
Foto deur Stefan Schweihofer van Pixabay
...
Ongeag hoe jy daarna kyk, sport het in die drie dekades sedert Suid-Afrika die juk afgeskud het van ’n donker, verdelende politieke verlede, dit uitstekend reggekry om sport as ’n saambindende faktor uit te bou.
...
Die wêreld se oë was Donderdagaand, 11 Junie 2026, om 21:00 op Suid-Afrika gerig, soos wat jy nie sommer aldag sien nie, toe ons nasionale sokkerspan, Bafana Bafana, in die openingswedstryd van die 2026 Sokkerwêreldbekertoernooi teen Mexiko te staan gekom het.
En (met die skryf van die eerste paar sinne vir hierdie artikel, kort voor die afskop, kon die skrywer nie kies wat van die volgende die beste opsie sou wees nie) dit sal lank onthou word/dit was iets om te aanskou/’n belewenis. Die hoop was toe nog daar dat ons ten minste op ’n waardige wyse uit die stryd sou tree indien ons nie die wedstryd sou wen nie.
Helaas was die uitslag uiteindelik, het ek op X geskerts, “twee doele vir Mexiko en twee rooikaarte vir Suid-Afrika”. In werklikheid was dit SA 0 – Mexiko 2 (en Mexiko het self ook ’n rooikaart gekry, terwyl een van Suid-Afrika s’n op ’n twyfelagtige wyse toegeken is). Die skeidsregter se hantering van die wedstryd word ook met agterdog bejeën deur diegene wat sokker beter as die skrywer verstaan.
Hoe dit ook al sy, die aansien wat met so ’n openingswedstryd van ’n vierjarige sportbyeenkoms gepaard gaan, word nie ongedaan gemaak deur die uitslag van die wedstryd nie. Ons span was daar. Ons land se naam was in die week vooraf en gedurende die wedstryd en ook agterna op die lippe van die globale sokkergemeenskap en is oor die mikrofone van honderde radio-, TV- en aanlynkanale tot in die kleinste uithoeke gehoor. Tagtig duisend ondersteuners en sokkerbase in die stadion. Blootstelling oor alle platforms heen, ook die gedrukte en sosiale media.
En sodat ons nie vergeet nie, trots het ons Donderdagaand ook kon teruggedink aan die 2010-toernooi se openingswedstryd waarin Suid-Afrika as die gasheerland óók teen Mexiko gespeel het. Toe was ’n eerste vir die Afrika-vasteland en dit was op ons eie, anders as hierdie jaar s’n wat gesamentlik deur drie lande (Mexiko, Amerika en Kanada) aangebied word.
Die eindtelling was destyds (heel verrassend) gelykop met 1-1. Wat sou dit hierdie keer wees, het ek nog omstreeks 20:54 gewonder, terwyl ons nuutste musieksuperster Tyla, veelvuldige Grammy-wenner, die Suid-Afrikaanse nasionale lied gesing het. Teen sowat die negende minuut het die antwoord duidelik begin raak toe die tuisspan hul eerste doel (oortuigend) aangeteken het.
Maar hierdie artikel is nie bedoel om ’n week later as ’n wedstrydverslag te dien nie (en dit is in elk geval nie binne die vermoë van hierdie rugbyliefhebber nie). Die artikel wil eerder reflekteer op die mate waartoe die wedstryd – en ons algehele deelname aan vanjaar se toernooi – bydra tot die versterking (of verswakking) van Suid-Afrika se internasionale beeld. Die openingswedstryd het immers verwelkomend tot gevolg gehad dat die aandag vir ’n wyle afgelei was van die gebeure wat in die dae en weke vooraf die fokus was van internasionale nuusdekking oor Suid-Afrika, naamlik die (soms) onsmaaklike protesaksies teen veronderstelde ongedokumenteerde buitelanders. Lees my vorige bydrae oor die kwessie hier.
Hierdie keer was die wêreldwye aandag wat ons geniet het gelukkig ook nie die gevolg van ons regering van nasionale eenheid se geopolitieke gestoei met Donald Trump van Amerika nie. Ons kry nou die geleentheid om saam met ’n uitgesoekte groep lande ons sporttalent ten toon te stel ... selfs al is die atmosfeer deurtrek met Trump se teenwoordigheid weens besluite oor wie vir die doel van die toernooi toelating tot Amerika kry en wie nie ... en ons kan maar net hoop dat die aanstelling van Roelf Meyer as Suid-Afrika se nuwe ambassadeur na Washington begin vrugte dra.
Dié aanstelling is middel-April op die LitNet-podsending Wyngaard Weekliks deur die politieke kommentator Roland Henwood en die Solidariteit Beweging se hoof van buitelandse betrekkinge, Jaco Kleynhans, bespreek. Meyer sal waarskynlik tussen die BBP’s gesien word wanneer Suid-Afrika sy volgende wedstryd komende Donderdag in Atlanta teen Tsjeggië speel. Die wedstryd daarna, teen Suid-Korea, vind die 25ste plaas.
Terwyl Bafana-ondersteuners bra mismoedig en onseker oor die span se kanse vorentoe voorkom, is daar één ondersteuner wat alle hoop het dat sake beter sal verloop as met die eerste wedstryd. Dit is Gayton Mckenzie, Suid-Afrika se minister van sport, kuns en kultuur: “Ons het slegs teen Mexiko verloor,” sê hy op sosiale media. “Waarom tree sommige van julle op asof dit die einde van ons toernooi is? Watse mentaliteit is dit?” Die ewige optimistiese minister hou dan ’n les aan sy landsgenote voor: “Moet nooit vergeet nie dat ons Suid-Afrikaners is. Wanneer ander ons afskryf, skryf ons onsself in.” Bafana Bafana sál vandeesweek, voorspel hy, “talle stil maak (...) in Atlanta”.
Ongeag hoe jy daarna kyk, sport het in die drie dekades sedert Suid-Afrika die juk afgeskud het van ’n donker, verdelende politieke verlede, dit uitstekend reggekry om sport as ’n saambindende faktor uit te bou. Net soos die wêreld ons bewonder het oor die oorgang van ’n verdrukkende, uitsluitende samelewing na ’n menseregte-gedrewe, inklusiewe een, word ons toegejuig oor onder meer die Springbokke se prestasies, ons vooraanstaande gholfspelers en ons uitnemende atlete.
Wanneer ’n nasionale sportspan, soos Bafana, boonop die diverse samestelling van ons bevolking weerspieël, swart, bruin en wit, soos inderdaad die geval is met vanjaar se toernooi, onvoldoende soos wat dié verteenwoordiging mag wees, verhoog dit tog ons gevoel van landstrots – en die wêreld sien dit raak, ongeag wat die telling van ’n wedstryd mag wees.
