’n Advertensiebord wat die werk wat die UN Peacekeeping mission doen, verkoop. Die mense in Juba aanvaar en is grotendeels ten gunste van die VN se teenwoordigheid.
Só ’n swaar VN- en humanitêre teenwoordigheid het ek nog nie gesien soos in Suid-Soedan nie. Daar is 12 UN Peacekeeping missions in die wêreld. Suid-Soedan is op daai lys, wat beteken dat daar ’n basis is in die hoofstad Juba met meer as 13,000 troepe wat die land patrolleer en probeer beveilig.
Juba is die hoofstad van Suid-Soedan, alhoewel daar sprake is van ’n nuwe hoofstad.
Ek bring onlangs twee weke deur in Juba vir ’n verfilmingsprojek vir ons kliënt UNICEF Suid-Soedan. Dit is in daai oomblikke dat ek die troepe op trokke sien – gewapen en gereed – dat ek werklik verstaan het dat Suid-Soedan ’n onwaarskynlike plek is om te besoek. Dit is al vir soveel jare ontoeganklik vir die buitewêreld. Onveilig, onstabiel en onvoorspelbaar.
’n Steelfoto van die peacekeepers op ’n trok.
Soedan en Suid-Soedan word byna uitsluitlik geken aan hul konflik. Ons weet dis jare lank deur oorlog geteister.
Die VN-teenwoordigheid in Juba is aanvoelbaar, maak nie saak waarheen jy beweeg nie. Die peacekeepers se basis is in Juba.
Maar word dit steeds? Is dit veilig? Hoe onafhanklik is Soedan en Suid-Soedan regtig van mekaar?
Motorfietse en tuk-tuks is ’n algemene manier om rond te gaan.
Ná my tyd daar, wonder ek of die Suid-Soedannese nie self dalk nog tot verhaal kom nie. Soveel mense was vir lank aan die vlug en beweeg. Soveel mense is steeds aan die vlug – nou met die onlangse konflik uit Soedan na Suid-Soedan. “Refugee camp” is deel van byna elkeen se verhaal.
’n Stowwerige straat aan die buitewyke van Suid-Soedan. Die kleure as die son sak is te mooi en ek vat die kans om my kamera uit te haal.
Hoe en wanneer vind ’n mens werklik jou voete as die nuutste land in Afrika en in die wêreld?
Aan die werk
Ons was baie bevoorreg met ’n inside look soos ons kollegas by die VN – en hulle vennote by ander humanitêre organisasies – die politieke en ekonomiese uitdagings verduidelik het soos ons rondbeweeg het in Juba en buitewyke. Verder as dit kon ons nie beweeg nie, uit vrees vir ons veiligheid, asook onbegaanbaarheid van die paaie.
Een van die akteurs wat ons verfilm vir ’n musiekvideo oor jong kinderbruide.
Suid-Soedan is onder die hoogste statistieke van VN-staffers wat sterf weens konflik of doelbewuste aanvalle en/of ontvoering. Drywers van trokke wat kos en medisyne vervoer, word gereeld geteiken. Die span vertel hoe ’n mens kindersoldate, so jonk as 12, 13, ’n paar 100 km buite Juba sien.
Nog 'n aksiefoto
Buiten die VN se swaar sekuriteitsteenwoordigheid, is daar ook die Suid-Soedannese weermag én ’n spesiale eenheid wat net omsien na die president, Salva Kiir Mayardit. Daar is ook die Suid-Soedannese Nasionale Sekuriteit (NSS) met wit uniforms wat die basiese vloei van almal se doen en late kontroleer, insluitend die verkeer. Garang – ons kollega by UNICEF en gids – sê hulle kry nie veel betaling nie en oorleef op die geld of omkoopgeld wat hulle maak uit boetes. Dis ’n tipe buitensporige beheer wat intoleransie, intimidasie en dalk selfs indoktrinasie meebring.
Die getalle onder jong meisies wat gedwing word om te trou, is baie hoog in Suid-Soedan. Die bruide dra kleurvolle uitrustings. Hierdie foto is ’n agter-die-skerms-foto van die werk wat ons doen.
Die rede vir ons besoek aan Juba is ’n landwye veldtog wat UNICEF loods om bewustheid te skep oor child marriage. ’n Baie onlangse studie deur die VN wys dat een in elke twee meisies wat trou, jonger as 18 jaar oud is. En dis aan die toeneem. Daarmee saam ervaar ongeveer 75% van Suid-Soedannese meisies en vroue een of ander vorm van geweld in hulle leeftyd.
Vroue en jong meisies in Suid-Soedan kry swaar onder die geweld en tekort aan geleenthede. Ons besoek ’n gesprek onder vroue diep in die Gurei-buurt. In dié tipe samesprekings probeer aktiviste ouers kry om te heroorweeg wat hulle dogters doen as hulle ouer word.
Weens meestal ekonomiese redes, asook klimaatsverandering (wat voedselvoorsiening knou) word jong meisies verkoop of ontvoer vir mensehandel. Die geld of “dowry” in die vorm van vee word verruil om oorlewing.
’n UNICEF-kontak se buurvrou, Jessica. Kennisse en vriende was meestal ons “cast” omdat dit so moeilik is om mense te kry om in te stem tot verfilming.
