So ry ons wynproe so ...

  • 0

Die pragtige grasgroen heuwels van KwaZulu-Natal so ’n uur of twee uit Durban is ’n ongewone plek om rye en rye wingerde te sien, maar hier is uitsonderlike wyne wat al meer die oog van wyntoeriste vang, skryf Maryke Roberts nadat sy in en om die Midlands Meander gekuier het.

Die KZN spog met drie wynplase, en elkeen se terroir, styl en aanbieding is só verskillend, jy kan nie net by een inloer nie.

Ons eerste stopplek is by die oulike koffiewinkel, Steampunk Coffee – ’n gat in ’n muur van buite af, maar binne is dit ’n heel ander storie. 

Steampunk Coffee is beslis ’n gat in ’n muur van buite af, maar binne is dit ’n heel ander storie.

Oulike sêgoed is teen die muur geskryf, soos dat al wat saak maak, hierdie oomblik is, en die barista, Colin Ndlovu, se entoesiasme oor die koffie van die dag het ons sommer weer van vooraf lus vir koffie, veral toe hy ons wys hoe hy die bone in die vertrek langsaan rooster.

Die barista, Colin Ndlovu, rooster nou ook bone.

Voor ek nog kan vra vir wegneem, sien ek die kennisgewing teen die muur: “We don’t do take away cups. The reason is obviaaaaas.” Geen besoedeling en bome afkap hier nie. Ek hou sommer nog meer van die plek.

Ons staan by die toonbank met ons koffies en pasteis de natas – klein Portugese melktertjies – en ek skep gulsig groot scoops varsgeroosterde bone om huis toe te neem.

Die koffiewinkel is ’n katspoegie van die plek waar oudpresident Nelson Mandela in 1962 gevange geneem is, en vandag staan ’n indrukwekkende monument daar.

Die nuwe besoekersentrum aan die oorkant van die pad.

Die beeldhouwerk, ’n samewerking tussen Marco Cianfanelli en Jeremy Rose, is in 2012 opgerig om die 50ste viering van Mandela se inhegtenisneming te gedenk. Dit bestaan uit 50 staalkolomme wat wissel tussen 6 en 9,5 meter hoog wat oor 30 meter uitgesprei is. Die 50 staalkolomme verteenwoordig die 50 jaar sedert sy inhegtenisname in 1962. Maar dit verteenwoordig ook die idee dat verskeie losstaandes ’n eenheid kan vorm.

Die ou monument wat opgerig is om aan te dui waar Nelson Mandela in 1962 in hegtenis geneem is.

As jy jou motor parkeer en op die paadjie stap, wat die lang stap na vryheid voorstel, is dit bloot pale, maar hoe nader jy kom, hoe duideliker is Madiba se gesig te sien.

Ons parkeer onder die bome en gaan eers deur die museum. Die installasie sit heelwat verder onder op die terrein.

Dis winter en die lug is droog; die veld is vaal en ek kan my net indink hoe moedeloos Mandela daardie Sondagmiddag moes gevoel het toe hy in hierdie vaaltes gevange geneem is.

Maar die boodskap van hoop wat op die borde uitgebeeld word, laat voel my hart sommer vol toe ons by die museum uitstap. Ek sien hoe ’n groep tieners by ’n bord vergader en almal hul slimfone uithaal. Ek gaan staan nuuskierig nader en vra wat hulle maak. “Ons laat die toepassing op ons fone af, Madiba’s Journey,” vertel hulle my. Dit is ontwikkel in samewerking met die Nelson Mandela Foundation, SA Toerisme en Lead SA.

Ons stap die geplaveide paadjie af wat die gebeure in sy lewe uitlig: sy geboorte, sy betrokkenheid by politiek, sy studies, die dag toe hy in hegtenis geneem is, sy verhoor en so meer.

Nelson Mandela se hele lewe word in die klein museum met kleurvolle borde met foto’s geïllustreer.

