Stem sommer bo-oor tuinhekkies

  • 0

Soos vroeër hier berig is, kry belangepartye môre geleentheid om voorleggings aan die Konstitusionele Hof te doen oor of vanjaar se plaaslike verkiesing moet voortgaan.

Dié datum is vir 27 Oktober deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) vasgestel, in ooreenstemming met die grondwetlike voorskrif dat verkiesings binne 90 dae vanaf die verstryking van ’n vyfjaartermyn moet plaasvind.

Maar sedert einde 2019 is die wêreld vasgevang in ’n ongekende pandemie – en die vraag is nou of ’n vrye en regverdige verkiesing te midde van die Covid-situasie sal kan plaasvind. Hieroor is daar basies twee menings: dié van die onafhanklike ondersoeker Dikgang Moseneke, afgetrede adjunkhoofregter, dat dit nie haalbaar is nie, en dié van die amptelike opposisieparty (DA) en ander dat dit wel moontlik is.

Moseneke stel ’n uitstel tot Februarie volgende jaar voor, maar enige uitstel sal ’n verandering aan die Grondwet verg. Die OVK het daarom die land se hoogste hof vir ’n beslissing genader, terwyl die kommissie terselfdertyd aandui dat dit gereed sal wees om met ’n verkiesing voort te gaan indien die uitstelaansoek ongeslaagd is. Steun vir uitstel kom vanaf die ANC, wat sowel die nasionale regering as die oorgrote meerderheid van plaaslike rade beheer, asook onder meer van die EFF.

Die DA en ander opposisiepartye huldig saam met burgerlike organisasies soos AfriForum en die OneSA-beweging van Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, die standpunt dat een keer se uitstel van ’n verkiesing moontlik kan lei tot ’n volgende én ’n volgende én ’n volgende uitstel deur regeringspartye, sonder grondige redes, maar gewoon as ’n taktiek om magsverlies te probeer uitstel of voorkom.

In die algemeen bestaan daar ook onsekerheid of die stand van Covid-infeksies noodwendig in Februarie laer sal wees as wat dit na verwagting teen einde Oktober sal wees. Suid-Afrika bevind hom tans in ’n derde vlaag van die pandemie, maar hoewel die statistieke ’n week gelede ’n klein daling getoon het, is daar pas weer ’n effense styging aangemeld.

Die situasie bly dus vloeibaar; en intussen is daar slegs maar twee maande oor vir partye om hul verkiesingsveldtogte te voer - dit is met die veronderstelling dat die verkiesing wel op 27 Oktober sal voortgaan.

Tans sien ’n mens egter weinig verkiesingsaktiwiteite. Net hier en daar enkele plakkate. “Gatvol vir politiek?” lui die steunwerfboodskap van Action SA, wat deur die voormalige DA-burgemeester in Johannesburg, Herman Mashaba, gestig is. Die DA lok kiesers met sy fokus op dienslewering. Dat die ANC se rekord beroerd is, is gewis, maar of die DA in die algemeen as meer effektief beskou word waar dit aan die stuur van sake is, word ook soms betwyfel.

Die argument oor die Grondwet se bepaling dat verkiesings elke vyf jaar moet plaasvind, tensy ’n tweederdemeerderheidsbesluit in die parlement ’n grondwetlike verandering hieroor teweeg bring, is egter net die een helfte van die rede waarom opposisiepartye volhard met hulle aandrang daarop dat die verkiesing moet voortgaan. Die ander helfte van die waarheid is dat hulle meen die ANC se interne konflik of faksiegevegte, onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, en gereelde diensleweringsproteste in ANC-gebiede, die party in ’n verswakte posisie stel waaruit opposisiepartye voordeel kan trek.

Stempatrone dui egter daarop dat lojale ANC-ondersteuners nie sommer hul kruisie agter die name van ander partye trek nie, of ten minste nie tot so ’n mate dat ’n opposisieparty ’n volstrekte meerderheid kan verkry nie. In die vorige verkiesing, in 2016, is die ANC wel behoorlik die skrik op die lyf gejaag toe die DA saam met ander partye die beheer in onder meer Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai oorgeneem het. Dit het (positief beskou) die potensiaal van koalisiepolitiek aangedui, maar het in dieselfde mate (negatief beskou) die onstabiliteit ontbloot wat meegebring kan word wanneer die koalisievennote oor beleids- of veral begrotingsbesluite koppe stamp.

Munisipale dienslewering in Suid-Afrika is ’n kwessie wat daagliks ter sprake kom op geselsprogramme op radio, aktualiteitsprogramme op televisie, in die briewekolomme van koerante en om die vleisbraaivure. Hoewel uitsonderings bestaan, gaan dit beroerd in die meeste gevalle. Probleme met water- en elektrisiteitsvoorsiening, vullisverwydering, riool en gebrekkige herstelwerk aan infrastruktuur is in sommige gebiede so algemeen soos die honderde slaggate waarvoor motoriste gedurig moet uitswenk.

Die situasie is dus in die algemeen onuithoudbaar. Dit is waarom plaaslike verkiesings noodsaaklik is. Nie dat daar enige waarborg is dat wesentlike verandering daarmee saam sal kom nie. Hoe gemaak? Groot en kleiner partye sal kragte moet saamspan – óók met die verwagte toename in onafhanklike kandidate – om beheer oor te neem daar waar dienslewering tot stilstand gekom het. Selfs Cyril Ramaphosa het kiesers dit onomwonde op die hart gelê dat hulle doodeenvoudig partye wat nie die mas opkom nie, moet uitstem. Die ironie is dat al tien vingers na sy eie party wys.

Maar die vraag is steeds of dit wenslik en wys sal wees om wel met 27 Oktober se plaaslike verkiesing voort te gaan te midde van die Covid-pandemie. Ek sê ja. Ons het die afgelope anderhalf jaar geleer om in alle opsigte aanpassings te maak aan hoe ons werk, besigheid, skool, kerk en sosiale lewe vóór die pandemie geken het. Ons het geleer hoe om met streng (en soms selfs onbesonne) inperkingsmaatreëls oor die weg te kom. Sanitasie en sosiale distansiëring het ’n lewenswyse geword, soos ook inentings tans; maar alhoewel mens in al drie gevalle teenstand teëkom, stu die meerderheid voort.

Net soos wat ons egter nie weet wat die toekoms in terme van die pandemie inhou nie, is dit ook ’n raaiskoot oor watse regeerders ons vorentoe in die land sal hê. Indien dié hulle nie te veel aan grondwetlikheid steur nie (en in die Jacob Zuma-era was ons op die rand van die afgrond daarvan), kan die uitstel van verkiesings meer gereeld as wat ons sou wou hê, ter sprake kom.

Die verkiesing moet dus voortgaan – al is dit net om aan die burgery die geleentheid te gee om hul grondwetlik-verskanste reg uit te oefen. Uiteraard is daar, omgekeerd, geen waarborg dat kiesers wel na die stembusse sal opruk op verkiesingsdag nie. Dit sal dus vindingrykheid van die OVK en partye verg om ’n goeie opkoms te verseker.

Hier is ’n voorstel: Gebruik minibustaxi’s as mobiele stembusse om OVK-verkiesingsbeamptes (saam met partywaarnemers) rond te neem en kiesers toe te laat om sommer bo-oor hul tuinhekkies hul stemme uit te bring.

Lees ook:

Konstitusionele Hof het laaste sê oor uitstel van verkiesing

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top