Uittreksel (Nederlands: leesfragment) uit Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

  • 0

Lees hier ’n opsomming van en uittreksel (Nederlands: leesfragment) uit Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé:

Opsomming

­­­­­­Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Charl-Pierre Naudé
Tafelberg
ISBN: 9780624084341 

Op ’n dag in die vroeë sewentigs bemerk ’n afgeleë Noord-Kaapse gemeenskap ’n gebou in hul midde waar voorheen net ’n stuk braakgrond was. Drie weke later verdwyn die gebou . . .

Lees ook oor die vreemde werklikheid van mense wat meer as een maal lewe, oor die jong man wat so skaam is dat hy nie op foto’s kan vertoon nie, en oor die intense liefdesverhouding van ’n paartjie wie se lewenspaaie net vir ’n paar sekondes gekruis het. 



Die roman het gedien as ’n voorlegging vir die verkryging van ’n MA-graad in literêre teorie, kritiek en skeppende skryfkuns, gedoen aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, aan die Universiteit van die Vrystaat, in 2016.


Charl-Pierre Naudé 

Charl-Pierre Naudé is op 27 Augustus 1958 in Kokstad gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Grens in Oos-Londen. Charl-Pierre verwerf ’n honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Ná sy studies het hy as joernalis gewerk en onder meer resensies en artikels vir Vrye Weekblad gelewer.

Sy eerste bundel, Die nomadiese oomblik, verskyn in 1995 by Tafelberg, en word in 1997 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Charl-Pierre se tweede bundel, In die geheim van die dag, ontvang in 2005 die M-Net-prys vir Afrikaanse poësie en die Proteaprys vir poësie.


Uittreksel


Januarie 1974

En toe daag die onvermydelike. Anna se werksonderhoud. En daarmee saam die aaklige vooruitsig dat sy die distrik gaan verlaat. Die gedagte hieraan het my laat voel ek wil verstik.

Ek het Anna oor jare heen dopgehou, bykans afgeloer, en al was my liefde vir haar op ’n afstand, was dit ’n Olimpiese vlam wat ek al oor vele geesteslandskappe gedra het.

Anna was dit, wat my nog ’n treetjie nader gebring het aan die ontsluiting van die groot misterie. Maar ek moenie dinge vooruitloop nie.

Volgens ’n reëling sou mevrou Bandjies haar dogter by die bushalte oorkant die skoolgrond aflaai. Daar sou ek haar oplaai sodat sy die volgende oggend by die mobiele biblioteek vir die onderhoud besorg kon word. Die bushalte was gerieflik, nie te ver van die indraai uit die hoofpad nie.

“My kind is suiwer, meneer Verdomp. Dis die wit man in Afrika se beste wapen, ons suiwer dogters,” het die mevrou oor die foon gesê. Ek het aangevoel dat tant Binnie steeds beledig voel oor die duistere halfkaalfoto’s wat die koster in die kerk geneem het. “Buiten vir kennis. Dis mos óók ’n wapen van die Here, nie waar nie, Meneer?”

“Nee ís so, Mevrou,” het ek beaam.

“Sy moet vars wees vir die onderhoud. ’n Werk by die biblioteekdiens sal ons baie help. En die boekewaens is nog net tot oormôre op die dorp. Sy kan later iemand só ontmoet, u weet, iemand wat geleerd is …”

Haar toon het my gekrenk. Die insinuasie was dat ek, Verdomp, vooruitbestem is om ’n neutrale faktor in haar dogter se romantiese toekoms te wees.

“Ek sal haar by die onderhoud kry, tant Bin, wees verseker,” het ek die ma gerusgestel. Dit was ’n afkorting vir “tant Binneband”.

“Dis die wiele van geleerdheid, daai,” het ek sarkasties met verwysing na die reisende biblioteek gesê.

Mevrou Bandjies het allerweë haar bynaam uitgelok. Ek is self nie seker of ek dit beledigend bedoel het nie. Dit het maar binne die wielekonteks uitgeglip.

“Dankie, meneer Verdomp. Oom Band sal ook bly wees. Annatjie het ons vertel dat julle goeie vriende is.” Ek het Anna se ma laas in hul huis op die plaas, toe sy die teeskinkbord vir ons ingedra het, gesien. Maar nog nooit eintlik met haar gepraat nie.

