Suid-Afrikaner Trevor Jones: Een van die mees gesogte komponiste in Hollywood

  • 0

Trevor Jones kan jou op die punt van jou stoel laat sit, laat huil, laat lag, in ’n koue sweet laat uitslaan, laat gril en in ’n staat van woede dompel. Inteendeel, hy kan jou hartklop manipuleer terwyl jy salig onbewus is van sy teenwoordigheid.

Hoe kry hy dit reg?

’n Film sonder musiek is soos ’n huis sonder ’n dak, en Jones het op die ouderdom van 5 besluit dat hy vir die res van sy lewe met note en klanke skuiling sal bied vir stories op die silwerdoek. As dit nie was vir hierdie vasbeslote 17-jarige wat sy familie en omgewing agtergelaat het vir groener weivelde in Europa en Amerika nie, sou van die mees ikoniese films dalk nie meer in filmgangers se geheues rondgedwaal het nie. En ja, Hugh Grant met sy slap kuif en bokkie-oë kan maar net dankbaar wees vir Jones se klankbaan van die 1999 film Notting Hill. Sou Julia Roberts se karakter haar frase “I’m just a girl, standing in front of a boy, asking him to love her” met dieselfde soetsappigheid kon verklaar sonder die hulp van Kaapstad se wunderkind?

Foto van Trevor Jones: YouTube

Hier is maar enkele van sy meer as ’n honderd klankbane: Runaway train (1985), Labyrinth (1986), Mississippi burning (1988), Arachnophobia (1990), The last of the Mohicans (1992), Cliffhanger (1993), GI Jane (1997), The mighty (1998), The league of extraordinary gentlemen (2003) en Around the world in 80 days (2004).

Van tamaai spinnekoppe wat mense vir ontbyt eet, tot Sylvester Stallone wat teen kranse uitklouter, sal Trevor Jones jou laat voel wat jy moet.

Hy is in 1949 bo ’n vis en tjips-winkel in Distrik Ses gebore. Sy pa was ’n alkoholis en die bendeaktiwiteite het skadu’s gegooi oor elke ding wat moontlik goed kon wees. Na sy ouers se egskeiding weens oa drankmisbruik en huishoudelike geweld, het hy ’n hakkelprobleem ontwikkel en deurgeloop onder ’n vlaag van spottery van sy klasmaats.

Daar was wel een plek waar hy van alles kon vergeet: die Avalon- en Gem Bioskope in onderskeidelik Distrik Ses en Woodstock. Stokkiesdraai en die flikker-flikker van ’n filmrol – dié twee dinge het gesorg dat hy tans beskou word as een van die mees gesogte komponiste in Hollywood. Hy is al genomineer vir twee Golden Globes en drie BAFTA-toekennings vir Beste filmmusiek.

Sy eerste leerskool was die bioskope wat hy as kind besoek het. Partykeer was die man wat in die projektorkamer wat dinge moes laat gebeur, stormdronk. By tye sou die een of ander onderdeel van die projektor smelt weens oorverhitting en twee scenario’s kon op enige gegewe oomblik uitspeel: óf die beeld is weg, óf die klank. Dit is hier waar die gogga hom gebyt het. In ’n onderhoud verduidelik hy:

The great thing about film music is that it is almost subliminal. It goes from the composer’s pen and heart straight into the audience’s heart without them even realizing that they have been induced to experience a particular emotion.

Op die ouderdom van 10 word hy aanvaar vir musiekstudies aan die South African College of Music. Sewe jaar later moedig een van sy onderwysers hom aan om vir ’n besoekende professor van Engeland klavier te speel. So kry hy ’n beurs om sy studies aan die Royal Academy of Music in Londen voort te sit. Hierna volg ’n betrekking by die BBC as resensent vir klassieke musiek. In 1981 kry hy die geleentheid om ’n klankbaan te skryf vir The dollar bottom wat weldra ’n Oscar wen vir beste kortfilm.

Dit is egter The last of the Mohicans wat hom onder die aandag van die grootkoppe in Hollywood gebring het. Hy is nie die enigste een wat geld gemaak het uit hierdie klankbaan nie. Op ’n dag in standerd 7 kom sit my klasmaat Jay Smit langs my, maak sy penneblikkie oop en vertoon ’n R5-muntstuk. Dit is myne, mits ek The last of the Mohicans se “fiddly bit” op my viool speel. Dit was genoeg vir ’n pastei en ’n Coke. Die volgende week vra hy my weer. Ek kon wel nie die hele ding speel nie en moes kroek met ’n noot of twee. My professionele loopbaan het net daar, voor die houtwerkklas, begin.

Wie kan die toneel in hierdie film vergeet waar ’n mini-oorlog op ’n rotslys afspeel? Dis drama en hartseer en ’n geskietery tussen die Mohicans en die Westerlinge. Die heldin en die wrede Mohican kyk mekaar in die oë. En soos die orkes die “fiddly bit” in al sy glorie tot ’n klimaks laat verrys, spring sy van die krans af. Dis hartverskeurend, maar Trevor Jones glimlag, want fliekgangers het elke moontlik gesigsuitdrukking getoon en elke geografiese plek op die stoel beset in sekerlik een van die aangrypendste tonele in Hollywood-filmgeskiedenis.

Om ’n simfonieorkes vir ’n klankbaan te huur, kos ’n plaas se prys. Produksiemaatskappye is bereid om miljoene te betaal vir Jones se werk en hy het al die geleentheid gehad om van die wêreld se top orkeste tot sy beskikking te hê, soos die London Symphony Orchestra, die London Philharmonic Orchestra, die Academy of St Martin in the Fields, die RTVE Symphony Orchestra van Spanje en die Greek National Radio Symphony Orchestra. Hy het ook al saam met David Bowie, Sting, U2, Sinéad O’Connor, Charlotte Church, Britney Spears en Elvis Costello gewerk.

Bykans tien jaar gelede kry ek die geleentheid om as lid van die Universiteit Stellenbosch se simfonieorkes die klankbaan vir die dokumentêr My hunter’s heart oor die San-gemeenskap se jagrituele op te neem.

Ek stem my viool en koes vir ’n mikrofoon wat bo my kop inluister na elke noot wat ek gaan speel. Die dirigent tik met sy dirigeerstokkie op die musiekstander. Die vyftig-stuk orkes is doodstil. “I would like to introduce to you to Dr Trevor Jones, who composed the music for this documentary. And you might not know him, but you have heard his music in The last of the Mohicans.”

En daar sit ek in skok. Van my eerste R5 vir ’n substandaarduitvoering, my vriend Jay en die Afrikaansonderwyser wat rook en so half-half na my pogings luister, tot die oomblik wat ek besef wat Jones vermag het.

Dit is vreemd hoe clichés eintlik waar is, want as iemand soos hy sy pad van Distrik Ses tot in Hollywood kon vind, is niks onmoontlik nie.

........

Bronne:

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top