Suid Amerika – Deel 3: Die Iguazu-waterval, Brasilië en gesprekke met vreemdelinge

  • 0

Dis ’n soel somersaand en die son is al aan die sak toe ons buite die Cataratas internasionale lughawe staan en somme maak. Ons het pas geland van Buenos Aires en moet vanaand nog deur die Argentinië-Brasilië-grens beweeg. Foz do Iguazu is waar ons vanaand slaap; dis een van die bekende poortstede na die Iguazu-waterval. Dié waterval is een van die sewe wonders van die wêreld, en van die grootste watervalsisteme op die planeet. Ook net, vir ons, ’n gemaklike halfpadbestemming tussen Argentinië en Brasilië, waar ons toer verder noord in Rio de Janeiro en São Paulo tot ’n einde kom.

Ons het nie juis navorsing gedoen oor hoe ons van die lughawe gaan kom tot in Foz du Iguazu nie. Dis somer in Suid-Amerika. Die omgewing is immergroen, die grond rooi. Dit voel soos iewers naby Durban. Ek hou van die klam hitte en dit druk gemaklik teen my vel.

Ons val in ’n tou in om met ’n iemand oor die busopsies te praat. Iemand met ’n snor verduidelik dat ons vier is en net soveel gaan betaal vir ’n taxi. Die laaste bus het boonop reeds vertrek, so ons het nie juis ’n keuse nie. Buite wag die taxibestuurders soos afslaers vir toeriste wat hulle kan vervoer. Een vang ons by die deur en sê hulle fooi is standaard. Hy tik die bedrag op sy foon se sakrekenaar, ’n paar duisend peso’s. Ons beraadslag vir ’n oomblik. Daar is sekerlik goedkoper opsies. Maar dis al laat en ons is honger. Hy glimlag breed toe ons weer na hom toe stap en wys ons waar ons kan staan en wag; die bestuurder is op pad – “white car …”

Die drywer kom om die draai gegly met ’n Toyota Etios. Die kar en iets aan die man voel dadelik baie bekend. Hy’s lank met bloedrooi hare. Beslis nie die tipiese donkerder Argentynse of Brasiliaanse gelaatstrekke nie. Hy lyk soos hin Nederlander. Of dalk ’n Skot. Ons is oortuig hy gaan enige oomblik begin Nederlands praat. Toe ons vra of hy kan Ingels verstaan, lag en bloos hy net. Geen woord nie, beslis. Hy stel homself voor as José soos hy ons help om ons rugsakke in te laai. Die naam is te eksoties, besluit ons, en doop hom Fanie. Fanie trek weg met mening en ry flink verby ander busse en karre wat ophoop om uit die lughawe te beweeg. Vinnige Fanie.

Ons kry ’n vinnige selfoonfoto saam met vinnige Fanie by die Iguazu-waterval.

’n Ander probleem is om te besluit hoe ons aan hom gaan verduidelik waar ons slaap vanaand. Ons gesels met mekaar Afrikaans; hy kan in ieder geval nie Engels verstaan nie. “Wys vir hom die naam op jou foon. Of probeer dit uitspreek.” Fanie draai net sy kop skeef toe ons die hostel se naam sê. “Dis beslis in Foz do Iguaçu, Anna?”. Ons weet byvoorbeeld die spelling verskil, want ons steek ook nou die grens van Spaans na Portugees oor – Foz do Iguazu, Foz do Iguaçu, Iguazu Falls, Iguazú Iguassu, Iguaçu.

Sekerlik dieselfde plek? “Ja, dit is. Wys vir hom die naam.” Ons kom tot stilstand in die verkeer en Fanie druk die naam van die hostel in sy GPS in, save ons gasheer se nommer op sy foon. “Oe, hy gaan ’n voicenote stuur, julle …” En Fanie val wel in Portugees weg. Ons verbeel ons hy sê iets soos: “Ek het vier vreemdelinge by my wat beweer hulle slaap vanaand by jou. Is die volgende adres reg?” 

Ons vertrou hom gedwee en gesels verder. Hy sit en grinnik soos hy luister; as ons lag, lag hy saam. “Dalk kan hy werklik verstaan wat ons sê? Ek sweer hy gaan nou begin Nederlands praat. Weet hy ons praat van hom?” Ons maak ’n lang storie op van hoe hy as ’n jong lat ontvlug het uit Nederland en nou hier ’n lewe maak as taxibestuurder. Onderweg kry hy dit reg om lang toue verkeer te mis en glip ons deur ’n paar poorte deur net ons groen paspoorte by die venster uit te waai. Ons juig elke keer opgewonde. Die laaste hek is die “finale grenspos” met ’n immigrasiekantoor waar ons moet uitklim om die stempel te kry. Die tou is lank en vol interessante mense wat allerhande tale praat. Dis al laat, maar die hitte druk steeds. Fanie sê hy gaan solank ’n sigaret rook; hy wag net hier by die kar. Vir ’n oomblik wonder ons of ons werklik gevrywaar is dat hy nie die pad gaan vat met ons bagasie nie. Maar dis nie lank nie of hy kom loop ’n draai om te kyk hoe ons vorder. Ons voel veilig by Fanie. 

