschhoek, is ’n klein vierkantige lappie aarde waar die tuine, wingerde, berge en uitspansel jou deel van ’n reuseskildery maak. In Simondium kan smulpape en wynliefhebbers dae deurbring, skryf Maryke Roberts.
Simondium is vernoem na Pierre Simond, ’n Hugenote-predikant wat teen die laat 1600’s die eerste kerk in die omgewing gestig het. Die linkerkantse vleuel van die Lust Bistro & Bakery op Vrede en Lust was Simond se eerste huis.
Eerste op die pad vir ons is Boschendal wat uit 1685 dateer en Suid-Afrika se tweede oudste landgoed is, naas Groot Constantia. Die landgoed het ’n wynmaakgeskiedenis van meer as 330 jaar.
Hier vrywei Angus-beeste, varke en hoenders as deel van die plaassiklus, met die plaas se wingerde en vrugteboorde as agtergrond. Die beeste vorm deel van ’n integrale weidingsprogram wat nodige voeding aan die plaas se grond gee. Die manier waarop hul hoewe die grond omdolwe, wat organiese koolstof in die grond sit, verseker dat die grond meer water kan stoor en dus meer droogtebestand is.
Tuiniers kweek biodinamiese groente en kruie vir die restaurante en jy kan stap, fiets- of perdry en die plaaslug inasem.
Hier kan jy oor naweke piekniek op die reusegrasperk by die roostuin hou, heeldag fietsry of stap, by die deli kuier of jouself verloor in die nuwe plaaswinkel met sy eksklusiewe produkte. As jy eerder tuis wil kuier, kan jy een van die Boschendal-bokse bestel wat op verskillende dae verskillende temas het en selfs ’n naweekbraai in het. Die wynproelokaal kyk uit oor die reusagtige groente-en-kruie-tuin, en soos jy gaan sit, wyk die stres en moegheid.
Die plaaswerfgevoel is behou en die herehuis teen die kant, wat onder die akkerbome uitloer, hou wag oor alles wat daar gebeur. Kinders baljaar op die grasperk; fietsryers kom stywebeen van die fietsrak gestap en musiek speel om jou kuite as jy onder die akkerbome gaan sit.
Wynproe is eerste op die lys en Thando Mhlaba behartig die Werf-wynproe. Boschendal het vier verskillende proeë om verskillende pryse en smake te akkommodeer – die 1685-reeks, ’n sjokolade-en-wyn-proe, die MCC-proe, en die Premium-proe. Jy kan ook die Late Harvest en brandewyn proe.
In die plaasdam neffens die stoep spuit ’n fontein meters hoog, terwyl twee kolganse bad en swem en baljaar.
Nog voor ek kan wens om ook in daardie dam te plas, kom die besproeiing oor die groentebokse en rye kruie aan en verkleur die grond pikswart en maak alles koeler – selfs op die stoep.
Saam met die wynproe kan verskillende peuselborde bestel word om die wyne met kougoed ook te proe. Die loom middag word sommer mooier met die yskoue Sauvignon Blanc en varsgebakte brood met koue vleisie en ingelegde snoepgoed, terwyl jy oor die Groot Drakensteinberge uitkyk.
Dis egter die subtiele borrels van die Jean Le Long Prestige Cuveé MCC wat vir vyf jaar op die gismoer gelos is wat in my mond bly talm toe ons oorstap deli toe vir middagete. Die borrels is na die plaas se eerste eienaar vernoem. Hy was een van die 200 Hugenote wat weens geloofsvervolging uit Frankryk gevlug het en die grond in die 1680’s van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) ontvang het.
