Die Springbokslot Eben Etzebeth sal nie net aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) moet verduidelik of hy hom aan rassisme skuldig gemaak het nie, maar staar ook strafregtelike klagtes wat deur die polisie ondersoek word in die gesig.
Ondanks die swaard van vervolging wat oor sy kop hang, is Etzebeth steeds ingesluit in die beginspan wat vandag (Vrydag) in Japan in ’n Wêreldbekerwedstryd teen Italië uitdraf.
Eben Etzebeth (Foto: YouTube)
Die wedstryd is op dieselfde dag wat die SAMRK ’n klag teen Etzebeth in die Gelykheidshof gaan lê. SA Rugby sê hy berus by die jurisdiksie van die Gelykheidshof. SA Rugby het ook bevestig dat hy met interne prosesse oor die saak besig is, maar sê die besonderhede sal nie bekendgemaak word nie omdat dit ’n interne personeelsituasie is.
Etzebeth ontken dat hy in Augustus in Langebaan betrokke was by ’n bakleiery en dat rassistiese taal teenoor bruinmense gebruik is.
Die SAMRK het bevestig dat hy Vrydag ’n klag van haatspraak teen Etzebeth by die Gelykheidshof gaan indien. Dit volg ná die beweerde voorval in Langebaan toe Etzebeth en ’n groep vriende na bewering twee mans aangerand en rassistiese aanmerkings gemaak het.
South African Human Rights Commission and Eben Etzebeth https://t.co/Xt20IpJ8sd
— Rugby Search (@RugbySearch) October 3, 2019
- Die SAMRK se volledige verklaring kan hier gelees word.
Netwerk24 berig die polisie ondersoek ook strafregtelike klagtes van crimen injuria, die onwettige rig van ’n vuurwapen en aanranding met die opset om ernstig te beseer teen die Springbokslot.
Nigel Samuels wat namens die klaers optree, het aan die media gesê die klaers, Enver Wilsnach (42) en Shiyaad Smith (21), beweer hulle het in Augustus in die vroeë oggendure verby ’n kuierplek in Langebaan gestap toe Etzebeth hulle glo die h@#tn#t-woord toegesnou het.
Daar het glo ’n skermutseling ontstaan waarna hulle na bewering ook met ’n vuurwapen teen die kop geslaan is. Die polisiedossier bevat glo ook ’n eedsverklaring van ’n vrou wat beweer Etzebeth het die vuurwapen ook op haar en ’n minderjarige kind gerig.
Die Menseregtekommissaris in die Wes-Kaap, Chris Nissen en die kommissie se regsverteenwoordiger, Buang Jones, het Donderdag Langebaan aan die Weskus besoek om uitstaande verklarings te kry oor die beweerde rassevoorval waarby Etzebeth betrokke was.
Rugby-ondersteuners is in twee kampe verdeel oor die beweerde voorval waarby Etzebeth betrokke was. Sommige meen hy behoort onmiddellik uit die Springbokspan gehaal en teruggestuur te word Suid-Afrika toe terwyl ander meen hy word reeds skuldig bevind nog voordat die saak voor ’n hof gedien het.
Intussen het die Khoisan Defiance Campaign wat Etzebeth by die SAMRK aangekla het, gevra dat die “h-woord” met verwysing na die bruin gemeenskap as haatspraak verklaar word.
Die parlement se portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur sê die saak is sensitief en moes beter hanteer word.
“Die saak kon anders hanteer word en SA Rugby en die SAMRK moet beter doen wanneer sake van dié aard hanteer word,” het die voorsitter van die komitee, Beauty Dlulane, Donderdag in die parlement gesê.
Committee Notes Row Involving Springbok Player, Eben Etzebeth https://t.co/qaVWm8TFsr pic.twitter.com/Fbu0ySg0l8
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) October 3, 2019
Dlulane sê lopende kommentaar in die media, veral gegewe die erns van die klagtes waarvan Etzebeth beskuldig word, dra geensins by om die probleem op te los nie.
“Elkeen het ’n opinie oor die saak maar dit is tyd dat die regte instansies volgens die feite handel,” het Dlulane gesê. Sy sê die komitee is besorg oor die lang tyd wat verloop het sedert die beweerde voorval.
Sport24 berig dat SA Rugby met die owerhede saamwerk maar nog nie oorweeg het om Etzebeth huis toe te stuur nie. “Hulle het ons nie gevra om hom terug te stuur nie en hy is ook nog nie eers formeel aangekla nie,” het SA Rugby se president, Mark Alexander, gesê.
Lees ook
Buro: MvH