Ons werk om ’n reeks kortfilms, animasies, musiekvideo’s vir veral die plaaslike gehoor te verfilm. Dis ’n komplekse, veelvlakkige saak en ek weet steeds net te min om werklik daaroor te kan skryf. Wat ek wel weet, is dat dit sonder twyfel ’n algemene verskynsel is – dit gebeur gereeld, skielik, met of sonder seremonie. En dit bring ’n diep en donker ongelukkigheid en ontevredenheid onder jong meisies en vroue. Daar is altyd uitsonderings, maar dis meestal teen hulle wil en dit ontneem hulle van so baie – om nie te praat van die fisiese skending nie.
Nog ’n buurman in die area waar ons verfilm.
In ons tyd daar was die grootste kommer rondom ons veiligheid meestal dat ons gearresteer sou word deur die NSS. Hulle vertel hoe gereeld joernaliste gekortwiek, gearresteer en selfs gemartel word.
Zabib, een van die aktiviste teen geweld en child marriage.
Sensorskap is aan die orde van die dag met verteenwoordigers van die regerende party wat die radio, TV-kanale en koerante reguleer. Die beperkinge op enigiemand wat foto’s neem en/of verfilm in Suid-Soedan, is ontsettend streng. Selfs met permitte en al die dokumentasie van die VN kon ons nie op straat of in die publiek verfilm nie. Ons is pal gewaarsku deur ons kollegas om selfs nie eens uit die kar se ruit te probeer verfilm nie (alhoewel ons noodgedwonge moes). Dit het ons werk, om die minste te sê, bemoeilik.
As jy vra hoekom, is die staat en mense se “insecurity” die rede. Daar is ’n onwilligheid om vir die buitewêreld te wys hoe dit daar lyk, verduidelik hulle. Die kommer is nie net sekuriteit nie, maar ook dat die nuwe land nog nie genoeg “vordering” gemaak het ná die onafhanklikwording nie.
As ’n kort oorsig van die onlangse geskiedenis – Suid-Soedan is onafhanklik verklaar van Soedan in 2011. Daar was konflik sedert die 1950’s met verskeie burgeroorloë wat woed toe die Arabiese en Moslem-noorde stry kry met onder andere die Dinka-mense wat meer suid woon. Dis ’n storie van grond, olie, geloof en kulturele verskille. Die Egiptenare is ook deel van die storie, asook die Britte wat tydens kolonisasie al die land in ’n noorde en ’n suide verdeel het. Een van die eerste vredesooreenkomste is onderteken in Addis Ababa in die 70’s en die laaste een so onlangs as 2018.
In die 80’s word die Sudan People’s Liberation Movement (SPLM) gestig wat uiteindelik sou lei tot onafhanklikheid – en steeds vandag die regerende party is. Onder die stigterslede is John Garang de Mabior (sy vrou, Rebecca de Mabior, dien tans as adjunk-president en minister van “Gender & Youth”) en Salva Kiir Mayardit – die eerste en huidige president van Suid-Soedan. Daar was sedert 2011 nog nie demokratiese verkiesings in Suid-Soedan nie.
Toe ons met Mama Rebecca (soos daar na haar verwys word in Juba) ’n onderhoud voer en vra wat die rede is vir die onsekerheid, is haar antwoord onomwonde: Die jarelange konflik en geweld, dit misplaas en traumatiseer.
Sonder veel van ’n ekonomie of infrastruktuur en veral sonder ’n werkende landbousektor wat kos voorsien, bly Suid-Soedan ontsettend weerloos.
Krag afkomstig van Etiopië is onbekostigbaar ($3 ’n kWh), so Juba is meestal donker. Water word uitsluitlik voorsien uit die Nyl en word per trok na mense se huise vervoer waar die huiseienaar dan per tenk betaal. Selfs gebottelde water kom uit die Nyl en is vir baie die enigste bron van water. Een in drie kinders daar is daagliks blootgestel aan ernstige waterskaarsheid, volgens UNICEF. En dit met ondraaglike hoë dagtemperature in die meeste maande van die jaar.
Daar is min gevestigde hotelle in die stad.
Ons was gelukkig om in een van die enigste gevestigde hotelle in die stad te woon. Dit word besit en bestuur deur Libanese. Met Arabies as voertaal is daar heelwat inkommers van Noord-Afrika. Die eienaar het verduidelik dat al die kos wat hulle voorsit, ingevoer word van Kenia, Uganda, Libanon, en vleis so ver as van Brasilië. Ons sien sap op die rakke van Ceres. Selfs kos te koop op straat, elke piesang en bottel langlewe-melk word ingevoer – wat sou verduidelik hoekom alles so duur is. Wat mense op straat eet, bly vir my ’n duistere saak – ’n bietjie bone, kassava, hier en daar hang ’n boerbok pas geslag.
’n Tipiese straattoneel in Juba, geneem vanaf ons hotel se dak.
En nou sit ek in die verkeer in Kaapstad en sien die geboue en karre, plakkate op langpale van ons vrye pers. Winkels met rakke vol kleurvolle vrugte en groente. Ek sien ook ons eie internally displaced mense langs die pad en die man in die rolstoel wat die verkeer ophou omdat hy honger is, en ek wonder: Is ons oukei? Is ons oukei?
Lees ook:
60 Dae in Suid-Soedan 'n intieme blik op 'n proses van groei en verandering