Voor in die paadjie kom die installasie in fokus en tot sy volle reg. Mense van alle nasionaliteite wag hul beurt af om ’n foto voor Nelson Mandela se gesig te neem. Ander staan vir etlike minute in stilte tussen die 50 staalkolomme.

Ons wag vir ons beurt en is dankbaar toe daar vir ’n paar minute niemand agter ons is nie. Mense se gesels klink in die verte by die museumgebou op, maar hier tussen die swart assegaaie is dit net jy en jou gedagtes met die windjie in jou ore.

Ek staan in die middel van die kolomme en kyk op na die vaal lug. Ek maak my oë toe en dink weer aan die vraag: “Wat sou gebeur het as Nelson Mandela kwaad uit die tronk gekom het?” wat die satirikus en akteur Pieter-Dirk Uys se een vertoning ingelei het, en besef hoe bevoorreg ons is om hier te kan staan en sy nalatenskap van vrede en samewerking te vier.

Om daar tussen die 50 staalkolomme te staan, wat soos reuse-assegaaie na die hemel reik, is ’n stilword-ervaring.

Die klein bordjies langs die pad wat groot gebeure in sy lewe uitlig soos wat jy na die installasie aan die einde van die paadjie stap.

Ek moet lag vir die reuse-advertensieborde buite ’n algemene handelaar buite Howick wat van bloedwurms, poncho’s, windbrekers en tentpenne tot jafflemakers en “vars plaaspetrol” verkoop. Elke tweede kar wat om die draai gaan, stop, neem die “vars plaaspetrol”-bord af en ry. Ek kan dink hoe Instagram en Facebook weer toegegooi gaan wees onder dié komiese foto’s.

Abingdon-wynlandgoed

Dis laatoggend toe ons by Abingdon-wynlandgoed, waar Ian en Jane Smorthwaite die afgelope twee dekades druiwe kweek en wynmaak, indraai. Dis nie net die streek se oudste wynplaas nie, die eerste wat gesertifiseerde landgoedwyn gebottel het nie, maar ook die een met die meeste lof en toekennings. Dit is pas deur American Express Dining Awards 2020 as die “Best Kept Secret” aangewys.

Die ingang na Abingdon-wynlandgoed

Dis laat herfs met ons kuier, maar ons truie het gou op die agterste sitplek van ons huurmotor beland, want hoewel die omgewing grasgroen is, is dit vrekwarm – iets van KwaZulu-Natal wat my elke keer ’n paar dae neem om aan gewoond te raak.

Die landgoed se eerste wingerde is in 2004 geplant en die eerste wyne is in 2007 gebottel.

Die ingang na Abingdon-wynlandgoed

Ons ry by die pragtige laning bome op, wit perdekampies weerskante en wingerde wat oor die heuweltjie loer. Hier lê die landgoed se drie hektaar wingerde, 1 140 meter bo seespieël. Sedert hulle 20 jaar gelede begin het, het die Smorthwaites se dogter, Laurie, by haar pa aangesluit en maak hulle nou saam wyn en sien na die wingerde om.

Laurie Smorthwaite werk nou saam met haar pa, Ian, op Abingdon.

Die kultivars op die plaas is sauvignon blanc, chardonnay, viognier, syrah, cabernet sauvignon en nebbiolo. Abingdon se eerste oes, die cabernet sauvignon shiraz 2007, was die eerste gesertifiseerde landgoedwyn wat in KwaZulu-Natal gemaak is en dra trots die etiket: Lions River, KwaZulu-Natal Wyn van Oorsprong.

Hul proelokaal is legendaries, want al kom jy net vir ’n vinnige inloer, is dit onvermydelik dat jy langer sal kuier. Jy is gou deel van die gees, en die plaaslike inwoners omarm enige besoekers en wynliefhebbers asof hulle al jare vriende is. Die proelokaal is Vrydag, Saterdag en Sondag oop vir wynproe en middagete.

