Die programnota van 1995 het iets van ’n literêre popster genoem, en die titel was intrigerend: Kartonnen dozen. Boonop het ek gehou van al die Vlaamse aanbiedings wat ek ooit by die KKNK bygewoon het. Almal is opgelig deur ’n Europese flair, deurtrek van die karnivaleske, besiel deur ’n sin vir die absurde.
Die gehoor daar in die Klein Karoo in 1995 was nie so groot soos die skares wat hy tóé reeds – die middeljare negentig – in Nederland en België getrek het nie. Maar dit het niks afbreuk gedoen aan die ooglopende sterkwaliteit van die man op die verhoog nie. Sy naam was Tom Lanoye. Uitgespreek Lanuá. ’n Opkomende ster in die letterkunde van die Lae Lande. So ’n kort mannetjie met ’n vierkantige brilletjie op.
Hy was kennelik gewoond aan ’n gehoor, aan aandag, en hy het geweet hoe om die aandag te hou. Hy was ’n thespian met die half grappenderwys maar uitdruklik gestelde doel om ’n literêre popster te word. Wat hy gelewer het, was die prosaweergawe van praatpoësie. Noem dit perfomance-prosa. In suiwer Afrikaans wil dit nie oortuig nie.
Dit was natuurlik storievertelling, wat in ’n lang tradisie staan, maar dit was ook meer. Hy was nie ’n popster nie – daarvoor was sy spektrum te wyd – maar ’n rockster. Hy het die gehoor geneem van die balladeske tot wat jy maar gerus heavy metal-passasies kan noem. Dié kort mannetjie het voor ons uitgegroei tot ’n toringhoë teenwoordigheid op die verhoog. Ons het uit sy hand geëet, ons was betower.
Die teks van sy voordrag is uit sy boek Kartonnen dozen geneem, met dele daarvan in Afrikaans gelewer. Met dié kennis soos ’n wortel voor my uitgewersneus het ek Tom in die gemaal na die vertoning bygedam en verklaar: Ek wil dit by Queillerie in Afrikaans uitgee.
Tom het my verwys na Daniel Hugo, wat die stukke vertaal het. Daniel was dadelik vuur en vlam, en so het sy sedertdien grootliks uitgebreide, bekroonde en steeds aktiewe loopbaan as vertaler begin. Onlangs nog het hy die magtige Vlaamse kroniek, Het verdriet van België deur Hugo Claus, in Afrikaans vertaal.
Vertaling is ’n duur besigheid. Vertaalkoste is gewoonlik vir die rekening van die uitgewer van die vertaling, maar selfs vir ’n dun boekie soos hierdie was Queillerie se sak nie diep genoeg nie. Gelukkig was daar in daardie jare ruim befondsing vir kultuurontwikkeling beskikbaar van die Vlaamse owerheid se afdeling Muziek, Letteren en Podiumkunsten. Deur Tom se bemiddeling het ons finansiering uit hierdie bron bekom.
Die boek was ’n topverkoper in Nederland en Vlaandere. Ten tyde van ons publikasie in Suid-Afrika was daar reeds meer as 60 000 eksemplare van die Nederlandse uitgawe verkoop, in twaalf oplae. In Suid-Afrika sou ons nie op so iets kon hoop nie. Miskien was die mark ook nie gereed vir die tema nie – hoewel dit nugter weet wanneer bevatlik sou wees as ons byna aan die einde van die twintigste eeu nog nie ’n boek sou kon roer wat gaan oor die deurgangsrites van ’n skoolseun in sy verliefdheid op sy beste maat nie.
Die boek is terselfdertyd skreeusnaaks en droef op die manier waarop mens altyd met ’n bietjie droefheid terugdink aan jou eerste liefde. Op die manier wat Elisabeth Eybers so mooi verwoord in haar gedig “Eerste liefde”: “Ons liefde het gesterf met die oggendstond, / en ons het haar begrawe, teer en stom.” En hoe is dit nie universeel nie?
Een nadeel vir ons mark is die Vlaamse konteks van die boek, die skerp sosiale kommentaar oor ’n samelewing wat vreemd aan die Suid-Afrikaanse oor en oog geword het sedert die betreurenswaardige verbreking, jare lank, van die bande tussen Afrikaans en haar Europese sustertale. Die jare toe ons so erg binnewaarts gerig geword het dat ons nog nie weer die breë kontak herstel het soos toe ek op skool was met Nederlandse lees- en voorgeskrewe boeke en ’n weeklikse radioprogram soos Uitspan op die Hollandse werf nie.
Sedert die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika is baie gedoen om dié bande formeel te herstel, onder meer deur inisiatiewe soos Voertaal en die Week van de Afrikaanse roman in Nederland en Vlaandere.