“Ons hét al opbouend gesels, Mevrou. Ek het mos ook die storie oor die leierskamp gedoen waarop sy so twee jaar gelede was. Anna het ’n filosofiese kant, sy sien dinge.”

“Maar ai, die leier-ding het toe nie werk gebring nie … U sê u was daar?”

“Verslag gedoen.”

“O, natuurlik. Nou maar reg so, meneer. Ek sal haar laterig môremiddag weer oplaai. Die Here seën jou.”

“Eksieperfeksie, Mevrou,” het ek kamstig opgeruimd afgesluit en die foon op sy mik teruggesit, geslingertjie.

Maar opgeruimd was ek nié. Anna sal net my lewe kom deurmekaarkrap. Die ouers probeer geld spaar, nou kom laai hulle haar op my af. Die buitekamers van die Martina-vrou straataf is seker peperduur.

Toe ek afkyk, kon ek sien hoe my hart onder die aangestikte bosak van my katoenhemp bons asof daar ’n sprinkaantjie in sit. Alles oor Anna. Ek het die foon verwens wat soos ’n versteende valk op sy montuur teen die muur gesit het.

Bietjie later spring ek in my fastbackie. Die opgewondenheid het vlak onder my angstigheid gelê. Ek het verby die kermisgrond gery wat die skool vir veldnommers gebruik. Die rondgaande biblioteek het soms die terrein as staanplek gebruik.

En dáár sien ek die treilerwaens staan, in die middel van die klipperige meent. Die voorste, groot biblioteekkaravaan was aan die treilerkop vas, die twee kleineres agter aangehak. Op die kant van die groot wa het in swierige letters die bekende woorde gestaan: Die Wiele van Geleerdheid.

Ek slaan ankers, ry om die hoek. Die kermisgrond was mos hoekgrond. Aan die ander kant van die biblioteekwa staan: ’n Wêreld van Plesier. Op hierdie kant is veelkleurige boeke op geverf, en vrolike, lesende meisietjies met poniesterte. My fastbackie het gehuil soos ek die ratte gooi. Drie blokke verder. Na waar Anna vir my wag …

Sy het onder die bushalte se afdak gestaan, in blou jeans en met ’n ligte oopgeknoopte trui oor haar moulose bloes, haar een been skamerig na binne gedraai soos Venus wat uit haar skulp klim. In daardie ou skildery.

Ek trek voor die afdakkie in tot amper teen die randsteen, en leun oor die passasiersitplek om die kardeur by sy knippie vir haar oop te maak. Koelkop, asof ek dit elke dag vir ’n ander vrou doen.

So in die oorleun het ek my kop opgelig om oor die rand van die karvenster te loer. Met krokodiloë, vir Anna. By haar voete was die twee tassies, ’n hardetas, waarskynlik met werkpakkie, nagklere en skoene in, en die kleiner, silwer smuktassie.

’n Spesiale, hipermodieuse tassie was dit, hoor. Dis iets wat net ’n paar keer in my lewe met my gebeur het: daardie smuktassie kon die tyd laat stilstaan. Die silwer beslag was asemrowend, en ek was naby genoeg om die omringende omgewing volmaak daarin weerspieël te sien, beter as in die beste spieël ter wêreld.

Ek kon die dorpsilo’s duidelik daarin weerspieël sien, styf langs mekaar. En wat was die langwerpige, buisagtige voorwerp? O ja, dit was die rooi-en-wit tenkwa wat die petrol bring, op daardie moment aan die einde van die lang reguit dorpstraat geparkeer.

Die dorp se tweelingkoppies, in die middelverte regs voor my, skoon en wit gebrand in die middaglig, het ook hul miniatuurweergawes in die silwer beslag gevind. So ook die skerp omlynde wolke, ver, ver in die verbleikte blou lug.

Toe beweeg alles weer, so onverwags as wat dit verstil het. Een oomblik nog het sy bewegingloos gestaan. Toe gryp Anna haar haredos vas soos in ’n film wat begin beweeg en sy wip die blonde mantel selfversekerd oor haar linkerskouer. Met ’n knik van die knieë reik sy met albei arms na haar bagasie en kom op ’n drafstappie aan, op my afgepyl, die tassies  al swaaiende.