En hierdie kuierplek is nie vir kinders onder 10 nie. Daar is geen kinderspeelplek nie en as jy vir stilte, mooi uitsigte en goeie wyn gekom het, is jy beslis op die regte plek.

Van Abingdon se bekroonde en gesogte wyne

Jane groet ons by die deur van die proelokaal. Maar dis onregverdig om die knus geboutjie met sy growwe baksteenmure, lae ligte, sagte banke en wynvattafels ’n proelokaal te noem. Dis eerder ’n klein intieme grot wat as verlengstuk dien van die egpaar se wynpassie. Hier word daar naweke kos bedien, en ons het gelees dat dit die beste plek is om jou hele Sondag te verwyl: Begin met ’n koffie en koerant, beweeg later oor na jou eerste glas wyn en kaasbord, om teen middagete te smul aan Jane se beespastei wat in Guinness gekook is, of die plaaslike geroosterde forel.

Toe ons instap, arriveer ’n vriendin met ’n groen plastiekemmer vol speldekussings. Ons “oe” en “a” oor die pragtige blomme wat ons meestal net in tydskrifte of op staptogte tussen die fynbos sien, maar sy swaai haar arm argeloos en antwoord dat hulle “net hier anderkant by my vriendin groei”.

’n Oulike uitstalling in Abingdon se proelokaal.

Ons ontdek gou dat alles hier in die omgewing, “net om die draai”, “op of af in die pad” of “oor die volgende bultjie” is, dat almal mekaar ken en almal in mekaar se lief en leed deel.

Ons raak aan’t proe en Jane vertel hoe hulle in 2000 die plaas gekoop het. As geswore stedelinge het sy geglo dis Ian se middeljare wat pla en het hy geglo dis ’n openbaring van ’n wonderlike nuwe lewe. Sy navorsing in wingerdkunde en wynmaak het elke beskikbare uur van sy dag in beslag geneem. “Ek het opgelees oor die geologie, die klimaat, die grondsamestelling en die reënval- en sneeupatrone. Ek kon geen ander streek in die wêreld vind wat min of meer hiermee ooreenkom nie – as die grondtekstuur en suur dieselfde is, kry hulle nie hael nie; as die streek hael kry, is daar geen sneeu enige tyd van die jaar of reën in dieselfde seisoen as ons s’n nie,” vertel Ian.

Abingdon-wynlandgoed se eienaars, Ian en Jane Smorthwaite.

Teen die swartbord in die proelokaal moet Jane gereeld rooi strepe deur die uitverkoopte oesjare en kultivars trek. Hulle het almal verbaas met die gehalte van hul wyne. Hoewel sommige eers twee jaar terug geoes kon word, raai mense dat dit heelwat ouer is en boonop nie Suid-Afrikaanse wyn is nie, maar van Frankryk. Dit laat die egpaar breed glimlag. Ook die feit dat die landgoed – die enigste geregistreerde enkelwingerdlandgoed in KwaZulu-Natal – gereeld oorsee aandag trek.

Mense kom in en bestel die mezzebord en Jane verduidelik aan ons: “Ons is nie gekwalifiseerd vir ons rolle nie: Ek is nie ’n sjef nie, Ian is nie ’n wynmaker nie, en dis nie ’n restaurant nie. Ons maak – en drink – goeie wyn, ons hou van lekker, vars en geurige kos en ons is elke naweek vol mense wat dieselfde passie het.”

Maar passie en harde werk het ’n paradys vir wynliefhebbers geskep.

Highgate-wynlandgoed

Ons ry verder – middagete en ’n lekker wynproe wag by Piggly Wiggly, wat nou met sy eie wynkelder en nuwe proelokaal spog. Elke keer as ons in die omgewing kom, is dit een van ons gewildste stopplekke. Hier het ons al vriende ontmoet om te gaan canopy swing; die Midlands Meander te verken; te oornag op ’n suiwelplaas; en in die Drakensberge te gaan kuier.

