
Val du Charron
Om terug te keer na ’n plek waarvan jy mooi herinneringe het is altyd lekker. As dit boonop die mooie Val du Charron Wyn- en Leefstyllandgoed in die Bovlei-vallei buite Wellington is, met die mooiste uitsig oor die berge en vallei met protea- en fynbos- en wingerd-oortrekte lande teen die hange van Bainskloof, is dit ekstra spesiaal.
Mens kan skaars glo jy is net 60 minute se ry vanaf Kaapstad, want hier is die pas stadiger; asof die stadsgewoel veel verder weg moet wees.

Waar die uile woon
Ek staan vir ’n lang ruk onder die reuseakkerboom tussen die restaurant en ons kamer in die Coach House. Daar is weer twee uilkuikens wat saam met hul ma in die mik van die boom sit en slaap. Toe ons ’n paar jaar terug hier was, was dit dieselfde storie. Ons het bedags by hulle verbygestap en saans met skemer gesien hoe die ouers gaan jag om die kuikens te voer.
Toe gebeur Covid en vir ’n lang ruk het ek geglo ons sal nooit weer reis nie; dat alles anders sal wees as ons ooit eendag anderkant uitkom. Om ses jaar later weer onder dieselfde boom te staan, die uitsig oor die vallei steeds asembenewend, is soos ’n geskenk.

The Grill Room
Daar het wel baie verander hier. Daar is nuwe kamers aangebou sodat die vierster-gastehuis nou met 40 kamers spog, ’n reuseswembad met kuierplek strek ver onder die restaurant se stoep uit en die braairestaurant, The Grill Room, spog met nuwe dekor en ’n ontbyt-buffettoonbank. Daar is ook ’n pragtige sondek aangebou wat jou bo die vallei laat uittroon.

Die pizza
Ons kamer is koel toe ons bagasie neersit en vinnig swemklere aantrek om in ons privaat swembadjie af te koel. Daarna na die Pizza Vista vir pizza en ’n lekker glas wyn van die plaas.
Daar is verskeie kinderpartytjies by Pizza Vista met ballonne en kindertjiegelag en -gehardloop. Ons sit eenkant tussen die bome met die koel windjie wat die blare net liggies wieg. Dis sorgeloos en lig en heerlik naweek hier.
Ons smul aan die pizza – wat jy ook half-half kan bestel om al die geure te beproef – drink Pinot Grigio en Malbec, twee ongewone kultivars, maar wat albei met groot sukses hier gemaak word.
Die swembadjie is lekker warm gebak toe ons later buite lê in die koelte van ons stoepie en tussen die palms deur na die berge kyk. Die briesie is lig en jy is altyd bewus van die ongelooflike uitsig.

The Grill Room se kerrie
Ná ons ’n uiltjie geknip het en vars gestort is, stap ons na The Grill Room. Luuksheid dra verskillende hoede vir verskillende mense. Vir my is daar die voor die hand liggende van goeie linne, ’n yskassie met ’n bottel koue wyn, ’n plonspoeletjie net vir ons, ’n lekker groot televisie. Maar ware bederf is om net 100 tree te stap vir ete. Jou motor geparkeer en met ’n stadiger pas, handswaaiend tussen die mooi plante deur na jou tafel.
Die son speel met goue en pienk patrone oor die berge in die verte; die musiek speel uit oor die stoep en dis later net ons en die sterre.
Ons geniet hierdie keer die lekker rooiversnit, Val du Charron Theatre of Wine Erasmus Den Deen, saam met murgsagte beeshaas, peri-peri-garnale en handgesnyde aartappelwiggies.
Ons sit laataand op die stoep met ons voete in die plonspoeletjie en gesels met ’n klein vuurtjie in die buitebraai vir ekstra atmosfeer.
Na ’n lekker stappie vroegoggend, is dit ontbyt en koffie, voor ons besluit hoe om die dag deur te bring.
Die luigeid moet einde kry; ons kan nie die vallei net van ons pragtige stoepie af bewonder nie. Daar is dinge om te doen en plekke om te sien!
As jy bietjie oplees oor die vallei, leer jy onder meer dat Wellington se unieke terroir gevorm is deur die hande van die natuur en eeue se wynmaaktradisies, wat van geslag tot geslag oorgedra en verfyn is.
Op pad deur die vallei ry jy verby plaasname soos Naby en Vergesig, Dankbaar, Onverwacht. Daar word wyne gemaak met name soos Erfenis en Twyfeling. Soos die son teen die berge begin ondergaan, kry hierdie name nuwe betekenis.

