Een van die vele straatkunsgesegdes wat jou tot stilte dwing. (Foto: Clifford Roberts)
Ek sien laat die Sondagmiddag voor ons terugkom huis toe ’n glasvoëltjie met ’n pers en blou en geel pensie waarin klein lugborreltjies vasgevang is tydens die glasblaasproses. Die volgende oggend is ek terug voor ons vlug, maar die klein ateljeetjie in St Catherine’s Passage in Tallinn, Estland is steeds toe. Min het ek geweet dat ek twee jaar later sou terugkeer na die stad en sedertdien elke dag na daardie einste glasvoëltjie op my lessenaar kyk.
........
Ons het ’n fassinasie met die voormalige Oosbloklande – asof enige besoek daar jou herinner aan die dae van Russiese spioene en afluisterapparate en dramas op die televisie.
........
Ons het ’n fassinasie met die voormalige Oosbloklande – asof enige besoek daar jou herinner aan die dae van Russiese spioene en afluisterapparate en dramas op die televisie. Ons tweede besoek volg na ’n mediabesoek aan die land om Suid-Afrikaners aan die land bekend te stel. Dit was net ’n lusmakertjie en ons keer terug om die stad op ons eie te verken.
Bo en onder: In klein winkeltjies is pottebakkers, glasblasers en naaldwerksters besig om hul handgemaakte ware te vervaardig. Dis hier waar ek my glasvoëltjie die eerste maal sien. (Foto’s: Clifford Roberts)
My eerste stop nadat ons tasse neergesit het in die Airbnb in die ou stadsmuur, is die glasblaser se ateljee. Dis koud buite, maar binne brand ’n gasverwarmer wat lyk of dit uit die rekwisiete van ’n Spielberg-fliek kom.
Ek verduidelik haar van die voëltjie en sy lag. Hy het vir lank in die vensterbank gesit – waar hy my oog gevang het – maar toe het sy ander ontwerpe probeer en hy het op ’n rak agter in die winkel beland. Sy gaan krap daar tussen haar goed en sowaar! Sy sit die lyfie wat in my handpalm pas, op die toonbank neer en kan my ongeloof sien.
Met die voëltjie netjies in plastiek toegedraai en in my handsak, vang ons die City Tour Tallinn bus, wat ’n rooi, groen en blou roete het. Ons sit heel voor, ons oorfone ingedruk vir die kommentaar. Ons hoor dat die stad se argitektuur Middeleeus, Renaissance, Sowjet tot modern insluit en dat Estonië weer in 1991 – 34 jaar gelede – onafhanklikheid van Rusland verkry het.
Die stad het 461 000 inwoners en was in 2011 Europa se Kultuurstad.
Die St Nicholaskerk het ons verskeie male teruggeroep vir nog ’n foto. (Foto: Clifford Roberts)
Die reusebiblioteek – bekend as die Temple of Books – het meer as 3,5 miljoen boeke, ongeveer drie boeke vir elke Estoniër. Dis tans onder konstruksie en sal weer in 2027 open. Ek kan hoor aan die kommentaar dat selfs die oudiogids opgewonde is!
As jy op die bus bly sit en die roete voltooi, kan jy al drie roetes sien en jouself goed vergewis van die plekke wat jy weer wil besoek.
Ons ry uit na die Tallinn TV-toring buite die stad. Jy ry hysbak na die 21ste vloer (170 meter) en kyk uit oor die ou stad, die nuwer deel en die hawe. Ons hoor hoe Russiese soldate in 1991 probeer het om die toring te beset en hoe vier werknemers hulle binne toegesluit het en ’n vuurhoutjieboksie in die hysbak se deur gesit het, om hulle te verhoed om toegang tot die antennas heelbo te kry. Toe klim die soldate die meer as 1 000 trappe, maar was steeds onsuksesvol. Die koeëlgate onder in die sement is al bewys van hul probeerslag van dié aanval.
