Suid-Amerika ‒ deel 2: Buenos Aires, haar mense en die geskenk van ontmoetings

  • 0

Argentinië se hoofstad is ’n gesofistikeerde kontras met Peru se wye vlaktes en hoë berge. Ons neem dié keer die hostel se shuttle van die lughawe af. Ons voel min of meer soos LSM 9 toe iemand staan en wag met ’n bordjie wat ons name op het. 

Dis gou duidelik dat hulle wel nie ons name kan uitspreek of Engels kan praat nie. Ons bestuurder is gelukkig nuuskierig en probeer tog: “Where you from?” “Africa.” Soos gewoonlik, lyk hy verbaas. En soos baie ander kere moet ons verduidelik dat die Nederlanders kom nesskrop het aan die suidpunt van Afrika. Die wonderlike ding van Afrikaans in Suid-Amerika, soos met enige ander inheemse taal seker, is dat jy onderweg lekker kan kommunikeer met mekaar. Jy loop nogal nie die risiko soos in Europa dat iemand jou gaan verstaan nie. Herman kry Google op sy foon oop, en hou dit vir die drywer om in Spaans te praat. Dit vertaal losweg en saam kan ons dit regkry om sin te maak van wat hy probeer sê. Hy het hier grootgeword en is al so ’n paar jaar ’n drywer. Getroud, twee kinders; sy vrou werk nie. 

Herman vertaal wat ons drywer sê op die toepassing op sy foon.

Is hy gelukkig hier in Buenos Aires? Bly hy lekker? Nee, sê hy dadelik. Hy wil eintlik op die platteland woon en werk, maar daar is nie geld nie. Die ekonomie sukkel en mense kry meestal nogal swaar. Hy raak meegevoer as hy daaroor praat: gebruik sy hande, los met tye die stuurwiel, draai sy kop soos hy dink. Ek wonder of hy weet hoe goed ons die politieke onsekerheid verstaan.

Ons gebruik ook die kans om ’n aanbeveling te vra vir kos. Watter geregte eet hy graag? Vis, vleis? Asof dit die enigste dis is Argentinië: asado argentino.A-sa-do,” herhaal ons in ’n koor. Hy laat los weer die stuurwiel met albei hande, soen die punte van sy vingers, neem die foon by Herman om weer iets te sê in Spaans. Ek trap die imaginary briek hier agter sy blad. Vrek ouens, ons moet hom dalk nie so opgewonde maak nie. “A-sa-do,” sê hy dit weer later om seker te maak dat ons nie vergeet nie. Ons gaan dit vanaand nog soek, belowe ons.

Dit voel soos Parys se agterstrate toe ons die volgende oggend wakker word in ons hostel wat uitkyk op Buenos se strate. Tannies met waentjies loop stadig verby mure met kleurvolle graffiti. Taxi’s groet met ’n toet in die verbygaan. Iemand vee die straat. Brood word iewers in ’n restaurant gebak. Ons het die vorige nag by die Carrefour gaan proviand koop – eiers, melk, kaas. Ons geniet dit om die kombuisie te benut, wat ook uitkyk op die straat. Ek kan my verbeel ons woon al jare hier.

Ons hostelkamer is op die straat en ons sit gedurig en kyk na die mense wat verby beweeg.

Balkonblomme iewers in die Recoleta-buurt. Dit voel en lyk met tye net soos Parys, Frankryk.

Later die eerste oggend begin ons, soos baie gereeld, die verkenning van die stad met ’n gratis staptoer. Dis ’n bedompige dag en die wolke hang swaar met reën. Nietemin wag daar ’n klompie verlore toeriste op die stadsplein vir die toergids met haar groen hemp.

Ons begin gesels met ’n paartjie van Switserland wat vir vier maande deur Suid-Amerika toer. Die man is ’n aktuaris, sy is ’n onderwyser. Hoe, wil ons dadelik weet, kry julle dit reg? Die Switserse frank is sterk, toegegee, maar hoe gemaak met verlof? Dis ’n algemeen aanvaarbare ding onder jonger mense in Switserland en jy kom gewoon ooreen met jou werk. Hulle gaan albei terug na dieselfde poste hierna. Dit moet soms eensaam wees? vra ons. En hulle stem saam. Mens bly langer in een plek en die tyd raak met tye te lank.

