In 2023 het ’n aantal musiekvideo’s verskyn wat ’n mens graag met die wêreld sou wou deel, en daarmee saam ’n boodskap wat sê: “Afrikaans kan ook.”
André Schwartz se enkelsnit “Sal jy?” is ’n uitstekende liefdeslied. Die woorde is besonders en die musiek, soos altyd, puik. Koppel hieraan een van die mooiste musiekvideo’s wat jy jou kan voorstel, dan is dit nie moeilik om te sien waarom Schwartz se “Sal jy?” as een van 2023 se uitvoerprodukte aangewys moet word nie.
André, kom ons begin met ’n belangrike vraag: “Met jou in my lewe”, “Ek kom huis toe”, “Tweede kans”, “Ek sal wag” en nou “Sal jy?” ... Ek bespeur ’n tema. Hoekom sing jy oor die liefde?
Hahaha – jy gaan haal dit nou oor etlike jare. Maar jy is reg – ’n liefdeslied lê my na aan die hart (woordspeling is opsetlik ). Die tema van lief wees en in liefde versaak word, asook deur liefde ontwyk word, is universeel en elke persoon wat hierdie woorde lees, sal beslis ’n paar herinneringe hê van die wispelturigheid asook die noodsaak van liefde. Die soektog na liefde is ’n konstante.
Maar goed, baie mense sing “baaibie blaai baai maai” met ’n backing track en noem dit ’n liefdeslied. Jou woorde is nie eenvoudige borrelgom nie. Daar is altyd iets verwondbaar in jou liefdesliedere, of lees ek nou te veel in jou werk in?
LOL! Dit is lekker om te hoor – dankie. Verwondbaar – mooi woord!
Ek dink nie dit is ’n opsetlike wegbeweeg van ’n sekere rigting nie – ek dink dit lê in ervaring en wat tot my spreek terwyl ek skryf. Ek glo ook dat ons ’n taal het wat ’n magdom skatkiste kan vol pak met die mooiste woorde – waarom net die eerste woord gebruik wat opduik?
Soms kom die woorde makliker en ander kere bêre mens ’n lied in jou sak en ontdek dit later en stof dit af. Ek het al seer en klippe in my skoen ervaar – ek is nie bang daarvoor nie, en ook nie om die werklikhede daarvan te deel nie. Dit bring genesing.
My lied “Ek haal asem”, wat ek ná Covid geskryf het toe ek ’n eerste keer na vier maande sonder suurstof kon asemhaal, is letterlik – woord en melodie – in ’n uur geskryf. My gemoed was vol van dankbaarheid en oorwinning.
“Sal jy?” is weer eens lieflik. Waar kom dié woorde vandaan?
Weer eens dankie. “Sal jy?” is ’n lied van twee mense wat in ’n perfekte wêreld lewenslange pasmaats kon wees. Maar tyd, ouderdom, en sekerlik die planete, was net nie reg om die liefde te laat gebeur nie. Die lekker ding van ouer word is dat jy redes sien waarom iets nie wil pas, of lekker kom sit nie, en jy leer om terug te staan. Die liefde waarvan ek sing in “Sal jy?” het nou sy eie dimensie gevind waarin die storie vertel word as ’n lied. Dit sal uiteindelik die twee mense oorleef.
Ek is so mal oor die feit dat jy iets so eenvoudig soos ’n WhatsApp-boodskap in kuns kan omtower. Dan meng julle al die moderne goed weer met retroklanke van ’n film en die gesuis van ’n bandspeler. Hoe pas ’n mens soveel idees in jou kop?
Ek het vir 14 jaar ’n bemarkingsmaatskappy besit met van die land se grootste handelsmerke as kliënte. Wanneer jy met ’n magdom kliënte werk, elkeen met sy eie behoeftes, teikenmark en kreatiewe bloudruk, leer jy om met ’n oorvol kop saam te leef.
Wat dan gebeur, is heerlike ’n kruisbestuiwing van idees.
Retro en retroklanke maak my gemaklik en dis heerlik om te sien hoe ’n nuwe generasie dit as iets nuuts ontdek. Dit is besonders om te sien hoe sekere kunstenaars terugkeer na viniel – my eerste twee bekendstellings was op viniel. Daar was geen keuse nie.
Ek dink ’n groot rede vir bogenoemde is daardie gevoel wat jy onthou wanneer jy ’n plaat uit sy jas haal en jy daarmee werk soos ’n kosbare edelgesteente. Die naald word versigtig geplaas asof jy porselein hanteer.
Die verbruiker soek weer iets tasbaar en daarom hoop ek dat die retroklanke ’n stukkie van daardie begeerte sal vervul.
Wie was verantwoordelik vir “Sal jy?” se musiek?
