In die hartjie van Kaapstad lê van die interessantste stories oor die eerste plase, geboue en die mense wat daar geleef en gewerk het. Jy moet net weet waar om te kyk en ’n bietjie gaan kers opsteek by dié met kennis oor plekke soos die plase wat destyds agter die Kasteel was – waarvan een uiteindelik Distrik Ses geword het.
Baie mense sal Distrik Ses onthou vir sy lewendige atmosfeer, digbevolkte behuising en die tragiese verwydering van sy bewoners gedurende apartheid. Maar dié gebied, wat ontstaan het toe daar ’n nood vir behuising ontstaan het vanaf 1840 nadat die slawe vrygestel is, het ’n veel langer geskiedenis, uit die dae dit nog Zonnebloem was.
Min mense sal dalk die name herken van die ander klein plase wat agter die Kasteel was: Welkom, wat naby die Kasteel was en aan Roelandstraat gegrens het; Welgelegen by Caledonstraat; Bloemhof en Hope Lodge in MacKenziestraat; en Werkerslust, ook naby Roelandstraat.
Die skets van Frederick Knyvett wys die gebied agter die Kasteel in Kaapstad (1832–1833) waar Kanaladorp / Distrik Ses besig was om te ontwikkel. Ver links is die agterkant van Werkerslust met ’n slaaf wat water dra. Regs is die Kasteel en Welgelegen. Die kunstenaar het homself in die skets geteken. Skets: Verwysing 164(25). Uit die versameling van die Parlement van Suid-Afrika, Kaapstad.
Kaapstad het van die mooiste geboue gehad – klein outentieke huise, tavernes, plaasopstalle – en strome en kanale wat deur die stad gevloei het. Alles afgebreek om plek te maak vir lelike, hoë geboue.
Jim Hislop is een van die Kaap se voorste kundiges oor die historiese geboue van destyds, en van ons mense. Sy jongste boek, Behind the Castle – the early estates, houses, streets and residents of District Six and surrounds, Cape Town, is ’n wonderlike, volkleur reis na die verlede.
Wanneer ’n mens daardeur blaai, wil jy jou hare uit jou kop pluk omdat mense nie die versiendheid gehad het om van die geboue te bewaar nie. Net een of twee sulke histories-bewaarde strate alleen kon ’n toeriste-aantreklikheid soos ’n Bourbon Street in die kleine gewees het.
Jim Hislop, skrywer van Behind the Castle – The early estates, houses, streets & residents of District Six and surroundings, gesels oor sy navorsing. Foto: Elsabé Brits.
Zonnebloem dateer uit 1700, en daar was vroeër baie van die plase teen die hange van Tafelberg, Vlaeberg en Duiwelspiek. Dit was hulle wat die skepe van vrugte, groente, graan en vleis voorsien het. Die eerste persoon wat die grond van Zonnebloem besit het, was Pieter Christiaans en na hom was daar vele eienaars wat die huis en buitegeboue stelselmatig uitgebrei het.
Zonnebloem in Kaapstad, wat dateer uit 1700, soos gesien vanaf die kapel, soos dit vandag lyk. Foto: Met vergunning van Jim Hislop.
Die plaas Zonnebloem teen die hange van Duiwelspiek in Kaapstad soos geskets deur ’n onbekende persoon c 1830. Die plaas dateer uit 1700. Distrik Ses het in die tweede helfte van die 19de eeu uit dié plaas ontwikkel. Skets: Verwysing 30733. Uit die versameling van die Parlement van Suid-Afrika, Kaapstad.
Caledonplein in Kaapstad in 1830 deur ’n onbekende kunstenaar. Skets: Verwysing 30733. Uit die versameling van die Parlement van Suid-Afrika, Kaapstad.
Dit was een van die eerste bakens, buiten die Kasteel, tussen Duiwelspiek en Buitenkantstraat. Hanoverstraat het begin as ’n wapad tussen die Kasteel en Zonnebloem. Hierdie keiklippad het al die jare nog bestaan, maar is ook tussen 1960 en 1980 verwoes.
Zonnebloem se vele eienaars was uiteenlopend en daar was mans én vroue. Een interessante figuur, vertel Hislop, is Lydia Williams. Sy is in 1820 op Zonnebloem gebore en was 14 toe slawerny in 1834 afgeskaf is, maar weens die gedwonge regulasie dat slawe nog vier jaar ’n “vakleerlingskap” moes doen, was sy eers op 18 vry.
Groot dele van die plaas is in 1859 onderverdeel en een deel daarvan het Zonnebloem College geword, onder leiding van biskop Robert Gray, wat die eerste skool vir swart kinders daar begin het.
Lydia Williams het in ’n kothuis in Cauvinstraat gebly en haar eie klein skool oopgemaak om voormalige slawe en hulle kinders op te voed. Saans het sy bidure gehou.
Op een 1 Desember elke jaar het sy ’n fees gereël om die vrystelling van die slawe te vier, en dit het as “Lydia se Fees” bekendgestaan. Sy is op 90 jaar dood, nog met die sambokmerke op haar rug, die getuienis van die straf wat sy as slaaf gekry het. Sy is in die Woltemade-begraafplaas in Woodstock begrawe, in ’n ongemerkte graf.
