Studente, publiseer nou jou werk!

  • 0

Die ATKV, LitNet en Voertaal vat hande om studente die geleentheid te gee om hul werk te publiseer. Hierdie nuwe inisiatief staan bekend as Voertaal | (Vir)Taal.

Die ATKV se Taalafdeling het dit goed gedink om vir Afrikaans- en Nederlandssprekende studente ’n platform te skep om hul akademiese stem te ontwikkel. LitNet en Voertaal het hiervan te hore gekom en besluit om die inisiatief te ondersteun.

Voertaal (www.voertaal.nu) is ’n susterwebwerf van LitNet en is gerig op almal wat Nederlands en Afrikaans in Nederland, Vlaandere, Suid-Afrika, Suriname, die Antille en die diaspora praat of lees en luister.

Voertaal is die ideale plek om studente se werk ten toon te stel en sodoende vir hulle ’n portefeulje van werk te skep.

Voertaal | (Vir)Taal  het nie net ’n virtuele teenwoordigheid nie. Nie net sal studente die geleentheid kry om hul werk op Voertaal te publiseer nie, maar ’n verkorte weergawe sal in die tweemaandelikse nuusbrief (Vir)Taal verskyn.

Voertaal | (Vir)Taal hoop ook om studente in Suid-Afrika en in die buiteland die geleentheid te gee om in Afrikaans en Nederlands te skryf. Die projek is oop vir voor- en nagraadse studente (honneurs-, meesters- of doktorsgraadstudente), asook opkomende akademici (nadoktorale genote en dosente) in die ouderdomsgroep 18 tot 35 jaar.

’n Kundige paneel van LitNet, Voertaal en die ATKV sal die navorsing keur en LitNet sal jaarliks ’n prys van R2 500 uitloof aan die beste artikel wat verskyn het.

Hoe gaan jy te werk?

As jy jou navorsing só kan verwoord dat lesers van die ATKV, LitNet en Voertaal dit sal wil lees en interessant vind, is Voertaal | (Vir)Taal vir jou. Dit sluit navorsing in alle sfere in, ook die wetenskappe en geesteswetenskappe. Alle stukke moet in Afrikaans of Nederlands wees. Jou skrywe moet nie meer as 800 woorde wees nie. Jou skrywe sal eers deur ’n paneel goedgekeur word en sal dan op Voertaal se webwerf en ook in die (Vir)Taal-nuusbrief verskyn.

Wat moet alles by jou inskrywing ingesluit wees?

  • ’n Kort biografie (100 woorde) van jouself en ’n foto (dit word nie by die 800 woorde getel nie)
  • Jou taalversorgde skrywe oor jou navorsing

***

Alle inskrywings kan gestuur word na Mandie Ehlers by mandiee@atkv.org.za. Vir meer inligting kan jy ook vir Mandie Ehlers, projekorganiseerder: taal, kontak by 011 919 9018 of mandiee@atkv.org.za.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top