“Góéi-e-míd-dag, me-néér Ver-dómp!” Sy het haar woorde oordrewe beklemtoon ter wille van sjarmantheid. Haar hare het liggies saam met die beklemtoonde klanke geskud.

Sy klap die kardeur toe. Haar blinknat meisietong flikker in haar breë glimlag. En sy kyk my met haar diepblou oë aan, tot binne in my siel. Leun wraggies oor en gee my ’n piksoentjie.

“Ek is so bly jy het nog nie verdamp nie, me-néér Ver-dómp!” (Die aaklige skoolmeisiehumor! En sy kon tog so uitbundig vir haarself lag.)

“Nee wat, toffie verdamp nie. Ek’s te taai,” sê ek maar.

Met twee agteroor swaaihale van haar regterarm beland die tassies een na die ander op die agtersitplek.

En dit was tóé dat ek deur die raaisel sien, die smuktassieraaisel. Daai was my double take, soos die Engelsman sal sê. En ek kyk en kyk: na die silwerblink smuktas, terwyl dit nog in die lug hang, net voordat dit met ’n wip op die agtersitplek beland. ’n Eindelose oomblik. Tyd het nog ’n keer vir my stilgestaan.

Ek het besef die smuktas is deursigtig. Volkome deursigtigheid en vlekkelose weerkaatsing het presies dieselfde glans. Dieselfde diepte, dieselfde oppervlakkigheid.

Toe Anna sien ek kyk, toe sy weet ek wéét, gooi sy haar kop agteroor van die lekker lag. Sy vlerk haar arms om haar dik harebos in twee welige pante vorentoe oor haar skouers te lig sodat dit nie tussen haar en die rugleuning vasknyp nie. Ek sien die blink vlekke van haar  oksels flits.

“Wat?” sê sy met ’n skelmpiegeid. “Wat!?” Maar sy was eintlik heel ingenome daarmee dat ek haar tassie se geheim raakgesien het.

“Dis ’n gewaagde tassie,” merk ek gelate op. Hoe kan dit wat buite en binne is só volkome ooreenkom? Dit het my aan die wonder gesit. Wat kom eerste, die buite of die binne? Dis ’n geskommelde raaisel.

Ek moes wéér omdraai, om weer na die tassie te kyk waar dit nou so onskuldig soos ’n eier op die agtersitplek lê. Daarbinne, agter die deursigtige Perspex, was kledingstukkies van verskillende strepe en kolle …

Die netjies gevoude broekie, ’n stuitigheid van Ackermanns, had inderdaad ’n blou-en-wit wolkiespatroon op. Die buustelyfie, van die stywe soort, het teen die plastiekdeksel gedruk soos twee witgeskrikte heuweltjies. En die tenkwa was al die tyd ’n rooi-en-wit tandepastabuisie!

Oor die silo’s wil ek nie praat nie. Drie van hulle, saamgekluister, vir dáárdie tyd van die maand, in ’n toeritssakkie van ewe deursigtige sagteplastiek …

“Mooi, nè?” sê Anna, kop vraend gekantel. “Dis so mod. Dis orals die rage. My penvriendin in Parys het dit vir my gekoop.”

“Parys?”

“Ja, ek was self nog nie daar nie. Nie die een in die Volkekundeboek nie. Die ander een, langs die Vaalrivier,” sê Anna. Ek gooi die ratte dat die biesies bewe.

Ons ry verby die kermisgrond waar sy môreoggend om nege-uur moet aanmeld.

“Cruise so ’n bietjie? Ek wil kyk.”

Ek ry stadiger. Ek sien sy beloer met skreefoë die karavaanwaens, omtrent so ’n honderd meter ín op die kermisgrond. Drie mans staan buite en gesels. Een skop-skop na die graspolle van die sanderige meent. Daai een is die sant, Kleinschmidt, in gewone drag vandag, maar steeds so paraat soos ’n voorlaaier.