Die Tallinn TV-toring buite die stad. Jy ry hysbak na die 21ste vloer (170 meter) en kyk uit oor die ou stad, die nuwer deel en die hawe. (Foto: Clifford Roberts)
Die toring is gebou om beter telekommunikasiedienste te lewer vir die Moscow Somer Olimpiese Spele en is tans die hoogste “nie-geboude” struktuur in Tallinn. Toe die meisie wat dié nuus met ons deel, die frons op ons voorkop sien, begin teken sy die toring op ’n servet en wys dit word so genoem omdat dit groot dele staalmaste het en dus nie as sulks baksteen en sement is nie.
Ons wag ’n halfuur in die vriesende koue vir die bus om terug te gaan stad toe.
Ons eindig by die stad se mooiste kerk – aldus die gidsboeke – St Nicholaskerk, wat nie meer vir kerkdienste gebruik word nie, maar vir musiekuitvoerings, navorsingsbesoeke en as museum dien.
Bo en onder: Die foto’s wys hoe die St Nicholaskerk, wat nie meer vir kerkdienste gebruik word nie, in die Tweede Wêreldoorlog deur Russiese bomwerpervliegtuie verwoes en later gerestoureer is. ’n Brand het in die tagtigs weer die toring verwoes en dis weer herstel. (Foto’s: Clifford Roberts)
Dit het nie meer ’n kansel nie. Dis in die Tweede Wêreldoorlog deur Russiese bomwerpervliegtuie verwoes en later gerestoureer. ’n Brand het in die tagtigs weer die toring verwoes en dis weer herstel.
........
Nadat ons uit die kerk is, is dit pikdonker buite. Ons stap effe van die kerk af om ’n beter foto te neem en sien ’n restaurantjie waarvan die geselligheid jou buite op die sypaadjie kom haal. Ons druk ons neuse amper plat teen die ruit. Binne begroet iets ouds, klassieks, moderns en verwelkomends, alles in een, jou.
........
Nadat ons uit die kerk is, is dit pikdonker buite. Ons stap effe van die kerk af om ’n beter foto te neem en sien ’n restaurantjie waarvan die geselligheid jou buite op die sypaadjie kom haal. Ons druk ons neuse amper plat teen die ruit. Binne begroet iets ouds, klassieks, moderns en verwelkomends, alles in een, jou.
Väike Rataskaevu 16 se mure se pleister is afgekap en alles is skeef en krom. Dit lyk duur en ek vra of ons kan koffie drink. Die musiek is egter so meesleurend, die hitte binne so verwelkomend en die geure uit die kombuis so verleidelik dat ons besluit om vroeg aandete te geniet.
Väike Rataskaevu 16 se mure se pleister is afgekap en alles is skeef en krom. Dit is ’n 14de-eeuse huis en met die omskepping het hulle op versteekte pilare en muurskilderwerk afgekom en besluit om soveel moontlik te probeer behou. (Foto: Clifford Roberts)
Die kelnerin sê dat die restaurant heropen het na omvattende herstelwerk. Dit is ’n 14de-eeuse huis en met die omskepping het hulle op versteekte pilare en muurskilderwerk afgekom en besluit om soveel moontlik te probeer behou. “Die interessantste vonds was egter die duiwelgesig in die solder – hy kyk reguit na die kerk oorkant die pad – maar toe die bouers dit wou restoureer, het dit begin verkrummel en dit maar weer toegebou,” vertel sy met ’n knipoog.
Ons woonstelletjie in die ou stadsmuur is soos iets uit ’n sprokie. Daar is klein liggies wat oral hang, skaapvelle op die stoele en ’n handgemaakte blokkieskombers oor ons bed. Dit voel waarlik asof jy in die tagtigs is. By die boonste venstertjie wink die St Olavskerk vir ons in die verte.
........
As dit nie vir die ligskakelaars, kragproppe en moderne blompotte was nie, kon jy regtig in enige eeu vasgevang wees.
........
