Uitvoergehalte: Brixton Moord en Roof se Strate sonder bome

  • 0

Hier aan die einde van 2023 het twee bitter interessante musiekvideo’s verskyn wat met behulp van kunsmatige intelligensie geskep is. Beide is deel van ’n groter projek: Die Brixton Moord en Roof Orkes se nuutste album Strate sonder bome verskyn op 16 Desember 2023.

Dit is hul vyfde album. In 2002 verskyn Spergebied, in 2005 Terug in skubbe en in 2014 Slaaptyd in die suburbs. Hulle volgende album Bazaar punk het in 2022 verskyn met die stem van Drikus “Brixton” Barnard daarop. Drikus is reeds in 2015 oorlede.

Die oorlewende lede van die groep, Gerhard “Kapelaan Pat Plank” Barnard, Andries “Roof” Bezuidenhout en Ockert “Moord” Greeff het Drikus se snitte geneem en elkeen het hul eie musiek daarmee saam opgeneem. Dit is deur Bezuidenhout gemeng, deur Willem Möller afgerond en vrygestel – met Drikus se stem.

Hierna het die drie oorlewende lede nie opgehou om musiek aan mekaar te stuur nie. So het Strate sonder bome ontstaan, al woon hulle ver van mekaar af. Kapelaan Pat Plank is in Pringlebaai, Roof is in Alice, ’n klein dorpie in die Oos-Kaap, en Moord is in Montreal, Kanada.

Izak de Vries het met Andries, of dan Roof, gesels.

Andries, voor ek oor die album praat. Verduidelik aan diegene wat nie weet nie, is Brixton ’n mitiese plek of waar sal buitelanders daarvoor op ’n kaart kan soek?

Brixton is ’n voorstad van Johannesburg wat na Brixton in Londen vernoem is. Op ’n vreemde manier is die twee voorstede nogal eenders, al is hulle op twee kontinente. Werkersklas in oorsprong, diverse plekke, plekke waar ondergrondse kultuur – veral musiek – floreer. Dink maar aan The Clash se “Guns of Brixton”. Die lede van die oorspronklike Brixton Moord & Roof Orkes het in die laat 1990’s in Johannesburg se Brixton gewoon. Ons het mekaar by ’n kroeg en musiek-venue met die naam Abelarde Sanction ontmoet. Ons eerste optredes was op die Abelarde Sanction se verhoog en die kroeg was ons local, soos die Engelse hul plaaslike pubs noem. Al drie van die teenswoordige lede van die band se huise was binne ’n bestek van twee straatblokke van mekaar af geleë – in Fulham- en Barnesstraat onderskeidelik.

Daar is talle jonger lesers, en oorsese lesers, wat glad nie sal verstaan waar die naam “Brixton Moord en Roof” vandaan kom nie. Vertel ons asseblief van wie julle hierdie bisar naam gegaps het?

In die 1980’s in Suid-Afrika was daar ’n TV-program genaamd Police file. Hulle het identikits of foto’s van vermeende moordenaars en diewe op die skerm gewys. Lede van die publiek is dan gevra om die polisie te kontak as hulle die persone gewaar het of geweet het waar die verdagtes hul bevind het. Telkens kon mens die Brixton Murder and Robbery Squad bel. So die voorstad het so half ’n sinoniem vir die berugte polisie-eenheid se naam geword. Toe die band ’n naam moes kies, het ons gedink dit sal nogal ’n wrange en ironiese herverpakking van hierdie berugte naam wees. Met een van ons eerste optredes in Oudtshoorn by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees was daar wel mense wat onder die indruk was dat ons die polisie se blaasorkes is. Hulle het helaas opgestaan en die saal met hul rugbykussings verlaat toe die eerste tromslae klap. Plaas dat hulle ons ’n kans gegee het.

Daar is blykbaar gekla dat julle die polisie in ’n slegte lig geplaas het toe julle eerste musiek begin dawer het, is dit so?

