Taal en migrasie: ’n onderhoud met Andries Coetzee

  • 0

Andries Coetzee (Foto: verskaf)

Andries Coetzee is ’n taalkundige wat in Michigan in die VSA woon. Hy gesels met Naomi Meyer oor taal, migrasie en ook tyd en omgewing. 

Andries, jy is al ’n paar jaar lank ’n Afrikaansdosent in die VSA. Sal jy kortliks vertel wat jy doseer, waar en vir ongeveer hoeveel studente?

My akademiese loopbaan het begin by eertydse PU vir CHO (nou NWU). Ek was ’n dosent in Semitiese Tale daar van 1994 tot 1999, en het hoofsaaklik Hebreeus en Aramees doseer (en ook ’n bietjie Arabies en Grieks). In 1999 is ek VSA toe om ’n PhD te doen in linguistiek (algemene taalwetenskap, of ATW) aan die Universiteit van Massachusetts. Nadat ek my PhD voltooi het, het ’n aanstelling gekry in die Departement Linguistiek by die Universiteit van Michigan, waar ek tans ’n volprofessor van linguistiek is, asook direkteur van die African Studies Center.

Ek doseer dus nie Afrikaans nie, maar eerder ATW. ’n Groot deel van my klasse (veral meer gevorderde voorgraadse klasse en ook nagraadse klasse) het ’n sterk fokus op Afrikaans, en my studente word dus almal baie goed ingelig oor die geskiedenis van Afrikaans, die basiese grammatiese struktuur van die taal, en hoe Afrikaans inpas in die komplekse linguistiese landskap van die veeltalige moderne Suid-Afrika.

Ek doseer baie gereeld ons grootste voorgraadse inleidende klas (Linguistics 111: Introduction to Language). Hierdie klas het 300 studente, en word twee keer per jaar aangebied. In hierdie klas spandeer ons so ongeveer twee weke uit die semester (van 13 weke) aan Afrikaans.

’n Ander klas wat ek gereeld aanbied, is die hoërvlak voorgraadse klas in fonologie/fonetiek (gemik op “linguistics majors” in hulle vierde jaar, en dus so ongeveer die ekwivalent van honneursstudente in die Suid-Afrikaanse sisteem). Hierdie klas het gewoonlik tussen 30 en 40 studente en word twee keer per jaar aangebied. Alhoewel die klas fokus op fonologiese en fonetiese teorie, laat ek altyd my studente twee groot opdragte doen (70% van hulle finale punt vir die klas) waarin hulle ’n aspek van Afrikaanse fonetiek en morfofonologie moet ontleed. Die studente in die klas leer dus baie oor Afrikaans gedurende die semester. 

Op nagraadse vlak is die meeste van ons dosering in die vorm van navorsingseminare. Die tema van die klas is dus elke jaar verskillend en fokus gewoonlik op wat ek ook al op daardie stadium in my eie navorsing doen. Die mees onlangse seminaar waarby ek betrokke was (vroeër in 2018), is saam met ’n kollega aangebied en het gefokus op taalverandering as gevolg van taalkontak. Dit was ’n gevorderde seminaar vir PhD-studente, en ons het ses studente in die klas gehad. Ongeveer ’n derde van die semester het gefokus op Afrikaans (die ontstaan van Afrikaans in die komplekse taalkontaksituasie in die 17de/18de eeu aan die Kaap, en ook die situasie in moderne Suid-Afrika).

Jy is al ’n paar jaar lank ook betrokke by ’n taalondersoek van boere in Argentinië – soos baie mense weet, praat hierdie groepie mense nog Afrikaans (net ’n handvol, korrek?), maar heelwat verstaan nog Afrikaans en bedryf ’n soort Afrikaanse kultuur van 200 jaar gelede. Of hoe sou jy dit opsom?

Die voorouers van die huidige Patagoniese boere het hulle tussen 1902 en 1906 daar gevestig. Die Afrikaanse gemeenskap daar is vandag taamlik groot, alhoewel daar min lede van die gemeenskap oor is wat nog Afrikaans kan praat. Sedert die tweede helfte van die vorige eeu het ouers hulle kinders in Spaans grootgemaak, die kinders het Spaanse skole toe gegaan, en so meer. Die gevolg is dat dit nou net die oudste lede van die gemeenskap is (meestal oor 70 jaar oud) wat nog Afrikaans praat. Dit is moeilik om ’n akkurate skatting te maak, maar ek dink dat daar waarskynlik 20–40 sprekers van Afrikaans oor is. Die kinders van hierdie sprekers (30–50 oud) het baie ’n basiese begripskennis van Afrikaans, maar kan nie meer die taal praat nie. En die volgende geslag het min kennis van Afrikaans buiten ’n paar woorde vir kos (soos melktert, koeksister, bobotie) en kultuurbegrippe (Boer, volkspele, ens).

