Suid-Afrika se Top 10-Pinotage-wenners aangekondig

  • 0

Pinotage, Suid-Afrika se unieke druifkultivar wat in 1925 deur Abraham Izak Perold tussen Hermitage (Cinsaut) en Pinot Noir gekruis is, het die afgelope twee dekades ’n internasionale gunsteling geword. Jaarliks word die land se top 10-produsente tydens ’n middagete en prysuitdeling vereer.

Wat Pinotage aanbetref, is dit die hoogste toekenning wat enige Pinotage-produsent kan kry om een van die Absa Top 10-Pinotage-wenners te wees.

Die Top 10-wenners verteenwoordig nie net die heel beste Pinotage in Suid-Afrika nie, maar dien ook as ’n herinnering aan die gehalte van Suid-Afrikaanse wyn in die geheel. Of, met ander woorde, wyn wat op dieselfde vlak is as die bestes ter wêreld.

Die wenners is verlede week by die historiese landgoed Boschendal, tussen die Paarl en Stellenbosch, aangekondig.

Al die wenners van vanjaar se Absa Top 10-Pinotage-kompetisie en die wenners in die Museum-klas staan trots met hul trofees na afloop van die prysuitdeling. (Foto: Clifford Roberts)

............

Die 2019 Absa Top 10-Pinotage-wenners: 

Anura Pinotage Reserve 2016 (WO Simonsberg-Paarl, Anura) met wynmaker Stander Maass; Badsberg Pinotage 2018 (WO Breedekloof, Badsberg Wynkelder) met wynmaker Henri Swiegers; Beyerskloof Winemaker’s Reserve Pinotage 2017 (WO Stellenbosch, Beyerskloof Wyne) met wynmaker Anri Truter; Diemersdal Pinotage Reserve 2018 (WO Durbanville, Diemersdal Landgoed) met wynmaker Thys Louw; Fleur du Cap Series Privée Pinotage 2016 (WO Kusstreek, Distell – Fleur du Cap) met wynmaker Pieter Badenhorst; Kanonkop Pinotage 2015 (WO Simonsberg-Stellenbosch, Kanonkop Landgoed) met wynmaker Abrie Beeslaar; Survivor Pinotage 2017 (WO Swartland, Overhex Wines International) met wynmaker Ben Snyman; Simonsig Redhill Pinotage 2017 (WO Stellenbosch, Simonsig Landgoed) met wynmaker Debbie Thompson; Vondeling Bowwood Pinotage 2016 (WO Voor Paardeberg, Vondeling Wines) met wynmaker Matthew Copeland; Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2016 (WO Botrivier, Wildekrans Wine Estate) met wynmaker Braam Gericke.

............

Debbie Thompson, keldermeester, en Michael Malan, wynmaker van Simonsig Wynlandgoed wat twee wyne in die top 20 gehad het. Hul Simonsig Redhill Pinotage 2017 was een van die Top 10-wenners. (Foto: Clifford Roberts)

Die Top 10-wyne is van ses verskillende wynstreke, met die Stellenbosch- en Paarl-streke voor in die koor, met drie en twee wyne onderskeidelik.

Kanonkop het geskiedenis gemaak deur die Absa Top 10-Pinotage-lys vir die 14de jaar te haal. Hul Pinotage is nie net vanjaar die oudste wenwyn nie, maar ook die enigste wyn van die 2015-oesjaar.

Beyerskloof het met hul Beyerskloof Winemaker’s Reserve Pinotage 2017 hul negende trofee in die kompetisie opgeraap. Simonsig is die laaste van die Stellenbosch-wenners met hul Simonsig Redhill Pinotage 2017.

............

“Pinotage, Suid-Afrika se unieke druifkultivar wat in 1925 deur Abraham Izak Perold tussen Hermitage (Cinsaut) en Pinot Noir gekruis is, het die afgelope twee dekades ’n internasionale gunsteling geword.”

............

Die twee 2018-oesjaar-wyne in dié jaar se groep wenners, die Diemersdal Pinotage Reserve 2018 en die Badsberg Pinotage 2018, is die enigste wyne van die Durbanville- en Breedekloof-streek onderskeidelik.

Vondeling, wat hul debuut in die Absa Top 10-Pinotage met die Vondeling Pinotage 2016 maak, word deur ’n ander 2016-oesjaar-wyn uit die Paarl streek vergesel, die Anura Pinotage Reserve 2016.

Gaste kon voor die middagete die 20 finaliste se wyne proe en peuselgoed van Boschendal se kombuis daarmee saam geniet. Hier staan Duimpie Bayly, bestuurslid van die Pinotage-vereniging. (Foto: Clifford Roberts)

Die Fleur du Cap Series Privée Pinotage 2016 en die Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2016 is die ander twee 2016-oesjaar wyne wat die hoogste lof behaal het. Die 2016-oesjaar is die mees verteenwoordigende oesjaar met vier wenwyne.