En daar’s ’n konstabel in uniform by, ja-nee, die telg Lemmer. Die derde ou is ’n pokdalige slungel. Selfs van ver gesien. Hy het ’n Gatsby-pet op, seker ook die rage …

“Wat soek hý daar?” vra Anna agterdogtig na my kant. “Ek kan daai man nie vat nie.” Sy het van Kleinschmidt gepraat. Ek het die bron van haar misnoeë vermoed, die episode van die kerk, natuurlik. Ek gooi weer die stingel, dit tril in sy rubber. Die fastbackie síng.

Ek kap óm die hoek. En in die terugkyk leunend deur die venster sien ek die driemanskap is wraggies skoonveld. Verdamp (soos ek self nie kan nie, Anna, al sou ek wou). Instede, op dieselfde plek, gesien van daardie kant, is drie stigtelike biblioteekpersoneellede in kuipstoeltjies en hulle sit agteroor en drink tee uit ’n fles. Ons wuif, dit wuif styf-styf terug, so styf dit laat my dink aan boekbuiteblaaie, en hulle word al hoe kleiner en stugger soos ons verder wegry.

Net daar besluit ek: na hierdie verskynsel moet ek weer kyk. Die teenstrydigheid was net te groot. Dit was ’n agtermiddag vir weerkyke. Ek gooi ’n u-draai.

“Maar wat nou?” wou Anna weet.

“Wil iets sien.”

Ons ry wéér verby, die keer in die ander rigting. In die aankom sien ek wéér vir Kleinschmidt en die slungel. Lemmer, die junior lid van die vergadering, nou eenkanterig. Die slungel trek sy pet laag oor sy kop en draai verleë, soos in ’n skuldige gewete, sy gesig weg toe hy sien ek kyk weer vir hom. Op sy vuilwit t-hemp staan ’n woord in swart skrif, ’n naam: Murphy. Ek het gewonder wat dit beteken, maar my nie verder daaraan gesteur nie. Kleinschmidt draai sy rug, maak ook of hy ons nie sien nie. Dit lyk of hulle met skelmstreke besig is en hulle beduie asof hulle die dorp besit.

Ek draai die kar se neus nogmaals om, rigting huis toe, wéér hoek-om. Ek was verduiwels nuuskierig. Die raaisel had my aan die korthaartjies beet. En hierdie slag toe ek terugkyk, is dit voorwaar weer die stemmiges, twee mans en ’n dame, hulle het gelyk soos Doppers. En dié wuif al weer strammerig, vir ’n vale. Vale is die woord.

“Moet liewers nie ’n issue maak nie,” het Anna versoek.

Maar het sy dit nie ook opgelet nie?

“Wat?” vra sy.

Toe sê ek maar niks nie.

Laat ek verduidelik: dit was my vaste indruk dat daar twee biblioteekdienste daardie dag op die kermisgrond gestaan het. Twee biblioteke wat nie van mekaar weet nie. En dit was vir my slegs moontlik om een van hulle op ’n slag te sien.

Laat ek my in vertroulikheid tot die leser wend. Wat ek gesien het, was ’n gebeurtenis in afsonderlike dimensies. Ja, dis wat ek dit sal noem. Van wetenskaplike dimensies het ek juis nagelees in die ensiklopedie, Afrikaanse Kennis, die vorige keer toe die biblioteek aangedoen het.

Ek het die woord van my dae in die tekenklas op hoërskool onthou. ’n Goeie tekening het dimensie. En ’n baie goeie tekening het meer as een dimensie. Die woord sê iets oor kennis. Dis ’n samevattende woord, sou ek kon sê. So kom dit my nog steeds voor.

Die twee groepies was verskillende weergawes van dieselfde mense. Vir alles wat ons sien, gebeur daar ook ander weergawes wat ons nié sien nie. Anna het dit nie geweet nie, ek dink nie sy het ooit uitgevind nie. Noem dit maar: die misterie van die Lyksovlakte. Iets wat ek eers werklik sou begin verstaan met die ontdekking van Maria se dagboek, vier en ’n half jaar later.

Lees ook

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey: ’n onderhoud met Charl-Pierre Naudé

Video: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé word bekendgestel

Buro: IG
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top