Alhoewel die taal dus nie meer vir lank sal oorleef in die gemeenskap nie, is daar nog ’n sterk identifikasie met die oorsprong van die gemeenskap, Suid-Afrika en Afrikaans. Die gemeenskap het pas ’n museum (en gemeenskapsentrum) geopen wat items en dokumente oor die geskiedenis van die gemeenskap bewaar. Hulle het ook ’n aktiewe gemeenskapsorganisasie wat gereeld byeenkomste organiseer. Hulle hou ook jaarliks wat hulle “sports” noem – ’n byeenkoms wat ’n paar dae duur iewers in die veld met boeresport doen, dans, braaivleis, ens.

Hierdie deel van Patagonië het etlike immigrantegroepe, en die gemeenskap is in die algemeen baie trots op hulle diverse herkoms. Baie van die ander immigrantegroepe het soortgelyke kultuurgroepe as die Afrikaanse gemeenskap. In Comodoro Rivadavia en Sarmiento is die Afrikaanse gemeenskap egter die grootste van die immigrantegroepe, en die twee munisipaliteite word dus in besonder met die Afrikaanse gemeenskap geassosieer. 

’n Film is hieromtrent vervaardig: Boere op die aardsdrempel. Wat was jou rol en betrokkenheid hierby?

Ons was nie betrokke by die maak van die film nie – dit is alles die werk van die wonderlike filmmaker Richard Gregory. Richard was in Patagonië tydens ons eerste besoek aan die gemeenskap, en hy het ons dus rondgevolg tydens ons besoek aan gemeenskapslede, met die gevolg dat ons navorsingspan in so omtrent ’n kwart van die film voorkom. Ek dink dit is ’n uitstekende film wat die “gevoel” van die Patagoniese gemeenskap baie goed vasvang.

Dis ’n voortgaande projek, die taalkundige ontleding van die mense in Patagonië. Wat is vir jou interessant hieromtrent?

Die projek is nou reeds vier jaar onderweg, en ek dink dat dit nog seker minstens vier jaar sal voortduur. Jy kan meer leer oor ons projek op ons webwerf hier. Ons is ook besig om ’n digitale argief oor die gemeenskap te bou wat aanlyn beskikbaar is. Die argief bevat dokumente, foto’s, en meer oor die gemeenskap. Op die oomblik is al die metadata in die argief nog met in Engels (alhoewel die meeste dokumente in Spaans of Afrikaans is). Dit is egter ons plan om die argief drietalig te maak met al die metadata in Afrikaans, Spaans en Engels. Die argief is ’n “work in progress” en sal baie uitgebrei word oor die volgende paar jaar.

Ons navorsing het tans ’n dubbele fokus: ons ondersoek die tale van die gemeenskap, maar ook die sosiaal-kulturele identiteit van die gemeenskap. Wat die taal aanbetref kyk ons beide na hulle Afrikaans en na hulle Spaans. Hierdie gemeenskap is die enigste plek in die wêreld waar Spaans en Afrikaans so intens en al vir so lank met mekaar in kontak is, en dit is dus ’n unieke kans om hierdie spesifieke kontaksituasie te bestudeer. Hoe word hulle Afrikaans deur hulle Spaans beïnvloed, en hulle Spaans deur hulle Afrikaans?

Foto: YouTube (Boere op die aardsdrempel)

Foto: YouTube (Boere op die aardsdrempel)

Foto: YouTube (Boere op die aardsdrempel)

Hulle Afrikaans is ook baie belangrik vanuit die oogpunt van die geskiedenis van Afrikaans. Die gemeenskap het Suid-Afrika verlaat voordat Afrikaans amptelike status gekry het in 1925. Hulle Afrikaans is dus nie beïnvloed deur die standaardisering wat gekom het ná 1925 in Suid-Afrika nie. Afrikaans was ook meestal vir die gemeenskap slegs ’n gesproke taal, met die gevolg dat dit nie deur die spellingkonvensies beïnvloed was nie.

Aan die sosiokulturele kant ondersoek ons hoe die lede van die gemeenskap hulleself posisioneer relatief tot Suid-Afrikaanse identiteit en Argentynse identiteit. Hoe onderhandel hulle die soms konflikterende aspekte van hulle identiteit? Hoe word dit reflekteer in hulle taalgebruik?

Nou is dit in die nuus in Suid-Afrika dat daar boere is wat in Rusland wil gaan boer. ’n Mens sou kon redeneer dat die mense wat wil trek, dit om sekere ideologiese redes wil doen. Tog: baie mense wat na ander lande wil trek, doen dit om finansiële redes, en om te protesteer, of omdat hulle nie tevrede is met die omstandighede van hul eie land nie. Wat is jou eie waarnemings van die mense in Patagonië (wie se redes en omstandighede natuurlik verskil van dié van die boere wat Rusland toe wil gaan)?

