...
Maar as jy dit vergelyk met die land se totale bevolking wat in Julie verlede jaar deur StatsSA op 63 miljoen gestel is, is die aangetekende aantal onwettige buitelanders ’n druppel aan die emmer.
...
“‘Ongedokumenteerd’ beteken tog sekerlik ‘nie getel nie’,” merk Thabo Mbeki onlangs by ’n viering van Afrika-dag op. Die voormalige Suid-Afrikaanse staatshoof (1999–2008) argumenteer daarmee dat die organiseerders van protesoptogte en -aksies teen sogenaamde ongedokumenteerde buitelanders nie hul feite reg het nie.
Dié protesteerders gebruik gereeld die beweerde betrokkenheid van “ongedokumenteerde buitelanders” by onwettighede as beweegrede vir hul ontstoke optrede teen hul mede-Afrikane; en soms gaan dié optredes op sigself gepaard met die onwettige gebruik van eie reg, insluitend die vernietiging van private eiendom en die pleeg van moord.
Naas die geweld wat geruime tyd reeds gebiede in Gauteng en KwaZulu-Natal tref, het dié antibuitelanderssentiment nou ook na die Wes-Kaap oorgespoel. Nie slegs na die Skiereiland, waar talle aksies (en ook voorvalle van geweld) wetstoepassingsowerhede se aandag verg nie, maar ook na plattelandse gebiede.
Net die naweek nog is ’n optog in die kusdorpie Kleinmond gehou, om die draai van Hermanus, en kort nadat Mosselbaai (en Kraaifontein in Kaapstad se noordelike voorstede) om dieselfde rede die nuus gehaal het.
Nou verneem ons uit buitelandse bronne:
- Vyf Mosambiekers is na bewering oorlede (The Guardian en Aljazeera).
- Daar word na twee moorde gekyk (die BBC).
Ook GroundUp, ons plaaslike ondersoekblad, berig dat buitelanders vermoor is, maar dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
In Mosselbaai moes buitelanders vir hul eie veiligheid deur die plaaslike munisipaliteit in geheime liggings gehuisves word. Die klagte (of bewering) in laasgenoemde se geval, was dat ’n plaaslike konstruksiemaatskappy glo werk aan “ongedokumenteerde buitelanders” sou verskaf, eerder as aan plaaslike werkloses.
...
Die Suid-Afrikaanse bevolking behoort eerder meer druk op hul politieke verteenwoordigers op plaaslike-, provinsiale- en nasionaleregeringsvlak te plaas om beter diens aan hulle te lewer en om hul verkiesingsbeloftes gestand te doen.
...
Hierin is ’n kernkwessie vervat. Buitelanders word al jare lank daarvan beskuldig dat hulle die werk van arm, werklose Suid-Afrikaners “vat”. Soos altyd met sulke aannames, is die waarheid meer kompleks: Enersyds is dit bewys dat werkgewers dikwels aan buitelanders voorkeur gee omdat hulle glo bereid is om met kleiner vergoedingspakkette tevrede te wees; omgekeerd bestaan daar geen duidelike aanduiding dat dié verskynsel enige wesentlike impak op die werkloosheidsyfer het nie.
Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste rapportering wys dat werkloosheid in die eerste kwartaal van 2026 op 32,7% gestaan het. Dit is 1,3% meer as in die vierde kwartaal van 2025. In werklike getalle beteken dit meer as agt miljoen van die land se bevolking is werkloos – en dit is jongmense tot op die ouderdom van 24 wat die krisis die ergste beleef met dié dat werkloosheid vir hulle op 61% staan, aldus die StatsSA-syfers. Boonop laat die uitgebreide definisie van werkloosheid – om ook diegene in te sluit wat gewoon ophou werk soek het – die werkloosheidsyfer tot by 43,7% styg, het Business Tech berig.
Mbeki se uitspraak noop ’n mens dus om anders te dink oor die redes wat deur protesteerders vir hul aksies voorgehou word. Jy kan nie op grond van onakkurate inligting of halwe waarhede ander mense verjaag of selfs met gewelddadige optrede in gevaar stel nie.
Maar maak Mbeki se uitspraak die protesteerders se bekommernisse geheel ongeldig?
’n Nuusberig enkele dae ná sy stelling oor die definisie van “ongedokumenteerde” buitelanders, lig lesers in dat 76 000 onwettige buitelanders tussen vroeg verlede jaar en vroeg vanjaar in hegtenis geneem is. Heelwat landdroshowe op plattelandse dorpe kan ook getuig hoeveel buitelanders, uit die res van Afrika én Asië, vir sogenaamde immigrasie-oortredings in die hof verskyn.
Dit gee ’n skrefiesooginsae in die vraag oor presies hoeveel ongedokumenteerde buitelanders in Suid-Afrika tuis is. Maar as jy dit vergelyk met die land se totale bevolking wat in Julie verlede jaar deur StatsSA op 63 miljoen gestel is, is die aangetekende aantal onwettige buitelanders ’n druppel aan die emmer. Om hulle verantwoordelik te hou vir die onvermoë van die Suid-Afrikaanse staat om na sy behoeftige burgers om te sien, is onregverdig en ’n gruwelike mistasting.
Die Suid-Afrikaanse bevolking behoort eerder meer druk op hul politieke verteenwoordigers op plaaslike-, provinsiale- en nasionaleregeringsvlak te plaas om beter diens aan hulle te lewer en om hul verkiesingsbeloftes gestand te doen. Net Woensdag nog het pres Cyril Ramaphosa in sy repliek op die debat oor die presidensie se begrotingsrede die land herinner aan die komende plaaslike verkiesings op 4 November: “Five months from now,” het hy gesê, “South Africans will participate in local elections, where they will indicate how they want their municipalities to be run.”
Dit is juis die wyse waarop kiesers dié keuse in die verlede uitgeoefen het wat aanleiding gegee het tot die vrotsige dienslewering in talle munisipaliteite, asook in sommige provinsiale regerings en in nasionale staatsinstellings. Ontevredenheid oor dienslewering lei meermale tot die soort geweld wat in die onlangse verlede teen buitelanders gepleeg word, terwyl ontleders gereeld daarop wys dat dié woede eintlik uitgehaal behoort te word teen diegene wat vir dienslewering verantwoordelik is.
Uiteraard is dit nie ’n oproep vir geweldpleging nie, maar eerder ’n herinnering aan die burgers van die land dat die mag vir politieke verandering in hulle hande gesetel is – in die krag van die pen wat hulle gebruik om op stemdag ’n kruisie langs die naam van ’n party of ’n kandidaat te maak.
Reg of verkeerd stem kan uiteindelik in jou guns of téén jou tel wanneer die suksesvolle kandidate of meerderheidspartye die vertroue wat jy in hulle gestel het, moet begin eerbiedig deur hul verkiesingsbeloftes na te kom. Om jou teleurstelling op “ongedokumenteerde buitelanders” uit te haal, soms deur hulle met hul lewe te laat boet, laat politieke groepe en politici letterlik met moord wegkom.
Lees ook:
Immigrasiekrisis: Ramaphosa beloof harde optrede terwyl spanning styg
Kookpunt oor immigrasie: Regering gryp in te midde van groeiende spanning
- Fokusprent: Sarah Lötscher van Pixabay (13 Julie 2017)