Die kunsuitstalling
Ons besluit om die kunsuitstalling by Dunstone Country Estate te gaan ervaar. Ons het die jaarlikse ART WINE-uitstalling misgeloop, maar stap rustig deur die Roots-uitstalling wat onder meer werke van Laura Jamieson, Nanette Ranger en Jocelin Kagan insluit.
Dirk Vaeye, mede-eienaar saam met Maudie Marie Smit, is passievol oor die omgewing en vertel my van die lekker geleenthede wat by die Old Tannery, waar daar vir etlike dekades leer gelooi is, gehou is rondom Erfenisdag verlede jaar. Vandag pronk die plek met ’n moderne en baie spoggerige baadjie en klein winkeltjies en kuierplekkies vul nou die reusegebou.
“En onthou dat erfenis en tradisie deel van die mense se weefsel is. Meer as 80% van die land se wingerde het hier in die stokkiesboerdery by Bosman Familiewingerde hul ontstaan gehad. Die vallei spog ook met Suid-Afrika se enigste Nero d’Avola-wingerde.
“Maak sommer die kuier ’n langer een soos wat julle nou doen. Hoor hoe die visarend roep as jy vroegoggend gaan stap of fietsry en kyk hoe die voëls huis toe vlieg as jy jou braaivleisvuur aansteek en die vonkelwyn se prop klap.”

Val du Charron se wyn
Mensig, is ek bly ons bly by Val du Charron oor, want die man laat sommer my mond water vir al die lekkertes en daar is hoeka hout by ons buitebraai langs die swembadjie en die bottel Val du Charron Reserve Chenin Blanc word goed verkoel in die yskassie.
Die kuns het ons siele gevoed, maar dis tyd om ons mae te voed.

Friedrich Kuhne
Wynmaker en wingerdboukundige, Friedrich Kuhne, en Carol Maggs, verkoopsbestuurder van Welgegund Heritage Wines, wag by Festa Restaurant. Die historiese herehuis op Welgegund, wat uit 1777 dateer, is vol en ons ontmoet eerder by Festa vir ’n kuier.
Friedrich skink van sy yskoue salmpienk Rosé 2024 en Wellington (of Hellington soos hy dit noem) se hitte is gou vergete. Friedrich het lekker tapasstyl-eetgoed bestel om elkeen van sy handgemaakte wyne te komplementeer.
Friedrich glo aan minimale inmenging in die kelder en dat die druiwe die praatwerk moet doen in jou glas. Soos ons peusel, proe ons die Providence 2021 (Rhône-styl-versnit), Old Vine Chenin Blanc 2022, Old Vine Cinsault 2021, Jack’s Journey 2021 (Grenache Noir- en Cinsault-versnit) en Grenache Noir 2019.