Kort voor lank is ons weer op pad. Dis al laat toe ons deur die stad se strate ry op soek na die plek waar ons gaan bly. Dit voel en lyk soos Nelspruit.

“Anna, hoeveel sterre het hierdie hostel gehad?” grap een van ons. “Vier of vyf, niks minder nie. Dis blykbaar ’n nuwe plek.”

Hoe verder ons ry, hoe stiller raak ons. Gereed vir wat ook al mag kom. Fanie stop en druk iemand se knoppie, “No,” kom dit van die anderkant. “Gats. Die mense wil ons nie hê nie.” Dit blyk die verkeerde huis te wees. Fanie is ’n man van min woorde. Ons ry nog verder af teen die pad wat sweerlik donkerder word. Is dit hier waar Fanie ons vermoor?

Om die draai is daar ’n lig aan op ’n stoep en iemand sit en wag. Fanie stop, draai die venster af. “Boa noite?” Die man het vir ons gesit en wag. Ons het gearriveer. Vinnige Fanie laai ons bagasie af en ons wens ons kon hom nooi vir ’n bier. Ons sien hom egter die volgende dag weer by die watrval en kon ’n foto kry. Ons groet soos ou vriende.

Johannes lyk soos ’n Brasiliaanse majoor, wat ons later ook uitvind hy inderdaad was (hy’s afgetree en het sy huis omskep in ’n plek waar toeriste ook kan oornag). Hy neem ons na ons kamer en wys dat die kombuis tot ons beskikking is. Dis pynlik netjies en skoon, heerlik ingerig – ’n wonderlike vonds in enige stad en land.

Ons bly wonder of ons op die regte plek is, want Johannes kan, soos Fanie, beswaarlik drie woorde Engels praat. Om die waarheid te sê, hy praat baie moeilik en selfs al kon ons Portugees verstaan het, sou dit moeilik gegaan het. Hoe kommunikeer hy met gaste van die wêreld oor? Dis egter ’n wonderskone ding wanneer jy weer en weer besef dat mens steeds jou pad kan vind sonder om dieselfde taal te praat.

“Gaan ons terugstap na die laaste eetplekke, of dink julle ons kan van sy mango’s eet wat so fraai uitgestal is?”

Herman wys na Uber op sy foon – sal ons ’n bus of ding kan kry? Kan ons stap?

Nee, sê Johannes, hy gaan ons vat. Sit neer julle sakke, ek kry julle voor. Kan ons betaal? Ons het nog nie Real-note kon trek nie. Hy wys net dis nie nodig vir geld nie. Kan dit wees? wonder ons vir ’n oomblik. Hy ry na die besige hoofstraat en laai ons af voor ’n steakhouse wat belowend lyk. Hy laai ons weer kwart oor tien op, sê hy. Net hier. Ons eet en loop ’n draai. ’n Uur later wonder ons of ons hom reg verstaan het. Dalk het hy bedoel ons moet van daar af terugstap? Net na 10 hardloop ons oor die pad, en hier kom Johannes in sy swart karretjie om die draai.

“Obrigado, obrigado,” bedank ons hom. Dis laat en hy’s oud. Hoekom bewys hy ons so ’n guns?

Hoe gaan ons môre by die waterval uitkom, wil hy volgende weet. Ons het geen benul nie, maar sal wel ons pad vind, verduidelik ons. Hy sal ons sewe-uur neem, sê hy. Ons keer en verduidelik dat dit nie nodig is nie en wonder weer of ons hom reg verstaan het.

Sewe-uur die volgende oggend sit Johannes en wag vir ons op die stoep. Hy gee die voëls kos en maak die swembad skoon. Ons ryg weer agter in sy kar in. Dink julle hy gaan stop vir kos? Weet hy ons het nog nie geëet nie? Dis ’n bietjie soos ’n dobbelspel. Gelukkig het ons tyd, en geloof in Johannes. Hy stop voor ’n restaurant wat duidelik ’n local spot is vir ontbyt. Regtig eintlik perfek. Hy parkeer voor die deur en wag tot ons klaar geëet het. Dan vat hy ons al die pad na die waterval toe. Dis so 40 minute se ry en op pad vra ons vrae deur Google Translate en vind ’n antwoord op elke vraag, al neem dit lank. Johannes vertel en wys en herhaal woorde wat ons moet opsoek om sin te maak van bekende aantreklikhede en besienswaardighede.

Ons betree uiteindelik die Iguaçu Nasionale Park en ry per bus tot by ’n voetpad wat mens klooflangs neem tot by die uitkykpunt van die hart van die waterval. Aan die oorkant kan jy Argentinië se vlag sien. Die watervalle is so yslik en groots soos wat elke blog en toergids sê. Riviere en strome omring met ruig en groen klowe wat uitbundig vloei en uiteindelik as wit bruisende watervalle na onder stort. Die geruis van water konstant in die agtergrond, die lug mistig en klam.