Later ontmoet ons ook ’n paartjie van Engeland wat skaamteloos aankondig dat hulle hiér is en nie in Europa nie, want hulle wil vir ’n oomblik vergeet van Brexit. 

Ons vertrek op ’n gratis staptoer saam met mense van die wêreld oor.

Die toergids, Jime, is ’n klein, lewendige Argentyn, wat ook in Buenos grootgeword het. Sy het geskiedenis studeer en vertel elke storie met soveel animasie en energie dat jy aan haar lippe hang. Ons het skaars begin toe die eerste druppels val, gevolg deur ’n tipe stortreën wat ons nie ken nie. Ons, die stomme Suid-Afrikaners, is natuurlik totaal onverbereid. Die Britte, Aussies en Europeërs pluk elkeen ’n geel, groen of rooi waterjassie uit wat netjies pas en elke druppel buite hou. Waterdig, stylvol, slim. Jime gee ons vier kans om gou by ’n apteek in te hol vir ’n sambreel. Vir die res van die toer loop ons saam-saam ingehaak, papsopwinterwaternat, singende, gelukkig. 

Jime, ons insiggewende gids in die gietende reën.

Ons toergids, Jime, voor die Catedral Metropolitana de Buenos Aires, die hoof- Katolieke kerk in die stad.

Ons toergids, Jime, voor die Catedral Metropolitana de Buenos Aires, die hoof- Katolieke kerk in die stad.

Van al ons toere in Suid-Amerika is Jime s’n die mees insiggewende en interessante een. Die Argentynse geskiedenis, argitektuur en kultuur is fassinerend en die Europese invloed duidelik. Ons leer alles van Juan en Eva Perón. Eva het steeds ’n baie besliste teenwoordigheid in die stad en onder die mense. As Jime haar naam sê, klink dit of sy sing.

Eva Perón is steeds oral in die stad te sien – poskaarte, graffiti, museums en kuns.

’n Standbeeld in die pragtige Recoleta-begraafplaas waar Eva Perón begrawe lê.

Nog ’n beeld in Recoleta-begraafplaas in die ryk Recoleta-buurt, Buenos Aires

Ons stap al langs die breë Avenida 9 de Julio, sien die kenmerkende obelisk, die parlementsgebou en uiteindelik ook Plaza de Mayo met die pienk presidentshuis, Casa Rosada. Die president is blykbaar op kantoor op die dag, want daar is ’n spesifieke vlag gehys vir almal om te sien. Dat mens so naby aan die president kan kom, voel onwerklik en ek’s opnuut ontnugter by die gedagte van Nkandla.

Plaza de Mayo met die pienk presidentshuis, Casa Rosada, en die reuse- Argentynse vlag.

Toe ons oor Plaza de Mayo stap, gaan staan Jime om te wys na witgeverfde kappies op die plaveisel. Dit versinnebeeld die wit kinderdoeke wat moeders in die ‘70’s om hulle koppe gedra het in protes. Tydens die militêre diktatuur van 1977 is duisende kinders, babas en jongmense ontvoer. Die ontvoerdes is in konsentrasiekampe geplaas, verkoop, onwettig aangeneem of gewelddadig doodgemaak.

Rezel en Anna kyk na die wit doeke op die plaveisel geverf as herinnering aan die moeders van Plaza de Mayo.

Dit was ook teen die wet om in ’n groep te protesteer. Die moeders van Plaza de Mayo het toe in pare van twee om en om die plaza marsjeer, ingehaak, vir weke aaneen. Jime moet stop om te sluk aan die trane toe sy vertel dat daar steeds ma’s, nou 80+ jaar oud, wat soek na hulle kinders. Ons raak soos een man somber by die gedagte van die moeders wat twee-twee in die sirkel stap en rou, wit doeke op die kop. Ons stap ’n ruk in stilte.

