Tanzanië – veel meer as Kilimandjaro, Zanzibar en die Serengeti

  • 0

“The one thing I’ve learned is that the only way to survive here is to understand that everything, absolutely everything, is relational. It’s you in relationship with others, in everything you do. Community. Not ‘me’, but ‘us’. When Americans come and visit us now, it’s frightening, sickening even, to see and experience how self-entitled we have become. We come into this community with a mentality of, ‘We can fix this, we can “fix” you.’

“I can’t see us going back. Tanzania has changed us.”

My sitplek in die vliegtuig is toevallig langs ’n mediese dokter en sendeling. Eric, sy vrou en hulle sewe kinders woon al meer as twee jaar lank in Kigoma, Tanzanië. Ons sit op die “primitiewe” aanloopbaan en wag vir ons vlug om te vertrek. Kigoma-lughawe funksioneer sonder teerpaaie, vervoerbande, of enige spoggerige duty-free-afdelings of winkels. Dis net ’n klein skoendosie van ’n gebou met een toonbank en ’n enkele metaalverklikker. Aan die ander kant wag jy in ’n tou vir die vliegtuig wat voor jou land, soos by ’n busstop iewers anderkant Nelspruit.

Stofstrate van Kondoa.

“There are no emergency units, and hardly any medicine or equipment. I did not expect things to be this ‘primitive’ when accepting the job. All I yearn for every day is a well-functioning emergency unit, but I’ve decided to wait and learn more about how things work here. Then I’ll decide if my suggestions really will make it better.”

Ek was self in die einste klinieke, ’n hele paar oor die laaste week. Buiten ’n rakkie of twee pynmedikasie, en ’n rolstoel of twee wat rondstaan, is dit basies net die gebou.

“Yes, I mean we have nothing to treat serious illnesses with. Nowhere close to what we have in any hospital in the States.

“In the rainy season so many people die because of malaria. It’s overnight, immediate. They develop a fever and then you know it’s over. There’s so little you can do to help.”

Ons was die laaste week so gereeld verlore in Swahili en gebroke Engels dat ek dankbaar is vir ’n gesprek in Engels wat ’n paar dinge verduidelik. Ons is in Tanzanië om ’n dokumentêre reeks te verfilm. Ons is op soek na stories oor Vigs, TB en malaria, die drie epidemies wat lande soos Tanzanië bly teister.

Agter die skerms – ons verfilm verpleegsters en gemeenskapswerkers.

Weens die tekort aan medici en klinieke maak die mediese ketting hier baie staat op “community health workers” – vrywilligers wat met voet en fiets die mees afgeleë plekke bereik om muskietnette te versprei, mense te vertel van TB of te oorreed om getoets te word – vir MIV, TB, COVID-19.

Die ingang van ’n noodeenheid by ’n kliniek in Kasulu.

’n Metaalbed met wiele by ’n kliniek in Kasulu. “Wodi ya wazazi” in Swahili beteken “ouers se saal”.

Die buurvrou en daai buurman wat seker maak ander verstaan hoe belangrik die medisyne is en hoe om dit te neem, en so lewens red. ’n Sisteem van gesondheidswerkers, verpleegsters, motorfietsryers, velddokters, weldoeners wat absoluut staatmaak op verhoudings en vertroue bou. Ons wil juis hiérdie stories vertel.

Fietse en motorfietse is baie algemene vorme van vervoer in Tanzanië.

Een van die gemeenskapsgesondheidswerkers wat boek hou van sy dorpie se moeders en siekes.

Covid het baie van die harde werk en deurbrake van die laaste 20 jaar ongedaan gemaak. En buiten die pandemie, en beperkte geld, goedere en dienste, is daar ook die stryd tussen moderne medisyne en tradisionele of volksgeneeskunde.

Die vorige president, John Magufuli, is verlede jaar oorlede aan Covid. Maar dis nie algemeen bekend nie, óf dit word ten sterkste ontken. Hy was een van die Afrika-leiers wat baie skepties was oor COVID-19 en veral die impak daarvan op ander epidemies, soos veral TB. Die entstof het Tanzanië, soos baie ander Oos-Afrika-lande, eers onlangs bereik.

