Storie van Pinotage is vervleg met vriendskap en pioniersgees

  • 0

Op die spyskaart is die 1997-Clos Malverne, -Grangehurst en -Hidden Valley as eerste wynvlug. Van die wyne se laaste bottels word uitgeskink. Mens voel nietig.

Die bekende gesegde van John Donne lui dat geen man ’n eiland is nie. Dis waar vir die storie van Pinotage wat vanjaar 100 jaar oud is; Clos Malverne as eie etiket wat 40 jaar gelede om ’n Kerstafel bedink is; en wynmakers wat by mekaar die fakkel oorgeneem het en steeds bykans vyf dekades later vervleg is. Dis ook waar van Stellenbosch Wynroetes wat 55 jaar gelede gestig is en ’n ruimte vir wynmakers geskep het om uit te blink, met stewige fondamente.

Dis nie aldag dat jy ’n bekende wynkelder se hele geskiedenis saam met die eienaars en die wynmakers wat daarby betrokke was, kan geniet en wyne van bykans 30 jaar oud saam met hulle kan proe nie.

Maar eers ’n bietjie agtergrond oor Pinotage en waaroor die opgewondenheid oor dié druifkultivar nou eintlik gaan. Dit was in Oktober ’n eeu sedert Abraham Izak Perold twee kultivars, Cinsault (toe bekend as Hermitage) en Pinot Noir, gekruis het om ons eie unieke Pinotage te kry.

Beyers Truter van Beyerskloof en voorsitter van die Pinotage Assosiasie was een van die aand se gaste.

Dié geskiedkundige kruising het in November 1924 gebeur, maar soos die Pinotage-pionier, Beyers Truter van Beyerskloof en voorsitter van die Pinotage Assosiasie, vertel: “My ma-hulle het nie die nag – nege maande voor ek die eerste lig gesien het – geskree Beyers! nie. Dieselfde met Pinotage. Die kruising van die saad was in 1924, maar die magic is in Oktober 1925 gebore, toe die pitte ingesamel is en uitgeplant is om te ontkiem.”

Perold, die eerste professor in Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch, wou ’n druifkultivar eie aan Suid-Afrika hê. Met sy talle reise ontdek en vors hy omtrent 177 verskillende kultivars na, maar nie een geval hom nie.

Hy besluit toe om deur middel van kruising ’n nuwe druifkultivar, wat goed aangepas is by die Suid-Afrikaanse klimaat en grond, daar te stel. Dis gedoen deur die stuifmeel van die een kultivar met ’n kwassie op die blom van die ander kultivar te plaas.

Sy eksperimente kom tot uitvoer toe hy die gewilde Franse Pinot Noir (as die stuifmeelouer) met die minder bekende Hermitage (as die blomouer) kruis. Hy plant vier stokke in sy agterplaas by sy huis in Welgevallen. Hy los die stokke daar toe hy in 1928 ’n pos by KWV aanvaar, maar danksy ’n ywerige jong akademikus, Charlie Niehaus, wat die stokke red en in Stellenbosch herplant, hou die Pinotage-erfenis aan.

Perold sterf egter voor hy wyn van dié druiwe kan proe, maar danksy die ingryping van ene Theron, ook ’n hoogleraar aan die Universiteit Stellenbosch, word nog stokkies geplant en in 1941 maak CT de Waal die eerste vat Pinotage.

Die tweede vlug is die 2007-Clos Malverne en -Grangehurst Pinotages.

Die De Waals van Uiterwyk (nou De Waal Wyne) – familie van CT – plant in 1950 ook Pinotage en maak vandag nog van daardie blok wyn, Top of the Hill Pinotage.

Natuurlik is daar nie van daardie oorspronklike stokke van Perold oor nie. Wat wel behoue gebly het, is ’n 2,5 hektaar blok bosstokke op Bellevue-wynlandgoed buite Stellenbosch waaruit die land se eerste kommersiële Pinotage gemaak is. Dit word nog vandag in bekroonde wyne gebruik.