Museo Histórico Nacional. In die koloniale tye was dié gebou die ontmoetingsplek van die stadsraad. Dis die enigste koloniale gebou wat steeds staande is en is in 1765 gebou.

Met die toer op ’n einde, wys sy ons vinnig hoe om koffie te bestel op die regte, Argentynse manier. Elke koffie het ’n ander beweging van die palm of vingers: café solo, café con leche, cortado, por favor. As jy haastig is, vra jy die rekening deur jou handtekening in die lug te maak.

Haar aanbeveling vir ’n koffiehuis, Le Petit Colon, is dadelik ’n gunsteling en ons besoek dit elke dag. Dit voel soos circa 1970 met die kelners geklee in hemp en strikdas, servet oor die arm. Die gebak is uit ’n soete Argentynse hemel en die koffies klein en stomend.

Lang cortado’s en gebak in ons gunstelingkoffiewinkel, Le Petit Colon.

Die volgende dag stap ek terug op ons voetspore om te gaan foto’s neem. My kamera is om my nek en ek stap net 10 meter toe iemand stadig langs my ry, sy venster afdraai en verduidelik dat ek nie so opsigtelik met my kamera kan loop nie. Een kilometer verder trek iemand hulle kar van die pad af, wink my nader. “Dis nie veilig nie – sit jou kamera in jou sak.” Elke keer pak ek weg en knik. Later knik ek net, wys my duim, glimlag. ’n Paar tannies tik my op die skouer: Is ek verlore, kry ek die pad? Wil ek nie maar liefs my kamera wegpak nie? Ek moet lyk soos ’n Skandinawiër of Duitser wat nie diefstal of skade ken nie. Ek waardeer egter ten diepste die opregte belang by my as vreemdeling. 

Ek verken later die parke van Palermo en kry my sit onder ’n boom. Die stilte is salig en dis wonderlik om te sien hoe die park benut word deur jonk en (veral ook) oud.

’n Straatkunstenaar verf die stad in kleurvolle kleure.

Een van die liewe ouer mense neem later die plek langs my in, boek en blokkiesraaisel in die hand. Ek vra veel later vir aanwysings, en vind uit dat sy wragtig kan Engels praat. Nog van haar dae op universiteit. Haar naam is Maria. Ons gesels oor haar Italiaanse herkoms en dat sy, alhoewel sy ’n Europese paspoort het, nie wil terugkeer na Italië nie. “The passport is not important to me. I’m happy here, I have my hope in Argentina.” Daar sluit nog ’n iemand by ons aan, ook ’n Maria, 89, van Spaanse agtergrond, steeds in diens as ’n verpleegster. Maria 1 vertaal stadig en ek kan vra oor die kerk, Spanje en hoekom sy op 50 geïmmigreer het. Dis een van die mees besondere ontmoetings van my reis en moontlik ook my lewe. Om vir ’n oomblik, op ’n Dinsdag in Desember, deel te wees van twee plaaslike mense se daaglikse roetine. Om saam die spreekwoordelike brood te breek, te sien wat hulle sien, te hoor waaroor hulle dink en te ervaar hoe hulle mekaar hanteer.

Ek en die twee Marias kuier in Plaza Intendente Casares, ’n pragtige park in Palermo.

Hulle is albei min of meer die ouderdom van die ma’s van Plaza de Mayo, dink ek ook later. Was hulle ook in opstand? Ek het vergeet om te vra. Dit bly tog voel of ons iets verstaan van die Argentyne se onsekerheid, die eerlikheid met hulself en mekaar. Hulle leef skynbaar nie in illusie of voorwendsels oor die uitdagings wat hulle in die gesig staar nie. Daar is vir hulle én vir ons ’n korrelasie tussen ons onsekerheid, onstabiliteit en ons koloniale verlede.

Dié dat ons so tuis voel hier.

Lees ook

Suid-Amerika ‒ deel 1: Peru en die onvermydelike ongemak van reis

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top