Die beesburger en skyfies gly te maklik af en ons gaan stap in die tuine rond om ons mae te laat sak. So met die stap kom ons by die groot swembad aan die einde van die selfsorghuisies, omring deur ’n reusegrasperk en om die verste rande ’n klein woud. Ek gaan lê op my rug op die gras; maak ’n tonneltjie met my hand en kyk opwaarts. Dis net potblou lug wat ek sien, gekneusde gras wat ek ruik en voëlgesang wat ek hoor. As ek my hande oper vou en die tonneltjie groter maak, kom die boomtoppe teen die kante in sig, soos fyn kantwerk wat die prentjie omraam.
Ek kan nie onthou wanneer laas ek so sorgeloos op my rug op die gras kon lê nie. Daar is niks wat my jaag nie; nêrens wat ek moet wees nie. Behalwe hier.
Dis met daardie loomte in my lyf wat ek later opstaan en terugstap na ons huisie. Op die stoepie sit my man, sy lyf koel na die swem. Hy teug aan ’n glas yskoue chardonnay en knibbel aan kaas en koue vleis van die werf se plaasstal.
Daar sit ons tot skemer ons begin omhul. En soos die kleure teen die Groot Drakensteinberge verander en die skaduwees langer word, sit die paddakoor se eerste stem in. Gou is die klanke van paddas en krieke en voëls byna oorverdowend. Die kers op die tafel se vlam word stil toe die briesie gaan lê en die eerste sterre bo ons koppe verskyn.
Daar is hout by die braaitjie en hout vir die kaggel, maar die lente-aand is te soel vir vuurmaak. Ons lê lank in die pootjiesbad voor ons op die lang bankie in die sitkamer ons musiek aansit en boek lees.
Die naggeluide sus ons aan die slaap in die koningsgrootte bed.
Die volgende oggend breek mistig en koud aan. Die 5 km- en 10 km-staproete aan ons kant van die plaas roep. Tekkies, stapklere en ’n botteltjie water en ek is reg vir die stap. My man skiet voor my uit met sy fiets; net sy blou-en-swart valhelm steek bo die ruie plante uit. Dis doodstil op die plaas en tussen die mis wat plek-plek tot op die grond lê, steek vrugtebloeisels en nuwe wingerdblare met dou aan uit.
Die treeteller op my slimfoon sing met elke tree en dis met dankbaarheid dat ek die stortwater oor my rug voel reën ná ’n uur se stap.
Ontbyt is ons weer terug by die deli, terwyl die strelende klanke van Rose Cousins en Leon Bridges onder die akkerbome om ons enkels kom dans en dit ’n plaasfees met stomende koffie en tuisgebakte brood maak.
Gelukkig is dit nie trane met groettyd nie, want die res van Simondium wag. Eers by die nuwe reusestoor van Koöperasiestories aan, waar jy ure kan verwyl tussen die antieke emaljeware uit Europa, ou aptekersbottels of handgeweefde linne wat ewe goed in die kombuis of oor jou koperbed sal werk.
Middagete is by Ou Meul Bakkery in die historiese en gerestoureerde Die Groot Drakenstein Handelshuis. Neffens die groot oop werf is daar ’n boetiekkwekery, dekorwinkel en binnenshuiseversieringsdiens. Ons sit onder die reusepeperbome en smul aan tuisgebakte hoenderpastei, terwyl ’n koddige werfhondjie eers tevrede is met kopvryf, tot sy neusgate die hoenderpastei opsnuffel en toe waai sy stertjie gretig vir ’n happie …
Om later by Babylonstoren se hekke in te draai is waarlik soos ’n tuiskoms. Dis ’n werkende plaas en dis bedrywig toe ons inry – pale word geplant vir nog vrugtebome, in die groentetuin is diep vore vir saad, en ’n paar ganse kom nuuskierig nader toe ons parkeer en ons gholfkarretjie wat ons vir ons verblyftyd kan gebruik, vol bagasie prop.
Die landgoed is soos geen ander in die land nie. Met ’n voormalige Elle Decor-redakteur as mede-eienaar is niks sommer net nie. Alles is spesiaal uitgesoek en van die voorste ontwerpers is gebruik om die restaurante, wynproelokaal, Geurkamer, akkommodasie en wynkelder op hul beste te laat vertoon.