Dit bring ons by ’n soel November-somersaand by Clos Malverne in die Devonvallei buite Stellenbosch om die eeuwording van Pinotage met verskeie ouer wyne te vier. Maar die viering strek soveel wyer: na vriendskappe en samewerking wat die afgelope 40 jaar van die land se beste Pinotages gelewer het.

Die wynmakers en eienaars en vriende wat in die weefsel van Clos Malverne vervleg is. Van links is IP Smit, Suzanne Coetzee, Jeremy Walker, Guy Webber, Dave Hidden, Sophia en Seymour Pritchard en Charl Coetzee.

By ’n langtafel – amper soos die hooftafel by ’n troue – sit die wynmakers wat in die weefsel van Clos Malverne vervleg is. Guy Webber, Dave Hidden, IP Smit, Suzanne Coetzee, Jeremy Walker en Charl Coetzee. Elkeen van hulle het al diep spore getrap in en bygedra tot die sukses van die Stellenbosch Wynroete en elkeen het al verskeie wyne in die gesaghebbende Platter-wyngids gehad.

Nie ver van die wynmakers nie sit die eienaars van Clos Malverne, Seymour en Sophia Pritchard.

Die nostalgie is diep; die geleentheid spesiaal én raar.

Amy Brandt, proelokaalbestuurder, en haar span gooi die verskillende ouer oesjare en elke wynmaker vertel meer.

Op die spyskaart is die 1997-Clos Malverne, -Grangehurst en -Hidden Valley; die 2007-Clos Malverne en -Grangehurst; die 2009-Clos Malverne en -Grangehurst; en die 2011-Clos Malverne en -Grangehurst Pinotages. Van die wyne se laaste bottels word uitgeskink. Mens voel nietig.

Die son sak in skakerings van pienkblou en oranje oor die berge in die verte en het Seymour en Sophia herinner aan die golwende heuwels van Malvern in die Verenigde Koninkryk, en dis waar die plaas se naam vandaan kom.

Ons kry bietjie agtergrond oor waar die eerste drade verweef is.

Suzanne Coetzee (keldermeester: Clos Malverne) en Jeremy Walker (voormalige Clos Malverne-wynmaker en nou eienaar van Grangehurst Wines).

Jeremy Walker is eerste aan die woord: Hy en Beyers – ook bekend as Suid-Afrika se Pinotage-koning en ook een van die aand se gaste – het in 1974 saam Wingerd- en Wynkunde by Stellenbosch studeer.

Jeremy ontmoet Seymour in 1983 tydens ’n skivakansie in Oostenryk.

Teen 1985 het Clos Malverne reeds vir verskeie jare sy druiwe aan Stellenbosch Farmers’ Winery verskaf. Tydens ’n Kersaand-braai in 1985 het hy aan Seymour voorgestel dat hulle wyn van Clos Malverne se eie druiwe maak. “Jy het die druiwe; ek het Wynkunde geswot. Kom ons probeer.

“Seymour is ’n entrepreneur in murg en been en het ingestem. Maar ons het baie min toerusting gehad en ’n vriend van my wat by Bertrams (nou JC le Roux) werk, sê ons kan na-ure hul kelder gebruik.

“800 bottels Cabernet Sauvignon is in 1986 vervaardig. Die 1987-oesjaar was só bemoedigend dat Seymour besluit het om voltyds in wynmaak onder sy eie etiket te belê. Die Cabernet Sauvignon 1988 was die eerste publieke vrystelling, en ’n jaar later het Jeremy voltyds by Clos Malverne as wynmaker aangesluit.”

Die Brut Rosé Cap Classique van Clos Malverne.

Jeremy het voorgestel dat hulle Pinotage ook maak. “Dis ’n goeie wyn vir kontantvloei en Dave Hidden van Hidden Valley het goeie Pinotage-druiwe gehad en ons het by hom druiwe gekoop. Ek en Dave is al sedert 1980 vriende. Hy het die plaas, Groenvlei, gekoop en Hidden Valley (na sy van en die Devonvallei waarin dit geleë is) vernoem.

“Maar toe ek die wyn in die vate proe, het ek besef hulle het goeie verouderingspotensiaal en nie die antwoord vir vinnige kontantvloei nie.”

En dis die 1997 in ons glase.

