Solidariteit sê k-woord word valslik misbruik

  • 0

Die vakbond Solidariteit het ’n veldtog geloods teen beweerde vals klagtes van rassisme in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hulle sê vals klagtes van rassisme is besig om sistemies in die polisie te raak.

“Die k-woord word nou ’n wapen om dissiplinêre optrede te vermy. Dit hou ongelooflike emosionele en loopbaangevolge vir die slagoffers van die vals klagtes in. Daar moet net so ferm opgetree word teen diegene wat onaanvaarbare woorde misbruik as teen dié wat dit gebruik,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Foto: Pixabay.com

’n Deel van die veldtog gaan daarop fokus om polisielede aan te moedig om beweerde vals klagtes van rassisme en dubbele standaarde ten opsigte van die hantering van rassisme in die SAPD, by Solidariteit aan te meld sodat ’n omvattende verslag oor die aangeleentheid opgestel kan word.

Dié verslag gaan aan die SAPD en die SA Menseregtekommissie (SAMRK) oorhandig word vir optrede.

Volgens Renate Barnard, sektorkoördineerder van Solidariteit, sien die vakbond al hoe meer gevalle van werknemers binne die SAPD wat ras as ’n troefkaart probeer gebruik om ’n kollega uit die organisasie te laat verwyder, dikwels juis omdat daardie kollega hulle verantwoordbaar probeer hou vir wangedrag, of poog om hulle te dissiplineer wanneer hulle hul plig versuim het, voer Barnard aan.

“Die stelsel is tans op so ’n manier ontwerp dat enige persoon wat van rassisme beskuldig word, bykans onmiddellik met wantroue, verwerping en veragting hanteer word. Dit terwyl daar weinig, indien enige, gevolge is vir diegene wat die hele tyd valse aantygings versprei. Hierdie toedrag van sake kan eenvoudig nie so voortduur nie. Deur die manier waarop die SAPD sulke sake hanteer, moedig hy net verdere verdelende, rassistiese gedrag aan en maak dit so onmoontlik vir werknemers om vreedsaam saam te werk,” meen Barnard.

Die Vryheidsfront Plus sê intussen die feit dat die SAMRK se hoof van regsdienste, Buang Jones, nie meer met die media mag praat oor die Eben Etzebeth-saak nie, bevestig die geldigheid van die party se kritiek verlede week.

Die hoofsweep van die VF+, Corné Mulder, sê in ’n verklaring die SAMRK het aan hom bevestig dat Jones se optrede in die Etzebeth-saak ondersoek word. Die party het verlede week gesê Jones se uitlatings is bevooroordeeld en voortydig.

Mulder sê die SAMRK moet sonder enige vooroordeel in die belang van al Suid-Afrika se inwoners optree, en dat die wyse waarop die SAMRK met die Etzebeth-saak omgegaan het, die indruk geskep het dat dit nie die geval is nie.

Solidariteit oorweeg ook hierdie week om die Konstitusionele Hof vir uitsluitsel te vra oor ’n saak teen die vakbond in die Arbeidshof. Solidariteit betwis die grondwetlikheid en wettigheid van regstellende aksie sowel as die Wet op Gelyke Indiensneming. Die minister van arbeid en werkskepping, Thulas Nxesi, het die Arbeidshof se uitspraak teen Solidariteit verwelkom.

Solidariteit het die Arbeidshof gevra om die regering te dwing om te voldoen aan die aanbevelings nadat die regering versuim het om dit te doen.

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, sê dit is jammer dat die Arbeidshof nie uitsluitsel oor die kwessie gegee het nie, maar meen dit is bloot ’n taktiese terugslag. Hy sê die saak gaan hoogs waarskynlik in die Konstitusionele Hof voortgesit word.

“Die SAMRK se gelykheidsverslag is nie deur die Arbeidshof ongeldig verklaar nie en die aanbevelings van die verslag is dus steeds regs-geldend. Solidariteit beplan om volgende jaar weer die Verenigde Nasie se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie te nader om die saak verder op ʼn internasionale platform te voer,” het Van der Bijl gesê.

Lees ook 

Menseregtekommissie se onpartydigheid onder verdenking

Springbokslot Etzebeth draf uit met swaard oor sy kop

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top