Dis skuins na middagete toe ons ons tasse neersit in die nuutste akkommodasie op die plaas, die Fynboswonings, gebou in ’n Kaap-Hollandse styl. Dis verder weg van die bedrywige plaaslewe geleë en bied ongerepte uitsigte oor die vallei, Paarlberg en die Drakensteinberge in die verte.
Ons is moeg en warm en lê op die bank in die sitkamer met vars nartjies van die plaas, wat in ’n eetbare rangskikking op die kombuistafel pryk. Die lugverkoeling suis gerusstellend en ek voel hoe die luiheid my omvou.
Die kombuis is ten volle toegerus sou jy by die plaaswinkel wou varsprodukte koop, want jy kan van die vleis, kaas, groente, olyfolie, brood, vrugte en wyn koop wat in die beddings, boorde en wingerde om die akkommodasie te vinde is.
Ons sien egter te lank al uit na ons ete by die bekroonde Babel Restaurant, waar kos nie net geurig is nie, maar die bediening só keurig gedoen word en alles ’n biodinamiese kinkel het. Dis nou Instagram-hemel daardie! Elke bord is as’t ware ’n kunswerk. Die restaurant is ingerig in wat vroeër die bees- en skaapkraal was, maar ook hier is Karen Roos se hand onteenseglik sigbaar: Die Kaap-Hollandse argitektuur met kontemporêre glasmure bring oud en nuut naatloos bymekaar.
Ons ry later met ons gholfkarretjie af na die proelokaal, waar Assie van Schalkwyk ons wynproe behartig. Die lokaal het glasmure en jy sit as’t ware in die wingerd, waar werkers van die tuinspan onkruid uittrek en snoeiwerk doen. Oral lê hopies onkruid en kort op die werkers se hakke volg ’n roesbruin, goud en rooi haan hulle al skroppende, met ’n paar henne so ’n kortkop agter.
Die landgoed het in 2011 hul eerste wyn gemaak en die Cap Classique, Sprankel, wat vir vier jaar op die gis was, is een van die eerste wyne wat gemaak is.
Gaste kan kies uit verskeie proeë en dis so lekker om die plaas se wyne te leer ken voor ons later by Babel wyn saam met ons kos gaan kies. Hier is natuurlik ook geen tekort aan pryse vir die plaas se wyne nie. Met 93 ha onder wingerd, waarvan chenin en cabernet sauvignon die grootste gedeelte beslaan, het die wynmaakspan ’n wonderlike keuse uit kultivars en style. Assie vertel ons die vlagskipwyne is die chardonnay en Nebukadneser-Bordeaux-versnit.
Maar eers terug met ons gholfkarretjie, gemaklike klere aantrek. Agter ons huisies baljaar kinders in die swembad, terwyl ouers lui-lui op die sonstoele rus. Ons wag tot die plaas se hekke vir dagbesoekers sluit en gaan verken die tuin en groter plaas per fiets. By elke huis staan bergfietse en dis heerlik om die laatmiddagwindjie in jou hare te voel.
Ons ry verby die boothuis, waar gesinne die kano’s op die lekker groot vlei gaan roei.
Die plaas se hart is die enorme 3,5 ha-tuin deur die Franse argitek Patrice Taravella. Karen het Patrice se werk by die Prieuré Notre Dame d’Orsan in Frankryk te siene gekry en besluit hy is net die man vir die projek.
Die Babylonstorentuin is geïnspireer deur die historiese Kompanjiestuin in Kaapstad wat skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) van vars vrugte en groente voorsien het eeue gelede, toe die Kaap die halfwegstasie tussen Europa en Asië was.