Dis hoe sy liefde vir Pinotage begin het. Jeremy sê die beste beskrywing van Pinotage is ’n Suid-Afrikaanse kind met Franse ouers. “Pinotage het baie wipplank gery die afgelope paar dekades en baie hektaar is in die sewentigs en tagtigs uitgetrek, maar die afgelope paar jaar kom daar waarlik uitstaande kwaliteit van ons wynmakers.

“Vandag is Pinotage beslis een van die edelvariëteite van die wêreld. Dit verouder baie goed en hou baie lank.

“En ons land is die tuiste van Pinotage. Ander lande soos Nieu-Seeland produseer ook Pinotage kommersieel, maar dis nie goed soos ons Pinotage nie en hulle speel ook nie so goed soos ons rugby nie!”

Guy Webber (voormalige Clos Malverne-wynmaker) en Dave Hidden van Hidden Valley Wines.

Jeremy het in 1989 sy eie wynkelder gaan begin, Grangehurst, en Guy Webber het by hom oorgeneem.

Gedurende die 1990’s het Clos Malverne beduidende vordering in die wynbedryf gemaak en sy wingerdbou uitgebrei en ook ander rooi variëteite, soos Merlot en Shiraz, is op sorgvuldig gekose grondtipes geplant om druiwe van die hoogste gehalte te verseker.

Die 2026-uitgawe van die Platter-wyngids is pas bekend gestel en het aan 10 Pinotages vyf sterre toegeken.

In 1995 was Clos Malverne een van die heel eerste wynkelders om ’n klassieke Kaapse versnit te produseer (’n rooiwyn met minstens 30%, maar nie meer as 70% Pinotage nie). Hierdie wyn was só suksesvol dat die vlagskipwyn, die Clos Malverne Auret, van ’n Cabernet Sauvignon/Merlot-Bordeaux-versnit verander is na ’n Kaapse versnit (Cabernet Sauvignon/Pinotage). Die Auret 1998 was die eerste Kaapse versnit wat ’n vyfster-gradering in die Platter-wyngids ontvang het.

Auret is Seymour se ma se nooiensvan én Seymour se tweede naam.

Guy vertel dat hy die enigste gasspreker is wat nie meer wynmaak of sy eie kelder het nie. “Ek verteenwoordig die geskiedenis vanaand en dis ’n groot voorreg.”

Sy heel eerste wynproe wat hy namens Clos Malverne moes doen, was by ’n drankwinkel in Lansdowneweg. Onwetend dat Jeremy daar met sy eie wyne is, het die twee ’n tafel gedeel. Beide het hul meisies – Janet en Mandy – saamgeneem: ook onwetend dat hulle twee saam studeer het.

Die verweefdheid duur voort.

Guy het later aangeskuif na Devonhill – nou Le Grand Domaine – verder op die vallei. En dis waar Dave se pad weer met Jeremy en Guy s’n kruis. Hy het toe reeds die plaas, Groenvlei, met die Pinotage-druiwe wat in Clos Malverne se eerste Pinotages gebruik is, gekoop. Jeremy het Guy en Dave aan mekaar voorgestel. Dave het toe begin om sy eie wyn van daardie Pinotage-blok te maak. Maar hy het kelderspasie nodig gehad en Jeremy se spasie was te min. Hulle klop toe by Guy aan en elkeen neem toe 10 ton druiwe en maak hul wyne. ’n Jaar later kom Dave met vate en die wyne word in vate verouder.

Toe dit by bottelering kom, het hulle ’n paar wynkenners en vriende gevra om te kom proe, om te besluit hoe die wyn – uit dieselfde blok, op dieselfde dag gepluk, maar deur twee verskillende wynmakers gemaak – versny moet word.

Uiteindelik is besluit op 50/50, want soos Guy verduidelik, “dit was taktvolle manne” wat nie wou aanstoot gee met 10/90 of 90/10 en sodoende een van hom of Jeremy se gevoelens seermaak nie.

En dis hoe die Hidden Valley Pinotage 1997 sy beslag gekry het. Die volgende jaar het hulle dieselfde gedoen.