Daarby het mense se verknogtheid aan geestesgoed oor dekades ’n afwaartse lyn beskryf onder die opkoms van elektroniese vermaaktegnologie en die daarmee gepaardgaande immer verkortende aandagspan van die gemiddelde kind en, soos hulle grootword, dan die gemiddelde jeugdige en uiteindelik die gemiddelde volwassene. Lesers van boeke word die uitsondering, en van Nederlandse boeke nog meer.
Desnieteenstaande moes ons probeer. Vertaling is ’n voor die hand liggende begin. Met die vertaling van Lanoye se boek afgespreek, doen Daniel aan die hand dat ons ook kyk na liefdesgedigte van die eweneens Vlaamse digter Herman de Coninck. Die gedigte was so mooi in hul eenvoud en substansie, en die voorbeeldvertalings van Daniel so trou aan die oorspronklike en terselfdertyd aan die Afrikaanse idioom dat mens dit nie kon weerstaan nie. Liefde, miskien het, soos Kartondose, in 1996 verskyn.
Mens moenie selftevrede wees nie, maar ek is na al die jare nog groots op hierdie twee boekies, albei besonder mooi ontwerp deur Piet Grobler. Hy was in daardie stadium interne ontwerper by Queillerie. Dit was merkwaardig dat die uitgewersadres van beide die oorspronklike en van die vertaling op die He(e)rengracht was: Prometheus in Amsterdam (met een e) en Queillerie in Kaapstad (2 e’s). Tom het voorin my eksemplaar geskryf: “Voor Frederik de Jager, mijn tweede uitgever op de Herengracht.”
In Oktober van die verskyningsjaar van die twee boeke het Tom en Herman in die Kaap uitgekom vir ’n promosietoer wat ons drie in my Volkswagen Golf sou onderneem. Op deur die Karoo, met geleenthede in Bloemfontein, Johannesburg en Pretoria. Oor veral Herman en hierdie reis skryf ek elders in ’n boek wat in April verskyn en ek wil dit nie hier herhaal nie. Daar was iets epies aan die reis deur die dorre binneland met dié twee in die klein motortjie – Herman flegmaties en teruggetrokke voor langs my, en Tom driftig aanheffend oor land- en wêreldsake op die agtersitplek.
Ons het beskamende gehore getrek; hulle was immers in ons geweste geen bekende skrywers nie. Nogtans het Herman voorin my eksemplaar van Liefde, miskien geskryf: “Voor Frederik de Jager, de verantwoordelijke voor onze avontuur in Afrika.” In ’n subtiele kniebuiging teenoor Afrikaans vervolg hy: “Met baie veel dank.” Dit was nie die eerste of laaste keer dat ek sou vind hoe graag Nederlands- en Vlaamssprekendes die aan hulle vreemde woordjie “baie” gebruik wanneer hulle dit eenmaal geleer het nie.
Enkele maande later, in Mei 1997, kom die nuus van Tom: Herman het in ’n straat in Lissabon inmekaargesak en aan sy hart beswyk.
Daniel het nog ’n Nederlandse boek vir ons by Queillerie vertaal: De aanslag, Harry Mulisch se ikoniese roman wat in Afrikaans bloot Die aanslag heet. Hy het daarna by Protea Boeke ’n indrukwekkende oeuvre in vertalings uit Nederlands opgebou. Dié uitgewery, saam met hul vertaler, verdien aanmoediging en gelukwense met hulle moedigheid en visie om die Afrikaanse letterkunde op hierdie manier te verryk soos wat dit laas voor die jare sewentig die geval was.
Tom Lanoye het ’n al groter figuur geword, nie net in die Nederlandse letterkunde nie, maar ook op die Europese en wêreldtoneel. Sy boeke en dramas het in gelyke maat in ambisie en omvang gegroei, soveel so dat hy as ’n hedendaagse Hugo Claus gesien word. Sy bande met Suid-Afrika bly sterk. Hy besit ’n huis in Kaapstad waar hy ’n deel van die jaar deurbring.
Net voor die eeu gedraai het, is ek na Antwerpen. Daar het ek by Tom en sy lewensmaat in hul woonstel tuis gegaan. Ek was beïndruk met sy skryfwerkstasie: In ’n andersins leë vertrek was daar ’n rondomwerkstoonbank in die vorm van ’n hoefyster. Daarbinne het Tom soos ’n Captain Kirk op die beheerdek van die Starship Enterprise gestaan en werk, met sy kragtige klanksisteem, meer as een rekenaar en elke ander moontlike skryfhulpmiddel byderhand. Die energie van sy enorme produktiwiteit was aanvoelbaar.
Die plan was dat ek Herman ook sou besoek. In plaas daarvan het dit ’n trieste agtermiddag geword van tee by sy steeds droewige weduwee, die skrywer Kristien Hemmerechts, klein en alleen in die tamaai huis met vergrote portrette van Herman oral aan die mure rondom haar. Ek weet nie of die eksemplaar van Liefde, miskien haar tot troos was nie.
- Foto’s verskaf
Lees ook:
Afrikaanse vertalings in die kollig tydens Vertaalslag 2018, Amsterdam