Menseregtekommissie se onpartydigheid onder verdenking

  • 0

Die SA Menseregtekommissie (SAMRK) gooi nou ernstig wal teen beskuldigings dat hulle besig is met ’n heksejag teen witmense.

Dit volg ná verskeie beskuldigings in die media dat die SAMRK nie alle Suid-Afrikaners gelyk behandel wanneer daar klagtes van haatspraak ingedien word nie.   

Die kommissie se geloofwaardigheid het opnuut onder skoot gekom by ’n groot deel van die publiek oor hulle hantering van die saak teen die Springbokslot Eben Etzebeth. Die laaste paar dae word die nuus in Suid-Afrika oorheers deur aanklagte van rassisme teen Etzebeth en ander Springbokke.

Selfs die voorsitter van die parlementêre komitee oor sport, Beauty Dlulane, het die SAMRK se hantering van die Etzebeth-geval in die parlement gekritiseer.

Dit is veral die kommissie se hoof van regsdienste, Buang Jones, wat onder ernstige kritiek deurloop.

Netwerk24 se dagblaaie Die Burger, Beeld en Volksblad het die SAMRK Dinsdag in ’n striemende hoofartikel daarvan beskuldig dat die kommissie sy geloofwaardigheid in die gedrang bring met sy “verstommende hantering” van die Etzebeth-saak.

Die koerante sê die SAMRK het só in die strik getrap dat sy hantering van die kwessie net so omstrede geword het soos die voorval waarby Etzebeth na bewering betrokke was.

“Dit begin amper lyk asof hy (die SAMRK) as ’n soort strukturele boendoehof optree en enige behoorlike ondersoekproses wil vooruitloop,” skryf die koerante in die hoofartikel.

Gemoedere is verder opgejaag toe dit bekend geword het dat die klaers in die sogenaamde Langebaan-voorval waarby Etzebeth vermoedelik betrokke is, nou ook meer as R1 miljoen skadevergoeding van hom eis.

Etzebeth self ontken ten sterkste dat hy enige iemand beledig of aangerand het.

Vrye Weekblad se redakteur Max du Preez het Maandag in sy gereelde nuusbrief per e-pos ook na die saak verwys. Du Preez sê dit lyk asof daar elemente is wat graag wil hê die Springbokke moet deur ’n rasseskandaal getref word. Ná die laaste wedstryd het Makazole Mapimpi na ’n groepie uitbundige spelers gestap, net om om te draai en weg te loop.

“Daar is in die sosiale media beweer hy is weggejaag omdat hy swart is. Sy verduideliking in ’n video dat dié groepie impakspelers was, wat gewoonlik ’n oorwinning op hul eie vier, is deur baie in die sosiale media verwerp. Die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, het dieselfde verduideliking gegee, maar is van toesmeerdery beskuldig.”

Die vuurvreter ANC-politikus Carl Niehaus het verdere olie op die rassevuur gegooi toe hy ’n videogreep uit 2018 op Twitter gedeel het van die Springbokke net voor die sing van die nasionale liedere voor die wedstryd teen Wallis. Hy het uitgewys dat Jesse Kriel vir Mapimpi wegstoot omdat hy glo nie langs hom wil staan nie. “Bloody racists!” het Niehaus uitgevaar.

Verduidelikings dat die voorval niks met rassisme te doen gehad het nie en dat daar vooraf bepaal word wie staan waar is deur Niehaus as “oneerlike verskonings” afgemaak.

Niehaus se kritici het teruggekap en foto’s op Twitter geplaas waar wit en swart Springbok-rugbyspelers mekaar na ’n wedstryd omhels en gesê dit bewys daar is eenheid in die span en dat gerugte van rassisme by die Bokke kwaadwillig is.

Die SAMRK het Dinsdag probeer om die beskuldigings teen hom in die kiem te smoor en gesê hulle maak gereed om ook die leier van die EFF, Julius Malema, en die leier van die BLF, Andile Mngxitama, weens beweerde rassisties uitlatings teen witmense te vervolg.

Jones het gesê die kritiek waaronder die SAMRK deurloop, naamlik dat hy gou is om witmense te vervolg, maar traag is om teen swart Suid-Afrikaners op te tree wat hulle skuldig maak aan haatspraak, is ongegrond.

Lees ook

Springbokslot Etzebeth draf uit met swaard oor sy kop

Eben Etzebeth en die tragedie van die vrou

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top