Spanning bou op vir Maandag se "landwye stilstand"

  • 0

Spanning is besig om op te bou in die aanloop tot Maandag se beplande landswye stilstand wat deur die EFF gereël word.

Die regering, politieke partye en burgerlike organisasies het almal gebeurlikheidsplanne daargestel om te verhoed dat die protesaksie handuit ruk en tot plundering en geweld aanleiding gee.

Die EFF eis ook die bedanking van Cyril Ramaphosa en ’n einde aan beurtkrag.

Die DA sê dit sal ’n fout wees om die skade te onderskat wat die EFF se dreigende aksie  aan besighede en werkers kan aanrig.

Ian Cameron, die drukgroep Action Society se direkteur van veiligheid, het op Twitter gesê die EFF se nasionale stilstand is ’n daad van terrorisme teen die mense van Suid-Afrika as dit enige geweld en intimidasie insluit.

Cameron sê dit sal nie anders wees as Nehawu se staking nie, wat ’n klimaat geskep het waarin mense gesterf het, deur gesondheidswerkers vir hulle persoonlike voordeel te intimideer.

AfriForum is van mening dat die EFF se poging om die hele land Maandag tot stilstand te bring, sal misluk. Hulle meen dit is meer blaf as byt. Die organisasie sê in ’n verklaring hulle meer as 160 plaaslike buurtwagte is wel op bystand om saam met ander veiligheidsrolspelers gemeenskappe in woonbuurte te help beskerm in gevalle waar daar wel ontwrigtings mag plaasvind.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, is die organisasie se duisende buurtwagvrywilligers gereed om met die talle hommeltuie en ’n veelheid ander veiligheidstoerusting binne die raamwerk van die wet in woonbuurte op te tree, sou omstandighede dit vereis.

Die Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie, Saftu, het by monde van sy hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, gesê die vakbond steun die protesoptrede en sal sy lede aanmoedig om daarby aan te sluit.

Die SA Nasionale Taxiraad (Santaco) weier egter om Maandag aan die EFF se beplande stilstand deel te neem en sê die ekonomie “is reeds deurmekaar en ons wil nie meer brandstof op die vuur gooi nie".

Die vakbond Solidariteit het Donderdag aan meer as 1 200 maatskappye waar hy georganiseer is, ’n skrywe gestuur en sê sy lede sal Maandag vir werk opdaag en dat daar verwag word dat hulle moet oop wees sodat Solidariteit-lede kan werk.

Solidariteit sê in ’n verklaring die land kan nie bekostig om ’n dag se ekonomiese aktiwiteit te verloor nie. Dit sal werk verder bedreig.

In sy skrywe moedig Solidariteit werkgewers ook aan om Julius Malema in sy persoon en die EFF sivielregtelik aanspreeklik te hou vir enige skade wat aangerig mag word. “Regspraak daaroor is duidelik en dit sal moontlik wees om ’n direkte verband tussen Malema se aanhitsing tot geweld en die geweld wat wel plaasgevind het, aan te toon. Een skadevergoedingseis kan Malema en die EFF bankrot maak,” sê Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann.

Die DA het reeds die hof genader om te verseker dat die EFF voldoen aan die voorwaardes van permitte wat uitgereik is deur munisipaliteite wat toestemming vir vreedsame protes gegee het.

“Ons het ’n hofinterdik aangevra om te verseker dat die EFF-leierskap alle intimidasiebriewe wat hulle uitgereik het, formeel terugtrek,” sê Jan de Villiers, DA-skaduminister van kleinsake-ontwikkeling, in ’n verklaring.

Hy sê die EFF se “roekelose en onverantwoordelike optrede is ’n tikkende tydbom” wat wydverspreide chaos en vernietiging kan aansteek. “Hul optrede is nie net ’n bedreiging vir openbare veiligheid en die oppergesag van die reg nie, maar ook vir die lewensbestaan ​​van talle individue. Die koste verbonde aan potensiële onrus is onmeetbaar, soos gesien in die verlies van R70 miljard wat klein ondernemings in eThekwini alleen tydens die 2021-onluste gely het.”

Die regering sê Maandag is ’n normale werksdag en alle inwoners, besighede en eiendom sal beskerm word.

Die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het diegene wat Maandag aan die EFF se beplande protesoptrede deelneem, gewaarsku om nie tot openbare geweld en intimidasie oor te gaan nie. Sy sê die hoogste gesag in Suid-Afrika is die Grondwet, en daarom sal geen vorm van anargie geduld word nie.

Lees ook:

EFF se nasionale stilstand bedreig lewens, sê DA

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top