Ons ry al langs die stroompie af, verby die sowat 7 000 clivias en agapante wat onder horingoue wilde-olyfbome groei. Dan deur die houtstruktuur, heel oulik die Pofadder genoem, voor ons vertoef by die ganse en hoenders wat vir die nag begin nesskop.
Soos ons deur die tuin se klein paadjies vleg, jaag ons alle klein voëltjies op wat sekerlik nie gewoond is aan mense hierdie tyd van die dag nie. Saligheid met die son wat alles met goud omsoom en rustigheid wat ná ’n produktiewe dag neerdaal.
Vars gestort en netjies aangetrek is ons weer op ons gholfkarretjie af na Babel. Hier kies jy jou voorgereg volgens kleur – en nee, dis geen foefie nie, dit word bepaal deur die vars bestanddele in jou gereg, wat meestal vanmiddag nog met hul wortels in die vrugbare grond neffens die restaurant gestaan het.
Die son is heeltemal onder en in die sterk skemer kom sit drie kalkoene op die buitetafels en maak reg vir die nag. Hulle is tog maar nuuskierig en kort-kort kom pik een teen die glasruite.
Vir hoofgereg is my keuse die plaas se Chianina-bees met ’n Japannese mosterdslaaisous en manlief smul aan die Madraslamskenkel met appelkoos-en-amandel-sous en mentjogurt. So tussendeur sleep ons nog van die broodjies op die tafel deur die sous en wil-wil na ons vol mae luister en nagereg kanselleer, maar gelukkig besluit ons daarteen.
Tradisionele koffie-en-kaneel-souskluitjies met Babylonstoren mampoer crème anglaise en geklopte tiemieroom is hemel in ’n bakkie.
Ons sit laataand op ons stoepie met heuningbostee wat op die plaas teen die hange van Simonsberg groei en luister na die paddakoor op die dam voor ons huisie, voordat ons vuur maak in ons kaggel. Die hout en vuurhoutjies word in ’n tonteldoos gehou. Met ’n lekker fliek en kaggel is die dag hopeloos te perfek!
Vroegoggend kom ons saam met ander gaste by hotelontvangs bymekaar vir ’n plaasstap waar jy mooi kan sien hoe alles op die plaas mekaar aanvul. Dié stap is net vir hotelgaste, maar die tuinstap later die oggend is oop vir die publiek.
Ons wag by die bruggie vir die eende wat na die boorde gelei word, waar hulle slakke vreet. Later gaan ons by die byekorwe verby. In die natuurlike woud met wilde-olyfbome waarvan die wortels meters hoog teen die rivierwal krul soos ’n reusekunswerk, word waterblommetjies hierdie tyd van die jaar op die natuurlike vleilande geoes. Die fluitjiesriet wieg liggies in die oggendbriesie.
Ná ’n uur se verkenning is die tuisgemaakte vrugtesap en sterk koffie en croissant net die ding terug in Babel. Die ontbyt is ’n kleur-en-geur-fees en ons is trommeldik toe ons uitstap.
Die laaste kuier op die plaas is by die Geurkamer, ’n plek gevul met hemelse geure van roosmaryn, roosmalva, laventel, sitrus, waterblommetjies en fynbos. Hier word olies gedistilleer, seep en balsems gemaak en kan jy selfs jou eie masker, badsout of gesigskropmiddels meng met bestanddele wat alles van die plaas kom.
Op die tafel by die ingang staan Tussie-mussies wat styf vasgedraai is en jou die kans gee om ’n bietjie van die Babylonstoren-towerkrag met jou huis toe te neem.
Toe die laaste bagasie in die kattebak gelaai is, vlieg ’n by in en kom sit op ’n sak. Geluk by al die laaste paar dae se geluk kan mos net goed wees?
Ons wydste draai in die gebied is na Anthonij Rupert Wyne by L’Ormarins. Daar is oulike katspore in die sement, wat in die rigting van die twee jagluiperdstandbeelde voor die proelokaal se deur wys. Ek lag vir die oulike humor wat dit laat lyk asof die twee groot katte in die nat sement getrap het voor hulle in brons verewig is op die grasperk. Lot se vrou se Moses!