Ons begin in Dodoma, die hoofstad, by die Departement van Gesondheid om die nodige toestemming te kry om klein dorpies en klinieke te kan binnegaan. Teen die muur in kantore en raadsale, selfs ook in hotelle en restaurante, is daar ’n foto van die huidige president, Samia Suluhu Hassan en soms ook van Julius Nyerere. Die vergaderings is lank en die regte toestemming van die regte hooggeplaaste is onvermydelik. Ons werk met mense wat nie kan Engels verstaan nie, en ook nie noodwendig verstaan wat ons mandaat is nie. Ons het spanlede wat kan vertaal, en verduidelik, maar ons weet: Dis Afrika. Al wat jy kan doen is om bietjie te talm, iets van die ritme en lewe hier te probeer verstaan, en te wag vir goedkeuring en spanwerk.

Tydens die verfilming spandeer ons die meeste van ons tyd in klinieke, skole, distrikskantore, mense se binnekamers. Dis ’n rare geleentheid om grense oor te steek wat mens nie andersins sou nie. Ek leer weer dat lande leef in stories, in mense. Dit gee ons ’n baie eerlike en alledaagse blik op Tanzanië, en hoe gelukkig, eenvoudig en na aan die aarde mense hier leef.

Agter die skerms – ek soek koelte teen ’n rooibaksteenhuis.

Opstalle is gemaak met handgemaakte stene; die saamkomplek is die stede en dorpe se markte – houtstellasies wat meer as genoeg van alles verkoop wat jy mag nodig kry. Die kos is heerlik vars en in-seisoen, dít wat nou verkrygbaar is in die streek: waatlemoene by die hope, avokado’s, piesangs – klein, groot, groen, geel (vars, gebak, gebraai, gedroog). Basies almal met wie ons gepraat het is ’n gewasboer, op een of ander skaal. Elkeen het ’n piesangboom in die tuin, asook varke of bokke en hoenders in die erf.

Avokado’s is werklik ’n vrug hier en word bedien as deel van vrugtekelkies en in sap.

Baie is op pad na ’n volgende plek met gekapte hout agterop ’n fiets, aan’t planne maak om hulle gesinne droog, warm, skoon en gevoed te hou.  Emmers vol vars gemmer, knoffel, wortels, bone, ertjies en kasjoeneute (gegeur met suurlemoen of sout) word op die kop gedra.

Pistasieneute gegeur met suurlemoen en sout.

Plastiek is teen die wet en almal gehoorsaam dit getrou. Aankope word in bokse of lapsakke gepak. 

Vars wortels en uie te koop by die mark – let op die herbruikbare sakke wat hang.

Aan huis word ons telkens gul ontvang. Jy ruik ’n pot ugali, ’n stapelvoedsel (fyn mieliepap), kook iewers in ’n hoek. Die buurvrou is besig om peule te slaan met ’n stok – ’n manier om die bone uit die peule te kry (hulle het my ook geleer).

Die vroue van Kasulu leer my hoe om bone uit die peule te kry deur dit met ’n stok te slaan wanneer dit gedroog is. In die sweet van jou aangesig …

As jy een kind sien, sien jy ’n dosyn. Hulle beweeg saam soos een lewende organisme. Jy wonder wie sorg vir hulle, of is dit juis dat almal vir hulle sorg? Vrugte groei aan bome hier; dalk maak die kinders hulself groot. Een kind vir ’n village, ’n village vir elke kind.

“Mambo,” sê jy vir hulle, en dan kom die antwoord, “poa” (“cool”), terwyl hulle dalk ’n bietjie staar, of weghardloop. Maar as jy tyd spandeer, kom hulle nader en staan baie naby, gesels in Swahili en dink jy moet verstaan. As jy gelukkig is, skop hulle dalk vir jou hulle handgemaakte voetbal, of wys jou hoe om ’n band straat-af te rol met ’n stok.

Ons ry ver met Land Cruiser en bus, en al ry ons (veral mét amptenare en hooggeplaastes) vinnig, sien ek nooit ’n padongeluk nie, selfs al is daar hordes tuktuks en bodabodas. Bodabodas is motorfietse wat jy oral sien. Hulle vervoer mense, mediese toetse, kos, basies enigiets. Bodabodas mag vrylik tussen Kenia en Tanzanië beweeg – vandaar die naam, van die Engels “border border”. Soos in Indië sit vroue baie galant agter op met ’n bak vol mielies op die kop. Of twee, dalk selfs drie kinders tussen ma en pa op pad skool toe. Dis nie die enigste Indiese invloed nie – chapati is ’n tipe naanbrood wat net so algemeen is soos ugali as stapel. “We’ve taken the Indian naan, and made it better,” sê die Keniane van waar dit glo kom.