In ’n wêreld waarin mans alles gedomineer het, het nog ’n ander vrou uitgestaan: Barbère-Therése de Savoy, wat saam het haar Hugenote-familie as 15-jarige op die skip Oosterland na Kaapstad gekom het. Hulle het van Middelburg in Zeeland vertrek. Dit is die einste skip wat later in 1697 by die hedendaagse Milnerton gesink het – wat baie sigbaar sou gewees het vanuit die vroeë Kaapstad.
De Savoy het aanvanklik in Simonsberg op Vrede en Lust saam met haar eerste man gebly. Ná sy dood het sy met die Hollander Elias Kiena getrou, en sy het hom geleer hoe om te bak, want sy was toe reeds ’n ryk en suksesvolle bakker.
Sy het ook Zonnebloem besit, en toe sy in 1729 oorlede is, 10 jaar na Kiena dood, was die inventaris van die boedel omvangryk. Silwer, goud, skape, perde, kwaliteittekstiele, ’n volledige bakkery en ’n hele huis vol duur huisware is nagelaat. En tien slawe.
Hislop vertel ná die laaste Britse besetting van die Kaap vroeg in die 1800’s en die latere bevryding van die slawe was daar baie van hulle wat na Kaapstad gekom het om werk te soek. Hulle het in Kanaladorp gaan bly saam met baie Europese immigrante soos Iere, Skotte en Jode mense wat hierheen gekom het om werk as arbeiders, winkeleienaars en ambagsmanne te vind. Dit was deel van Zonnebloem, maar was nie net tot Zonnebloem beperk nie.
In die 1860’s het Distrik Ses dié naam gekry en hoëdigtheidbehuising is al langs die plaaspaaie en kleiner strate gebou. Die ou plaashuise het meestal gebly, maar ander is geïnkorporeer in nuwer ontwikkelings aan die einde van die 19de eeu. Welgelegen is basies “ingesluk” deur Vernon Terrace en Bloemhof het ’n klein voorstad geword soos hy omring is deur huurkamerhuise.
In 1795, die jaar waarin die Britte die Kaap die eerste keer beset het, is ’n klein stukkie grond gegee aan Johannes Matthias Bletterman, ’n werknemer van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Dit het bekend gestaan as Welgelegen by t’ Kasteel en ’n stroompie het daarvoor verbygeloop.
Soos die meeste van die geboue in die stad het dit vele eienaars gehad. Welgelegen was ook ’n klein plasie met wingerd en vele bome. In 1807 was die eienaar Willem Wernich en die eiendom was vyf morg (omtrent 4,3 ha) groot – met 1 700 wingerdstokke en ’n bietjie plek vir weiding. Wernich is bekend vir die mooi kaarte wat hy van Kaapstad en die omgewing gemaak het.
200 jaar later het die huis, wat intussen verander is, steeds gestaan, maar was toe bekend as Vernon Terrace, een van die bakens van Distrik Ses. Dit is saam met ander geboue in Distrik Ses platgestoot.
Toe ontwikkelaars jare later toestemming kry om behuising vir die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie op die ou terrein te bou, is opgrawings daar in 2007 gedoen. Die fondasies van die oorspronklike huis is gevind en die argeoloog Harriet Clift en haar span het interessante voorwerpe ontdek. Van die ou fondasiestene is gebruik vir die nuwe fasade en die voetspoor van Welgelegenhuis kan in die kelder gesien word – fotopanele vertel die geskiedenis.
Ou kleipype, keramiek, knope, glas, porselein, kookpotte, diere, visbene en gebreekte bottels het die geskiedenis vertel van die mense wat vroeër daar gebly het. Daar is ook verskeie klippies en skulpe gekry wat mense in dobbelspeletjies gebruik het. Twee stukke walvisbeen met snymerke daarin is ook sowat ’n meter onder die grond gevind. Dit wys mense het die vleis geëet, waarskynlik nog voor die huis daar gebou is.
Een van die eerste huise wat in Kaapstad gebou is. Agter die Kasteel was Welgelegen. Dit het later deel geword van Vernon Terrace. Die terrein is in 2007 opgegrawe voordat studentebehuising daar gebou is. So lyk van die fondasies en van die items wat gevind is: knope, keramiek en dobbelstukkies. Foto’s: Met vergunning van Harriet Clift.
Hislop vertel die vroeë Kaap was baie gemeng. Ryk en arm het langs mekaar gebly en daar was interaksie tussen hulle. Vele Europese immigrante het hierheen gekom, en baie van hulle het met slavinne getrou en kinders by hulle gehad. Dit was ’n gemengde gemeenskap, veel meer as wat mense vandag dalk besef. “Ons deel soveel meer, ons deel ons DNS, maar ook die geboue waarin ons gebly het.
“Ek dink ons het nie respek vir ons erfenis nie – al die erfenis. Dit is tragies. Ons geboue is afgebreek en nie bewaar soos byvoorbeeld in Engeland of Frankryk nie, en veral Kaapstad het erg deurgeloop. Die situasie is tans so dat ons maar net te dankbaar is as daar ’n ontwikkeling is en ’n fasade word behou en ’n nuwe gebou word oor die historiese een gebou.”
Jim Hislop is iemand wat lief is vir wat ander mense nagelaat het, wat mense voor ons gedoen en gebou het. Mense se stories wat ons almal verbind. “Daar is mense se lewens in dié geboue en op hiérdie strate,” wys hy om hom, waar ons agter die Kasteel sit.
- Kontak Jim Hislop by wheatfields.windmills@gmail.com om ’n boek te bestel.