Ons tafel sit teen die reuseglasruite en ons kyk hoe die bottels al klingelend op die voerbande gly om gevul en geseël te word. Die eerste ding waarvan jou neus bewus word as jy gaan sit, is die reuk van truffels en varsgebakte brood. Die koestering daarvan laat my knieë lam word; dis soos om by jou geliefde ouma in die kombuis te kuier, met geure wat jou neus verlei, en tog só gerusstellend en bekend is. Maar die Terra del Capo-restaurant is nie Ouma se kombuis nie. Dis ’n sjiek eetplek met fluweelstoele in klein inhamme vir privaatheid, reuseproteas op elke tafel en sagte musiek wat jou dieper in jou stoel laat wegsak.
Besoekers kan weer uitsonderlike wyne en vars, Italiaans-geïnspireerde geregte in hierdie pragtige omgewing geniet. Wanneer die weer saamspeel, kan dit selfs in die fasiliteit se welige tuin in die skadu van olyfbome geniet word.
Ons word verwelkom met ’n yskoue glas L’Ormarins Brut Classique-rosé, waarvan die borrels sagkens op jou tong dans.
Die seisoen-geïnspireerde spyskaart sluit ’n verskeidenheid kontemporêre en tradisionele antipastiborde in. Van die bestanddele wat die smaakkliere sal laat rieldans, is die landgoed se bekroonde olyfolie, heuning, swart-Angus-biefstuk en swart-Perigord-truffels van sy Altima-plaas naby Villiersdorp. Plaaslike bestanddele en fynkos vat hande om ’n uitsonderlike ervaring te skep.
Die “truffeljag” die afgelope paar maande op Altima het ’n skatkis van hierdie fynkos bewerkstellig, en met voortdurende produkontwikkeling kan gaste uitsien na heerlike truffelgeïnspireerde disse soos tuisgemaakte Truffle Tagliatelle met verouderde parmesaankaas.
As truffels egter nie jou mond aan die kwyl sit nie, is daar borde vol smaaklike en geurige charcuterie en tuisgemaakte kase om aan te smul. Een van die vegetariese opsies op die spyskaart is Sisiliaanse Panelle met geskroeide murgpampoentjies en olywe, of wat van ’n geurige groenboontjie-en-sitrus-slaai bedien met verouderde balsemasyn?
Die genot eindig egter nie daar in die Terra del Capo Tasting Room & Antipasti Bar nie. O nee, daar wag nog meer verrassings in die landgoed se winkel waar spesiale items wag om jou eie huis mee op te kikker. Onder meer sal dekoritems, geskenke, tuisgemaakte produkte en ingevoerde Italiaanse artikels te koop wees.
Die spyskaart is inderdaad ’n truffeltroebadoer se droom: van tuisgemaakte pasta met swart spikkels in; tot charcuterie en ravioli met ’n skeut truffel. Die horingoue balsemasyn kom van Giuseppe Giusti en olyfolie is die plaas se eie.
Die landgoed het ’n wye wynreeks vir elke sak en smaak, maar ons bestel per glas sodat ons soveel moontlik kan geniet met ons heerlike peuselborde en nagereg.
Ons eindig met lietsjie eau de vie en brandewyn, ewe kordaat Sagnac genoem, omdat dit in die tradisionele Armagnac-styl gemaak word.
Met olyfolie, truffelolie en pasta onder die blad val ons in die pad.
Ons laaste oornagplek in die omgewing is Vrede en Lust, wat van 1688 dateer, toe die Kaapse goewerneur die 66 ha-plaas aan die Vlaamse handelaar Jacque de Savoye gegee het. Toe hy en sy vrou, Marie-Madeleine le Clerq, in die Drakenstein arriveer, was daar net 23 Nederlandse vryburgers wat daar hul tuiste gemaak het. Die plaas Vrede en Lust het aan die voete van die (toe) Napoleonsberg (vandag se Simonsberg) gelê.