Gelukkig is daar nog ’n paar minute voor ons laat middagete en ons stap van winkeltjie tot winkeltjie in die oulike sentrum. Ons geniet geroosterde broodjies voor ons sommer kortpad na die proelokaal en wynkelder skiet, deur die wingerde.

Die kelder is die breinkind van Rudi Kassier, eienaar van die aangrensende Piggly Wiggly Restaurant, en dit is een van slegs drie wynplase in KwaZulu-Natal.

Highgate-wynlandgoed het nou hul eie proelokaal en kelder en lê reg langs Piggly Wiggly. Jy kan nou daar wyn proe met ’n kaas- of vleisbord.

Rudi, oorspronklik van ’n klein Duitse dorpie, Wartburg in KZN, het ’n beurs gekry om industriële sakebestuur in Duitsland te studeer. Hy en sy vrou, Cindy, wou graag hul kinders op die platteland grootmaak. Maar plase se pryse was, wel, ’n plaas se prys, en hy moes tevrede wees met ’n kleinhoewe in die Natalse Middelland, naby Lions River en Dargle, en sowat 32 km van Pietermaritzburg.

Rudi ontmoet ons in die proelokaal. Hy vertel sy landbouloopbaan het met hidroponika begin toe hy groente aan die omliggende gastehuise begin verskaf het. Sy gesin asem daagliks vars plaaslug in en smul saans aan Pa se lieflike vars groente en kruie.

Rudi Kassier, eienaar van Highgate-wynlandgoed en Piggly Wiggly (heel regs), saam met sy skoonseun, Tom, dogter Cathryn en vrou, Cindy.

Later het hy die groente vanaf ’n opslaantafel onder die groot boom aan die voetenent van hul kleinhoewe verkoop. “Dit het goed gegaan, maar ek moes elke dag die tafels en vars produkte afdra en saans weer alles opdra huis toe. Ek bou toe ’n klein plaasstal om die groente te verkoop, en vir ’n koffiewinkel.”

Kort daarna skuif hy oor na oop groentelande en begin ook sy eie kwekery, en kweek, pak en verwerk groente vir verskeie kettingwinkels en gastehuise. “Dis nie lank nie, of ’n vrou klop aan om te hoor of sy nie ’n klein ruimte kan huur om handgemaakte pajamas te verkoop nie. Ek bou toe vir haar ook ’n klein plek en vandag, 14 jaar later, het Piggly Wiggly altesaam 23 klein besighede wat hier bedryf word.”

Highgate-wynlandgoed het sedert onlangs hul eie proelokaal en kelder.

KZN se Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het gereeld studente na Rudi gebring om touwys gemaak te word oor hidroponikaboerdery. Toe die departement later toetslopies met wyndruiwe doen, het Rudi besluit om ook daarmee te eksperimenteer.

Wyn was nooit veronderstel om ’n groot deel van sy besigheid te word nie, skerts Rudi. “Ek weet niks van wynmaak nie, maar is mal oor die Kaapse leefstyl, waar wyn daagliks deel van die sosiale leefstyl is,” vertel hy. “Ek geniet ook die wynlande se natuurskoon. My voorvaders was onder die pioniers in die suikerrietbedryf en ek het gereken dit sal heel opwindend wees as ek kan deel wees van die pionierswerk in die wynbedryf.”

Die Highgate-landgoed se wyne.

Hy het ’n kort inleidende wynmaakkursus by die Universiteit Stellenbosch voltooi en het 10 jaar lank met verskillende kultivars in ’n klein oefenblok langs die Piggly Wiggly-padstal en -restaurant geëksperimenteer. Hy het 30 verskillende kultivars probeer, maar op die ou end besef pinotage, cabernet sauvignon en chardonnay is die enigste kultivars wat in die oorwegend Clovelly- en kleigrond sowat 1 100 meter bo seespieël aard. Die jaarlikse reënval is sowat 1 150 mm. Hy het ook ’n klein bietjie merlot en shiraz aangeplant.

