Suid-Afrikaners vlieg mekaar in die hare oor lyfstraf

  • 0

Suid-Afrikaners is diep verdeeld oor die Konstitusionele Hof se uitspraak dat dit ongrondwetlik is om ’n kind ’n pak slae te gee.

Die hof het Woensdag ’n 2017-uitspraak van die Hooggeregshof in Johannesburg gehandhaaf dat dit kinders se regte skend. Die organisasie Freedom of Religion South Africa (FOR SA) het hom tot die Konstitusionele Hof gewend om die beslissing om te keer, terwyl kinderregtegroepe en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) die Hooggeregshof se uitspraak gesteun het.

Foto: Pixabay.com

Kinderregtegroepe het aangevoer dat kinders wat aan lyfstraf onderwerp word, angs ontwikkel. Hulle sê kinders is ook geneig om dan gewelddadige gedrag as volwassenes te openbaar. Regter Mogoeng Mogoeng het in sy uitspraak gesê kinders kan doeltreffend gestraf word sonder om fisiese straf toe te pas.

Die voor- en teenstaanders vir lyfstraf het mekaar ná die uitspraak behoorlik geroskam op sosiale media. ’n Professor by die Universiteit van Kaapstad se kinderinstituut, Shanaaz Mathew, sê hulle het vir langer as ’n dekade ’n stryd gevoer om by dié beslissing uit te kom.

Dit was veral behoudende godsdiensgroepe wat hulle misnoeë oor die hofuitspraak uitgespreek het. FOR SA se regsverteenwoordiger, Daniela Ellerbeck, het die uitspraak bestempel as ’n slag vir geloofsvryheid.

Volgens Ellerbeck maak regter Mogoeng Mogoeng se uitspraak misdadigers van gelowige ouers wat glo dat die Skrif hulle toelaat, indien nie beveel nie, om hulle kinders “uit liefde met lyfstraf reg te help” indien nodig.

Sy sê vir baie mense is daar geen keuse as om God eerder as die wet te gehoorsaam nie. “Gevolglik sal goeie gelowige ouers wat net die beste vir hulle kinders wil hê, moontlik sien hoe hulle gesinne uitmekaarskeur soos wat in ander lande gebeur waar lyfstraf verbied is.”

Volgens haar sal dit gesinne as die grondslag van die samelewing vernietig. Nie alle gelowiges deel egter FOR SA se siening nie. Die SARK was een van die geloofsorganisasies wat die Hooggeregshof se uitspraak gesteun het.

...........

“Kinderregtegroepe het aangevoer dat kinders wat aan lyfstraf onderwerp word, angs ontwikkel. Hulle sê kinders is ook geneig om dan gewelddadige gedrag as volwassenes te openbaar.”

...........

Op sosiale media het die hare behoorlik gewaai soos die opponerende groepe mekaar getakel het.

“Dit is wat gebeur as die staat sy perke oorskry en inmeng waar hy nie hoort nie. Dis blykbaar vanweë ’n goeie grondwet en vryheid,” het Corné Mulder van die VF+ sarkasties opgemerk in ’n Facebook-gesprek oor die uitspraak.

“Al weer die Bybel wat soos ’n orakel moet spreek. Nogmaals, dieselfde Bybel het nóg voorskrifte oor kinders, soos dat stoutes met klippe doodgegooi moet word. (Wat sowaar deur Jesus herhaal word in die Nuwe Testament),” het Stefan Coetzer op Facebook geskryf.

Om hierdie antieke versameling geskrifte in 2019 te bly raadpleeg vir antwoorde is ’n resep vir chaos, meen iemand anders. “Ons is darem sowaar al eeue gelede verby die sienings en insigte van ’n tyd toe ’n dikwielfiets se klokkie as ’n werktuig van die gode beskou sou word. Maar veral Afrikaanse mense vorder nooit verder as die Kinderkrans van hulle kleinkinderjare, wat betref kennis en insig oor hulle geloof nie.”

Baie van die deelnemers aan die gesprek wat ten gunste van lyfstraf is, het gesê dit gaan hulle verstand te bowe dat aborsies toegelaat word maar dat lyfstraf deur die hof verbied word.

Ander meen egter lyfstraf kan nie met aborsie vergelyk word nie en dat niemand die reg het om inbreuk te maak op die liggaamlike integriteit van iemand anders nie.

“Dit geld vir die hoogheiliges wat aan vroue wil voorskryf oor aborsie sowel as ouers wat onder invloed van antieke en uitgediende ‘heilige geskrifte’ hulle kinders ‘opvoed’ (sic) deur hulle seer te maak en af te knou. Lyfstraf hoort saam met goed soos die minderwaardigheid en ondergeskiktheid van vroue en slawerny in die asblik van die geskiedenis.”

Die vraag op baie mense se lippe was egter wie gaan die saak polisieer as die polisie nie eers gewone misdaad kan hokslaan nie.

..........

Lees ook 

Noodplan teen geweld op vroue

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top