Op 27 Oktober is ’n virtuele vergadering gehou waartydens Frans Hinskens van die Meertens Instituut verslag gedoen het oor hul ondersoeke na die “Staat van het Nederlands” in Nederland, die Vlaamse gebied van België, Suriname en ook Friesland. Die Meertens Instituut is ’n afdeling van die Koninklijke Nederlandse Akademie van Wetenschappen (KNAW).
Die instituut bestudeer die diversiteit in taal en kultuur in Nederland, veral dan gefokus op faktore wat ’n rol speel in die bepaling van sosiale identiteite in die Nederlandse samelewing. Dit word bereik deur ’n strukturele, dialektologiese en sosiolinguistiese studie van taalvariasie in Nederlands in Nederland; dié studie kyk dan ook oor die landsgrense heen om die staat van Nederlands in ander lande en streke te bepaal.
In hierdie studie is ook gekyk na die taalkeuses wat mense in Suriname in hulle alledaagse handel en wandel maak; dít is weer vergelyk met dié van mense in Nederland en dié van Vlaminge terwyl die Friese ook as ’n aparte groep ingesluit is. Veel moeite is ook gedoen om sprekers van streekdialekte in te sluit en om ook hulle perspektiewe te hoor.
Die stand van Nederlands is aan die hand van die volgende kategorieë ondersoek:
- sosiale omgang, binne en buite die huis
- by die werk – hoe daar intern en ekstern gekommunikeer word
- nuus, beide in gedrukte vorm en aanlyn
- kultuurbelewing deur musiek, televisie en boeke
- onderwys, van die begin tot op tersiêre vlak
- die wetenskap, hoe daaroor gekommunikeer word oor die wetenskap, en hoe dit onderrig word.
Die laaste punt is veral relevant vir die instituut se interne bestaan, aangesien die KNAW sigself sien as “het forum, de stem en het geweten van de wetenschap in Nederland”.
Hinskens het egter verduidelik dat die ondersoek deel vorm van ’n groter Unesco-program waarin daar veral gekyk word na die manier waarop enige taal van een generasie na ’n ander oorgedra word, veral dan in veeltalige lande.
...
Vir Unesco is dit belangrik om te weet wat die houding van sprekers van enige taal oor hul eie taal is, want dit bepaal hoe hulle dit aan latere generasies sal oordra en hoe hulle dit in die alledaagse omgang sal gebruik, al dan nie.
...
Vir Unesco is dit belangrik om te weet wat die houding van sprekers van enige taal oor hul eie taal is, want dit bepaal hoe hulle dit aan latere generasies sal oordra en hoe hulle dit in die alledaagse omgang sal gebruik, al dan nie.
In 2016 is hierdie studie in Nederland van stapel gestuur sodat dat Nederlanders se idees en houdings oor hulle taal as die vetrekpunt, of “nulmeting” in Hinskens se mond, kan dien.
In 2018 is hierdie studie toe uitgebrei om Suriname in te sluit en veel meer klem is op dialekte en streekstale gelê. Laasgenoemde sal ook belangrik wees sou so ’n studie na Suid-Afrika kom, want “Nederlands” is gewoon as sambreelterm in die 2018-studie gebruik. In die 2016-studie is daar naamlik bevind dat heelwat Nederlanders aanstoot geneem het as hul streekstaal of dialek nie formeel erkenning gekry het nie; Hinskens het gewaarsku dat Suid-Afrika dit in ag moet neem sou ons ’n soortgelyke studie wou doen vir die stand van Afrikaans.
Soos reeds genoem, is “Nederlands” in die 2018-studie bloot as sambreelterm gebruik; aan deelnemers is gevra: “Spreekt u een dialect of iets tussen het Nederlands en het dialect in?”