Vandag het hy altesaam vyf hektaar onder wingerd, waarvan pinotage die grootste deel uitmaak, met chardonnay en cabernet sauvignon in onderskeidelik tweede en derde plek. “Hoewel ek weet ons toekoms lê in pinotage, het ’n cabernet sauvignon 2017 my onlangs verras. Ons wyne is sagter as die Kaapse wyne, omdat die suikervlakke laer is.”

Dis natuurlik geen grap om in ’n nietradisionele streek wingerde suksesvol te vestig nie. Die omgewing kry geweldig baie somerreënval, hael is ’n groot uitdaging en ryp kan oornag alles vernietig. “Ek kan dus nie raad by Kaapse wynmakers vra nie, omdat ons toestande soveel van die Kaap s’n verskil,” sê Rudi. Nou droom hy van die dag dat Highgate vir ander produsente hierdie diens kan lewer. “Ek wil graag oor ’n paar jaar ’n klein wynroete in die omgewing sien waar elke wynplaas iets eiesoortig aan besoekers bied.”

Dis duidelik Rudi kan skaars glo hy sit en gesels hier in sy eie proelokaal. Agter in die kelder is sy nuwe wynmaker, Thornton Pillay, tussen die vate doenig. Hy is ’n Durbaniet wat met ’n beurs van die Wes-Kaapse Departement vanLandbou, Bosbou en Visserye wynkunde aan die Landbou-opleidingsinstituut Elsenburg studeer het en eers onder Boela Gerber by Groot Constantia en toe onder Louis Strydom by Ernie Els-wyne gewerk het voordat hy in Frankryk ’n oes gaan meemaak het.

Die intieme kelder langs die proelokaal waar die Highgate-wyne verouder.

In die proelokaal is Rudi se dogter, Cathryn, en haar man, Tom Herselman, wat ook toevallig by Ernie Els-wyne gewerk het, besig om besoekers van die wyne te vertel en te laat proe. Tom het ’n WSET-kursus voltooi en is goed vertroud met verskillende wêreld- en Kaapse wyne. Daar in die lieflike proelokaal met sy herwinde bakstene, houtwerk en houtvloere kan jy ook die kelder en wynvate sien waarin die wyn verouder word.

Die pragtige ligte wat uit wynbottels gemaak is, versier die proelokaal by Highgate-wynlandgoed.

Rudi hoop om teen volgende jaar 12 000 bottels te produseer. Dit is klein in vergelyking met ander wynplase, maar hy wil klein en gespesialiseerde wyne baie goed maak, vertel hy. Ons proe die chardonnay 2016 en 2017, shiraz 2016 en pinotage 2016. Daar is ook ’n Tomcat-pinotage 2017, pinotage-en-shiraz-merlot-versnit 2017 en syrah 2017, maar ons volstaan by ons keuse.

Rudi maak ook ’n bietjie grappa van die druiwedoppe en het selfs ’n vaatjie waarin hy brandewyn verouder. Hy bemark ook 26 eksklusiewe huise op Highgate-landgoed wat deur klein wingerdblokke geskei sal word. “Dis wynlandlewe op sy beste,” sê hy met ’n glimlag toe hy ons kis wyn motor toe dra.

Highgate-wynlandgoed bied sewe wyne te proe aan, met of sonder ’n kaas- of vleisbord van hul restaurant.

Voor ons die laaste wynplaas gaan besoek, gaan span ons eers vir ’n dag of wat uit by Anew Hotel Ingeli Forest & Spa.

Die N2 is natuurlik die vinnigste opsie, maar ons kies die agterpaadjies, met Ixopo onderweg ons hoofdoel, want Ixopo vorm die bekende openingslyn van Alan Paton se Cry, the beloved country: “There is a lovely road which runs from Ixopo into the hills. These hills are grass covered and rolling, and they are lovely beyond any singing of it.” En ’n mens moet dit darem een maal in jou lewe sien.