Die Iguazu-waterval is op die grens van Paraguay, Brasilië en Argentinië. Na regs lê Argentinië en na links Brasilië.

Die asemrowende Iguazu-watervalle strek oor 2,7 kilometer en daar is altesaam 275 van hulle.

’n Wye hoek van die watervalle en ook die slang van mense in aantog om nader daaraan te kom.

’n Soort miervreter wat ons sien tydens ons stap deur die park. Dis die somtotaal van diere wat ons sien, buiten voëls.

Dié wonder trek duisende toeriste van die wêreld oor. Anders as Machu Picchu is daar min of dalk geen beperking op hoe baie mense die nasionale park mag betree nie. Die voetpaaie en wandelhof wat jou uiteindelik die naaste aan die watervalle bring, buiten die bootjies, was daardie dag skaars loopbaar. Ons moes ons pad tussen selfie sticks en babbelende toeriste vind. Later het ons iewers eenkant op ’n klip gaan sit om die gedruis in te neem en toe te voet deur die park geloop terug na die ingang.

Die uitsigte soos ons klooflangs met die voetpad wandel. Daar is meer as 200 aparte watervalle in die Iguazu Nasionale Park.

Een van die uitkykpunte soos jy die grootste watterval van die reeks nader.

Anna, ek en Rezel, by een van die uitkykpunte.

Die Argentynse vlag kan jy sien aan die anderkant van die watervalle. Daar drom ook massas mense saam om dié wonder van die wêreld te aanskou.

Sonder om verder die waterval en omliggende area te verken, neem ons ’n blaaskans in ons reise in Johannes se agterplaas. Daar is ’n swembad, hangmatte en suikerbekkies wat water drink in die tuin. Salig. Stil.

Die gesellige agterplaas van Johannes. 'n Wonderlike heenkome vir ons in dié tyd.

Die laaste aand nooi ons Johannes vir aandete om dankie te sê. Ons speel charades om ’n gesprek te voer (weer met die hulp van Google Translate). Ons vertel Johannes wat ons in Suid-Afrika doen, waar ons in Peru en Argentinië was. Ons eet van die mango’s uit sy tuin. Hy bring nog toe hy sien hoe gelukkig dit ons maak. Johannes wys hoe jerbatee werk. Ons sien almal drink dit en verstaan nie die gebruik nie. Hy sê hy sal graag vir ons koffie maak die volgende dag.

Ons sit en gesels oor hoe maklik dit is om vir hom en ook Fanie hier in die vreemde te vertrou.

Johannes in sy kombuis in Foz do Iguazu.

Interessant, drie van ons besig om te luister na Malcolm Gladwell se onlangse boek, Talking to strangers. Hy praat van hoe moeilik mense is om te lees en hoe gesiguitrukking en maniërismes vertaal van een kultuur na ’n ander. Volkome te vertrou. Wanneer vertrou ons en wanneer nie, en meer belangrik, waarom nie? Gesigsuitdrukkings en gevoel speel tog ’n belangrike rol. Ons kan nie een sin met Johannes gesels nie. Tog sit ons nou en eet aandete saam met hom.

Ons maak heeldag staat op gesigsuitdrukkings en gevoel. 

Die laaste oggend verras Johannes ons met onbyt en neem ons daarna lughawe toe. Hy groet hartlik voor ons die pad vat. Hy wys ook na my beursie en my geld en verduidelik dat ons dit in Brasilië baie mooi moet oppas want Rio en São Paulo is groot en onveilig.

Ons en Johannes op die laaste oggend voor ons vertrek. Hy het ons met ontbyt verras.

Johannes verras ons met ontbyt op die laaste oggend.

Ek kan steeds nie sy goedhartigheid en gasvryheid teenoor ons glo nie. Liewe Johannes.

Today we are now thrown into contact all the time with people whose assumptions, perspectives, and backgrounds are different from our own. To assume the best about another is the trait that has created modern society. Those occasions when our trusting nature gets violated are tragic. But the alternative – to abandon trust as a defense against predation and deception – is worse. (Malcolm Gladwell)

Die epiese uitkyk vanaf Sugarloaf berg in Rio de Janeiro wat uitkyk oor Guanabara baai.

Tydens ’n staptoer van Sao Paulo, die laaste bestemming van ons reis deur Suid-Amerika.

São Paulo Cathedral in Sâo Paulo.

Ons neem gereeld staptoere in nuwe stede om onsself te orienteer.

Die toergidse in Sao Paulo en Rio en rooi hempde.

  • Foto’s: verskaf

Lees ook 

Suid-Amerika ‒ deel 1: Peru en die onvermydelike ongemak van reis

Suid-Amerika ‒ deel 2: Buenos Aires, haar mense en die geskenk van ontmoetings

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top