Suid-Amerika ‒ deel 1: Peru en die onvermydelike ongemak van reis

  • 0

Dit betrap my eintlik totaal onkant toe ons, na vyf vlugte (ja, vyf), ons eindbestemming, Cusco in Peru, bereik. Ons het twee dae tevore vertrek uit Kaapstad en met die tydverskil in ag geneem, is ons ’n hele paar uur agter met slaap. Dis reënerig en die lug is dun (Cusco lê meer as 3 000 m bo seespieël). Ons trek ’n paar solle by die eerste OTM en soek ’n taxibestuurder wat vriendelik lyk. Ons moet seker maak ons betaal nie meer as 25 solle nie, het Anna laat weet. Ons kies vir Carlos toe hy belowe om net 25 te vra, parkering ingesluit. Op pad vertel hy van die bekende berge in die area, die groot kerke en geboue wat ons moet gaan sien. Toe ons vra wat hy dink ons moet eet, stel hy “cuy” voor sonder om ’n oomblik te huiwer. “Guinea pig,” verduidelik hy. “Important Andean tradition.” In die truspieëltjie sien ek hoe hy lag vir ons reaksie. 

Kleurvolle Peru. Die mooiste handsakke, beursies en truie kry mens oral in Cusco.

Binne die magiese Machu Picchu-stad.

Soos gewoonlik is ’n mens aanvanklik ’n bietjie geoorstimuleer in ’n nuwe stad en land. Alles is nuut en vreemd. Cusco voel met eerste oogopslag baie meer Derde Wêrelds as wat ek gedink het. (Hét ek ooit daaroor gedink?) Heelwat geboue staan half gebou, min mure is gepleister. Ons vind later uit dit is vir belastingontduiking. In die middestad is die Spaanse invloed duidelik, veral aan die argitektuur. Bedrywige strate, verkeerspolisie, ou karre en baie mense. Kórt mense, neem Rezel waar – ons gaan lyk soos vier reuse van Afrika. Afrika. Afrika en “huis” voel skielik baie ver. Waar op dees aarde is ons? 

Die stadsplein van Cusco, Peru

Die verligting is groot toe ons uiteindelik by Herman en Anna aansluit by ons hostel in die hartjie van die oudorp. Hulle sit en drink koka-tee op die stoep en bied dadelik vir ons aan. Sit, drink! Wat is dit? Hulle weet nog nie regtig nie; almal drink dit hier – dit help glo vir die hoogtesiekte. Kan ons al inboek? Ek wil net stort en slaap. 

Ons druk deur en gaan stap ’n entjie. Die pad spoel ons uit by ’n plaaslike onderdakmark. Dit is duidelik die plek waar almal eet, koop, verkoop en kuier. Die kosstalletjies staan op ’n ry en bedien enigiets van ceviche, aartappelskyfies met eier en avo, pasta, tot hoender of vars vrugtesap. Mense sit in rye langs mekaar en agter mekaar (asof in ’n klaskamer) om bedien te word. Dié kos word van die kok (voor in die “klaskamer”) aangestuur na agter. Rezel en Herman maak hulle dadelik sit by een; daar is ’n pestopasta-besigheid met hulle naam op. Ek en Anna stap verder om te gaan vrugtesap soek. Ons neem die verkeerde afdraai en beland in die slaghuisstraat van die mark. Dis beesblaas, kalkoen en uiteindelik ook die marmotte wat Carlos van gepraat het. (Ek verloor my eetlus vir drie dae.)

Die kosmark in Cusco waar al die plaaslike inwoners op ’n ry sit om bedien te word.

Daardie aand praat die ontvangsdame by die hostel ons om om die volgende oggend vroeg ’n Inka-voetslaanpad aan te durf. Die staptog is langs die Salkantayroete na die Humantaymeer in die berge, 4 200 m bo seespieël. Dis blykbaar nogal iets om te sien. Ons moet 4 vm opgestaan het om per bus te vertrek na die voet van die berg. Ons wik en weeg. Ons is moeg en die vlugvoosheid gaan maak dat ons byna niks slaap nie. 

’n Paar uur later sit ons op die bussie saam met ’n paar Meksikane, Kanadese en ’n paartjie van België. Niemand praat toe ons vertrek nie, dis te vroeg en koud. Die pad kronkel op na ’n hut teen ’n bult waar ons ontbyt kry. Ek word eers na die tweede koppie koka-tee behoorlik wakker. In die kloof waar ons begin stap, kies sommige mense om per muil vervoer te word; die res van ons stap solank vooruit.

Die weer is genadiglik koel en soos ons hoër klim, raak dit al hoe stiller om ons. Die suurstof is min en ek moet telkemale my asem vang. Met elke tree raak die uitsig meer skouspelagtig, en ons al hoe meer dankbaar dat ons ons laat ompraat het. Bo gekom, lê die meer magtig en blou voor ons uitgestrek. Ons gids vertel hoe die gletsers besig is om te verdwyn en dat daar deesdae ook visse in die meer leef. Die gevolge van aardverwarming. Sy wys ons later hoe om kliptorinkies te bou met kokablare onder die laaste klip – ’n soort huldeblyk aan die Inkas.

Die vriende van Kanada, Meksiko en elders wat saam met ons stap tot by Humantay-meer. (Mnr Meksiko regs was baie patrioties.)

