Namens die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN), in samewerking met SASNEV, word die lede genooi na ’n spesiale geleentheid wat hierdie jaar ter viering van die Week van het Nederlands plaasvind.
Die SAVN bied die openbare lesing van die wisseldosent, Agnes Andeweg, aan op Saterdag 4 Oktober 2025 om 10:00 by SASNEV.
Andeweg se lesing is getiteld “Koloniale sporen van de Vliegende Hollander”.
Die tweede deel van die uitnodiging is vir die Eerste Diktee vir Afrikaans op inisiatief van SASNEV se voorsitter, Jan Mutton. SASNEV het ’n hele aantal genote vir die geleentheid waarvan uitgesonder word Lapa Uitgewers, by name Marieta Nel, en die Wes-Kaapse Departement van Onderwys, by name Immanuel Europa, en Voertaal, by name Izak de Vries.
Die Diktee vind plaas op 4 Oktober 2025 om 12:00 by SASNEV.
Die lesing en gesprek en die Diktee vir Afrikaans lei die Week van het Nederlands 2025 in Suid-Afrika in. Met groot waardering en dankie aan die Nederlandse Taalunie vir die finansiële steun wat die projek moontlik maak.
Diktee vir Afrikaans is geskoei op die Groot Dictee der Nederlandse Taal wat al sedert 1990 jaarliks ’n groot gebeurtenis in Nederland en Vlaandere is.
Die eerste Diktee vir Afrikaans is vir graad 10- en 11-leerders.
Die Nederlandse Taalunie stel drie groot pryse beskikbaar:
- R3000 vir die wenner,
- R2000 vir die naaswenner,
- en R1000 vir die leerder wat derde eindig.
Slegs die eerste 60 inskrywings word aanvaar, ’n maksimum van drie leerders per skool. Skryf dus onmiddellik in om teleurstelling te vermy.
Die geleentheid val ook saam met en is ter viering van Afrikaans Amptelik 100 en die sestigjarige herdenking van Ingrid Jonker se dood.
Ons sien almal uit na die mooi geleenthede.

