Suid-Afrikaners is onder die wêreld se grootste pessimiste

  • 0

...........

“In die jongste opname, wat gedurende Januarie in 28 lande gedoen is, is Suid-Afrikaners onder die negatiefste mense ter wêreld. Die Italianers het ons darem geklop met hulle 83% wat negatief is oor die toekoms teenoor 79% Suid-Afrikaners en Franse, en 78% Spanjaarde.”

...........

Suid-Afrikaners sit in sak en as op moedverloor se vlakte. Byna 80% van alle aanlyn Suid-Afrikaners glo die land is op die verkeerde koers.

Misdaad en geweld bly die grootste rede waarom Suid-Afrikaners een van die negatiefste bevolkings in die wêreld is. ’n Onlangse Ipsos-meningspeiling het bevind Suid-Afrikaners is ook die negatiefste nasie in die wêreld ten opsigte van hulle siening oor wêreldwye armoede.

Foto: Unsplash.com

Suid-Afrikaners is nie al nasie wat dink die wêreld word al hoe armer terwyl die teenoorgestelde eintlik waar is nie. Tydens die opname het die navorsers ’n eenvoudige vraag aan die respondente gestel: Het die omstandighede van diegene in die wêreld wat in uiterste armoede leef afgeneem, toegeneem of konstant gebly?

Hoewel uiterste armoede op ’n globale skaal afgeneem het, was die meeste lande se inwoners van mening dit het toegeneem. Altesaam 52% van die deelnemers aan die navorsing het gesê haglike armoede het wêreldwyd toegeneem, terwyl dit eintlik afgeneem het. Wat kommerwekkend is, is dat 68% van die Suid-Afrikaners wat ondervra is, hierdie mening uitgespreek het.  

Dit is darem nie net Suid-Afrikaners wat pessimisties oor die toekoms is nie. Die meeste ander lande se inwoners is egter oor die algemeen minder negatief. Wêreldwyd dink gemiddeld 39% van die mense hulle land stuur af op die regte koers en 61% sê dinge is van koers af.

In die jongste opname, wat gedurende Januarie in 28 lande gedoen is, is Suid-Afrikaners onder die negatiefste mense ter wêreld. Die Italianers het ons darem geklop met hulle 83% wat negatief is oor die toekoms teenoor 79% Suid-Afrikaners en Franse, en 78% Spanjaarde.

Wêreldwyd is die grootste bekommernis onder die lande se inwoners armoede en maatskaplike ongelykheid, werkloosheid, misdaad en geweld, en finansiële en politieke korrupsie.

Ironies genoeg is China, wat tans deur die koronavirus se uitbraak geteister word, se burgers weer eens die mees optimistiese mense. Altesaam 90% van die Chinese wat ondervra is, sê hulle land is op die regte koers. Dit sal egter interessant wees om te sien watter invloed die koronavirus op hierdie optimistiese siening gaan hê wanneer die volgende ondersoek se resultate bekendgemaak word.

...........

“Wêreldwyd is die grootste bekommernis onder die lande se inwoners armoede en maatskaplike ongelykheid, werkloosheid, misdaad en geweld, en finansiële en politieke korrupsie.”

...........

Suid-Afrikaners se grootste bekommernisse oor die toekoms het sedert 2011 konstant gebly, naamlik misdaad en geweld, korrupsie en werkloosheid.

Suid-Afrikaners is ook die land met die grootste kommer oor werkloosheid (62%), gevolg deur Italië (58%), met Suid-Korea (57%) kort op hulle hakke.

Volgens Our World Data kan die negatiewe globale persepsies hoofsaaklik aan ’n bevooroordeelde media en gebrekkige onderwysstelsels toegeskryf word.

Die organisasie sê mense dink die wêreld is slegter as wat regtig die geval is. Hulle sê mense gee nie genoeg erkenning aan dit wat wel bereik word om mense se lewensomstandighede globaal te verbeter en van die wêreld ’n beter plek te maak nie.

Lees meer oor die bevindings op Ipsos se webwerf hier.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top