Mens kan verstaan hoekom Paton juis hierdie deel van die land uitgesonder het in sy boek. Die valleie lyk soos reusevoue wat tot op die horison strek, en op elke klein heuweltjie hou rondawels en tradisionele huisies met hul klein kraal en tussenin ’n groenteveld of twee wag.

Die N2 is die vinnigste roete, maar dis op die agterpaaie dat mens die skatte ontdek. Die Anew Hotel Ingeli Forest & Spa het verskeie stap- en bergfietsroetes. Daar is ’n 7 km-staproete deur die plantasies en ’n woudstap met voëlklanke en mistigheid na ’n nag se reën. Die Anew Hotel Ingeli Forest & Spa waar ons vir ’n paar dae gaan rus het.

So in die kronkelpaadjies tussen die plantasies deur staan ’n rooi baksteenkerk langs die pad. Dit lyk soos iets uit die Engelse platteland en ons moet gaan kyk. Daar is ’n bordjie met “Mariathal Mission” op en ons staan by die loodglasvenster op ons tone om deur ’n gebreekte ruit na binne te loer. Die gesig daarbinne slaan ons asems weg. Die kerk binne is pragtig bewaar en oortrek met loodglas, skilderwerk teen die mure en pragtige handgemaakte terracotta-vloerteëls.

Ek voel net vir ingeval aan die reusehoutdeur en dit swaai verbasend verwelkomend oop.

Die pragtige antieke orrel, houtbankies in perfekte rytjies en die uitgetrapte drumpel herinner my aan die vele Europese kerke waar ek al in my lewe gaan stil word het. Al wat kort, is ’n bakkie of staander met kersies wat jy kan aansteek.

Die pragtige sendingstasie se kerk en vermoedelik ou pastorie was verlate met ons besoek, maar jy kan sien dis in gebruik.

Die Ingeli-hotel is sowat ’n uur van Port Shepstone en op pad na die Oos-Kaap, en die registrasienommers wat die naweek kom en gaan, is bewys van hoeveel mense op pad na elders is, maar graag hier indraai vir ’n dag of twee.

Ons bly in kamer 8 en hoor by ontvangs dis dieselfde kamer waarin Oprah Winfrey in 2002 gebly het. “Dis die wittebroodsuite,” glimlag die ontvangsdame.

Ons kamer se stoepie kyk uit op die swembad. Ons kyk hoe gesinne vir die dag om die swembad kuier, later op hul stoepie gaan eet, ’n uiltjie knip en weer gaan swem.

Teen sononder speel pa’s en kinders die laaste rondes avontuurgholf op die oulike klein baantjie, terwyl mammas hul leesboeke en handdoeke by die swembad inpak om te gaan stort voor aandete.

Die hotel het verskeie aktiwiteite vir kinders en ouers, en die minigholf en speelkamer is beslis die gewildste.

Die rustigheid is salig. Jy kan binne 50 of 100 km in enige rigting van die hotel ry en iets opwindend gaan ervaar, en elkeen is uniek uit eie reg: ’n koffieplaas, wildreservaat, of die pragtige Oribi-ravyn, maar ons wil niks doen nie. Die loomheid van die perfekte dae neem ons lywe oor en vir twee dae is ons lewe tussen die swembad se heerlike sonstoele, ons bed en die restaurant vir drankies en etes.

Jy kan gaan stap en voëls kyk – óf in die denneplantasie óf in die woud om die dam. Ons doen albei oor die twee dae en dis lekker om te voel hoe jou stadspiere ’n slag behoorlik ontwaak en die vars lug jou longe vul.