Die Survivor Pinotage 2017 is die enigste verteenwoordiger van die Swartland-streek.

Produsente is vir die derde agtereenvolgende jaar uitgenooi om Pinotage-wyne ouer as 10 jaar in die Museumklas-kategorie in te skryf. Hierdie ikoniese wyne bewys onomwonde dat Pinotage merkwaardige verouderingspotensiaal het.

Die Museumklas-trofee-wenners is Fairview Primo Pinotage 2007 (WO Kusstreek, Fairview) met wynmaker Anthony de Jager; Hill & Dale Pinotage 2007 (WO Stellenbosch (Hill & Dale) met wynmaker Guy Webber en Rijk’s Private Cellar Pinotage 2009 (WO Tulbagh, Rijk’s Cellars) met wynmaker Pierre Wahl.

Beoordelaars het onder leiding van Winnie Bowman as voorsitter gestaan; hulle was Greg Sherwood (wynmeester gebaseer in Londen), Razvan Macici (bekroonde wynmaker), Nomonde Kubheka (wynmaker verbind met die Pinotage Youth Development Academy), Frans Smit (Spier-keldermeester) en Solly Monyamane (protégé).

............

Die tien naaswenners was:

Lutzville Francois le Vaillant Pinotage 2016 (WO Lutzville Vallei, Cape Diamond Wines); Diemersdal MM Louw Pinotage 2017 (WO Durbanville, Diemersdal Landgoed); Kanonkop Pinotage 2017 (WO Simonsberg-Stellenbosch, Kanonkop Wynlandgoed); KWV The Mentors Pinotage (Coastal) 2017 (WO Kusstreek, (KWV); Môreson Widow Maker Pinotage 2016 (WO Stellenbosch, Môreson); Simonsig Redhill Pinotage 2016 (WO Stellenbosch, Simonsig Landgoed); Viljoensdrift River Grandeur Single Vineyard Pinotage 2017 (WO Robertson, Viljoensdrift Associated Wineries cc); Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2015 (WO Botrivier, Wildekrans Wynlandgoed); Windmeul The Legend Collection Pinotage 2017 en Windmeul Pinotage Reserve 2016 (WO Paarl, Windmeul Kelder).

............

Klink saam met die wenners ’n glasie Pinotage op 12 Oktober 2019, wanneer Internasionale Pinotagedag gevier word.

Beyers Truter, voorsitter en stigter van die Pinotage-vereniging, het beklemtoon dat in terme van gehalte, Pinotage se opwaartse kurwe voortduur en dat die mark vir hierdie kultivar aanhou groei – plaaslik en internasionaal.

“Die voortreflike kwaliteit van die wyne jaar na jaar wys ons dat produsente, wingerboukundiges en wynmakers saamwerk,” sê Beyers. “Uiteindelik gaan dit alles daaroor om in voeling te wees met jou terroir. Absa deel hierdie opinie met ons en is al meer as twee dekades ’n vennoot van die Pinotage-vereniging. Hulle deel ons langtermynvisie, waarvan een die groei van Pinotage wêreldwyd is.

“Ek vind dit ook besonder bemoedigend dat daar so baie style moontlik is met Pinotage. Vanjaar is daar wenners van ses verskillende wynstreke, elkeen met hul unieke styl, karakter en uitdagings. Ons jong wynmakers is ’n dapper klomp en gaan voluit om die beste uit hulle onderskeie streke te kry in terme van kwaliteit en ook diversiteit.”

Winnie Bowman, voorsitter van die beoordelaarspaneel vir vanjaar se kompetisie, en Beyers Truter, voorsitter en stigter van die Pinotage-vereniging. (Foto: Clifford Roberts)

Tina Playne, Absa se hoof van Sektore en Segmente, Verhoudingsbankwese, bevestig dat die vennootskap met die Pinotage-vereniging baie voordelig is en dat daar ’n geweldige trots by hulle is wanneer hulle die jaarlikse Absa Top 10-Pinotage-geleentheid bywoon.

“Ons stap nou al vir 23 jaar die pad saam met Pinotage en is seker daarvan dat hierdie ongelooflike vennootskap nie net sal voortduur nie, maar ook sal groei,” sê Tina. “Veels geluk aan al die wenners en finaliste. Besef dat ons nie net julle Top 10-sukses vier nie, maar ook julle bydrae tot agribesigheid, een van die pilare van die Wes-Kaap se ekonomie.

“Terwyl dit vir ons belangrik is om in ons besigheid te groei, glo ons ook dat ons terselfdertyd die gemeenskappe waarin ons betrokke is, moet baat. As hierdie gemeenskappe goed vaar, as hulle groei, groei ons ook. Wanneer die samelewing opgehef word, word ons almal opgehef.”

  • Teks: Maryke Roberts
  • Foto’s: Clifford Roberts
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top