Steve Hofmeyr dok R100 000 op en vra LGBTQI+-gemeenskap verskoning

  • 0

Die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr se omstrede uitlatings oor die LGBTQI+-gemeenskap het hom R100 000 uit die sak gejaag, asook ’n onvoorwaardelike openbare verskoning wat hy op sosiale media moes plaas.

Die saak teen Hofmeyr spruit uit kommentaar wat in April 2022 deur hom op sosiale media gemaak is met betrekking tot die LGBTQI+-gemeenskap. Hy het daarop gesinspeel dat LGBTQI+ ook bestialiteit kan insluit.

Hofmeyr se uitlating dat die nuwe generasie se kinders geleer gaan word om seks te hê met muise, eende en honde indien die LGBTQ+-gemeenskap hul sin kry, het destyds ’n yslike storm ontketen.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het verlede jaar November regstappe ingevolge die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 2000 ingestel teen Hofmeyr, wat gebaseer was op sy kommentaar met betrekking tot die LGBTQI+-gemeenskap in April 2022.

Dit het gevolg nadat hy en die MRK aanvanklik nie op mediasie kon ooreenkom nie en die saak teen hom uitgestel is tot 16 Februarie vanjaar.

Die MRK sê  in ’n verklaring hulle glo dat hierdie skikking die belangrikheid van die bevordering en beskerming van die regte van alle individue versterk, ongeag hul seksuele oriëntasie, geslagsidentiteit of enige ander persoonlike eienskap.

Die ooreenkoms wat tussen die twee applikante (die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en OUT LGBT Well-being) en Hofmeyr bereik is, is op Maandag 13 Maart 2023 ’n bevel gemaak van die Gqeberha-Hooggeregshof, wat as die Gelykheidshof sit.

Hofmeyr het op Facebook erken dat die opmerkings wat tot die Gelykheidshofverrigtinge gelei het, skadelik was vir lede van die LGBTQI+-gemeenskap.

“Ek betreur die seer en aanstoot wat veroorsaak is as gevolg van die opmerkings en vra onvoorwaardelik om verskoning aan lede van die LGBTQ+-gemeenskap sowel as enige ander lid van die publiek wat aanstoot geneem het deur my kommentaar.”

Hy sê sy prokureur het hom meegedeel dat die klag wat deur die MRK en OUT LGBT Well-being ingedien is, dienooreenkomstig afgehandel is en dat die skikking ’n bevel van die Gelykheidshof gemaak sou word.

Hofmeyr sê in sy verskoning sy opmerking oor die LGBTQI+-gemeenskap het baie ontsteltenis in baie kringe veroorsaak.

“Gedurende die afgelope 11 maande is baie gesê en Gelykheidshofverrigtinge het gevolg oor ’n video wat ek op my Facebook-profiel geplaas het waarin ek onder andere ’n beleidsbesluit deur die internasionale mediamaatskappy Walt Disney Incorporated gekritiseer het vir laasgenoemde se besluit om seksuele identiteite aan hul rolprentkarakters toe te skryf.”

Hofmeyr se ondersteuners was nie almal so in hulle skik met die verskoning wat hy moes vra nie en het op sy Facebook-bad daarteen uitgevaar.

Sarel Aucamp wou weet: “Maar hoekom moet ons bly onverskooning (sic) vra vir iets waaraan ons glo. Hoekom moet ons bly onverskooning (sic) vra vir iets waarby ons staan. Hoekom moet ons bly onverskooning (sic) vra vir wie ons is (hulle vra nie onverskooning (sic) om my en my kiddies se waardes aan te tas nie.”

Linda Grove Steyn skryf dit is jammer vryheid van spraak is net vir sekere mense bedoel. “Hierdie land is siek. Jammer Steve word altyd in die diep kant ingegooi. Ons staan by jou. Dankie vir wat jy vir ons land en mense beteken. Meeste respek vir jou.”

OUT LGBT Well-being sê in ’n verklaring hulle is bly dat die saak afgehandel is met Hofmeyr wat erken dat wat hy gesê het, duidelik verkeerd was. “Die reg op vryheid van spraak kan nie gebruik word om ’n gemeenskap te demoniseer met vals en haatlike stellings wat help om ’n stigmatiserende, gevaarlike en soms dodelike omgewing te skep nie,” sê Dawie Nel, uitvoerende direkteur van OUT.

Lerato Phalakatshela, die Menseregtebestuurder by OUT LGBT Well-being, sê: “Ons hoop dat die uitkoms van hierdie saak grootmense sal help besef dat die plasing van haatspraak op sosiale media gevolge het en nie geduld sal word nie. Ons doen ook ’n beroep op lede van die LGBTIQ+-gemeenskap om van die Gelykheidshowe gebruik te maak as ’n relatief eenvoudige meganisme om voorvalle van haatspraak en diskriminasie aan te spreek.”

Lees ook:

Wat beteken die + in LGBTQIA+?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top