Birgit Schmiederer Reiser en haar man, Rene Reiser, van Jacaranda Wine and Guest Farm
Ons eindig ’n wonderlike dag by Jacaranda Wine and Guest Farm aan die voete van die Groenberg saam met Rene en Birgit Reiser. Hy sê ons moet ontspan, want ons is nou op Wellington-tyd en hier loop die wysers stadig sodat die stres uit stywe skouers dreineer.
Ons verseker hulle dat die stywe skouers al die vorige dag by ons plonspoeletjie by Val du Charron verdwyn het en ons beslis in die Wellington-ritme verval het.
Die plaas is die kleinste geregistreerde wynlandgoed in Suid-Afrika (4,5 hektaar) met net 3,2 hektaar onder wingerd en elkeen van die 20 000 bottels wat Rene Reiser produseer, is met sorg met die hand gemaak. Die helfte hiervan word jaarliks uitgevoer.
Die plaas het Chenin Blanc, Viognier, Chardonnay, Shiraz en Mourvedre en gebruik wilde gisting, lae sulfiet en verouder alles in eikehoutvate.
Ons kuier op die stoep en Birgit het ’n heerlike ligte maal voorgesit, wat net die regte teenvoeter vir die hitte is en ’n ware vertoonstuk van die vallei se heerlikhede. Ons doop hompe varsgebakte brood in hul eie olyfolie.
Rene glimlag en sê hy het “in sy vorige lewe wyn gedrink as ’n stokperdjie; nou is ek ’n professionele wyndrinker!”

Die uitsig
Daardie vroegaand is ons terug op ons stoep vir die kleureskouspel van sononder. Ons sit by die swembad met ’n paar happies van die restaurant en bolglase vol Chenin Blanc, terwyl my geliefde op sy ukulele tokkel.
Ons is die laaste oggend traag om huis toe te gaan en kom eers gou weer swem na ontbyt, voor ons huis toe vertrek. Ek stop vir oulaas onder die akkerboom en kyk na die uilkuikens en sluit dié herinnering in my hart weg.
Mens kan nie onaangeraak uit Wellington wegry nie. En die prentjiemooi uitsigte van jou stoepie by die Coach House by Val du Charron is maar net die begin!
’n Paar van die ander dinge wat jy kan gaan ontdek:
- Drentel deur die tweedehandse en antieke winkels tot aan die voete van Andrew Murray, wat voor die historiese NG Kerk sit. Hy was nie net ’n leier vir sy gemeente nie, maar het verskeie opvoedings- en sosiale projekte van stapel gestuur, waarby duisende jongmense vandag steeds baat.
- Gaan kuier op ’n natuurreservaat, klim berg, spring valskerm of vang vis. As jy ’n kranige gholfspeler is, is daar ’n dubbele bonus. Nie net kan jy gholf speel met vriende op ’n pragtig-versorgde negeputjiebaan nie; jy is omring deur een van die mooiste berg-en-heuwel-uitsigte in die land en die witwyn by die klubhuis is yskoud.
- Loer by die Breytenbach Sentrum in – Breyten Breytenbach se grootwordhuis wat sy ouers as losieshuis bedryf het – kyk kuns by die galery of woon ’n teaterstuk by Die Bôrdienghuis Teater by.
- En tussen al die lekkerbekkigheid, verken die dorp se museum op die hoek van Kerk- en Kollegestraat, met sy ryk geskiedenis. Hier is die land se voorste ossewaens gemaak: vandaar die naam Wagenmakersvallei. Vind uit wat ons voorvaders 185 jaar gelede hier só welkom laat voel het, dat hulle huis opgesit en gebly het en hul eie munisipaliteit en wapen gestig het en die dorp se naam deur sir George Napier, Kaapse goewerneur, na Wellington verander is.
Kitsfeite:
- Bespreek jou verblyf by Val du Charron by stay@vdcwines.com of https://vdcwines.co.za/. Daar is verskeie verblyfopsies vir gesinne en ook die deftige herehuis wat uit 1699 dateer, maar die Coach House met sy drie suites bly ons gunsteling. Bespreek jou tafel by The Grill Room of Pizza Vista by 021 873 1256 of 079 886 1775.
- Gaan proe wyn of doen ’n keldertoer by Val du Charron en kry die geleentheid om die hele wynreeks te geniet.
- Val du Charron is deel van Cape Country Routes wat verskeie akkommodasie- en avontuuropsies insluit. Bespreek by bookings@capecountryroutes.com |www.capecountryroutes.com.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Lees ook:
Thula thu, thula nana, thula sana ... stil word jy by Thuúla Hidden Haven
Storie van Pinotage is vervleg met vriendskap en pioniersgees