Inspekteur Mary Martins-Engelbrecht, die polisie se mediawoordvoerder, het destyds in die media genoem dat sy die band op Geraas gesien het. Geraas was ’n musiekprogram op TV. Sy het van die musiek gehou, maar sy was wel bekommerd dat die band se musiek die polisie ’n slegte naam sou kon gee. Ek wonder nog altyd of sy dalk intensioneel ironies was. Die Brixton Moord en Roof-eenheid se naam is nietemin kort daarna na die “Johannesburg Serious and Violent Crimes Unit” verander.

Spergebied het in 2002 verskyn. Dit was julle eerste album. Daar word gesing: “Jy onthou die vure / En die wiele van ’n Casspir / En die reuk van brandende rubber / Deur die neus van jou gasmasker / Want jy weet, jy weet / Die geraamtes in jou kas het begin kriewel.” Was Brixton toe (reeds) ’n spergebied, iets tussen die ou en die nuwe Suid-Afrika?

Izak, dis ’n donker lied waarna jy nou verwys. Dit gaan oor die tyd in die 1980’s toe die weermag in die townships was. Vreemd genoeg is dit steeds een van die tracks van Spergebied af wat die meeste na geluister word op Spotify, Apple Music, ensovoorts. Ek kan dalk noem dat ons dit destyds ook in Oudtshoorn tydens die kunstefees opgevoer het – op een van die verhoë waar mense verniet na musiek kon kom luister. Daar was ’n jongerige groep bruin mense in die gehoor en hulle het ewe skielik aandag aan die band geskenk toe hulle hoor waaroor “Geraamtes in jou kas” gaan. Na die optrede was daar ’n wit polisieman wat na my toe gekom het en my vir die lied bedank het. “Dis hoe dit was,” was sy woorde. Musiek is soms mos maar iets wat ons help om dinge te probeer verwerk wat nie eintlik verwerkbaar is nie of om iets te probeer verwoord wat nie verwoord kan word nie. Om aan sulke wonde te gaan torring is ook nou nie juis ’n manier om kommersiële sukses na te jaag nie. Maar nou ja. Dis wie ons is. Pens en pootjies spergebied.

Julle woon nou, aldus die nuwe album se lirieke, in “Alice of Asfodel, Pringlebaai of Montreal”. Sal ons Asfodel op Google Earth kry?

Soos jy noem, woon ek in Alice, Gerhard (kitaar, baskitaar) woon in Pringlebaai en Ockert (tromme) woon in Montreal. In die antieke Griekse mitologie is Asfodel die blomryke dal waarheen die dooies gaan om vrede te vind. Ons verwys hier na Drikus Barnard en Louis Graham, voormalige lede van die band wat onderskeidelik aan breinkanker en covid-19 dood is.

Al woon julle ver, is Strate sonder bome ’n terugkeer na Brixton – al is dit juis nie in die vlees nie: “Wat bepaal of jy vlieg of val / Of van watter kant van Brixton se rand / Jy nou dophou hoe die vure brand?” Was hierdie herbesoek nodig om die manne in Asfodel te gedenk?

Ek dink tog so, Izak. Ockert het hierdie jaar vir ’n tyd lank in Nicaragua gewoon, waar hy gesien het hoe mense in ’n begrafnisstoet na mixtapes op sulke outydse boom-bokse luister. Om die waarheid te sê, hulle speel die musiek kliphard – die musiek waarvan die oorledene gehou het word sodoende as’t ware uitgesaai. Dis eintlik ’n pragtige gebruik. Met sy liriek “Tape deck begrafnisbrief” verbeel Ockert hom dat ons dieselfde vir Drikus in Brixton se strate doen. Maar die herbesoek gaan ook om beter te verstaan wie die mense is wat die drie van ons geword het.