Die volgende paar dae spandeer ons ’n bietjie tyd in Cusco, waarvoor ek dankbaar is. Dis die tipe plek wat sy tyd vat om jou te bekoor. Met tye kan jy jou verbeel jy is iewers in Europa, maar dan herinner die aardse reuke, tradisionele gebruike en bont kleure en teksture jou weer dat jy op Peruaanse grond is. Die Inkas se terrein. Die tannies dra swaar produkte (selfs dalk ’n klein lama) oor hul skouers met die mooiste geweefde lappe. Daar is altyd ’n hoed op die kop en die hare in lang vlegsels. ’n Trotse Inka-uniform. 

Water, berge en gletsers in die bewolkte lig.

Later die week sien en beleef ons dat Machu Picchu net so majestueus is soos almal sê. Dis werklik Peru se kroonjuweel. Ek was van die staanspoor af bang dat ons teleurgesteld sal wees met hoe dit daar lyk, moontlik reeds vertrap is deur die mensdom en sy maat. Mens lees in die nuus hoe hulle al die poorte moes sluit om die berge kans te gee om asem te haal. Weens #overtourism. En as jy daar is, kan jy verstaan dat dit ’n bedreiging is. Dis ’n goedgeoliede masjien: Die treine loop flink, die voetpaadjies is gemerk en die skares word soos ’n trop beeste beperk en beheer. As jy in die sitadel rondloop, kan jy verstaan waaroor die bohaai gaan. Die huise, mure en paaie is in die 1400’s op dié hoogte met die hand gebou. Die simmetrie en presisie is verstommend, elke klip nommerpas. Aan die voet van die Inkastad staan almal tou vir die tipiese en perfekte poskaartfoto. Elke lama is ’n lopende meme en hulle moet geduldig staan vir elke verbykomende kamera. 

Meer as 3 000 m bo seespieël bo-op Montana Machu Picchu

Ons vind gelukkig die pad na die bopunt van Machu Picchu-berg. ’n Stywe en asemrowende klim deur die immergroen woud. Klam grond, varings, vreemde blomme en die sitadel wat van bo selfs meer indrukwekkend lyk. Die oomblikke bo op die berg bly enduit vir ons almal ’n hoogtepunt van die reis. Daar is spasie en stilte om tot die besef te kom waar jy is, iets vir ’n oomblik van die magiese te ervaar.

Die bekende Machu Picchu-stad onder miswolke in die Andesberge

Pragtige blomme op ons pad na die bopunt van Machu Picchu.

Ons stap later weer bergaf tot in Aguas Calientes, waar ons oornag. Ons vind nog vars forel, en bestel teen dié tyd ons koffie in Spaans: “Señor, café con leche, por favor? Gracias!”

Peru was die begin van ’n reis wat ons met tye gedink het nooit gaan realiseer nie. Suid-Amerika was vir ons almal onbekende terrein, soveel meer onbekend en onbereikbaar as Europa op Afrika se stoep. Ons wonder gereeld hoekom Suid-Afrikaners Europa kies bo Suid-Amerika – is dit die afstand, die tydsverskil? Veral as jy dink hoe maklik Suid-Afrikaners sonder ’n visum oor die grense hier kan seil. Ons besef egter ook hoe groot die lande is, hoe ver en wyd die grense, hoe enorm die kontinent. 

Machu Picchu en die Andesberge was van die begin af bo-aan ons lys. Argentinië en veral Buenos Aires wou ons ook sien. Ons het egter besluit op drie hoogtepunte in drie lande. Machu Picchu in Peru, Buenos Aires in Argentinië en die Iguazu-waterval, Rio en São Paulo in Brasilië. Van die res sou ons probeer sin maak soos ons reis. Ek het vroeg reeds vrede gemaak met die feit dat ons net die spreekwoordelike Suid-Amerikaanse roomys gaan lek. 

Soos ons reis en ’n paar keer foto’s deel op sosiale media, praat ons gereeld oor hoe selde mens sien of hoor van die ongemak van reis. Die min slaap, slegte maaltye, of ’n kamer deel met ’n halfdosyn (halfkaal) vreemdelinge. Of die lang ritte, malariapille (en die newe-effekte), vlugvoosheid, en die ongunstige wisselkoers. Alles realiteite van reis. Of dan, óns manier van reis. Ons spaar lank, spandeer so min as wat nodig is, bly in eenvoudige plekke, beweeg te voet, en eet uit die plaaslike mark/winkel/padstal. Ons probeer maak soos die mense dáár maak. Ongemaklik, seg baie. Groot avontuur, seg ons. 

Kokablare is baie algemeen beskikbaar in die Andes-hooglande. Hier pak ons dit onder ’n torinkie klippe as huldeblyk aan die Inkas.

Een ding weet ek wel: Dit raak vir my toenemend belangrik om enige plek waarheen ek gelukkig is om te reis, te verken sonder om aan te dring op enigiets. Daar leef mense daar; jy is die besoeker. En as ons beweeg en durf vertrap, is ons deel van die probleem. Die ervarings wat my bybly, is boonop die oomblikke wat daar tyd is om stil te staan, stil te word en waar te neem. Om te kan sit tot jy verveeld raak, en dan selfs nog so ’n rukkie. Of om te kan stap, bergop of padlangs, ver, tot jou asem en woorde opraak ... die slimfoon onder in jou sak, stil soos ’n muis (of marmot).

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top