Die St Alexander Nevsky-katedraal, waar die Russiese Ortodokse kom aanbid. (Foto: Clifford Roberts)
Die volgende dag stap ons die kronkelstraatjies op na die Russiese St Alexander Nevsky-katedraal op Toompeaheuwel. In die reusekatedraal hang die reuk van wierook swaar in die lug. Dis warm binne en hoewel ’n teken vra vir stilte, is daar ’n lae murmurering onder besoekers wat in vervoering staan oor die muurskilderwerk en goudbedekte fresko’s. ’n Vrou was die vloer. Die reusemop trek seepwaterstrepe op die maroen, bruin, wit en blou teëls. Agtertoe staan ’n vrou op ’n leer en stof die heilige gesigte af. Ek wonder wat deur hul koppe gaan daar in die stilte en gewydheid.
........
Agtertoe staan ’n vrou op ’n leer en stof die heilige gesigte af. Ek wonder wat deur hul koppe gaan daar in die stilte en gewydheid.
........
Kort-kort gaan die voordeur oop en ’n briesie kom tiekiedraai vriesend om jou enkels en waai die reuk van die bosse vars blomme op die trappies en altaar na jou toe aan. As dit nie vir die ligskakelaars, kragproppe en moderne blompotte was nie, kon jy regtig in enige eeu vasgevang wees.
Die stad se oudste apteek is vandag nog ’n werkende apteek en het interessante deurdetail, pille vir moderne skete en ’n museumgedeelte. (Foto: Clifford Roberts)
Die apteek op die dorpsplein is al sedert 1422 ’n apteek. Die gids wat vier Hollanders rondneem, vertel dat jy in die Middeleeue altyd die apteek kon uitken aan twee bottels in die venster: een met rooi vloeistof wat bloed verteenwoordig en een met blou vloeistof, vir water. “Aptekers moes hoogs intelligent wees; vir sewe jaar studeer; en dan vir sewe jaar saam met ’n ervare apteker werk voor hulle kon kwalifiseer.” In die hoek is ’n resep vir ’n eg Estlandse drankie. “Beter as Jägermeister,” beduie die gids.
Dis ook net vir Afrikaanse mense wat dié galery se naam sal snaaks wees. (Foto: Clifford Roberts)
In die ander hoek is bottels vol dooie diere, waarvan die ledemate gebruik is vir allerhande brousels. Die mense het geglo die diere se ledemate verteenwoordig mensledemate: die kop is dus gebruik vir kopseer, die hand vir handpyn, en so meer. “As jy dus jou sakeopponent in die dorp wou skade berokken, het jy gedroogde tone gekoop – dis slegte geluk – en dit onbewustelik in sy sak laat ingly en sy besigheid sou faal,” vertel sy. Terwyl toeriste hulle verkyk aan al die botteltjies, help ’n apteker mense met kopseerpille, rome vir spierpyn en verkouemedisyne.
Daar is vele uitkykpunte vanwaar jy mooi foto’s kan neem, maar my gunsteling was van die ou stadsmuur af. (Foto: Clifford Roberts)
Ons gaan stap vroegoggend op die stadsmuur en gaan val by die stad se oudste koffiewinkeltjie, Maiasmokk, wat verlede jaar sy 160ste bestaansjaar gevier het, vas vir cappuccino’s en sjokolade-eclairs en ’n beskuitjiekoek. Die jong meisie agter die glastoonbank sê elke Estlandse familie het hul eie geheime beskuitjiekoek-resep.
Ons raak weg tussen die gesels van die mense om ons en sit en lees ons boeke vir ’n hele paar uur daar in die warmte van die kafee.
Dis met groot hartseer dat ons die laaste oggend ons woonstelletjie skoonmaak. Dis drie grade Celsius buite toe ons ons tasse oor die plaveistene sleep na die stasie. Ons volgende bestemming roep!
Kitsfeite
- Verblyf en lewenskoste vir Suid-Afrikaners is heelwat goedkoper in die Oosblok as ander Europese lande, maar die ervaring en ryk geskiedenis selfs nog beter.
- Die Tallinn-kaart kos €43 (24 uur), €63 (48 uur) of €76 (72 uur) en is by die toerismeburo’s beskikbaar. Daar is gratis toegang tot meer as 50 museums ingesluit. Baie museums en ander attraksies is Maandag en openbare vakansiedae gesluit. Besoek www.visittallinn.ee of stuur ’n e-pos na info@visittallinn.ee