Daar is ’n tikkie nostalgie te bespeur, soos in die snit “Top Star”. Maar: “Wat nou van Top Star oor is, is ’n yslike gat / Top Star…” Die lirieke maak dit duidelik dat Top Star ’n inryteater was, skynbaar op ’n mynhoop. Dié mynhoop is nou herwin. Jy is in jou ander lewe ’n sosioloog. Wat sou ’n sosioloog aan ’n kunstenaar wou sê oor hoe Brixton verander het, of dalk nie, sedert 2002?

Inryteaters is vir al drie van ons herinneringsplekke. Gerhard en Ockert het albei by inryteaters gewerk toe hulle nog op skool was. Gerhard het sy eerste motorfiets met sy inryteaterspaargeld gekoop en Ockert sy eerste kar. Gerhard onthou hoe hulle die honderde luidsprekertjies wat mense aan hul karre se venster moes hang, voor die vertonings getoets het. Dan blêr hulle die musiek kliphard – gewoonlik “Eye of the tiger”, ’n treffer uit die 1980’s. Die klank kom egter merkbaar stadiger by die agterste luidsprekers aan, wat ’n vreemde tipe eggo-effek veroorsaak. Ek wens jy kon Gerhard hieroor hoor praat. So, daai nostalgie is erg persoonlik. Die liriek in “Top Star” het ook ’n obskure verwysing na Harry Kalmer se boek oor Johannesburg se duisend stories. Die sosioloog in my se werk is om uit te werk of mense dinge korrek onthou, om feite na te gaan. Die kunstenaar stel egter meer belang in hoe verkeerd ons kan onthou en hoe dit ons help om aan ons menslikheid vas te hou.

Die datum van die vrystelling is duidelik nie sonder bybedoeling gekies nie. Waarom “Geloftedag”?

Sjoe, ek moes dié vraag seker verwag het. Ons het nie eintlik ernstig daaroor gedink nie. Soos die band se naam is dit seker ’n stukkie ironie, eerder as ’n statement. Maar ironie is seker ook ’n tipe statement, al is dit ’n baie onstabiele plek om te staan. Op ’n ernstige noot nou. Die album was einde Oktober klaar en ons moes dink oor wanneer ons dit drop, soos mense deesdae sê. Januarie sou seker ’n beter plan gewees het, maar ons wou graag hê dat mense daarna moet kan luister as hulle op vakansie gaan of by die huis bly om te rus. Die meeste Suid-Afrikaners se somervakansie begin mos maar daardie naweek, so dis die éintlike rede. Die langnaweek, eerder as die vakansiedag se oorsprong.

In Spergebied het Salvador Dalí se kuns ter sprake gekom. In julle nuutste album is daar ’n lieflike snit oor Edward Hopper se “Compartment C, Car 293”. Jy is self ’n kunstenaar, maar is daar ’n ander, dieper betekenis hieragter? Julle al drie se reise dalk?

Ek skilder landskappe en interieurs en Gerhard is ’n beeldhouer. Gerhard neem juis in Desember aan ’n uitstalling by die nuwe Fomo-galery in Pringlebaai deel. Ockert maak sulke dromerige video’s vir die gedigte wat hy saam met tromme en musiek opneem. Dis eintlik verstommend hoeveel musikante ook beeldende kunstenaars is. Dink maar aan Gert Vlok Nel of Bob Dylan. Jy noem die snit oor die vrou op die trein in die Edward Hopper-skildery – dis ook een van die video’s. Daai een het gekom uit ’n naweek saam met ’n vriendin wat besig was om ’n baie traumatiese egskeiding te verwerk. Eintlik het ek maar net na haar geluister en wat sy gesê het in versvorm neergeskryf. Ek het die eerste rowwe opname aan haar gestuur en sy het na elke nuwe verwerking geluister. Ek dink die omskakel van pyn na liriek het haar gehelp – ’n mens verwerk musiek ook mos. Dis interessant hoeveel mense aanklank vind by die eenvoudige toneel van ’n vrou op ’n trein vir wie eensaamheid ook ’n mate van vryheid beteken. Skilderye in die realistiese tradisie, soos Ed Hopper s’n, vertel ook maar stories. Dis baie soos lirieke in populêre musiek. Albei is ’n bietjie soos ’n foto uit ’n film. Die betekenis daarin sit in die deel wat jy met jou eie verbeelding moet byvoeg. Gedig teenoor toneelstuk, kortverhaal teenoor roman, lied teenoor opera. Op die noot van die verwerking van trauma en musiek. Mense hou daarvan om te sê dat kuns ons moet uitdaag. In Engels is die woord unsettle nou al so geyk dat dit eintlik heeltemal verslete is. “This and that image or sound unsettles something or the other.” Ek dink nie dis nodig vir kuns om enigiemand uit te daag nie. Daarvoor kan ’n mens die nuus lees of TV kyk. Die teenswoordige toestand-wêreld is so ongelooflik weird en ontstemmend dat geen kuns dit kan ewenaar nie. Ek wil aan niemand voorskryf nie en ek dink protes is steeds belangrik. In hierdie tydgreep is kuns wat ons help om sin te maak, kuns wat ons help om dinge in perspektief te plaas, kuns wat ons net help om te cope en om dinge together te hou, vir my veel meer interessant en uitdagend as protes. Om nie in die kontemporêre era van jou sinne beroof te word nie, is werklik ’n kuns.

Die snit “Ek ken jou tipe” is nogal sinies. Dit het baie te doen met ’n intolerante kultuur, waarin ons mense nie ken nie, maar tipeer, stereotipeer en profileer. Waar kom dit vandaan?

Ek is bly jy noem hierdie een, Izak. Ek hoop dis eerder ironies as sinies. Ek wil aansluit by my antwoord op jou vorige vraag. Ek weet ’n mens is nie veronderstel om oor jou eie lirieke kommentaar te lewer nie, maar laat ek nou maar daardie goeie raad vir ’n oomblik eenkant laat staan. “Ek ken jou tipe” begin met die woorde: “Opgekerf deur Occam se mes, om together te bly, doen ek my bes...” Soos ek dit het, is William van Occam se skeermes ’n beeld wat in die filosofie gebruik word om te waarsku teen analitiese onderskeid wat so fyn sny dat daar niks meer betekenis oorbly nie. Dit gaan oor die spanning tussen die presiese en die algemene. Om sin van enigiets te maak, moet jy iewers tussen die twee beweeg. Ek probeer daar iets oor identiteit sê, oor hoe ons almal soveel kante het dat ons soms sukkel om aan ’n kern vas te hou. As daardie duisende identiteite elkeen ’n ongenaakbare politieke projek word, hetsy vir linkse of regse politiek, waar laat dit ons? Waar is die gedeelde verbeelding? Waar is die tipe eksperimentele ruimte waar ons onsself in iemand anders se skoene kan indink en na mekaar uitreik? Wat kan ons saam doen aan iets soos die ekologiese uitdagings wat ons almal in die gesig staar? Die lied se refrein is: “Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe”. Dit is, soos jy sê, ’n bitter siniese beskouing van mense. Maar aan die einde kom daar in die agtergrond ’n tipe koor by: “En al wat ek hoor...” So, ek sien die lied as die soeke na stories wat oor grense heen kan praat. Dis nie ’n liriek wat vir my in die eerste plek oor Suid-Afrika gaan nie. Dit gaan oor Suid-Afrika ook. Maar dis eerder kommentaar op die wêreld soos dit nou is. Ek het nie tydens die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog gelewe nie, maar ek skat ek kan my nou indink hoe dit dalk was.

Nou sal ek graag meer wil weet oor die twee video’s wat julle met kunsmatige intelligensie gemaak het. Hoe het julle dit reggekry?

Izak, dit was ’n fassinerende proses. Die hele onderwerp van KI is eintlik fassinerend. Dit skep soveel geleenthede, maar hou ook gevare in. Ons noem “kunsmatige vernuf” in “Ek ken jou tipe” – dit praat oor die impak van simulasies en deep fakes op die onderskeid tussen feit en fiksie. As band gebruik ons KI reeds vir ’n tyd lank in klankproduksie. Met ons vorige album Bazaar punk het ons KI gebruik om Drikus se stem van die kitare op die opnames te isoleer en om geraas in die agtergrond te verminder. Die produksie van die Beatles se “Now and then” het soortgelyke tegnologie gebruik om John Lennon se stem van die klavier te isoleer. Met die meng van musiek gebruik ek soms KI as ’n tweede opinie, maar nooit as ’n finale besluit nie. Ons gebruik ook nie KI om ons musiek te meester nie, of af te rond soos jy dit noem nie. Vir die finale afronding van ons musiek wil ons eerder iemand soos Willem Möller se ekspert opinie hê. Ook sy smaak, ondervinding, kennis van Afrikaanse rock en voorstelle oor verwerkings. Ek kan nie sien dat KI iemand soos Willem kan verplaas nie. Generiese en resepmatige musiek kan dalk deur KI afgerond word, maar ek kan nie sien dat musiek soos ons s’n baie vinnig daardie rigting sal inslaan nie.

Vir die twee video’s het ons ’n tipe KI gebruik wat fotografie en video in animasie omskep. Jy voer die beeld in en gee die program dan instruksies om die beelde in ’n sekere styl te omvorm. Vir “Vrou op die trein in die skildery” wou ons ’n tipe art deco-gevoel uit die 1930’s skep, die tyd toe Ed Hopper geskilder het. ’n Probleem met hierdie tipe KI is dat dit ’n sterk Amerikaanse verwysingsveld het en die estetika en simbole is daarom baie Amerikaans. Dit sukkel met plekke soos Johannesburg en Kaapstad. Met hierdie video was dit egter nie so ’n groot probleem nie, omdat die skildery na ’n Amerikaanse toneel uit die 1930’s verwys. Dis juis die foute wat die proses so interessant maak, soos as ’n arm wat ’n boek vashou ewe skielik uit die trein se sitplek verskyn. Of hoe dit my baard in ’n byekorf verander en my hare in ’n by se vlerke. Dis aardig en aardsvreemd. Ons het daardie tipe “foute” juis omhels, omdat dit die tonele soos drome laat voel – ’n liminale wêreld tussen verbeelding en werklikheid.

Ek dink hierdie vroeë vorm van KI gaan dalk eendag vir ons voel soos hoe ons nou voel oor die tipe beelde wat die eerste kameras in die 1800’s geneem het – die ietwat elegante gestrompel en getuimel van tegnologie in wording. Dit mag ook wees dat ons eendag met afgryse terugdink oor hoe naïef ons was. Met die ontstaan van fotografie was mense egter ook bekommerd oor die impak wat nuwe tegnologie op kuns gaan hê. Walter Benjamin het mos ’n essay geskryf oor “The work of art in the age of mechanical reproduction”. Eerder as om skilderkuns te vervang, het die uitdaging van fotografie beeldende kunstenaars laat innoveer. Dink maar aan hoe David Hockney foto-collage gebruik het om perspektief in skilderye te ondermyn. Met die maak van die video’s het ons die KI juis gebruik soos ’n skilder ’n foto as verwysingspunt sou gebruik. Die KI maak nie die video nie, dit is die instrument wat ons gebruik om die prent mee te skilder. Die redigering het ons ook self gedoen, alhoewel KI-programme in staat is om dit namens jou te doen en dit byvoorbeeld saam met die ritme van die musiek kan laat val.

Die video van die eerste snit “Babelaas in Brixton” het weer baie bewustelik ’n analooggevoel. Hoe so?

Dis my persoonlike gunsteling op die album. Gerhard het die liriek en melodie geskryf. Dis die eerste track op die album en dit keer terug na Brixton toe, toe ons band room in Gerhard se huis op die hoek van Barnes- en Ripleystraat was. Ons het ou foto’s en videomateriaal gebruik om daardie gritty tye waaroor die musiek gaan uit te beeld. Van die digitale foto’s se kwaliteit is so swak dat dit pixelate as jy dit opblaas. In hierdie geval sou ons KI kon gebruik om die kwaliteit te verbeter, maar ons het dit eerder beklemtoon en die sneeupatroon van ’n ou TV bygevoeg as addisionele laag visuele gesuis.

Ek wil iets vra oor “Fransman se jas”. Hierdie “Fransman” verwys na ’n tronkterm, is ek reg? En is hierdie lied ’n waarskuwing dat ons nie aan ons verlede kan ontsnap nie?

Dis nog ’n liriek wat uit ’n gesprek met ’n vriend kom. Jy’s reg oor die tronkterm. Een van die ouens op die Police file-foto’s moes ook ’n rol kry. So, die lied handel oor iemand wat uit die tronk vrygelaat word en wat sy verlede in die bendes wil agterlaat. Hy skil die nommer op sy arm met ’n skeermes af, maar hy weet hy sal dit nooit werklik kan ontsnap nie. Vir die aand wat hy vrygelaat is, kan hy egter so vinnig jaag dat dit amper voel asof hy nou werklik vry is. As ons iets wil onthou, loop ons stadiger. As ons wil vergeet, jaag ons al hoe vinniger. Dis ’n terugkeer na ’n ouer tema waaroor ons al vantevore gesing het.

Vertel asseblief oor daardie honger hond voor die deur?

“Strate sonder bome” is een van Ockert se lirieke, ook ’n gunsteling vir my. Ockert identifiseer met die rondloperhond. Hy dink terug aan sy tyd in Brixton en die tipe tuiskoms wat ons almal daar vir ’n tyd lank gehad het. Ons was ’n hegte klein gemeenskappie, al die vreemdelinge wat by die Abelarde Sanction gekuier het. ’n Vrouefiguur ontferm haar oor die hond, vir Ockert die grootste genade wat ’n mens kan ontvang.

Die reismotief speel op soveel maniere ’n rol in hierdie album. In “Mense soos ons” gaan die lirieke: “Ry oos met Caroline of wes met Collins / Twee eenrigtingstrate vir mense soos ons / Vir mense soos ons, vir mense soos ons / Vir mense soos ons wat nêrens heen gaan nie.” En dan is daar die heel laaste snit “Brixton se vure”, waar die lirieke so gaan: “Of Brixton nou jou Ithaka is / Of bloot ’n plek waar die reisiger rus / Waar die winterson aan sement vasgom / Bly die vraag of jy ooit weer terugkom.” Ithaka is weer ’n mitiese plek, soos Asfodel. En die Griekse digter Konstantin Kavafi het daaroor gesê dat jy moet hoop jou reis na Ithaka is lank, vol avontuur en ontdekking. Wil jy iets oor hierdie teenpole sê?

Daai gedig oor Ithaka is ’n tipe motto vir my, Izak. Dis seker een van die mooiste gedigte van die moderne era en loop seker ook die gevaar om geyk te word. Ek stem saam dat reis ’n belangrike tema op die album is, maar dalk ook verdwaal. ’n Mens kan verdwaal deur op een plek te bly, deur vas te val, deur nie aan te beweeg nie. Daai vrou op die trein beweeg aan, sy laat al die snytjies van papier agter. Dalk is dit my lewensfase wat so pla, maar dit voel asof die hele donderse mensdom verdwaal deur vas te val. So asof die aarde ontspoor het. Ek dink aan Jethro Tull se “Locomotive breath” van jare gelede. Dankie tog ons het musiek om in weg te kruip en waar ons kan maak asof ons ’n idee het oor waarheen ons op pad is. Wat immers nogal lekker van rock ’n roll is, is dat jy jou frustrasie en woede op jou kitaarsnare kan uithaal.

Kan ons nog albums van julle verwag?

Dis die plan, dis beslis die plan. So oor kontinente heen. Dalk nie konserte nie, maar albums wel. Dit lyk of ons op ’n roll is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top