Solidariteit kla oor rassisme in polisie

  • 0

Die vakbond Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) versoek om ondersoek in te stel na beweerde vals klagtes van rassisme en ander vorme van rassisme in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Die organisasie sê in ’n verklaring die versoek volg op ’n verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wat dui op sistemiese probleme ten opsigte van rassisme in die SAPD. Die verslag is ook aan die SAPD oorhandig met ’n versoek vir dringende optrede.

Foto: Unsplash.com

“Die tendens van vals klagtes van rassisme in die SAPD is ontstellend. Die verslag dui ook op die emosionele impak op slagoffers. Die SAMRK reageer kragdadig en uit eie beweging oor bewerings van rassisme en die gebruik van onaanvaarbare rasterme indien dit wit op swart is. Die SAMRK se reaksie op hierdie verslag sal ’n belangrike toets vir sy objektiwiteit wees,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Volgens Solidariteit is daar 56 gevalle van beweerde rassisme en dubbele standaarde ten opsigte van die hantering van rassisme in Oktober by Solidariteit aangemeld. Dit dui volgens hulle daarop dat lede van sekere rasse in die SAPD in ondraaglike omstandighede werk waar daar geen gevolge is vir diegene wat valse aantygings maak nie, maar wel gevolge vir die slagoffers van die leuens.

“Die bevindinge dui op ’n patroon in die wyse waarop wit SAPD-lede hanteer word: Eerstens word daar griewe en valse beskuldigings van rassisme teen wit lede ingedien nadat hierdie lede ondergeskiktes gedissiplineer het of bloot oor die feit dat hulle wit is. Daar is ook bevind dat indien die beskuldigdes onskuldig verklaar word, diegene wat onwaarhede versprei het, nie aan die pen ry nie en die beskuldigdes dan uiters negatiewe fisiese en emosionele gevolge moet dra,” sê Annelise de Vries, ʼn navorser verbonde aan die SNI.

Die verslag sal aan die SAPD oorhandig word met ʼn aanmaning om sterk op te tree teen diegene wat hierdie beweerde valse aantygings maak.

Verder het Solidariteit ook die SAMRK genader om ondersoek in te stel en stappe te doen om te verseker dat alle lede van die SAPD se menswaardigheid beskerm word.

Renate Barnard, sektorkoördineerder by Solidariteit, sê hierdie lede word deurlopend blootgestel aan ernstige aantygings en dissiplinêre optrede, asook griewe teen hulle bloot op grond van hulle ras. “Indien hierdie lede dissipline probeer toepas, word hulle valslik beskuldig van rassisme en ander ernstige wangedrag. Ondergeskiktes en kollegas word bloot op grond van hulle ras geteister, kry geen bevordering nie en word selfs gedreig dat hulle hul werk sal verloor. Dit is onaanvaarbaar dat mense blootgestel word aan dubbele standaarde en dat hul regte nie deur hul werkgewer beskerm word nie.”

Solidariteit het vroeër vanjaar ’n veldtog geloods teen beweerde vals klagtes van rassisme in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Hulle sê vals klagtes van rassisme is besig om sistemies in die polisie te raak. “Die k-woord word nou ’n wapen om dissiplinêre optrede te vermy. Dit hou ongelooflike emosionele en loopbaangevolge vir die slagoffers van die vals klagtes in. Daar moet net so ferm opgetree word teen diegene wat onaanvaarbare woorde misbruik as teen dié wat dit gebruik,” het Dirk Hermann gesê kort nadat hulle die veldtog geloods het.

Die veldtog het onder andere daarop gefokus om polisielede aan te moedig om beweerde vals klagtes van rassisme en dubbele standaarde wat ten opsigte van die hantering van rassisme in die SAPD geld, by Solidariteit aan te meld sodat ’n omvattende verslag oor die aangeleentheid saamgestel kan word. Dié verslag gaan aan die SAPD en die Menseregtekommissie oorhandig word vir optrede.

Lees ook 

Solidariteit sê k-woord word valslik misbruik

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top