Die woudstap bly egter ’n belewenis om te onthou. Ons stap voor sonop die eerste stuk deur die bloekombos. Die grond en takke is nat en die bloekomreuk hang swaar in die lug. Die bloekoms maak plek vir inheemse bome, varings en grasgroen mos. Vlagies misreën giet op ons neer elke keer as ’n ligte windjie die takke roer. Die voëlsang weergalm deur die woud. Ons sien ’n Knysnaloerie en ’n klein bokkie met ’n wolstert wat voor ons in die paadjie uitstap, skynbaar ongesteur deur ons teenwoordigheid.

Die salige koelte en voëlgesang in die digte inheemse woud langs die hotel is die ideale plek vir kopskoonmaak.

Ons gaan sit langs die dam en adem die reuke en klanke in. Ons is reg vir wynproe en middagete, al is dit ’n hele ent se van Ingeli na Winterton.

Cathedral Peak

Op pad na Cathedral Peak Wines draai ons in by Scrumpy Jack’s – Marelize Stewart se heuningkaaskoek is legendaries. Sy bak dit al vir 14 jaar en vertel dat dit haar tante se resep is wat sy aangepas het. Dit word met nastergalbessies (of soos dit hier bekend is, msoba) of met suurlemoen curd bedien. Saam met die Earl Grey-tee gly dit te lekker af.

Marelize se man, Deon, is ’n byeboer en hulle verkoop allerhande heuningprodukte in die winkel. Deon bestuur ook sy eie Bye-akademie waar hy byeboere oplei, maar die afgelope paar maande het al hul aandag na hul splinternuwe restaurant en padstal gegaan. Dis onder die verblyfgebou en bied ’n pragtige uitsig oor die vallei.

Vir Cathedral Peak ry jy tussen die mielielande en groen blokkies wingerd, voor jy by die twee wynvate neffens die pad indraai.

Die wynvate beloof ure van plesier by Cathedral Peak-wyne.

Die sentrale Drakensberg is waarlik een van die mooiste plekke op aarde. Die persblou afgeëtste Cathedral-, Cathkin- en Dragonpieke en Champagne Castle steek meer as 3 000 meter bo die vlaktes uit. In die winter bedek spierwit sneeukomberse die pieke en voed in die lente die bergstrome.

Dis hier waar Cathedral Peak-wynlandgoed se eienaars in 2008 besluit het om wingerd te plant. Tans is 28,9 ha onder wingerd en is daar cabernet sauvignon, pinotage, merlot, petit verdot en sauvignon blanc aangeplant.

Die eikehoutvate waarin die wyne by Cathedral Peak-wyne verouder.

Flip Smith is die keldermeester daar en het in 2015 by die plaas aangesluit. Flip is die afgelope 30 jaar ’n wynmaker. Die plaas lê 1 100 meter bo seevlak en het kleigrond. In die winter het hulle baie ryp en koue en in die somer baie reën en hael.

Die wynplaas se stoep kyk uit oor die wingerde en ’n dam in die verte en ons eet soos mense wat uitgehonger is, maar die stadiggekookte beesstert is so vertroostend saam met wynmaker Flip Smith se rooi versnit, Unesco 985, dat ons vergewe sal word.

In die verste hoek sit pa en dogter en skaak speel; pa se hand rustend op ’n glas van Flip se pinotage.

Van die Cathedral Peak-wyne in hul reeks

Ons vra of Flip ons deur die kelder sal neem en hoor dis eintlik ’n graan- en sojaplaas en wyn was half ’n bysaak. Dis nou tot die landgoed se wyne begin pryse inpalm het en die mieliepryse begin daal het. “Dis nie maklik om met wingerd hier te boer nie. Die klimaat wissel van een uiterste tot die volgende, die swartryp en voëls teister jou druiwe en mense steel bokse vol; onbewus dat wyndruiwe nie lekker is vir eet nie,” vertel hy.

