UITNODIGING
Beste genieter van die letterkunde,
Jy word hartlik uitgenooi na Saterdag 19 Maart se heuglike byeenkoms. SASNEV, die Suid-Afrikaanse sentrum vir Nederland en Vlaandere, reël ’n spesiale geleentheid op Saterdag 19 Maart: ’n openbare gesprek tussen Yves T’Sjoen en Breyten Breytenbach oor uitgee en uitstal in die Lae Lande.
Ons is bevoorreg om komende Saterdag die befaamde Breyten Breytenbach met alombekende prof. Yves T’Sjoen in gesprek te sien. Dit gebeur nie sommer elke dag nie dat, op die regte tyd en plek, die regte mense bymekaar is wanneer dinge sommer net in plek val vir ’n groot oomblik om te gebeur.
Datum en tyd: Saterdag 19 Maart om 10:00 vir 10:30
Plek: SASNEV, Sentraalplein 4 Pinelands
Titel: “Noem dit een gedicht voor Breyten” (Roland Jooris)
Vraaggesprek van Yves T’Sjoen met Breyten Breytenbach
SASNEV onderneem om by die Covid-protokol te hou. Jy moet asb. nie kom nie as jy onwel voel.
Meer oor die belangrike gaste:
Breyten Breytenbach word vir ’n leeftyd as skrywer omhels deur literêre skrywers, uitgewers en kunsgalerye in die Lae Lande. In 1964 het die skilder Juan Breyten by Galerie Espace in Amsterdam uitgestal, en aan die einde van die sestigerjare het die digter sy debuut in Nederland en Vlaandere gemaak. Die digkuns is vroeg in Nederland met literêre pryse bekroon. In die daaropvolgende dekades is poësie, verhalende en essayistiese prosa deur uitgewers Van Gennep en Meulenhoff, later deur Podium en Koppernik, uitgegee. Literêre betrekkinge met Hugo Claus, Lucebert, Bert Schierbeek, H.C. ten Berge, Eddy van Vliet e.a. is die onderwerp van Yves T’Sjoen se komende opstelbundel Kwintet.
SASNEV, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, reël ’n spesiale geleentheid op Saterdag 19 Maart (10:30): ’n openbare gesprek tussen Breytenbach en T’Sjoen oor uitgee en uitstal in die Lae Lande.
Prof Yves T’Sjoen is verbonde aan die Universiteit Gent en werk as ’n buitengewone professor vir die Departement Afrikaans en Nederlands in Stellenbosch. Hy is ook deeltyds aangestel in Praag. Hy werk saam met dr Alwyn Roux (Unisa) aan die VisionKeeper-projek ‘Om Afrika te verbeel’ en die poësie van Breytenbach. In Gent doseer hy Nederlandse en Afrikaanse letterkunde. In 2014 was hy promotor van die eredoktorsgraad wat Breytenbach aan die Universiteit Gent ontvang het. Hy is ook voorsitter van die navorsingsgroep Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika (www.afrikaans.ugent.be) en promotor van die Leerstoel Suid-Afrika: Tale, Letterkundes, Kultuur en Maatskappy. Vyf jaar ná sy vorige boek Rakelings, oor kontakte tussen Suid-Afrika en die Lae Lande, verskyn sy boek Kwintet oor literêre verhoudings tussen Breytenbach en die Nederlandse taalgebied in Mei 2022.
Breyten Breytenbach en Yves T’Sjoen in gesprek as deel van ’n paneelbespreking oor Breytenbach se werk in 2019. (Foto: Gerrit Rautenbach)
Met hartlike groete en tot Saterdag!
Eureka Barnard
Bestuurshoof, SASNEV