Een derde van Nederlanders het “ja” geantwoord op hierdie vraag. Onder die Friese was die persentasie effens hoër. Onder die Vlaamse bevolking het twee derdes “ja” geantwoord, hoewel deelnemers uit Brussel, wat ’n internasionale stad is, heelwat minder “ja” gesê as hulle Nederlandstalige landgenote wat buite Brussel bly.
In Nederland en België het 11 dialekte en streekstale beduidende “ja”-antwoorde getrek, waarvan Limburgs op 15,5% die grootste was, met Brabants op 6,8% in die tweede plek.
Maar wat van tale wat sosiaal gebruik word buite die huis? Onder die ouer garde is Nederlands oorweldigend die taal waarmee hulle die wêreld in die oë kyk, terwyl Engels ook besig is om naas Nederlands ’n omgangstaal te word onder jonger mense. Van belang is dat Fries ’n sterk opbloei toon onder jonger sprekers wat daarop begin aandring om hulle taal ook buite gesinsverband te gebruik. In België groei die gebruik van Engels en veral Frans buite gesinsverband, ook wanneer die getalle met 2016 se syfers vergelyk word.
Selfs op die sosiale media word die streekstale en dialekte al hoe meer gebruik, terwyl die gebruik van Engels op Facebook in Nederland en in Friesland gedaal het.
Hoe staan sake in Suriname?
Dié land, die kleinste in Suid-Amerika, het eers in 1954 onafhanklik geword. Nederlands is steeds hul amptelike taal. Soos in Suid-Afrika is daar ’n groot persentasie van die bevolking wat uit Java en Maleisië kom.
Naas Nederlands word Sranantongo en Sarnami ook sosiaal gebruik, maar Nederlands bly die dominante omgangstaal, ook tussen mense in hulle privaat ruimtes. Slegs 8% van die sprekers wat Sranantongo praat, gebruik dié taal uitsluitlik in hulle omgang met ander. Die oorgrote deel van die Surinaamse bevolking wissel dus hulle tale na gelang van hul omgewing.
Op kulturele vlak sal mense in Suriname gereeld films in Engels of Hindi kyk, terwyl hul musiekkeuses ook Engels en Hindi insluit. Die meeste lees egter graag Nederlandstalige boeke.
By die werk is die amptelike omgangstaal gewoonlik Nederlands, hoewel Sranantongo baie dikwels vir mondelinge interne kommunikasie gebruik word en Engels baie gereeld vir eksterne, skriftelike kommunikasie.
Hinskens het sy praatjie afgesluit met ’n blik op Nederlands as onderrigtaal.
Anders as in Suid-Afrika, het Engels glad nie oorgeneem as onderrig taal nie. Geen instansie in Suriname het byvoorbeeld gemeld dat hulle uitsluitlik Engels gebruik nie. Hoewel Nederlands steeds die oorweldigende keuse is vir die taal van onderrig, is talle sprekers egter gemaklik daarmee om ook ander tale naas Nederlands toe te laat in die onderrig van nietaalvakke.
Conrad Steenkamp, die hoof van die Afrikaanse Taalraad, het hierdie vergadering aangevra sodat Hinskens die nuutste navorsing met ’n aantal Suid-Afrikaanse belangstellendes kan deel. Steenkamp het tydens vraetyd genoem dat dit goed sou wees om soortgelyke ondersoeke na die stand van tale in Suid-Afrika te doen en Hinskens het gesê dat die Meertens Instituut bereid sal wees om hulle instrumente én kundigheid met ons te deel.
By navraag het Eureka Barnard, die bestuurshoof en projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) in Kaapstad, bevestig dat hulle ook graag vennootskappe sal aangaan om sodanige studies van stapel te stuur.
- Bron illustraties: https://www.
atlasvandenederlandsetaal.com/ content/de-staat-van-het- nederlands-2017-en-2019
Lees ook:
Afrikaanssprekendes wat buite Suider-Afrika woon: ’n onderhoud
- Grafika is deur die Meertens Instituut verskaf.