Oor meer as drie eeue het dit ’n wynplaas gebly en die huidige wingerduitleg weerspieël die 1745-aanplantings.
Die huidige eienaars, die Buys-familie, kon die twee dele van die eertydse plaas weer verenig en herstel na die grense van 1783.
Vandag is die plaas nie net ’n spogwynplaas nie, maar ook ’n gewilde troubestemming met sy 21 kamers, konferensiegeriewe en historiese tuine. Die plaas het ’n moderne 750 ton-wynkelder en 100 ha onder wingerd.
Wanneer jy by die plaas afdraai, ry jy deur die ou hekke, verby die bistro en wynproe, verby die historiese herehuis en parkeer onder die bome. Jou uitsig oor die wingerde eindig aan die voete van die berge. Elke keer as jy gedurende die dag opkyk, is die berge ’n ander kleur, soos wat die son dit baai.
Laatmiddag toe ek gaan stort, maak ek die reusevenster in die stort oop en kyk uit oor die bome en wingerde, terwyl die son die laaste puntjies van die blare goud kleur. Die bedrywighede op die plaas raak stil; die proelokaal en bistro sluit en ons gaan stap. Dis ’n werkende plaas en dis so lekker om te sien hoe almal tuiskom na die dag se werk en in hul aandroetine inskakel.
Ons is in die middel van drie smulpaapparadyse: die Paarl, Franschhoek en Stellenbosch, maar ons het ’n oulike boks met hoenders en groente op geteken van Boschendal se plaasstal en ons wil sommer net peusel.
Ons gaan sit by die swembad met ons brood en charcuterie en ander kougoed wat ons by Boschendal en Babylonstoren gekoop het; maak ’n bottel Vrede en Lust Jess 2018 oop. Die versnit van pinotage, shiraz en grenache staan in ’n ysbak op die tafel en ons sit met ons voete in die koel water voor ons by die vuurtjie binne gaan sit en eet. Die vars en lewendige geure van aarbei en waatlemoen is die perfekte pasmaat vir ons snoepgoed.
Die opwinding van die laaste paar dae kom sit vroegaand in ons kuite en toe ons kamer toe stap, is die gape lank. Maar darem nie te lank om die reusetelevisieskerm teen die muur te ignoreer nie!
Vroegoggend skuif ons die gordyne oop. Die kamer se kaste en mure is keurig met spieëls bedek en die berge buite weerkaats teen die mure en laat jou waarlik voel asof jy in die voue van die armholte van die horingoue berge lê.
Werkers snoei die wingerdlote en trek onkruid uit. Twee hadedas sit in die bome neffens ons kamer met mekaar en gesels. Kort-kort vlieg ’n kolgans verby op pad na ’n lekker dam iewers naby en ’n roofvoël draai bo ons koppe – net hoog genoeg om dit nie sonder verkykers en voëlboeke te kan eien nie, maar die mikstert onmiskenbaar roofvoël op soek na ’n happie in die wingerde.
Ons tekkies aan – ek gaan stap ver onder die bome deur, al langs die wingerde; my geliefde trap sy fiets. Toe ons laatoggend by Lust Bistro & Bakery indraai vir ontbyt, is ons rasend honger. Die Benedict-eiers met hollandaisesous, vars croissant en Terbodore-koffie is net waarvoor ons lus was. Jean Pierre Smith se bakvermoë is legendaries.
Ons stap oor na die wynproelokaal, waar mens ’n indrukwekkende lys wyne kan proe, maar ons verkies om eerder buite op die stoep te ontspan met ’n yskoue glas Anni Elgin sauvignon blanc, terwyl die vlieswolke teen die blou lug patrone teen ons glase maak. Anni het onlangs die prys ingepalm as nasionale kampioen in die National Wine Challenge (NWC) en ek verstaan hoekom. Dis liplekker.
