Immigrasiekrisis: Ramaphosa beloof harde optrede terwyl spanning styg

  • 0

Suid-Afrika se immigrasiedebat het hierdie week ’n nuwe en gevaarlike fase betree toe president Cyril Ramaphosa ’n omvattende verskerping van die land se immigrasie- en grensbeleid aangekondig het te midde van toenemende openbare ontevredenheid, gewelddadige xenofobiese voorvalle en dreigemente van ’n nasionale stilstand later vandeesmaand.

Tydens die presidensie se begrotingsdebat in die Nasionale Vergadering het Ramaphosa in sy toespraak openlik erken dat onwettige immigrasie ’n ernstige uitdaging vir die land geword het. Volgens hom plaas dit toenemende druk op openbare dienste, behuising, skole, gesondheidsorg en werkskepping, terwyl dit ook openbare vertroue in die staat se vermoë om sy grense te beheer, ondermyn.

“Ons moet die uitdaging van migrasie aanspreek. Wanneer dit goed bestuur word, kan dit ekonomiese groei bevorder. Ons moet egter onwettige immigrasie hanteer. Ons het gesien hoe onwettige immigrasie druk op openbare dienste kan plaas en ons pogings om ordentlike werk vir almal te skep, kan ondermyn,” het hy gesê.

Hy het terselfdertyd beklemtoon dat migrasie nie op sigself die probleem is nie.

Die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het intussen in ’n verklaring beklemtoon dat die regering reeds besig is om ’n reeks maatreëls te implementeer om onwettige immigrasie te bekamp en Suid-Afrikaners se ekonomiese belange te beskerm.

“Ons kan nie toelaat dat die probleem van onwettige migrasie nasionale veiligheid en sosiale samehorigheid bedreig nie,” het sy tydens die presidensie se begrotingsdebat gesê.

Die aankondiging volg op maande van groeiende openbare frustrasie en protesaksies wat sedert April oor verskeie provinsies versprei het. Groepe soos March and March, met ondersteuning van bewegings soos Operation Dudula, voer aan dat ongedokumenteerde buitelanders werkgeleenthede van Suid-Afrikaners wegneem, misdaad aanwakker en reeds oorbelaste staatsdienste verder onder druk plaas.

Die groepe het ’n ultimatum tot 30 Junie gestel en dreig met ’n nasionale “shutdown” indien die regering nie drasties teen onwettige immigrasie optree nie. Die veldtog kry toenemende steun in gemeenskappe wat swaar gebuk gaan onder werkloosheid, wat steeds bo die 30%-kerf staan.

Die regering se reaksie is die mees omvattende poging in jare om immigrasiebeheer op te skerp. Die Grensbestuursowerheid (GBO) sal verder uitgebou word en toegerus word met gevorderde tegnologie, insluitend hommeltuie, om grensbeheer te verbeter. Groot grensposte soos Beitbrug, Lebombo, Maserubrug, Ficksburg, Kopfontein en Oshoek is ook vir omvangryke opgraderings geïdentifiseer.

Daarbenewens beoog die regering om die elektroniese reismagtigingstelsel na internasionale lughawens en belangrike landgrense uit te brei. Die nuwe stelsel sal biometriese verifikasie gebruik om reisigers en migrante beter te monitor.

Nog ’n kernaspek van die plan is die verskerping van arbeidswetstoepassing. Volgens die regering sal sowat 10 000 arbeidsinspekteurs ontplooi word om werkplekke te ondersoek en werkgewers te vervolg wat ongedokumenteerde buitelanders in diens neem of arbeidswetgewing oortree.

Intelligensiegedrewe operasies om ongedokumenteerde migrante op te spoor, in hegtenis te neem en te deporteer sal ook uitgebrei word. Ramaphosa het terselfdertyd belowe dat korrupsie binne die Departement van Binnelandse Sake, wat dikwels beskuldig word van die onwettige uitreiking van dokumente, aggressief aangepak sal word.

Die debat oor immigrasie het reeds verreikende gevolge op gemeenskapsvlak. Die spanning het die afgelope naweek in Mosselbaai se KwaNonqaba informele nedersetting in geweld ontaard. Volgens die Mosambiekse regering is minstens vyf van sy burgers in xenofobiese aanvalle dood, terwyl nog twee in ’n motorongeluk gesterf het toe hulle van die geweld probeer vlug het.

Die SAPD het bevestig dat minstens twee Mosambiekers in die gebied dood is. Honderde mense is ontruim, talle informele wonings is afgebrand en tussen 400 en 800 Mosambiekers is direk deur die geweld geraak.

Ramaphosa het die voorvalle ten sterkste veroordeel en gewaarsku dat burgers nie die reg in eie hande mag neem nie. Hy het beklemtoon dat wetstoepassing die verantwoordelikheid van die staat bly en dat xenofobie geen plek in die Suid-Afrikaanse samelewing het nie.

Die gebeure het ook kommer in die streek laat toeneem. Mosambiek, Zimbabwe en Ghana het reeds hul kommer uitgespreek en waarskuwings aan hul burgers uitgereik.

Politieke ontleders meen die regering bevind hom in ’n uiters moeilike posisie. Aan die een kant eis miljoene werklose Suid-Afrikaners sterker optrede teen onwettige immigrasie. Aan die ander kant moet die regering waak daarteen om ’n klimaat te skep waarin vreemdelingehaat en geweld verder posvat.

Met die 30 Junie-sperdatum wat vinnig nader kom, word die immigrasiekrisis toenemend ’n toets van die regering se vermoë om die land se grense te beheer, openbare vertroue te herstel en terselfdertyd die delikate balans tussen wetstoepassing, menseregte en sosiale stabiliteit te handhaaf.

Lees ook:

Leesimpressie: Grenzend aan liefde door Karin Amatmoekrim

Suid-Afrikaners se protesaksies en geweld teen "ongedokumenteerde" buitelanders laat vrot politici met moord wegkom

Kookpunt oor immigrasie: Regering gryp in te midde van groeiende spanning

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top