Migrasie is deel van die geskiedenis van die mensdom vanaf die vroegste tye en tot vandag toe. Sover as ek kan sien, is daar niks nuuts in die migrasie van boere na Patagoniё toe nie, en ook nie vir boere wat sou kies om Rusland toe te gaan nie. Hierdie migrasies vind al vir millennia plaas en om baie van dieselfde redes: ideologies, finansieel, avontuur, oorlog, en meer.

Die Sint Basilius-katedraal op die Rooiplein in Moskou, Rusland

Die redes vir die Patagoniese migrasie is kompleks en verskillende lede van die oorspronklike groep van 600 het waarskynlik verskillende motiverings gehad. Vir sommige was dit sekerlik ideologies. Die twee Boererepublieke het pas in 1902 onafhanklikheid verloor en deel geword van die Britse Ryk. Sommige Boere wou nie onder die Britse Kroon leef nie, en die kans om Suid-Amerika toe te gaan was dus ’n perfekte alternatief vir hulle.

Baie boere se plase is natuurlik heeltemal verwoes tydens die oorlog, en vir sommige was die motivering sekerlik finansieel gewees. Die kans om oor te begin in ’n nuwe plek, met ondersteuning van die Argentynse regering, was aanloklik gewees.

Migrasie is nooit maklik nie. Mens begin oor in ’n kultuur wat jy nie verstaan nie, tussen tale wat jy nie kan praat nie, ver van familie en die bekende. En tog is dit ’n taamlik algemene praktyk die wêreld oor. As daar wel boere Rusland toe sou gaan, kan ek dink dat hulle aanvanklik sal sukkel met die vreemdheid. Mense het egter die vermoë om aan te pas, en ek sou vermoed dat hulle na ’n paar jaar sal inskakel en deel van hulle gemeenskap sal word. Ek twyfel of Afrikaans vir 120 jaar sal oorleef in daardie konteks. Immigrantetale oorleef gewoonlik net vir een of twee generasies (30–40 jaar). Die enigste rede hoekom dit 120 jaar oorleef het in Patagonië, is dat die boere in ’n baie afgeleë area gaan woon het, met die gevolg dat hulle min kans gehad het vir integrasie met die Spaanssprekende gemeenskap vir die eerste 60 jaar van die gemeenskap se bestaan. As daar meer kontak is met die primêre taal van die land, dan gebeur integrasie (en daarmee saam verlies van die immigrantetaal) gewoonlik baie vinniger.

Die effek op taal: Wat hoor mens uiteindelik? Die taal van die land waarvandaan die mense kom wat deurtrek word met die taal van die land waar hul nou woon? Of hoor mens eerder dat die huidige of volgende geslag van die mense die taal praat van die nuwe land (met hier en daar verwysings of uitsprake wat die taal van hul herkoms eggo)?

Taal is altyd ’n produk van tyd en omgewing, waar dit ook al in die wêreld gepraat word. Die Afrikaans van die Patagoniese boere is geen uitsondering nie. Daar is aspekte van hulle Afrikaans wat nou argaïes klink vir die Suid-Afrikaanse oor omdat Afrikaans in Suid-Afrika sekere veranderinge ondergaan het wat nie gebeur het in Patagoniese Afrikaans nie. Terselfdertyd is daar dinge wat in Patagoniese Afrikaans verander het wat nie in Suid-Afrika plaasgevind het nie. Suid-Afrikaanse Afrikaans het ook baie meer invloed van Engels en Patagoniese Afrikaans van Spaans.

’n Voorbeeld van ’n oorblyfsel van ouer Afrikaans in Patagonië is ouer uitsprake van voorde soos “nege”. Mens hoor gereeld onder die Patagoniese sprekers ’n uitspraak met ’n plosiewe [g] terwyl dit in Suid-Afrika nou meestal met ’n frikatief as [x] uitgespreek word. Patagoniese Afrikaans het ook soms ouer woorde bewaar, soos goewerment vir regering, leermeester vir onderwyser, en so meer. Voorbeelde van verandering in Patagoniese Afrikaans wat nie in Suid-Afrika plaasgevind het nie, is dat die kontras tussen lang [a:] en kort [a] baie minder is in Patagoniese Afrikaans (en vir sommige sprekers nie meer bestaan nie). Jy kan dus uitsprake met kort [a] hoor vir woorde soos kaas, Kaap, ma, ens.

Lees ook op Voertaal en LitNet

Suid-Afrikaanse boere wil in Rusland gaan boer

Taalverskuiwing en taalhandhawing onder Afrikaanse ekspatriate

kykNET Silwerskermfees 2015: Boers at the End of the World | Boere op die aardsdrempel

Boer-tyne: 'n Familiefotoalbum uit Argentinië

Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld2000

Buro: NM
  • 0
Top