Guy sê: “Ek dink tot vandag toe is dit die enigste Pinotage wat al ooit vyf sterre by die redakteur van Winemag ontvang het.”

Dave sê al rol wat hy in die hele projek gespeel het, is dié van finansier. “En weet julle wat is die definisie van ’n finansier? Jy sit en hou jou mond en ander mense vertel jou wat hulle met jou geld gaan doen.”

Dave sê Pinotage is ’n interessante kultivar en hy is trots om te sê dat die ouer wyne wat te proe is, baie goed verouder het.

Die derde vlug wat ons proe, is die 2009-Clos Malverne en -Grangehurst.

Jeremy vertel dat Ippy Smit, die huidige wynmaker, nie net ’n goeie wynmaker is nie, maar ook baie goed meganies aangelê is en kan alles self regmaak.

Ippy onthou toe hy by Clos Malverne aangesluit het in 1997, was baie van die wyne nog in die vate. Die bedryf het ’n wyntekort gehad en Seymour wou wyn vinniger in die bottel hê en dus weggaan van Jeremy se lang verouderde wyne en iets meer toeganklik op die mark sit. “Ons invoerders het vertel dat navorsing wys dat meer as 80% van wyne op dieselfde dag as wat hulle gekoop word, gedrink word. Ons moes wyne met laer suur produseer.

“Ons maak toe wyne wat laer in suur is, maar jy kan die verskil oor die langtermyn proe. Hulle verouder nie so goed nie.”

Charl het in 2008 van Kaapzicht na Clos Malverne gekom en alles wat hy by die Pinotage-legende, Danie Steytler, geleer het, hier kom toepas. 

Charl sê wyn is die enigste drankie wat aanhou om te leef nadat dit gebottel is.

Hy was vir drie oesjare saam met Seymour, voor die geleentheid by Babylonstoren oor sy pad gekom het.

“Vir my is die verskil tussen toe en nou baie duidelik. Toe ek in 2001 gegradueer het, was ons ongeveer 30 mense in die klas, en vir baie jare daarna was daar altyd tussen 30 en 40 wat jaarliks gegradueer het. Destyds, met soms net nege mense wat kwalifiseer, het wynmaak – en die bou van ’n handelsmerk – nog werklik besonders gevoel. Ek sê nie dit is nie meer besonders nie, maar deesdae is daar soveel handelsmerke en baie mense maak nie meer wyn uit passie nie. Vir party gaan dit bloot oor geldmaak. Daarom is dit so lekker om al hierdie stories wat om passie gebou is, te hoor.”

Die laaste vlug is die 2011-Clos Malverne en -Grangehurst Pinotages.

Hy is getroud met ’n wynmaker, Suzanne Coetzee, en sy neem die leisels by hom oor. Die 2011-Clos Malverne wat ons proe, is haar oesjaar. Sy was vir vier jaar die wynmaker en die afgelope paar jaar keldermeester. In haar tyd as wynmaker het sy twee maal ’n topvyf- Kaapse versnit in die jaarlikse Absa Pinotage-kompetisie gemaak.

Vandag is Suzanne die keldermeester en ook oorhoofse bestuurder van die restaurant en die proelokaal.

Mens kan nie anders as om uitgesonder te voel ná só ’n spesiale aand nie. Min wynplase het nog net een eienaar en net ses wynmakers gehad en vier in Februarie 40 jaar onder hul eie etiket onder daardie selfde eienaar.

En dis min dat jy die kans kry om te sien hoe verweefd ons almal eintlik is.

  • En so gepraat van vyf sterre in die Platter-wyngids – waarvan die 2026-uitgawe nou beskikbaar is: Daar het 10 Pinotages elk vyf sterre ontvang. Die Hidden Valley Hidden Gems 2022, ’n Bordeaux-versnit, het ook vyf sterre ontvang. Meer inligting hier: https://www.wineonaplatter.com/
  • Om meer oor die glorieryke geskiedenis van Stellenbosch Wynroetes te lees, besoek: https://wineroute.co.za/.

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Unieke wynprojek eer tradisie en vernuwing

Various milestones celebrated at Stellenbosch’s Meerlust Wine Estate

Jordans spread their wings to make wine on two continents

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top