Uitvoergehalte: Kirky van Kirkwood se "Song vir Ma"

  • 0

In 2023 het ’n aantal musiekvideo’s verskyn wat ’n mens graag met die wêreld sou wou deel, en daarmee saam ’n boodskap wat sê: “Afrikaans kan ook.”

Kirky van Kirkwood se rou, eerlike stem het vroeg in 2022 die Afrikaanse musieklandskap getref met haar debuut, “Wie sê ’n vrou kan nie boer nie?”. ’n Paar maande daarna is haar tweede snit, “Spring”, vrygestel. Nou, meer as ’n jaar later, is “Song vir Ma” bekendgestel.

Kirky, voor ons oor hierdie lied praat, wil ek hoor hoe dit gaan? Kort na “Spring” bekendgestel is, het jy self gespring en saam met Esté en Lourens Rabé van RAAF begin toer. Jy het nou al meer 100 vertonings saam met hulle agter die rug. Hoe voel dit om voltyds musikant te wees?

Dit voel of ek ’n droom leef wat ek nooit gedink het moontlik was nie. Ek knyp myself nog daagliks.

Jy het suksesvol geboer – dit is waar “Wie sê ’n vrou kan nie boer nie?” ontstaan het, is ek reg?

Ek was as klein dogtertjie al lief vir die plaas en het die absolute voorreg gehad om op die plaas groot te word. Ek wou nog altyd boer, maar dié paadjie is nie altyd so goed aanvaar vir ’n vrou as vir wanneer dit ’n man se paadjie sou wees nie. Toe ek klaar geswot het, het ek die geleentheid gekry om op ’n buurplaas te gaan werk, maar “suksesvol” is ’n groot woord. Ek wil nog graag by my pa op die plaas gaan aansluit met die doel om op sy sukses voort te bou. “Wie sê ’n vrou kan nie boer nie?” is net ek wat probeer sê: Ek as vrou kan ook! 

En “Spring”, wat soort van oor ’n loopbaanskuif handel, is geskep kort voor jy voltyds saam met RAAF begin toer het. Was dit toevallig?

“Spring” is geskryf na ’n selfoongesprek met ’n vriendin wat op daardie stadium ’n loopbaanskuif wou maak, en my raad was dat sy sal moet spring. Ironies dat, ’n paar maande later, ek na my eie raad moes luister en self spring om in die RAAF-tuig in te klim. Ek kon die toeval eintlik self nie glo nie.

Kom ons gesels oor “Song vir Ma”. Jou ma is al ’n hele ruk gelede oorlede. En nou, skielik, kry ons hierdie besonderse lied. Moes jy eers artistieke afstand kry voor jy so ’n eerlike en mooi lied kon skryf? 

Ek was vir baie jare nie bereid om oor hierdie onderwerp te praat nie. Die artistieke afstand was in hierdie geval nie beplan nie; my hardkoppigheid het net die fight gewen. Die regte mense kom toe op die regte tyd, sewe jaar later, oor my pad en ewe skielik kon ek my eerste woorde oor die verlies van my ma uitkry. Die skryf van “Song vir Ma” was soos ’n diep uit-asem vir my.

Foto: Ruben Oosthuizen

Stef Bos se “Pappa” bly vir my een van my gunstelingliedere ooit. Hy sing: “Jij gelooft in God / Dus jij gaat naar de hemel / En ik geloof in niks.” Ek tel in jou lied ook op dat die verteller dalk wat anders glo as die ma. Wil jy verduidelik?

Ek het in ’n gelowige huis grootgeword en my ma het ons elke Sondag kerk toe gevat en ons daarvolgens grootgemaak Die lewe gebeur toe, en behalwe vir die dood van my ma was daar nog traumatiese gebeure wat baie woede, baie vrae en baie twyfel veroorsaak het. Die reël waar ek sing dat ek sukkel om te glo is die produk van al die emosies wat ek in die rouproses ervaar het.

Jou pa leef nog. Mag ek vra hoe hy op “Song vir Ma” gereageer het?

My pa is nie ’n man met baie woorde nie, so ek was nogal op my senuwees om dit vir hom te speel. “Song vir Ma” het die meeste woorde ooit uit hom gekry en ek kon sien dat ons op dieselfde bladsy oor hierdie een is.

Jy skryf jou eie musiek, maar dit wat ons uiteindelik hoor, is ook beïnvloed deur Loki Rothman se insette, is ek reg? Vertel ’n bietjie hoe julle saamwerk?

Ek het vir Loki gekontak toe ek besluit het om my musiek op te neem en was uit my nate toe hy reageer dat hy sal help. So, ek sal ’n liedjie skryf en dit opneem op die selfoon met ’n kitaar. Ek tob dan vir maande daaroor of ek dit vir Loki gaan stuur of nie (geen wonder julle wag so lank vir nog musiek nie, haha), en as ek uiteindelik die besluit geneem het, stuur ek dit vir hom om te hoor wat hy daarvan dink en wanneer ons dit sal kan record. Op die dag van die recording sal ons ’n uur of twee spandeer om deur die liedjie te praat en half seker te maak dat dit die beste weergawe van die song is en ook hoe ons die eindproduk sien. Ons record dan my stem en hy spring weg met die opname van die instrumente. Ons sal dan nog so ’n bietjie heen en weer oor die foon om by die finale produk uit te kom. Loki is ’n musikale genius en kom natuurlik met klanke en idees wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Sy determinasie is inspirerend. 

Die video is baie eenvoudig, maar goed gemaak. Vertel ons ’n bietjie van die span daaragter, asseblief?

Ek het ’n eenvoudige video in gedagte gehad vir “Song vir Ma”. Ek het met Esté daaroor gaan praat en ons het besluit om dit self te doen. Ruben Oosthuizen, wat RAAF se fotograaf en videograaf is, het die video gemaak terwyl Esté op bystand vir hare, make-up en alles anders was. Ons het op toer in Nieu-Bethesda die meeste van die video geskiet en by Diamant Estate in die Paarl die kapelshots geskiet.

Foto: Nicole Westraadt

Wat hou 2024 in vir Kirky van Kirkwood? Wat kan ons volgende van jou verwag?

Ek gaan definitief nog musiek uitreik. Ek gaan ook nog saam met RAAF op die pad wees, besig om by al die dorpe in ons land ons musiek te deel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top