Ek het “Sal jy?” se musiek geskryf. Ek sukkel om mediumgeoriënteerd te skryf en ek hoop “Sal jy?” verwesenlik ’n breër genredekking as ’n alledaagse popliedjie. Ek het doodeenvoudig my kop gevolg na waarnatoe hy wou gaan ten opsigte van die melodie.
Wie is verantwoordelik vir die klanke wat ons hier hoor? Dis ’n breë vraag, want daar is musikante en klankmense en ateljees ... Wil jy dalk ’n paar van die belangrikste name uitlig?
Muse Studios was verantwoordelik vir die produksie.
Dit was ’n heerlike proses. Watter rigting hiermee? Hulle voorstelle het die Bublés en Grobans ingesluit. Toe het ek eerder, onder andere, P!nk as verwysing terugstuur. Daar was ’n stilte en toe ’n wegspring met mening.
Brendan Campbell (Rubber Duc) was vir die verwerking verantwoordelik en Hugo Ludik vir stemproduksie en meng. Nic Jordaan (ook Rubber Duc) het gesorg vir agtergrondstemme.
Maar dan moet ons beslis gesels oor die musiekvideo wat Seun gemaak het. Dit is werklik iets besonders. Dis eintlik ’n klein kunsfilm. Hoe het dit gebeur?
Jy slaan die spyker op die kop – dit is inderdaad ’n kunsfilm in die kleine. Ek kan met oortuiging sê dat daar beslis nog nie so ’n video in Afrikaans gemaak is nie.
Seun het ’n weergawe van my lied “Lief vir alles hier” gedoen en dit aan my gestuur op Instagram. Ons het toe begin gesels en gou agtergekom daar is raakpunte in ons denkwyse.
Toe dit kom by “Wat maak ek nou met ‘Sal jy?’ se musiekvideo?” het ek geweet ek soek beslis nie ’n kortbroekdude op ’n trekker en ’n verwarde meisie in ’n wit rok wat tussen kosmos rondhardloop nie.
Ek vra toe vir Seun of hy lus is vir saamspeel. Sy “ja” was onmiddellik en so ontstaan hierdie besonderse video.
Ek gebruik die woord “saamspeel” met opset, want dit was soos speel – nes kinders in ’n sandput waar elkeen iets ontdek en dit na vore bring. Die wisselwerking tussen uitvoerende kunstenaar en beeldende kunstenaar was ’n ondervinding wat my lewenslank sal bybly.
Jy was besig in 2023. Daar was onder andere die lieflike vertonings waarin jy vertel oor jou reis met Andrew Lloyd Webber se musiek. Vir diegene wat nie weet nie, hoe het jy ’n akkreditasie van Webber self ontvang?
My verhouding met Webber en sy musiek kom van kleintyd toe ek Joseph and the amazing technicolor dreamcoat vir die eerste keer gesien het, op 12-jarige ouderdom. Deur my lewe het ek ’n menigte Webber-rolle vertolk en ook baie van die hand gewys. Al hierdie goed word bespreek in die konteks van vriendskap.
Eintlik is die Webber-storie die agtergrond waarteen ek my eie lewenstorie en -lesse laat afspeel. Vul jou lewenskleed met kleure wat uniek is aan jou; laat jou jas blink, soveel as wat jy wil, en droom, droom, droom. Kwesbaarheid sorg vir ’n beeldskone wisselwerking.
Ek moes vir die rol van die phantom in The phantom of the opera ’n oudisie in Londen aflê, waar Andrew Lloyd Webber my goedgekeur het vir die rol. Ek dink nou nog hy het te veel wyn gedrink tydens middagete en net gesê het: “Gee vir die ou die rol!” Dit was die eerste keer dat Phantom in Afrika gedoen is.
Wat lê vir jou voor in 2024?
Hopelik ’n vol jaar! Ek gaan baie toer met Any dream will do – my pad met Webber.
Ek en Amanda Strydom het ’n besonderse Brel en Piaf-kabaret wat ons opvoer, en dan het ek ook ’n heerlike vertoning genaamd Grensloos – waarmee ek en Coenie de Villiers toer. Dit is een van daardie vertonings wat mense net weer en weer wil sien. Twee vleuelklaviere op die verhoog en ek en Coenie gaan sit soos twee Cadillacs en liedjies sing wat mense sal aanraak.
Ek begin ook in 2024 met meesterklasse in sang. Ek gaan werk met mense wat al ’n pad gestap het met opleiding, maar nou net ’n skerper oog, oftewel oor, soek.
Ek het onlangs ’n diploma in lewensafrigting voltooi by die International Coaching Federation en wil in 2024 begin met hierdie pad van wedersydse ontdekking en soektog na antwoorde. Ek voel so effe genoop om op hierdie genesende wyse terug te gee.