Die plaas was ook een van die top plase in die NWC met ses wyne in die Top 100 wyne in Suid-Afrika; Riesling was die nasionale kampioen in die Terroir-toekennings, en die lys hou net aan.
Die plaas is beplant met cabernet sauvignon, shiraz, merlot, malbec, petit verdot, pinotage, grenache en viognier. Casey’s Ridge is geplant met sauvignon blanc, chenin blanc, chardonnay, riesling, semillon, pinot gris, viognier, cabernet franc, pinot noir en shiraz.
By die proelokaal sien ek die bordjie Run the Vine Route. Ons hoor dat baie mense uit die omgewing veilige plekke soek om te oefen. Die eienaars het derhalwe besluit om ’n roete op die plaas te skep waar enige persoon in ’n veilige omgewing kan oefen. Vrede en Lust doen ook jaarliks ’n fondsinsameling vir Cansa in die vorm van ’n wedloop op die plaas, wat ’n 5 km-, 10 km- en 17 km-roete insluit. Die Run the Vine-roete is dan ook die 5 km-roete.
In ons koelsak in die kattebak is ’n gevriesde bees-en-bier-pastei wat ons tuis gaan geniet en spekkonfyt om saam met die varsgebakte brood te geniet.
Die reis gaan voort by die nuwe Gerber & Co Fancy Farmstall waar ons buite onder die sambrele gaan sit met ons Legado-koffie, terwyl die rokie by die pizza-oond se skoorsteen ons vertel dat ons middagete vars gemaak word. Binne is daar ’n verskeidenheid produkte – eetbares en dié wat so mooi is jy wil dit eet – vars blomme, tuisgemaakte produkte van Soefija’s, Mies, Marice Rooibos, Kojabu en Masch, merinoklere en vele meer.
Terwyl ons wag, is daar kort-kort iemand wat nog ’n roosterkoek met boerewors kom bestel en dan gulsig buite die deur begin kou. Ons eet pizza met avokado, spek en feta, met baie knoffel, en ek voel effe jammer vir enigiemand wat ons laatmiddag gaan teëkom!
Ek moet glimlag toe ons die kattebak vir oulaas pak en die wyne van die drie plase waar ons gekuier het, vrolik teen mekaar klingel soos krale van ’n reuse-armband. Daardie vrolike geluid is beslis die klank van die omgewing wat ek met my sal saamdra huis toe.
Kitsfeite
◊ Al die plekke waar ons gekuier het, is deel van die Franschhoek-wynvallei. Jy kan die hele streek verken. Meer inligting by 021 876 2861 of franschhoek.org.za.
◊ Boschendal het soveel om te bied. Loer by www.boschendal.com. Hul wyne is in Nederland by https://www.boschendalwijnen.nl/shop en België by www.vineplus.be/nl/contact beskikbaar.
◊ Meer inligting oor wat jy alles op Babylonstoren kan geniet, is by www.babylonstoren.com beskikbaar. Hul wyne kan aanlyn gekoop word en deur Babylonstoren se vriende by The Newt in Somerset, Engeland, afgelewer: shop.thenewtinsomerset.com.
◊ Vir meer inligting oor alles wat jy by Vrede en Lust kan doen, eet en ervaar, besoek https://www.vnl.co.za. Hul wyne is in Nederland en België beskikbaar by https://minnegoedwines.be/wijnhuizen/vrede-lust.
◊ Die Terra del Capo Tasting Room & Antipasti Bar is slegs op afspraak beskikbaar. Loer by https://www.rupertwines.com/contact vir Europese verspreiders. Vir meer inligting of om te bespreek, kontak die landgoed op 021 874 9041 of tasting@rupertwines.com.
- Woorde: Maryke Roberts
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf