Uitvoergehalte: In gesprek met Amandala oor "Bloukopkoggelmander"

  • 0

Jap Coetzer se "Oosterse lelies"

In 2023 het ’n aantal musiekvideo’s verskyn wat ’n mens graag met die wêreld sou wou deel, en daarmee saam ’n boodskap wat sê: “Afrikaans kan ook.”

Amanda Lamprecht, beter bekend as Amandala, is bekend in die VSA vir albums soos Stronger en Far & wide. Sy het vroeër vanjaar in Stellenbosch ’n Afrikaanse dansnommer, “Bloukopkoggelmander”, opgeneem. Die lirieke is vars en vrolik, met ’n uitnodiging om soos ’n bloukopkoggelmander voor ’n donderbui te dans. Die video van hierdie snit is interessant, want dit word deur haar pa, Jap Coetzer, se landskapskilderye geïllustreer.

Kom ons begin met die vraag: Hoe het ’n meisie uit die Oos-Kaap vir haarself naam gemaak in die VSA?

Ek het ’n regsgraad begin by Stellenbosch en klaargemaak by die Nelson Mandela Universiteit na skool, en daarna in die tegnologie-industrie begin werk in Johannesburg. Na ’n jaar in Johannesburg het ek besluit om Amerika toe te trek. Ek het in Seattle beland, waar musiek, kuns en koffie seëvier. Dit was in die era van grunge. Ek het dadelik in bands begin speel. Ek het viool deur ’n “distortion pedal” gespeel in ’n punkrock band, en ek het ook in ’n goth band gespeel, asook ’n paar indie bands, waar ek die sanger was. Eers na ’n ruk het ek besluit om my eie musiek te skryf, op te neem, en uit te speel.

Jy kan sing, dit weet ons. Maar jy kan ook klavier speel en die kitaar slaan. Wat is jou primêre instrument?

My primêre instrument is viool. Ek het viool begin speel op 6-jarige ouderdom in die Suzuki-metode en het al die viooleksamens tot Graad 8 Royal Schools of Music geslaag. Ek het een jaar klavierlesse geneem toe ek 11 jaar oud was, maar was baie lui met musiekoefening, so ek het myself geleer kitaar en klavier speel. Ek kan note lees, musiek komponeer en musiekteorie verstaan, maar ek speel meestal op gehoor. Ek speel ook die Indiese harmonium en besit ’n tjello waarop ek geraas maak.

Wie skryf jou musiek?

Ek skryf al my eie musiek.

En die woorde? Wie is daarvoor verantwoordelik?

Ek skryf my eie woorde. Ek het twee liedjies waarvan ek die woorde saam met ’n vriend geskryf het.

Jou vorige Afrikaanse album, Alles wat jy liefhet, het ’n effens donkerder onderbou gehad – dit het veel meer soos Stronger gevoel. “Bloukopkoggelmander” het ’n lekker dansritme, en dan daardie lieflike liriese kitaar. Jou stem is ook ligter en hoër as in Stronger. Was dit ’n bewuste besluit om Afrikaanse radiotyd te kry?

Nee, ek skryf musiek soos dit na my toe kom en hoe ek voel op daardie oomblik. Ek gaan sit nie met die idee dat ek iets gaan skryf sodat dit radiotyd kan kry nie. Ek is absoluut versot op Afrikaans en die woord “bloukopkoggelmander” klínk sommer soos parmantig en geniepsig. Die bloukopkoggelmander was my inspirasie om ’n lekker dansliedjie te skryf. ’n Mens kan nie anders as om groot te glimlag wanneer jy na die liedjie luister nie.

Is ek reg dat Frank Freeman kitaar speel op hierdie snit?

Ja, Frank is ubertalentvol. Ek was baie gelukkig en bevoorreg om saam met hom te kon werk. Hy het op sy verjaarsdag die kitaarsnitte vir die liedjie in die studio kom opneem.

Daar word groot name genoem in jou omtes: Mike Stone (Pearl Jam), Andrew Joslyn (Macklemore), Davey Brozowski (Modest Mouse), Trey Gunn (King Crimson). Vertel, vertel?

Mike Stone het dromme vir twee van my shows in Seattle gespeel. Ek het saam met Davey Brozowski en Andrew Joslyn gewerk vir my album Far & wide. Dit was ’n fees. Andrew het viool gespeel en Davey het die dromme vir my album gedoen. Trey Gunn het een van my shows geopen met ’n solo-optrede waar hy sy “war guitar” gespeel het. Dit is ’n voorreg om met sulke goeie musikante te kan saamwerk.

Weet jy hoekom Fuze Fiuczynski daardie ongelooflike album van hom Amandala genoem het?

Nee, ek het nie geweet nie.

Ek wil terugkeer na “Bloukopkoggelmander”. Ek verneem jou pa het baie daarvan gehou. Is ek reg?

Amandala en haar pa

Ja my pa het gesê: “Dit is nou ’n baie oulike liedjie, Amanda.” Hy het baie van die liedjie gehou en sommer gedans as hy dit hoor. Toe ek klein was, het ek met my voete op sy voete gedans. Ai, ek mis hom baie.

Vertel ons van jou pa, Jap Coetzer. Hoe het sy kuns saam met die koggelmander in jou video begin dans?

Jap Coetzer se "Koperpot"

My pa het pragtige skilderye geverf met olieverf. Hy was ’n opregte kunstenaar wat lief was vir kuns en musiek en die natuur. Hy was ’n weeskind wat nooit die geleentheid gehad het om musiek te doen nie. Hy wou graag vir my geleenthede gee wat hy nie gehad het nie. Na sy dood het ek besluit om sy skilderye in ’n musiekvideo te deel, en omdat die liedjie een van sy gunstelinge was en nog nooit vrygestel is nie, was dit die perfekte kans dat sy skilderye saam met my musiek kon dans. Ek en hy saam in kunssinnigheid verenig.

Jap Coetzer se "Stilte"

Al woon jy ’n groot deel van jou lewe in die VSA, is jy gereeld in Suid-Afrika. Na my wete is Stronger en “Bloukopkoggelmander” albei op twee kontinente opgeneem. Hoe werk dit?

Ek begin al my musiekprojekte in die VSA en neem die demo’s hier op in verskeie studio’s, maar ek hou daarvan om die musiek te laat “produce” in Stellenbosch met Jurgen von Wechmar by Sunset Recording Studios en dan daarna die mastering te laat doen, óf in die VSA óf in Suid-Afrika. “Bloukopkoggelmander” is in Suid-Afrika gemaster, maar Stronger is in Seattle gemaster deur Ed Brooks, wat bekend is vir sy mastering vir Pearl Jam, Deep Sea Diver en baie ander.

Wat lê vir jou voor in 2024?

In 2024 wil ek graag vir mense deel maak van die feit dat ek myself uitleef op ’n holistiese manier. Ek gebruik my kuns, skryfwerk, musiek, joga, meditasie en Nia om uitdrukking te gee aan my inspirasies en hoe ek die wêreld om my ervaar. Baie opwindende nuus is dat my eerste kinderboek wat ek geskryf het, The Golden Jackrabbit, uitgereik gaan word tussen Kersfees 2023 en Nuwejaar 2024. Ek is ook tans besig om ’n nuwe 3-lied-EP op te neem in Seattle. Dit sal in 2024 uitgereik word. In 2024 doen ek ook meer opleiding vir jogaleerders in jogaterapie, joga-asana, astrale anatomie, pranajama, visualisering, meditasie en sessies met kliënte as ’n gesertifiseerde Teacher of Presence deur die Eckhart Tolle School of Awakening.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top