Flip sê hy het gou geleer dat jy hier saam met die wind moet aanplant. “En dis nie maklik om werkers te kry nie. In die Kaap was ek gewoond mense werk met wingerd en jy kan hulle min leer van snoei en oes; hier het die meeste van hulle nog nooit ’n wingerd gesien nie.”

Pa en seun, Flip en Carel Smith van Cathedral Peak-wyne

Hy skryf baie van sy sukses toe aan sy oorlede pa, Dassie Smith, die bekende keldermeester van Rooiberg- en Botha-kelders. Sy pa se bynaam het ook syne geword. Hy vertel: “My pa se bynaam by Boland Landbouskool was Dassie en hy was maar stout op skool. Toe ek Boland Landbouskool toe gaan, het die koshuisvader, mnr Doep, die naam vir my ook gegee.

“My eerste werk was as ’n parshulp by Rooiberg Kelder. My pa het geglo ’n mens begin onder en werk jou dan op. Ons het hier in die Drakensberge beland toe ek die pos êrens raakgesien het, en dit het vir my na ’n groot uitdaging gelyk. Ek het nie eers geweet van druiwe in KZN nie, wat nog te sê in die Drakensberg,” lag hy.

“Ons het ses rooiwyne en een witwyn. Vanjaar kom daar vier verskillende jerepigo’s en ’n merlot blanc de noir.”

Die barrel-pinotage 2015 is sy persoonlike gunsteling, nie net omdat dit in 2017 die Mees Innoverende Wyn-trofee by die Michelangelo Wine Awards gewen het nie, maar ook omdat hy dink dis die plaas se vlagskipkultivar.

Sy oudste seun, JC (26), doen die plaas se wynproeë en sy jongste, Carel (25), is saam met sy pa in die wingerd en kelder.

Ons het twee bokse wyn in ons kattebak toe ons ’n paar dae later by die King Shaka Internasionale Lughawe ons huurmotor terugbesorg. Gelukkig is die lugrederypersoneel gaaf – en seker ook wyndrinkers – en ons gaan elk met ons boks op die skoot aan boord.

Die geleentheid om wyn uit ’n vat te proe, is nog moontlik by Cathedral Peak-wyne.

Wanneer ons daardie wyne oopmaak en nuwe herinneringe met vriende maak, sal ons weer elke spesiale KZN-oomblik herbeleef.

Kitsfeite

  • Bespreek vir middagete by Abingdon-wynlandgoed by Jane op 083 463 8503, jane@abingdonestate.co.za of besoek www.abingdonestate.co.za. Die proe word per glas bereken en wissel tussen R15 en R25. Dis nie nodig om vir wynproeë te bespreek nie, maar dit kan besig word en as jy ’n lekker vleis-en-kaasbord saam met jou proe wil geniet, is bespreking nodig.
  • Highgate-wynlandgoed bied wyne te proe aan, met of sonder kaas- of vleisborde. Daar in die lieflike proelokaal met sy herwonne bakstene, houtwerk en blokkiesvloere, kan jy ook die klein kelder en wynvate waarin die wyn verouder word, sien. Vir meer inligting, gaan na www.highgatewineestate.co.za.
  • Daar is verskeie sendingstasies wat sowat 140 jaar gelede deur die Rooms-Katolieke Kerk onder leiding van Francis Pfanner in die provinsie gebou is, en heelwat pelgrims stap daar en besoek gereeld die sendingstasies. Sommige is in ’n beter toestand as die een by Mariathal. Operateurs soos Campaign Trails (www.campaigntrails.co.za/trappist-missions) werk spesiale toere vir belangstellendes uit.
  • Verken die gewilde Midlands Meander, wat met meer as 150 lede spog met produkte en dienste so uiteenlopend as laventelolie, pottebakkerswerk en interessante kuns, waar jy kan perdry of oorbly. Bel (033) 330-8195 of besoek www.midlandsmeander.co.za.

♦ Teks: Maryke Roberts
♦ Foto’s: Clifford Roberts

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top