’n Leë klaskamer by ’n skool laatmiddag in Dodoma.

Ons beweeg nie naby die Serengeti of Zanzibar, waar toeriste meestal rondbeweeg, nie. Die enigste sodanige plek wat ons besoek, is Tanganjikameer – omdat malaria so algemeen hier voorkom. Dit is steeds een van die grootste oorsake van sterftes.

Saal in ’n kliniek vir malaria-lyers. Die Kigoma-streek het die hoogste malariagetalle in die land.

Die reusemeer lê tussen die DRK, Rwanda, Tanzanië en Burundi – een van die diepste en grootste mere in Afrika. Dit maak Kigoma ’n saamkomplek van kulture, kleure en klanke. Die musiek wat ons hoor, is ’n kloppende mengelmoes van die Kongo, Tanzanië, en selfs ook Suid-Afrika.

Op soek na ’n stuk lap by ’n mark. Die Tanzaniese lap khanga is baie sterk en kleurvol.

Aan die oewer van die Tanganjikameer, Kigoma. Seekoeie en krokodille kom algemeen hier voor.

Aardskleure van huise in Tanzanië. Voordeure het gordyne/behangsels in allerhande kleure.

Handgemaakte houtbote met seile gemaak van oorskietlap of geweefde plastiek vang heeldag vis wat bedien word met ugali, growwesout en tamatieslaai. Hulle weergawe van bokkoms, dagaa, word diep in die meer gevang. Dis ’n lekkerny en word uitgevoer en ten duurste verkoop.

Houtbote en seile by die Tanganjikameer word met die hand gemaak. Vis uit die meer is heerlik en word bedien met aartappels, ugali en tamaties met growwesout.

’n Samevloei van gelowe is ook tasbaar hier – jy hoor die aand- en oggendgebede eggo oor die meer; in sekere dele sien jy kloosters en kerke – Katolieke invloed van die Duitsers of Engelse?  Unicef en UNHCR (VN hoë kommissaris vir vlugtelinge) het ’n swaar teenwoordigheid hier. Kigoma is glo ’n heenkome vir die meeste vlugtelinge van hierdie streek – die meeste van oorkant die water, van die DRK, wat jy per boot kan bereik. Dit blyk nie saak te maak waar jy vandaan kom nie. As ons vis eet en bier drink by ’n saamkomplek teen ’n bult, of saam sokker kyk, is dit saam met mense (vlugtelinge? migrerendes?) van die Kongo, en lande soos Burundi, Kenia, Rwanda, selfs Malawi en Ethiopië. Die musiek wat speel, is ’n interessante en ritmiese mengelmoes van die Kongo en Tanzanië.

Vars vis bedien met lemmetjie, growwesout ... vars uit die meer.

Een van ons mees interessante besoeke was aan ’n kliniek wat geleë is op die perseel van ’n tronk met 2 000 gevangenes. Die tronk is tussen huise, in ’n gemeenskap, en daar is skynbaar niks daarmee verkeerd nie. Ons moet die tronk in om toestemming te kry. Gevangenes in oranje oorpakke beweeg vrylik rond en werk ook buite die tronk, op straat. Hoekom hardloop hulle dan nie weg nie? wil ons weet. Wat gebeur as hulle net oor die pad hol? Hulle lag toe ons dit vra – want hulle mag nie, kom die antwoord doodeenvoudig. Dit het nog nooit gebeur nie.

Jy sien polisiemanne en -vroue sonder karre of gewere. Polisiekantore staan leeg; niemand steel nie, en jy voel nie onveilig nie. Toe een van ons vra na die prente, sketse en beelde van kameelperde wat so algemeen is – is dit dalk ’n nasionale dier? – kom die antwoord: “If you kill a giraffe here, you will be killed.”

Is dit die relational element hier waarvan Eric gepraat het wat dit toelaat? Iets wat ons in Suid-Afrika verloor het? ’n Tipe ongeskrewe verstaan. ’n Ooreenkoms. Ek, jy, ons. Myne, joune, ons s’n. 

Unity will not make us rich, but it can make it difficult for Africa and the African people to be disregarded and humiliated. (Julius Nyerere)

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top